Nuuskommentaar: SA se Roemeense korrupsieles

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Roemenië se inwoners het pas met massa-optrede die regering gedwing om ’n dekreet te herroep wat amnestie sou bied aan mense wat hulle aan sekere kategorieë korrupsie skuldig gemaak het.

In Suid-Afrika vind vyfdekolonners nog die luukse om adv. Gerrie Nel te kritiseer oor hy by AfriForum aangesluit het om ’n eenheid vir privaatvervolging in te stel. In hierdie nuuskommentaar word vir die interessantheid dele doodgetrek wat waarskynlik onder die sensuur van die beoogde sogenaamde snoerwet, die beoogde wet op haatspraak en die voorgestelde beleidsdokument oor die organisering van godsdienstige groepe in die slag sou bly.

Op die SAUK se TV-nuus is Roemenië as een van die mees korrupte lande in Europa beskryf. Kyk ’n mens na die interaktiewe kaart van Transparency International, dan is Roemenië die 57ste mees korrupte land ter wêreld, met Suid-Afrika in die 64ste plek. Suid-Afrika is dus aansienlik korrupter as Roemenië, selfs nadat die land die afgelope paar jaar sy posisie op die indeks onverklaarbaar verbeter het. Bygesê, in die eerste aantal jare ná pres. Jacob Zuma se bewindsaanvaarding het die land soos ’n klip op die indeks geval.

Lande wat voorheen agter die ystergordyn was, en selfs deel van die Sowjetunie was, het reputasies van uiters korrup te wees. Rusland en die Oekraïne deel byvoorbeeld die plek vir korrupsie op die indeks, naamlik die 131ste posisie. Georgië deel die 57ste posisie met Roemenië.

Roemenië was pas in die nuus nadat die regering per dekreet aangekondig het dat almal wat aan korrupsie van minder as R630 000 skuldig bevind is of aangekla word, amnestie kry. Die rede wat aangekondig is, is dat die tronke oorvol is.

Niemand kan stry dat Suid-Afrika se tronke oorvol is nie, maar of só ’n amnestie in Suid-Afrika enige beduidende verskil aan die tronkbevolking sal maak, is te betwyfel.

Die weiering van die Nasionale Vervolgingsgesag om meer as 700 aanklagte teen Zuma weer in te stel, hang soos ’n albatros om die land se nek en skep die indruk dat daar vanuit die hoogste geledere ’n besliste aksie is om te keer dat korruptes aan die pen sal ry – veral as hulle regeringsbande het. So neem verskeie nie-regeringsinstansies die Seriti-verslag oor die wapenskandaal op hersiening hof toe – dit egter terwyl Seriti ’n appèlregter is. Zuma probeer ook die (vorige) Openbare Beskermer se verslag oor staatskaping deur die hof te laat hersien, in ’n stap wat wyd as ’n toesmeeraksie beskou word. Die Skerpioene is ontbind, glo nadat dit te na aan sekere politieke ampsdraers se basse gekom het. Die Ontvanger se beweerde “rogue”-eenheid word krimineel onder die vergrootglas geplaas, ook nadat dit na bewering te na aan sommige van Zuma se vriende gekom het.

Maar wat het in Roemenië gebeur? Reuse-betogings het landswyd uit protes teen die voorgenome amnestie uitgebreek. Kort voor lank moes die eerste minister die handdoek ingooi en gaan die dekreet ná ’n kabinetsitting herroep word. Die premier, Sorin Grindeanu, nogtans die bedoeling van die dekreet is swak met die publiek gekommunikeer en is daarom verkeerd verstaan.

Die publiek sien egter net een ding, wat darem baie klink na wat ons in Suid-Afrika ervaar, naamlik dat dit gaan oor die bevoordeling van mense na aan die regering. In Roemenië bevind talle hulle nou agter tralies. Ook ’n partyleier word aangekla en sou met die beoogde amnestie skotvry daarvan afkom.

