Nuuskommentaar: SA te ingewikkeld vir Zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Het pres. Jacob Zuma met die kritiek wat hy voor die land se tradisionele leiers uitgespreek het waarin hy “die ingewikkelde” grondwetlike regstelsel gestriem het, in wese sy boetvaardige toespraak opgeskeur wat hy afgesteek het na die grondwetlike hof hom gelooi het?

Die geheim is uit oor waarom pres. Zuma so kleitrap as president. En die persoon wat die aap uit die mou gelaat het, is niemand anders as Zuma self nie.

In ʼn toespraak voor die tradisionele leiers het Zuma gesê hy sou verkies dat die land se probleme eerder op ʼn “warm” Afrikamanier opgelos word as deur die “koue howe.”

Netwerk 24 haal Zuma aan dat hy gesê het: “As ons dit deur die howe oplos, word dit te gekompliseerd. Die regsmense sê hulle werk net met koue feite. Dit is beslis baie koue feite. Ek sê ons moet hier met warm liggame (mense) te doen hê.”

Óf Zuma word deur baie bedenklike regsmense geadviseer, wat ook die een streepsuiker na die ander verklaar wat sy party in die howe ly, óf hy verstaan regsadvies buite konteks.

Ja, koue feite onderlê die basis van regspraak in ons howe en dis ook waarom voorsittende beamptes gereeld woedend raak as die polisie met forensiese werk op misdaadtonele verbrou het, of in ander opsigte gebrekkige ondersoekwerk aan die dag gelê het.

Maar die bepaling van skuld in strafsake (bo redelike twyfel) is slegs een deel van regspraak en in die breër konteks is die regsorde onderhewig aan die beginsel van natuurlike geregtigheid. Dit word ook mooi in die grondwet uiteengesit – die aspek waaroor Zuma pas in die grondwetlike hof netjies op sy baadjie gekry het.

Die grondwet is alles behalwe ʼn onbuigsame stel reëls soos die Kode Napoleon. Dit stel dikwels breë grense waarbinne, soos ʼn regsgeleerde dit eens gestel het, ʼn wa en span osse kan draai. Dit is doelbewus so geskryf dat die fyner detail deur ʼn wye spektrum handelinge, waaronder resgspraak (wat die beginsel van natuurlike geregtigheid nastreef en onder meer gebruike in ag neem) en wetgewing deur die kiesers ingevul word. Dit laat, terwyl die proses voltrek word, ongelukkig ruimte vir uiteenlopende vertolkings, maar in die konteks van die plaaslike en internasionale reg, hoe beter ʼn regsgeleerde is, hoe minder sal hy in uitleg kleitrap.

In strafsake tree die menslikheidsaspek boonop baie sterk na vore wanneer om strafversagting gepleit word, of aansoek gedoen word vir parool, soos in die gevalle van Clive Derby-Lewis en Janusz Walus. Die ANC en die SAKP se kritiek op die regter se uitlating, dat dit tyd is dat die Hani-gesin vergewe, dui juis nie op “warm menslikheid” nie.

Niemand sal stry daar is mooi elemente in die “Afrika-manier van doen” nie, maar daar is ook baie elemente waarvoor daar net glad nie meer ruimte is nie. Stellig die een wat as ʼn “goeie Afrika-gebruik” beskou is wat weens onder meer moderne kommunikasietegnologie uitgedien en selfs gevaarlik geraak het, is die een waar die stamkaptein saans van gesin tot gesin se vuurtjie in die kraal beweeg en by elke vuurtjie vir die mense vertel wat hulle wil hoor. Dit is as goeie kapteinskap behou.

Maar of dit beteken Zuma kan nou vir elke gehoor vertel wat hulle wil hoor, terwyl die media dit opneem en wêreldwyd versprei, is ʼn gans ander saak. Sy toespraak in Julius Malema se geboortedorp, waar hy die jongeling, toe nog leier van die ANC se jeugliga, as ʼn toekomstige president van die land “aangewys” het, mag in die dorpie goed afgegaan het, maar elders het dit baie hare laat regop staan.

Heelwat van sy uitsprake wat internasionaal opslae gemaak het, soos sy berugte honde-uitspraak, was vir bepaalde gehore bedoel, maar is internasionaal gerapporteer. En sulke opmerkings kan die land as beleggingsbestemming enorme skade berokken.

