Nuuskommentaar: SA se grondwetlike demokrasie met Gordhangate daarmee heen?

pravind-gordhan1

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Berigte oor bewerings dat die minister van finansies gearresteer gaan word en deur Brian Molefe van Eskom-faam vervang gaan word, veroorsaak ontsteltenis. Sou daar waarheid in steek, of selfs as die berigte net volgehou word, gaan Suid-Afrika enorme skade ly en die vingers wys weer na pres. Zuma en sy faksie.

Ekonome verskaf op ʼn streep die ernstigste voorspooksels vir die land se ekonomie sou dit waar wees dat die minister van finansies en ʼn aantal van sy vertrouelinge op aanklagte van spioenasie in hegtenis geneem word. Die rand sal “uitbom”, laat staan nog soos ʼn klip val. Daar is geen twyfel dat Suid-Afrika in die uitstaande kredietgraderings rommelstatus sal kry nie.

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, as Gordhan gearresteer word, sal die grondwetlike demokrasie in die land nie meer bestaan nie.

Sedert die naweek word berig dat ook oud-minister Trevor Manuel gearresteer gaan word.

Die probleem is die Nasionale Vervolgingsgesag moet opnuut besin oor die instel van honderde aanklagte, van onder meer bedrog en korrupsie, teen Zuma. Dié keer kan die NVG nie meer die yl vyeblaartjies as rede gebruik om die vervolging teen Zuma terug te trek nie, want die hof het dit reeds as onder meer irrasioneel verklaar. Die DA dreig boonop om weer hof toe te gaan as die NVG nie die vervolging herinstel nie.

Daar word nou gemeen, ook deur die politieke ontleder Theo Venter, daar word agter die skerms gekonkel om Gordhan te laat vervolg en so effektief die land af te pers om die klagte teen Zuma te laat vaar.

Nenegate en die enorme verliese wat onder meer deur die Suid-Afrikaanse Beleggingskorporasie gely is (wat ook die staatsdienspensioenfonds bestuur), gee ʼn klein voorsmakie van wat gaan gebeur as Gordhan gearresteer en vervolg word.

Die kapstok vir die aksie teen Gordhan is ʼn sogenaamde “rogue”-eenheid wat glo onder Manuel se termyn ingestel is, toe Gordhan hoof van die SAID was, wat as deel van die Inkomstediens gespioeneer het om belastingontduikers vas te trek.

Dié eenheid het glo in ongewildheid verval toe sy krappery te na aan die bas van bewinds-begunstigdes gekom het.

Die vingers wys verdoemend na Zuma self en sy faksie as die dryfveer agter die aksie. Die presidensie het die naweek reeds twee verklarings uitgereik om dit te ontken, maar Zuma se geloofwaardigheid is plaaslik en internasionaal lankal nie wat dit moet wees nie.

In ʼn ander konteks skryf Die Burger die volgende in sy hoofartikel: “Kapitaal wat welvaart kan skep, vloei net na waar dit verwelkom word. Met die regte beleid en leierskap kan Suid-Afrika sy posisie as ekonomiese krag in Afrika herwin.” Die jongste verwikkelinge help beslis nie.

Beleggers pas nie die regsbeginsel in strafsake van bo redelike twyfel toe wanneer veilige beleggings gesoek word nie. Volgens ʼn oorwig van waarskynlikhede is Suid-Afrika dikwels ʼn beleggingsrisiko. Agri SA het byvoorbeeld pas weer skerp gereageer op die jongste weergawe van die onteieningswetsontwerp deur die gekose komitee vir ekonomiese en sake-ontwikkeling van die parlement. As Agri SA na die inwin van regsadvies bekommerd is oor onteiening sonder vergoeding, kan ʼn mens maar net dink hoe onrustig buitelandse beleggers sal wees.

Die tyd sal leer of daar waarheid steek in die planne om Gordhan te ontsetel en met Brian Molefe, sukkelende Eskom-baas, te vervang.

Daar is egter géén speelruimte nie en selfs net die huidige bewerings is al skadelik vir die land.

En dit alles net om die ANC se Fout Nommer Een te beskerm.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

alida ·

Mooi berig. Hulle kan begin deur vir JACO ZUMA in die tronk te gooi en die sleutel weg te gooi.

