Nuuskommentaar: SA te koop – 90% afslag of grootste fooitjie onder tafel

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

’n Paar jaar gelede het ’n ontleder opgemerk die moeilikheid is dat die ANC nie skandale in eie geledere as sodanig beskou nie. In plaas daarvan dat John Block as “block” aan die been beskou is, was hy steeds vir baie ’n held. In plaas daarvan dat Peter Mokaba weens rassisme vasgevat is, is ’n sokkerwêreldbekerstadion na hom vernoem en is dié man, bekend vir sy “Kill the Boer, kill the farmer”-aanhitsery soos ’n held vereer. Tony Yengeni is deur ’n jillende skare ondersteuners by Pollsmoor gaan wegsien waar hy tronkstraf vir omkopery moes uitdien. Die huidige minister van internasionale betrekkinge was een van die voorbokke.

Lank ná pres. Jacob Zuma se naam daarmee heen is, het die ANC hom nog as “gesig” vir hul verkiesingsplakkate gebruik. Toe dit boemerang en die verliese ontleed is, is ’n taamlike lang lysie opgerakel oor wat skeefgeloop het. Maar die Zuma-faktor in die verkiesingsverliese is nie as een gelys nie.

Intussen het daardie lys van anti-helde al ellelank geword. Oudpres. Jacob Zuma het die ANC se doodsteek, korrupsie, as niks probeer afmaak deur dit as ’n Westerse konsep te beskryf. Wou hy nou daardeur te kenne gee die heldeverering vir misdadigers is ’n Afrika-konsep?

Intussen word die skade wat Suid-Afrika weens die “nege verlore jare” aan korrupsie en staatskaping gely het algaande in rand en sent uitgedruk, al hoe duideliker.

Eskom, wie se eie “staatsuitgifte” ’n paar jaar gelede meer werd was as die staat s’n, is net enkele jare later so hopeloos in die skuld dat dit kwalik denkbaar is dat dié eertydse pronkstuk en een van die bestes ter wêreld met sy huidige skuldlas ooit die miljarde rande rente wat die skuld nou jaarliks tot die skuldlas bydra, sal kan vereffen.

En voor dít was dit die SAL, SAUK, Transnet, Petro SA, die VBS-bank, die Ontvanger, ’n suiwelplaas in die Vrystaat, die Openbare Beleggingskorporasie en vele meer wat leeggesuig is of rot en kaal besteel is. Nou het Telkom sy onvermoë om ’n rekenaarstelsel te bedryf vir die derduisende klagtes van mense wat nie daarin kan slaag om kontrakte met Telkom te kanselleer nie, vir die gemors verantwoordelik gehou.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wil binne twee weke ’n verslag hê oor onder meer wat by Eskom skeefgeloop het. As hy die afgelope paar jaar af en toe ’n koerantberig gelees het wat oor aspekte van Eskom se moeilikhede berig het, sou hy darem al ’n goeie idee gehad het. As die intelligensiedienste hul werk reg gedoen het eerder as om spook-spook te speel, sou die kabinet lankal oor uitgebreide detailverslae beskik het.

Dis nie van gister af nie dat ekonome en politieke ontleders waarsku dat die regering besig is om hoendertjie ná hoendertjie wat goue eiers lê te slag. Nou is daar nie meer nie.

En steeds word gepraat oor die SAL en ander wat deur herkapitalisering beredder moet word. Waarmee?

Privatisering kon moontlik die drinkwater weer drinkbaar gekry het, maar elke stem wat privatisering durf suggereer, word veral deur sekere vakbonde gedreig dat privatisering nie geduld sal word nie. Oor meer as twee maande gaan ons stembusse toe, en die ANC wil nie nou sterk alliansievennote as teenstanders in die verkiesing hê nie.

Word ’n drenkelinghandjie na die IMF uitgehou, verloor die land in sekere sin sy reg om homself te regeer. Die ANC wil niks hiervan weet nie, al het hulle met die aanbied van die wêreldsokker-eindtoernooi in Suid-Afrika gesien hoe doeltreffend dit kan wees as die beheer van die land de facto deur ’n ander, in dié geval Fifa, tydelik oorgeneem word. Vir ’n paar weke kon die land voel hoe dit is om in ’n amper “genormaliseerde” land te woon.

’n Paar jaar later het ’n Nederlander wie se luukse toerbus gekaap en die toeriste beroof is, gesê al manier waarop toeriste veilig deur die land kan toer, is agterin ’n gepantserde troepedraer.