Roemenië is nie die eerste Oos-Europese land waar die bevolking deur massa-optrede teen korrupsie ’n verandering teweeg gebring het nie. In die Oekraïne het die destydse pres. Viktor Janoekowitch, voor volgehoue protes wat hy vergeefs wreed probeer onderdruk het, die handdoek ingewerp en na Rusland uitgewyk. Met die mees onlangse verkiesing wou Janoekowitch se eie party hom nie eens as kandidaat hê nie, nadat nóg korrupsie aan die lig gekom het, waaronder ’n gemeubileerde paleis wat Nkandla na ’n primitiewe rusoord in die bosse laat lyk.

Daar is nie ’n kompromis vir die bedryf van korrupsie nie. Georgië beklee steeds ’n swak posisie op die korrupsiepersepsie-indeks, selfs nadat sy hele verkeersmag afgedank is en nuwe aanstellings gedoen is. Korrupsie het eenvoudig te endemies geword.

Met bedenklike tenderprosesse in Suid-Afrika, waar die manipulasie dikwels onder die vaandel van BEE en transformasie gedoen word, meen sommige kontrakteurs hulle het eenvoudig geen keuse as om aan korrupsie mee te doen nie, as hulle self vir tenders in aanmerking wil kom. Wannee  die een of ander vorm van “fronting” voorkom, hoes die belastingbetaler met mening, want die “suksesvolle tenderaar” het self nie die middele nie, en subkontrakteer die vorige tenderhouer teen veel meer as wat die vorige tenderaar se eie tender was, terwyl die huidige tenderaar self nog ’n ruim bedrag in sy sak steek.

Is dit endemiese korrupsie of is dit gewoon bemagtiging?

Daar is verskeie private aksies teen korrupsie, maar niks wat die omvang aanneem dat die regering tot meer as bekpraatjies beweeg kan word nie, laat staan nog die regering laat val.

Miskien was Zuma reg dat korrupsie ’n Westerse konsep is, of ten minste te veel van ’n Westerse konsep dat ook hier grootskaalse protes daarteen losbars. 

’n Konsep wat veral in akademiese kringe gedryf is, is dat Zuma in ruil vir vroeë aftrede ’n amnestie teen vervolging gebied word. Intussen, so lyk dit, het die tyd aanbeweeg tot na aan Zuma se uittrede as ANC-president, en twee jaar later as president van die land. Hy moet dus ’n “legacy” bewimpel dat hy nie na sy aftrede vervolg word  nie.

Vir baie Suid-Afrikaners het die nuus dat adv. Gerrie Nel by AfriForum aangesluit het om ’n private vervolgingsarm op die been te bring as ’n groot verligting gekom. Kallie Kriel, hoof van AfriForum, is in Rapport aangehaal oor ’n hele rits sake wat met bewyse en al by die SAPD aanhangig gemaak is, maar waarvan dadels gekom het.

Maar wat gebeur? Omtrent al die lede van die Seunse Weenkoor trek los en kritiseer die stap. Dit word nogal mooi deur Daniel Sutherland in South Africa Today uiteengesit. Dit kom daarop neer dat die Suid-Afrikaanse weergawe van die Huffington Post (waarin Media 24 ’n groot aandeel het) en News 24 verskeie artikels van kritiek oor Nel se stap opgelewer het.

Uiteraard frustreer dit pogings van mense soos Beeld se redakteur, Barnard Beukman, om Media 24 se geloofwaardigheid onder ’n breër Afrikaanse gemeenskap te bewerkstellig (waarvoor Afrikaanssprekendes moet betaal).

Sutherland meen ’n groot deel van die venyn in hierdie artikels teen Solidariteit en AfriForum spruit uit die stigting van Maroela Media, wat nuus gratis bied. Hoewel Sutherland dit nie pertinent stel dat Maroela Media onbevooroordeelde nuus bied nie, impliseer hy dit deur Media 24 van bevooroordeeldheid te beskuldig.

Dit is jammer dat hier persepsies van die een teen die ander moet ontwikkel, want Afrikaans is veels te veel onder druk om nog sulke tweespalt, werklik of gewaan, ook voor plek te maak.

En om Afrikaans sy grondwetlike regte te ontsê is ’n teken van wetteloosheid, net soos korrupsie. Die aanslag van owerheidswee, selfs sonder vyfdekolonners, is al fel genoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Godfrief ·

Swap artikel. Maak all korreksies voor dat julle uitstuur.