Mielie ·

Zuma is genadeloos, dis nou n kwessie van bly uit die tronk uit. Molefe gee hom en SAA toegang tot die koffers. Daar gaan nog baie dinge van Zuma se kant afkom, juis omdat hy nog net n paar maande het as Nr1. Net snaaks dat almal nou stil is , ek glo daar is baie mense wat nog dinge teen hom het, hoop en glo Gordhan weet te veel van hom en sy makkers, dis n skande, maar n eye opener vir ons almal, die land is op die brink van verval.

Karma ·

Mielie, jy het dit verkeerd! Ons is nog vir ten minste 3 jaar met hierdie skelm blikslae en sy ‘cronies’ opgeskeep – dit is slegs munisipale verkiesings in Augustus, nie nasionale verkiesings nie. En dans soos hulle wil, gaan nòg die DA nóg die VF+ of enige ander party veel uitrig in die opkomende verkiesings. Die ANC voer al LAAANKAL kiesers van oor die grens in. En onthou jy, ná 9/12 en in sy begrotingstoespraak, het Gordhan iets soos “vir solank ek hier is” gesê? Hy (en ons almal) het toe geweet dat Zuma net Van Rooyen se aanstelling teruggetrek het omdat hy gesien het watter skade dit aangerig het toe hy sy pionne begin rondskuif. Zuma is SA se Armageddon.

Theuns ·

Herman jy het weer raakgevat met jou kommentaar! Dit sal egter seker ook nie vergesog wees om te dink hier is weer ‘n geld maak storie aandie gang nie. Ek sal my laaste Rand verwed dat Zuma, die Guptas, sy Familie en “cronies” in die voorafgaande weke hulle geld uit Suid Afrika uitgeneem het en in die buiteland veruil het vir Dollars en nou op ‘n subtiel georkestreede wyse die disinformasie versprei dat Gordhan en Manual op die punt staan om gearesteer te word! Die impak hiervan is Rande wat miljoene baar terwyl daar in die ANC partytjie gehou word. Wees verseker dat die Media weer die skuld gaan kry vir die ekonomiese ontwrigting. Kyk na Zuma as hy lag, sy hande in die lug opgooi en se ” I did nothing wrong”

Ben ·

Waarom alweer hierdie BS? Het die voos Rand nie al vêr genoeg geval nie? R60.00 per $ is ons voorland sowaar!

vermeende ·

Dir rand het reeds teen 10:15 met 50c teen al die groot eenhede verswag en n Dollar kos nou R15.50
Zuma se vorige oops het die land R100 biljoen gekos en sit is n ope vraag hoeveel die een sal kos.
As die n politieke skinderstorie is om Zuma te probeer dwing om aftestaan dan is die person/e net so sukldig soos Zuma en daar sal dan fel opgetree moet word.
Hierdie lyk meer na n paleis revolusie tussen partye vir selfvereiking maar dan kon Zuma ook nie onderskat word nie, almal weet nou al dat die land vir hom niks beteken nie en net n beursie is en betaal sal ons maar weer moet betaal.

E ·

Soos ek verstaan is die “rouge” eenheid gestig om belasting ontduikers te ontbloot. Nou as Gordon en kie hieroor vasgepen word beteken dit mos die skuldiges sit met die septer in die hand.

Wees saam korrup en jy leef lekker, probeer ons ontbloot en jy word aangekla?

Wens ek was skatryk, dan het ek hierdie land lankal verlaat.

Oupa D ·

Dis my, as ou man, se raad aan jong Afrikaners. Verlaat ten alle koste hierdie land so vinnig julle kan. Vergeet die stories van lojaliteit en al die politieke retoriek oor “maak-‘n-verskil”. Gee pad terwyl julle jonk is en kan! Dis duidelik dat dat die ANC en ander partye NIE die blanke wil hê nie. Die gepratery daaroor is nonsens en jy skuld net jouself lojaliteit – niemand anders nie. Op watter gronde gaan enige ander “ANC-kader” wat President gaan word na die ramp wat ons nou het, anders optree? Niks sal verander nie. Tree nou op, of huil lang trane.

