Nuuskommentaar: SA skandes voor begroting

’n Minister van finansies het ’n skandaal van nasionale belang so kort voor die nasionale begroting omtrent net so nodig soos ’n terminaal gevaarlike operasie. Op die oog af het twee so half buite die hoofstroommedia se aandag plaasgevind, en is deur MyBroadband aan die kaak gestel.

Gwede Mantashe, minister van energie, het eerstens die bal heeltemal mis geslaan toe hy te kenne gegee het dat private kragvoorsieners wat Eskom uit sy leweringspenarie sou kom help, gewoon nie bestaan nie. Hy beskryf dit as ’n “red herring”.

Tweedens, dat daar Suid-Afrikaners is wat in Australië om vlugtelingstatus aansoek gedoen het, en aan wie die aansoeke toegestaan is. Dit staan in skrille kontras met ’n vorige keer toe die aansoek van ’n Suid-Afrikaner in die buiteland groot nuusdekking gekry het, en die regering boos ontken het dat die misdaadvlakke in die land die toestaan van vlugtelingstatus regverdig.

Die oorspronklike polemiek het ontstaan toe die Suid-Afrikaner, Brandon Huntley, Kanada in 2004 met ’n tydelike werkpermit binnegegaan het, en in 2008 om vlugtelingstatus aansoek gedoen het wat toegestaan is. Huntley het die fisieke letsels gedra van misdaad. Die Kanadese regering wat erg witvoetjie by die ANC gesoek het, is in die proses in ’n verleentheid gestel en het appèl aangeteken. Huntley het op sy beurt ook appèl aangeteken nadat die regering se appèl geslaag het, en is effektief uitgeskop.

Op 5 September 2009 het die Sunday Star egter berig dat daar nie minder nie as 600 Suid-Afrikaners as vlugtelinge oorsee woon. Dr. Dan Roodt het dit soos volg op Praag se webwerf opgesom: “Daar is nog 32 ander gevalle van Suid-Afrikaners wat as vlugtelinge in Kanada leef.

“Terwyl die Suid-Afrikaanse owerhede skarrel om die internasionale verleentheid van Huntley se asiel te probeer verberg, het dit voorts aan die lig gekom dat daar altesaam 600 Suid-Afrikaners is wat as vlugtelinge oor die hele wêreld leef.

“In Duitsland is daar 170, in die VSA 111, 46 in Ierland, 33 in Kanada, 18 in Frankryk en 15 in Australië.”

My Broadband onthul egter nou, via The Australian, dat al hoe meer Suid-Afrikaners met die beskermings- en humanitêre visums aansoek doen om in dié land te woon. Die gemiddeld van 2008 tot 2017 was 35 per jaar. Sedert die minister van binnelandse sake, Peter Dutton, egter in 2018 gesê het wit boere uit Suid-Afrika se aansoeke behoort weens humanitêre redes in ’n snelbaan beoordeel te word omdat hulle in Suid-Afrika “horrific circumstances” moet trotseer “following reports that they are murder targets, and amid concerns of land grabs following a recent proposal for land expropriation without compensation”.

Voorts behoort min. Mantashe nou met baie eier in die gesig te sit nadat My Broadband ’n uitgebreide artikel geplaas het onder die opskrif: “Here it is – The available renewable energy which Minister Gwede Mantashe said does not exist”.

Mantashe, ’n kommunis, is al dikwels daarvan beskuldig dat hy die ontwikkeling van skoon, hernubare energie deur privaat inisiatiewe probeer smoor om Eskom se monopolie te versterk, en om die uitleg op kernkragprojekte te verwerklik. Nadat pres. Cyril Ramaphosa in die staatsrede gesê het hierdie privaat projekte sal voortaan ondersteun word, het Mantashe opnuut aangedui dat sulke potensiële leweransiers doodgewoon nie bestaan nie.

My Broadband haal ook die energiekenner Chris Yelland aan wat sê dat daar reeds 2 000 MW van hierdie niebestaande kragvoorsieners aan die Eskom-netwerk gelewer word, en dat dit baie vinnig dramaties uitgebrei kan word.