Uit mediaberigte lyk dit ook nie of dit meer so politiek niekorrek is om die gemors in elke opsig, ook die ANC se rassebeheptheid, by die naam te noem nie. In die proses is van wit kundigheid, ook van die voorste kenners in die wêreld, ontslae geraak. Die huidige gebrek aan kundigheid word nou erken, maar in plaas van om mense wat met die plaaslike omstandighede vertroud is te betrek, word Italiaanse kundiges ingespan.

Die wegwerk van kundiges lei tot peperduur situasies. Soos die staatsamptenaar wat in 1996 met vervroegde pensioen moes gaan. Hy is dus nou al langer met pensioen (oor twee jaar sal dit al ’n kwarteeu wees) as wat hy gewerk het (18 jaar), en hy bereik eers volgende jaar aftree-ouderdom. Hoe lank gaan die man nog leef en pensioen trek, en ná hom sy heelwat jonger weduwee? Die man se kundigheid is veral in die intelligensiewese gesetel, en pres. Cyril Ramaphosa het pas aangekondig hy gaan die intelligensiedienste met ’n herskikking weer op dreef probeer kry. Dit kom neer op die heruitvinding van die wiel – terwyl die kundigheid nog beskikbaar is, maar nie erken word nie.

Hoeveel mense met skaars vaardighede, soos ingenieurs, verkeer nie in dieselfde posisie nie? Mense wat internasionaal as van die bestes ter wêreld gereken is.

Die dae is lankal verby dat selfs die voorste kundige van ’n kwesbare gemeenskap wat wel werk gekry het, dit kan waag om nie aan ’n goeie vakbond soos Solidariteit te behoort nie. En as ’n mens wonder of jy deel van ’n kwesbare gemeenskap is, kan ’n mens gewoon in die spieël kyk.

Gaan Ramaphosa die ruggraat hê, en die rugsteun in sy party kry, om dié soort foute reggestel te kry?

Ons sal taamlik gou ná die verkiesing weet.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Piet Pompies ·

Goeie berig, die antwoord oor al die sake en probleme word onderaan die berig genome, dit is nog onseker of CR die meerderheid steun binne die ANC het.
Volgens my is hy tans besig om dit te bewerkstellig met die staatskaping ondersoek, hier word die Zuma ondersteunde korruptes met die hulp van die wet uitgehaal.
Onthou net dat CR en PG in die verlede onder die leierskap van Zuma gewerk het, ons almal weet wat het met PG gebeur en sou CR sy mond oopgemaak het oor korrupsie sou hy ook weg gewees het.
CR verdien meer krediet as wat hom tans toekom.

alida ·

Herman, soos gewoonlik ‘n puik artikel dankie. CR is in ‘n baie moeilike situasie. Hy het vir 9 jaar langs Zuma gesit en presies geweet van al hierdie onbevoegde aanstellings en plundery. Hy wou president word en moet nou maar kyk hoe hy dit alles ongedaan kan maak en/of regruk. Hy kan nie ontken dat hy nie geweet het nie. Hy het en moes tog oor sekere goed insae gehad het en/of goedkeuring gegee het. Hulle is almal ewe korrup. Laat die fluitjieblasers toe om te praat sodat hierdie sweer vir eens en vir altyd skoongemaak word al beteken dit dan nou wat.

Stephan Cronje ·

Herman alles wat jy sê is “spot on” maar die persone in beheer van ons land aanvaar geen verantwoordelikheid vir hul dade… dit is gegrond en regverdigbaar volgens hulle. Daar is ook geen manier dat hulle jou punt sal insien… want dit kom neer op ñ bekentenis dat hulle gefaal het en die vorige bewind tog iets reg gedoen het… en hulle mag onder geen omstandighede daardie krediet gee… want dit sal hulle laat lyk soos die klomp onbevoegdes wat hulle is. Ek hou ook gladnie my asem op dat CR die goue seun is wat alles gaan regruk soos ons gehoop het. Die party sal altyd eerste kom… en dan na nog so 10 ander dinge dalk die land. CR het reeds in sy uitsprake en optrede tot nou bewys dat hy nie die ruggraat het om skoon te vee en die land ñ vars begin te gee… hy is heeltemal te bang om die party en “our people” wat blindelings bly stem, om te krap.

khat ·

Ja en as die valke en polisie hulle werk gedoen het was al die geld looting nie daar nie en in plaas om die klomp in anc te aresteer het hulle liewers rasisme as n baie erger saak en behandel as its baie erger as rape en kinder mishandeling, af gemaak as mooord roof en mishandelin teen oor kinders en vroue, nou vra ek is die nie die anc se verdiende loon dat hulle terug in tronk hoort nie ek verstaan soos hulle praat van roben eiland en polmoor en victor verster, ken hulle daai hotele baie goed en daar is reeds so n gesegde as jy van een vonteintjie se water hou kom jy terug

Dries ·

So het n deel van my lewe, gister finaal via OR Thabo, uit my lewe gestap…
My dogter, skoonseun en kleinseun het VAE toe emmigreer. Nog n hoogs opgeleide en ervare beroeppersoon is vir di opbou van ons land verlore.