ʼn Hele paar van die opmerkings, soos oor grond, wat Zuma al voor die tradisionele leiers gemaak het, het ook al opslae gemaak en hy het nou weer feite gefabriseer.

Die tradisionele leiers is ʼn belangrike deel van Zuma se magsbasis. Die tradisionele leiers voel die druk van ʼn moderne grondwet op hul ondemokratiese stelsel en gesag, wat regsgesag insluit. Ter wille van hul steun is wetgewing voorgestel wat, sou dit deurgevoer kon word, sal wegdoen met vroue se verskyningsbevoegdhede in tradisionele howe. Daar is geen kans dat hierdie “warm menslike” handeling die toets van grondwetlikheid sou deurstaan nie.

Uit verskeie van Zuma se aanhalings is dit duidelik dat hy ʼn besonder idealistiese beskouing het van “die Afrika-manier.” Hy verklaar selfs die opsigtelike gebreke en wyt dit onder meer toe aan die koms van Jan van Riebeeck, want “toe het al die land se probleme begin.”

Argeoloë en historici is dit ook nie met Zuma eens dat Afrikane in vrede geleef “en baie pret gehad het” voordat die koloniale era aangebreek het nie. Boonop bestaan Afrika uit veel meer as dit wat Zuma as Afrikane beskou en ander kulture, soos die Egiptiese en Nubiese kulture in Afrika, het al duisende jare bestaan.

Met Zuma se opmerkings voor die tradisionele leiers, het hy sy draai nie te ver van minagting van die hof nie gaan maak.

Wat hy wél gedoen het, is om die boetvaardige toespraak wat hy na die hofuitspraak aan die land se inwoners gerig het (en baie mense het verwag hy gaan sy bedanking indien), figuurlik op te skeur. In wese sê hy die foute waaroor hy so slae gekry het, was nie sy skuld nie, maar is deur ʼn ingewikkelde regstelsel veroorsaak.

Dit lei onverbiddelik tot die vraag: Kan iemand, vir wie die grondwet volgens sy eie erkenning te ingewikkeld is, met sy presidentsampeed om die grondwet te beskerm versoen?

Die ANC gaan vind tensy hy maniere vind om Zuma van sy onverantwoordelike uitsprake te speen, die party (en ongelukkig die hele land) so spyt gaan wees Zuma is nie lankal herroep nie, soos ʼn baber wat ʼn “sparkplug” ingesluk het. Die spook wat deur hierdie versuim losgelaat is, gaan net al hoe groter word.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

alida ·

Het iemand regtig gedink dat ‘n mens met geen skoolopleiding hierdie dinge sal verstaan? Sy raadgewers en die mense wat sy toesprake skryf moet van beter weet as om die arme ding toe te laat omgoed te sê wat hy nie verstaan nie en dan later ontplof dit in sy gesig.

Andrea van Vuren ·

Die ergste is, is dat hy alweer biljoene beloof het om voertuie, huise ens. vir die tradisionele leiers te skenk. As hy na die “warm” Afrika gevoel hunker, sal hierdie ongevraagde geskenke nie daarby inpas nie. Hulle wil met knopkieries en vere op die kop jag. Het hulle ook enige geleerdheid? Jammer ek glo die minister van finansies moet ingryp. Gaan hulle belasting betaal?

Loeis ·

Is ek die enigste een wie moeg begin raak om Zuma se gesig op so baie berigte te sien? Dit raak nou regtig afgesaag…

alida ·

Nee ons is ALMAL moeg vir hierdie bollie. Hulle moet die man summier afdank dan kan ons siele rus.

dirk ·

Ja, moeg om die hele ANC regering se tafereel van mag en hebsug dop te hou. Die besef dat honderde miljarde rande verdwyn het en ‘n klein groep geweldig verryk het, . Daar is geweldige nood vir beter opvoeding, voedselsekerheid, beter lewensomstandighede vir die armstes. Oeboentoe bestaan nie vir sosiopate nie . Die enigste pad is ‘n moderne demokrasie waar almal daardie gemeenskaplike doelwit nastreef met alles wat hulle het en elke siek leuenaar ontbloot en verag vir wat hy is

Meisie ·

Ja hy is nie eers skerp genoeg om Nkandla te regeer nie , wat nog van die hele SA!!