Janie Monsieur ·

Dagsê Godfried,

Dankie vir jou kommentraar. Lees asseblief die volledige berig vir konteks. Dit lui: “In hierdie nuuskommentaar word vir die interessantheid dele doodgetrek wat waarskynlik onder die sensuur van die beoogde sogenaamde snoerwet, die beoogde wet op haatspraak en die voorgestelde beleidsdokument oor die organisering van godsdienstige groepe in die slag sou bly.”

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Gerd Lourens ·

Hoe kontak ‘n mens Gerrie Nel se afdeling met inligting oor erge korrupsie? Ek wil dit nie per e-pos doen nie, maar ‘n afspraak maak met ‘n bevoegde persoon.

Koos1 ·

Gerd, kontak jou plaaslike Afriforum tak. Neem net ‘n ag dat jou saak nie sommer so deur hulle gevat gaan word en ondersoek gaan word en hof toe gaan nie. Gerrie hulle is in kinderskoene en moet eers ‘n paar proef sake deur gaan.
As ek jou kan raad gee, volg eers die amptelike kanale. Jy mag miskien verbaas word as jy sien daar is nog moontlik mense wat hulle werk wil en kan doen.

Johann ·

Die berig is swak gepubliseer. Al die deurgetrekte stukke hoort nie daar nie. Dit lees moeilik en die opskrif is dubbelsinnig.

Janie Monsieur ·

Dagsê Johan,

Dankie vir jou kommentaar. Lees gerus die hele berig vir konteks. Dit lui : “In hierdie nuuskommentaar word vir die interessantheid dele doodgetrek wat waarskynlik onder die sensuur van die beoogde sogenaamde snoerwet, die beoogde wet op haatspraak en die voorgestelde beleidsdokument oor die organisering van godsdienstige groepe in die slag sou bly.”
Die doodgetrekte dele is dus opsetlik so.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media.

JC ·

Baie dankie Herman, weerens ‘n knap artikel. Jy is sekerlik ‘n baie intelligente persoon, en jou artikels en die inhoud daarvan word altyd waardeer. Dankie dat jy ook nou die grootste geheim, wat almal reeds van bewus is, verklap het: naamlik dat Maroela Media deur sy onselfsugtige, relevante, aktuele, onbevooroordeelde en intelligente artikels besig is om die ander “Afrikaanse” nuusagentskappe uit te stof. Relevantheid en objektiwiteit sonder polities korrekte gedienstigheid is tog al wat gevra word; maar helaas is Maroela die enigste wat dit kan bewerkstellig. Geluk Maroela, julle het al diep in die Afrikaner en Afrikaanses se harte ingekruip en kan die vraag derhalwe gevra word: indien jy nie jou daaglikse nuushappie neem by Maroela Media nie; in watter wereld leef jy? :-) NS: Ek voorspel, enersyds ongelukkig tog tot nadeel van Afrikaans, dat die ander “nuusagentskappe” binnekort gaan inplof. Dit is skynbaar maar die duur prys wat betaal moet word vir swak, SUBJEKTIEWE en ideologiese gedrewe en gedienstige joernalisme. “adapt or die, adapt or die”

Peter ·

Lyk my ons het ons eie Seunse Weenkoor hier. Weejy! Konsentreer tog asb eerder op die belangrikheid van wat hierdie artikel vir ons probeer sê

Lag Net ·

Die “gesensorde” berig is interessant! Dink net hoe gaan die prediking tydens eredienste klink nadat die regering dit beetgehad het! Dit is nou te sê, indien die huidige voorgestelde wetgewing deurgevoer word.

Ella ·

Johann jy HOEF nie die berig te lees nie, of het jy aandele in die gratis koerant, sodat dit jou reg is om sulke kommentaar te lewer? Soos Janie van Maroela verduidelik het….klaarblyklik het jy nie die berig ordentlik gelees nie, maar sommer uit beginsel gekla? Hulle sê ‘n mens kan ver kom as jy (kan) lees…

John ·

Ooooh! Ons Afrikaners darem. Klaar die wa gepak. Wag net vir Piet die touleier om van die skool af te kom, dan trek ons… Kom nou vrou… Los die vuil skottelgoed…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.