Afrikaner ·

Herman, ek het ‘n idee dit sal Cyril baie verryk en insig gee as hy jou rubrieke wil begin lees, ons mag dalk net ‘n beter land word met mense wat mekaar en hul talente resperkteer.

Anneli ·

En so het die Weste Afrika ontmoet. Daar is ‘n diep hartseer pyn in my om my geliefde land so te sien verkrag word. Ek moet my losmaak van die hier en nou en weer soos ons geliefde voorouers my oë na nuwe horisonne wend.

M ·

Buig gaan jy jou knie buig eendag. Neem aan jy glo ook die skepping het sommer uit die bloute ontstaan met n groot slag en dat orde maar net spontaan was …. ???

Jerry ·

Wat westerse denke beskou as ANC kader misdadigheid, beskou die ANC en hulle volgelinge as heldhaftige revolusionere optrede. Enige optrede teen anti revolusionere instellings, beheer en kolonialiste word as revolusionere heldhaftigheid gereken. Die hele Afrika is net soos die ANC ideologies verbind tot revolusionere sosialistiese denke en dus kan n mens tereg tot die gevolgtrekking kom, dat dit n Afrika konsep is om wat ons as misdadig reken, nie as misdadig gereken te word volgens Afrika konsep, indien dit gepleeg word teen anti revolusionere instellings. Wat CR aanbetref verkeer hy onder druk van die ANC om finansiering te bekom as “bail outs” vir staatsbeheerde entiteite om sodoende en ten alle koste, privatisering te verhoed. Duisende kaders staan in die ry en wag om soos hulle kader voorgangers onder Zuma, die proses van plundering te herhaal ten einde weer n klimaat te skep vir verdere verandering. Dit is CR se plig om toe te sien dat die verandering waarvoor Zuma die klimaat geskep het, geimplementeer word en dat entiteite finansieel herstel vir wanneer daar weer geplunder moet word. So ja, CR is onder druk, maar nie vir wat volgens ons denke, die regte redes is nie! Deur finansiering van watter aard ookal toe te laat om staatsbeheerde entiteite te “bail out” gee nuwe lewe en momentum aan ANC beleid en strategie tot sosialisme en selfverryking van ANC elite en strukture en gelykmaking van die res! As jy CR en die ANC wil verslaan moet alle SOE’s privatiseer of sink!

Afrikaner ·

Die inflasie het die eenrandstuk hierbo so opgevreet dit lyk soos ‘n brulpadda wat van vorm en na willekeur van kleur kan verander.

En dit kan duik tot doer in die donkerste duisternis op soek na olie en gas.

Dit sukkel maar op land met krag.

Gys ·

Die ANC verkoop die land. Die NP het destyds sommer die land verniet weggegee, met die goedkeuring van die meerderheid wittes.

Charles ·

Jip, dis verseker Gys, so m.a.w. hulle kan dus nie kla nie? Behalwe indien hulle soos Steve is en ERKEN dat hulle ‘n fout gemaak het; en plegtig belowe om ALLES binne hul vermoe te doen om die swakke referendum besluit van destyds ongedaan te probeer maak; of ten minste die aaklige en onrusbarende gevolge daarvan met hand- en- tand te beveg!

Jacques ·

Sal graag wil hoor wat jul antw hierop sal wees. Ek het n probleem met die ” 9 verlore jare storie” . Dink jul nie dit was n kwessie van dat die ou bedeeling se beplanning tydens hul bewend klaar geraak het en daar nooit weer vir die toekoms beplan was nie, toe vererger hul dit nog met korupsie wat hul aan apartheid gekoppel het

Adam ·

Uitstekende artikel!! Die vraag of Cyril oor die nodige ruggraat beskik het ‘n eenvoudige antwoord: NEE Die rede is ook eenvoudig: Sy posisie in die ANC is veel swakker as wat hy nodig het om sy stempel behoorlik af te druk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.