Daleen ·

Wag tot Malema aan bewind kom!!!DIE is nog dommer. Wee ons!!! Die Vader moet vir ons intree.

Henry ·

Mynsinsiens is hierdie skryfsel wat die wortel van die kwaad blootlê, binne-innie-mirril-vannie-kol in.

Koos ·

Daar moet ook van sy toespraak skrywers ontslae geraak word, hulle gebruik sy onkunde om mense op te sweep

Andrea van Vuren ·

As jy van sy skrywers en raadgewers ontslae wil raak, gaan jou geagte president hulle na luukse aftreewonings stuur op jou belastingeld! Wat het van ou Mac Marasj geword? Hy sit heerlik agteroor en lag! Siek, siek, siek!!!

Koos ·

Nie net Zuma nie, maar ek glo alle politikuste sê wat hulle gehore wil hoor. Gaan kyk maar in die geskiedenis en ook vandag, as hulle met die jeug praat is dit die onderwys, met die platelandse gemeenskap, is dit oor boerdery ens, Hulle sal enige iets belowe om aan bewind the bly, en na die verkiesings word beloftes nie nagekom nie. Dink maar aan 1993 – Gratis onderwys, behuising, medies ens.
Verkiesings toesprake en beloftes word bykans nooit nagekom nie.
Wanneer weet jy ‘n politikus gaan lieg?……… as hulle begin praat!
Hulle moet eerder ‘n toespraak begin met die woorde : “Stem vir ons maar moet niks verwag nie. As ons klaar vir onsself, ons vroue, familie, vriende en politieke partye gesorg het, kan ons kyk of iets oorbly om vir julle te gee.”

Armando ·

Koos, ek en mense van my portuur, het politici geken wat bedoel het wat hulle gesê het en gedoen het wat hulle bedoel het. Maar miskien was dit uit ‘n era wat meeste jonger mense nie sal glo bestaan het nie. Daardie politici se name is in elk geval so deur die propaganda van die laaste tye deur die modder gesleep dat meeste dit nie sal glo nie. Ene dr H.F. Verwoerd is ‘n sprekende voorbeeld. Ons sal sy naam eer tot die dag van ons dood.

Spikkel ·

Koos jy praat d waarheid. Maar wat het mense nou verwag van n beeswagter . Ek voel op d stadium moet hulle hom los. Hy doen d ander politieke partye se werwing vir hulle. Hy gaan d ANC meer skade berokken as wat hulle gaan kan herstel met d mooiste beloftes wat hulle kan opdis.

Andrea van Vuren ·

Dr. Verwoerd het met een voertuig gery en nederig geleef. Tannie Betsie het nog liefdadigheidswerk gedoen in die HF Verwoerd hospitaal waar ek destyds verpleeg het. Wat doen Zuma se vrouens? Hulle lewe heerlik, produseer nog dom Zumatjies en ons hou hulle aan die lewe met ons karige belastinggeldjies!

Therese van Schalkwyk ·

Die res van die korrupte faksie van die ANC is stil-stil baie verlig dat Zuma met die skamele Nkandla-miljoene en belaglike uitlatings kort-kort die aandag aftrek van die miljarde der miljarde Rande wat elke jaar wanaangewend of bloot gesteel word.

Die fokus op Zuma is onbegryplik, want die misbruik (steel) van staatsgeld het van dag een in die nuwe SA plaasgevind. Tot soveel as R36 miljard per jaar sedert 1994 is al genoem! Trevor Manuel, wat nou weer geprys word vir sy oproep dat Zuma bedank, se naam is bv. pertinent genoem in die wapenskandaal. En hy is maar net een …

Dalk, net dalk, sou president Zuma meer verantwoordelik opgetree het as dit uit die staanspoor die gebruik in die ANC-regering was, en as die publiek oor alle geld-skandale so tekere gegaan het soos tans. Natuurlik wil elkeen skep wanneer dit sy beurt is. Die volgende persoon gaan ook sy/haar “Nkandla”-triek trek.

MTSteyn ·

Fantasties! Uiteindelik ‘n sinvolle bydrae, en boonop in keurige Afrikaans! Ek lees maar min sulkes hier op MM raak.

Zuma en sy Nkandla goue-handdruk (want dis tog wat dit eintlik is, liewe leser) is nie die kern van die probleem nie. Die arme man volg bloot in die voetspore van die voor hom, en doen presies soos diegene op die oomblik rondom hom!