Mantashe se aanspraak dat “nog niemand” sy departement met ’n aanbod om lewering genader het nie, word ook as “wild met die waarheid omgaan” onthul. Die South African Wind Energy Association (SAWEA) het in Desember aangebied om dadelik 500 MW aan die nasionale netwerk te lewer.

Tans is wetgewing, en meer bepaald die regulasies vir die maksimum uitvoerkapasiteit (MEC) beperkend oor die hoeveelheid krag wat windplase mag lewer. Nersa pas dit ook beperkend toe.

Die Afrikaanse media het ook reeds volledig berig oor die potensiaal en die begerigheid van boere om baie gou die leemte wat Eskom se kapasiteit laat, te vul. Trouens, uit politieke kringe is verweer dat hierdie krag wat Eskom moet inkoop, duurder is as Eskom se verkoopprys en dus teen ’n verlies verkoop moet word. Die ander kant van die munt is dat skoon energie jaarliks relatief goedkoper gelewer kan word.

Die voorbeelde wat hierbo genoem word, is maar net enkele van die skandale wat die land nou skynbaar onstuitbaar tref. Die vernaamste ander voorbeeld is die regering se voortgesette pogings om grondgryp sonder vergoeding meer aanvaarbaar te probeer maak deur dit “land reform” te noem.

Om die land se ekonomie so blatant te probeer verongeluk, klink mos meer na hoogverraad, die woord wat Ramaphosa nou self ingespan het oor die apartheidsontkenningsekskursie waarop die land so pas was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nie Verbaas ·

En so word alle leuens ontbloot. Nie meer lank vir die land se regering voor hulle ons terug in die jaar 1400 het nie. Gee op asseblief. Dis die enigste manier om die land terug te vat na waar hy was en te verbeter.

Johan Venter ·

Ek vertrou dat elke lid van die opposisie partye in die parlement, veral die VF+ en die DA, loop met ‘n afskrif van hierdie nuuskommentaar van Herman Toerien van vandag af in hul pak se bosak rond, sommer ook een in die aktetas.

Bloedhond ·

Herman Toerien slaan die spyker op sy kop. Hulle kan ‘n afskrif ook op die yskas plak, dink dit sal beter werk.

Danie ·

Wanneer die met ‘n baie lae IK (of IG) dink dat almal ‘n lae IK het. Dit is maklik om die met ‘n baie lae IK met feite te verneder.

Jannie van Niekerk ·

Die hele ANC/SAKP/COSATU?EFF alliansie is hoogverraad.

Koos ·

Kommunis Mantashe op sy beste. En hy sal, tesame met die hele kabaal kommuniste, plus EFF ensovoort, net die vernietigende ideologie tot die dood bevorder en afdwing. Ramaphosa is die kundigste en dáárom lei hy die onderdrukkers en vernietigende baie slu.

Willem ·

Wat die ANC en sy kaders/meelopers in hierdie land aangevang het is erger as enigiets wat die NP ooit gedoen het. Die skrille geskreeu oor apartheid is net om die gemors wat hulle veroorsaak het te verdoesel. Nuttige idiote soos Max du Preez en andere sterk hulle net in hul kwaad.

Pampoen ·

Die probleem is dat die mense wat so uitgevang word, dik velle het. Hulle voel vere vir die skande en niemand hou hulle ook verantwoordelik vir die bog wat hulle kwytraak nie. Hulle snork rustig voort terwyl ons deur ons snorbaarde blaas.

Kirst ·

Herman/MM
Word “jota en tittel” nie verkeerd gebruik in die artikel nie? Sover ek weet beteken “geen jota of tittel” juis min of meer niks of baie min.

Megan Swart ·

Dagsê Kirst
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Leon ·

Die buiteland glo alles wat die ANC kwytraak. Ek kan nie glo dat die buiteland vlugteling status aan Suid Afrikaners gee nie want hulle dink die ANC en sy moordenaars is engelties. Hulle kan mos niks verkeerd doen nie.
Die ANC kan nie toelaat dat onafhanklike kragvoorsieners in die mark kom nie, want dit neem die totale beheer uit hulle hande uit en dit is nie in hulle handboek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.