Poplap ·

Die lig aan die einde van die tonnel is toe werklik ‘n aankomende trein.
Uitstekende raad Oupa en E!

TTh ·

… SA is kort op die hakke van Venezuela, gaan kyk gerus wat tans daar aangaan, ‘n kriminele regering het sosialisme ingebring en alles in daardie land het omgedop … kapings, moord aan die orde van die dag, en in die algemeen is die kosvoorraad op, winkels is leeg… anargie is ‘n realiteit daar …

Theuns ·

Oupa D jy vat die woorde uit my mond uit! Die meeste partye(99%) is die selfde. Die ander wat oorbly Is amper niks-segend klein.

Armando ·

Ouderdom bring nie noodwendig wysheid nie. Kyk wat skryf een wat homself “Oupa” noem! Wat gaan van ons almal word as al die jong mense die land verlaat? Wie bly oor om die wa deur die drif te trek? Om iets van die land te maak? Om die stukke op te tel? Ja, jy is seker OK, maar wat van die wat agterbly, jou ouers en grootouers? “Oupa”, plaas ‘n wag voor jou mond en dink voor jy praat.

Rynhardt ·

DAWIE ROODT, moenie nou huil oor grondwetlike demokrasie nie! Jy en talle ekonome weier om uit te spel vir Anc dat ekonomie lankal vernietig is! In die naam van die sogenaamde demokrasie weier jul nes die ooms met die groot mae in parlement om Anc aan te vat oor regstellende aksie! SA ekonomie kan nie meer regkom nie.VSA druk papiergeld vir vale, voordat dollar gaan val en n skokkende effek op wereldmarkte gaan he.Weereens n “black out” by ekonome, SAUK en Media 24, ook n permanente “Black out” by die ooms in parlement! Talle mense leef nog steeds in ontkenning m.b.t. SA! Rand gaan nog meer waarde verloor.Vandag op E -Tv verhandel hy reeds R15,58 teenoor dollar.Vanoggend op Radio Helderberg was reeds gese dat as Gordhan gearresteer word, val die rand met mening! Sou Zuma bedank, val die rand ook met mening! Dit maak nie saak wat hul probeer nie, ellende wag en Zuma gaan SA daarheen neem!Berei voor vir die ergste in SA!

Grassie ·

Zoempas is duidelik paniekerig oor iets wat by finansies oopgekrap kan word. Al die samelopende omstandighede is net te veel om toevallig te wees. Eers die Nene – Van Rooyen skandaal en toe die aanstelling van Gordhan, ooglopend teen Zuma se sin. Nou die heksejag teen Gordhan – hy word gedreig met arrestasie (in ‘n onbenullige saak) om hom kwaad te maak sodat hy moontlik bedank en ook gerugte dat hy deur ‘n onbevoegde Zuma-kornuit vervang gaan word. Dan is daar nog ander sinistere gebeure soos die Guptas se onwettige landing op ‘n doeanevry Waterkloof, Malema se bewering dat Zuma miljarde rande met sy amptelike vliegtuig na Dubai vervoer het kort voor die Guptas oornag padgegee het soontoe en toe sommer ‘n peperduur woonhuis daar gekoop het. Gedurende hierdie tydperk het Van Rooyen, tydens sy paar dae as minister van finansies, ook op Dubai gaan kuier. Daar is ook die geval van ‘n vliegtuig wat onnodiglik in Harare geland het met miljarde rande se banknote en ‘n dooie passasier in die ruim. Die amptelike storie is dat die passasier aan natuurlike oorsake dood is, maar sy bloed het onder die vliegtuig uitgesypel.
Al hierdie feite saam klink amper soos ‘n TV-drama, soos “Binnekring”. Enige ondersoek daarna sal egter deur die Valke en NVG gedoen word, wie se bevelvoerders glo sorgvuldig deur Zoempas uitgesoek en aangestel is. Tensy Gordhan natuurlik kan vasbyt en die hele miernes oopkrap.

Flippie ·

Hulle kan sê wat hulle wil. Maar daatdie “rogue” ernheid het R160000 wederegtelik uit my bankrekening getrek en dit laat verdwyn. Niemand kom ooit weer die geld opspoor en aan my terug besorg nie.