Waarom moet Zuma bedank op aanvraag van die liberaal-gedrewe, naiewe, massa media propaganda en die dagga drome van ‘n paar uitgeweke ANC’s? Is Zuma se bedrog groter as die van die vorige ANC en oud NP leiers (veral in die laat tagtigs)? ‘n Duisend maal Nee! Zuma word nie op grond van sy beweerde bedrog versoek om plek te maak by die trog vir ‘n ander ‘leier’ nie, maar om totaal ander duistere redes.

So ‘n klein bietjie ondersoekende joernalistiek vanaf Toerien en kie se kant sou dit heel moontlik kon bevestig. Maar dit klink dalk te veel na ‘n samesweringsteorie, en nie iets wat by die middelgrond-soekende MM sal pas nie.

Poplap ·

Miskien moet oom ons van al die onheilighede vertel wat oom van weet. Dan kan Hermann en ander joernaliste die spoor van daar af vat.
In keurige Afrikaans soos die seders in Boksburg dit kan doen.

REGVERDIG ·

Ek wil net graag weet: hoe gaan die geweld en moord en roof en brandstigting en riots gestop word as daar n ander President aan bewind kom?
Wie gaan hulle beheer en hoe gaan hulle dit doen?

Peter ·

Dis ‘n goeie vraag en ook een wat ek graag beantwoord sal wil hê

Riana ·

Julle hy moet vininger uit tree as wat hy in gekom het. Anders het ek meer raad vir hierdie land van Ons nie. Dan kan ons ook maar terug gaan in Jan van Riebeeck se dae weer.
Here Help Ons dat die mense sien wat aan gaan.

StopTheMadness ·

Ek sê dit vir die hoeveelste keer: Zuma het sy kleure gewys met sy destydse uitlating dat korrupsie n westerse konsep is. Hy is 100% korrek. Dieselfde geld die Romeins-Hollandse regstelsel, demokrasie, die parlement as instelling en die grondwet, kommersiele boerdery en verantwoordbaarheid. Alles westerse konsepte wat nie geld in die Afrika konteks nie. Hoe vinniger ons dit verstaan en aanvaar hoe vinniger sal ons besef waarheen hierdie mense oppad is.

Veritas ·

‘StopTheMadness’, wat jy sê is dalk nie polities korrek nie maar beslis geskiedkundig korrek. Regdeur die geskiedenis van Afrika, word die mag van die hoofman/koning van enige Afrika- stam/volk uitgelig. So ‘n heerser se woord is wet en word nie bevraagteken nie. Demokrasie is ‘n vreemde begrip in Afrika en dit is die rede hoekom die meerderheid steeds vir die ‘Hoofman’ sal stem al druis sy bestuurstyl in teen alle westerse norme. Onderdanigheid aan die leier is belangrik, al word daarvan verskil. Dit is hierdie ‘onderdanigheid’ wat gaan veroorsaak dat die ANC nie maklik uit die kussings gelig sal word nie.

Willie Olivier ·

Almal hammer weer oor sy huis Intussen word die baie ander sake soos die Gumtas vergeet Hy kom weer weg Los die verlede Wat van die toekoms>

Cilliers ·

As die “demokrasie:” dan so ‘n vreemde Westerse beginsel is, hoekom het hulle so ge-“struggle” om dit te kry>? En noudat dit hier is, verkrag hulle dit op elke draai, met ou Stortkop wat voor lei!

Rln ·

Ek het nogal reg voorspel… het Mbeki, toe Zuma en nou het ek weer se ek dat Malema die volgende President gaan wees… en as hy inkom o wee!
Met Mbeki het ek gese die land gaan nie hou nie want hy is familie van Mugabe en kyk wat het hy met Zimbabwe gemaak… toe Zuma inkom het ek die land verlaat en hou die ekonomiese nuus dop sedert ek weg is om te sien of ek die regte ding gedoen het om te trek en sover is ek bly ek is weg… Ek voel net baie jammer vir almal wat agterbly en wil trek maar nie kan nie oor een of ander rede, hetsy gesondheid, finansies, geleerdheid, of ouderdom. As jy mooi daaraan dink…. die Blankes het met skepe oorgekom die Swartes was in Afrika… het net afgetrek na die suidpunt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.