Dus as Gordan die eenheid gevestig het, hoop ek hulle vevolg hom en Ivan Pillay hel toe en terug. Al beteken dit dat SA van die planet aarde af tuimel.

Nita ·

Word hierdie stories oor Gordan nie versprei om ander aaklige korrupsie, toe te smeer nie? Hierdie land se ekonomie sal nie nog n Des van Rooyen debakel, oorleef nie.

Theuns ·

So pas ‘n intresante storie gehoor op Pta FM. Die Britte het ‘n prentjie geskets van wat die ANC moontlik kan doen om aan bewind te bly sou hulle die verkiesing verloor. Hulle het nog nie gese wat hulle bevinding is nie. Maar ons weet wat hulle planne is. Plan A: Veroorsaak chaos, verklaar verkiesing nietig! Prez. regeer as Diktator. Plan B: Bekook die verkiesing!Plan C: Voer Staatsgreep uit. Prez regeer saam met polisie/militere junta.Nasionaliseer alle grond en banke! Aanklok reel geld.!Daar kan ook n variasie wees van al die elemente in die planne genoem wees. Kan jy jou n situasie voorstel dat die ANC die verkiesing verloor het?

John ·

(Flippie wie se vir jou die eenheid het jou geld gesteel? Jou bank?) Die rentekoerse gaan na bewering binnekort weer op. Buitelanderse/ plaaslike beleggers bele net geld in ons banke vandaar dat die koerse moet styg. Die banke lag al die pad na die bank. Mens wonder watter lande het ook hoe rentekoerse? Bewaar ons finansies as die ligte ook daar gereeld moet afgaan, met Eskom-fundi’s in beheer. Ons president is nou so vol vim, ge’hiper’. Dit maak mens ongemaklik. Iewers is iets aan die gang.

Flippie ·

Die geld is terug gespoor tot by ‘n rekening van die betrkke eenheid. Hulle het my kamtig ondersoek – nie eers die “normals”SARS” kom die geld teug forseer nie. Die saak het dood gegaan toe die eenheid ontbind was en sy agente wat daar gewerk het laat gaan was. Die agente het vir kommisie gewerk.

Jaycee ·

John, jou woorde “Iewers is iets aan die gang” is baie waar. Na baie jare wat mens SA se politiek volg ontwikkel jy ‘n soort van sesde sintuig en my oortuiging is oorverdowend dat Zuma en wie ook al kop in een mus met hom is, besig is om ‘n duiwelse plan vir SA te laat realiseer. Dis soos ‘n legkaart met al die stukke op die tafel maar sonder ‘n aanduiding van hoe die prentjie aan die einde moet lyk nie. Die stukke vir die legkaart is daar: Zuma, Guptas, Nene, Gordon, Hawks, NVG, nepotisme, selfverryking, gekonkel met groot geld in en uit SA, wegdoen met ware tekens van demokrasie soos vryheid van spraak en regverdige verkiesings. En nog baie ander. Ons gewone landsburgers is in die duister en kan in ‘n groot mate net spekuleer oor wat in die mou gevoer word. Maar een ding is seker: met Zuma as ‘n belangrike stuk in die legkaart gaan die uiteindelike prentjie van hoe SA daar sal uitsien niks minder as ‘n nagmerrie weerspieel nie. Dit beklemtoon weereens hoe afhanklik ons gewone mense van die nuusmedia is, want ons vertrou dat sonder om te skroom, hulle hierdie stukke van die legkaart sal toelig. Dis reeds duidelik genoeg dat Zuma en sy ander bende-lede so gou moontlik uit hulle gesagsposisies verwyder moet word.

Johannes Meintjes ·

Duidelik gaan die Nuwe SA nie oor regering nie maar oor agendas. Lank sluimer die Afrikanervolk!

Marietjie ·

Abrahams by die NVG is daar geplaas om zuma te beskerm. Joke op TV dat niemand verhewe bo die wet is nie kometaar van Abrahams, hoekom arresteer hy zuma nie, daar is duisende aanklagtes wat bo alle twyfel kan bewys dat hy n skelm is, en misdade gepleeg het. Is zuma dan nie verhewe bo die wet?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.