Nuuskommentaar: SA tussen die smerige ghriesput en die glibberige modderpoel

Ongelukkig is dit nie so seker watter een van die ANC se twee hooffaksies die septer gaan swaai nie. Die feit dat die Openbare Beskermer met haar obsessie om sekeres, ook pres. Cyril Ramaphosa, op grond van iets aan die pen te laat ry, wek die indruk dat sy kant gekies het vir die Zuma-kamp.

Wat kan erger wees as dat ’n land se inwoners tussen twee vure beland?

Tog, so lyk dit aan die hand van die jongste onthullings, is dit waarop die land afstuur. Die vloer aan die een kant is seepglad waar ou ghries uitgeloop het, en die ander kant ewe seepglad van ’n smerige modderpoel waarin dooie alge vir ’n erg onplesierige klankie sorg. In elkeen van hierdie poele is ’n menigte wat hulle vrywillig daarin bevind, en dis moeilik om te dink hulle is daarin om ’n ander rede as dat hulle hoop hul poel gaan die oorhand kry, en hulle dan deel in die buit.

Enige burger kan maar self besluit – skaar hy hom of haar by diegene wat voorkeur aan die modder of ghries gee? Of gaan probeer word om die gemors te ontduik? Indien wel, hoe?

Op die program Kommentaar op RSG was die paneellede dit eens dat die kamp wat algemeen nog as die Jacob Zuma-kamp bekend staan, op die intra-partyverband besig is om voor te loop, en skynbaar ál verder. Op die vlak van die staatkunde loop pres. Ramaphosa voor. Met die terugroep van Thabo Mbeki ten gunste van Zuma was Mbeki ook op regeringsvlak voor, maar Zuma het die ANC se binnegevegte gewen.

Ná al die staatskapingsverwante onthullings en die byna oeroue hofsaak wat met die wapenskandaal verband hou, is dit bykans ondenkbaar dat Zuma nie net (nog nie) in die tronk is nie, maar byna-byna sy tweede en grondwetlik laaste termyn as president kon voltooi. Dit raak egter ál duideliker dat sy kamp hard probeer om die tweestryd te wen. Die kamp blyk ál meer baie goed georganiseer en meesters van die vuil politiek te wees. Die optredes van die dwarsboming van Ramaphosa raak net uitdagender, en blykbaar goed beplan en uitgevoer.

Die ghrieskamp

Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Ramaphosa se poging om as “die goeie ou” beskou te word, word ál moeiliker. Die hoof-stormtroep wat teen Ramaphosa ingespan word, is die huidige Openbare Beskermer, en dit betreklik kort ná haar amp afdwingbare magte gekry het.

Die oorhoofse indruk wat sy wek, is dat sy ’n belangrike pion of selfs die hoof-stormtroep van die Zuma-kamp is, dat sy belangriker probeer wees as haar amp (soos om soos ’n regter behandel te word en dat sy nie in persoonlike hoedanigheid vir “doodgewone regsdwalings” behoort in te staan nie). Sy kry in hersieningsaansoeke van haar bevindings slae op slae, en sy kritiseer die regters, selfs van die Konstitusionele Hof, daarvoor.

Sy wek die indruk van iemand wat in ’n grootheidswaan vasgevang word.

Soms lyk dit of sy ’n obsessie oor ’n saak het soos om sake te ondersoek wat reeds deur ander instansies ondersoek is, wat tot die teenoorgestelde bevindings gekom het as wat sy najaag.

Ace Magashule is duidelik besig om die vernaamste leiersfiguur in die Zuma-kamp te word en word met talle voorvalle van korrupsie verbind, maar die praktyk wek die indruk dat hy onaantasbaar is. Hy weerspreek Ramaphosa na willekeur, en is soms blatant uitdagend. Hy is egter skynbaar immuun teen vervolging.

Die modderkamp

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Onder die OB se skynbare obsessies is om Ramaphosa met korrupsie en tegniese geldwassery te verbind. Geld wat sy verkiesingsveldtog via sy seun by Bosasa gekry het, het tot ’n lomp reaksie deur Ramaphosa gelei. Hy moes inderdaad in ’n stadium die parlement om verskoning vra.

Die saak het egter uitgebrei, en nou het gelekte e-posse op die oog af bewys dat Ramaphosa ruim kluitjies gebak het oor die geld van kandidate wat vir ANC-poste meegeding het. Die omvang van die geld wat so na persoonlike sakke gekanaliseer word, is in ’n stadium op ’n miljard rand geraam, wat politieke ontleders geskok het. Die bestaan van fondse vir stemme was reeds lank bekend. Oplettende joernaliste by die ANC se Mangaung-konferensie in Bloemfontein, toe Zuma vir sy tweede termyn verkies is, het gesien hoe stemvee na motors geneem is waar rolle banknote aan dié mense uitbetaal is. Bedrae van tot sowat R70 000 is genoem.

Ramaphosa is ook soms sy eie grootste vyand, en word as te weifelend beskryf wat aan sy vyande Lebensraum verskaf. Hy maak, ter wille van swart steun, heelwat oordeelsfoute soos die samestelling van sy taakspan oor landbou, sy twakpratery oor plaasaanvalle wat te veel bagasie opgedoen het voor hy plaasaanvalle uiteindelik veroordeel het, die grondgrypplanne wat hy gedurig probeer laventel spuit, maar deur verskeie ministers, om nie van die EFF te praat nie, in die voet geskiet word.

Keuse tussen euwels

Argieffoto

Min mense buite die ANC sal daarvan verskil dat Ramaphosa die beter van die twee keuses is. Maar hoeveel goggas gaan die erdvark nie nog oopkrap nie?

Buitendien, om fisiek aan die keuse te kan deelneem, moet ’n mens lid van die ANC wees. Weens die ANC se groot stemme-oormag, wat genadiglik begin krimp het, het die ANC in baie opsigte soos ’n staat binne ’n staat gefunksioneer, en ’n eenpartystaat daarby.

Maar is daar ’n manier waarop nie-ANC-kiesers op ’n manier die leierskapstryd in die ANC wel kan beïnvloed?

Die “maklikste” is natuurlik om ’n geldjie in wagtende hande te laat verdwyn. Onwettig of nie, vir sekere groot bedrywe maak dit sin om in die leierskap van die ANC te “belê” en so voordelige korporatiewe “beleggings” te doen. Maar die spreekwoord lui dat wie hom met semels meng deur die varke opgevreet sal word. Boonop word korrupsie nie verniet deur die Wêreldbank as die berowing van ’n land van sy toekoms genoem nie.

So geoordeel lyk Ramaphosa ongetwyfeld na die beste keuse, hoewel ver van volmaak.

Maak dit sin om ’n mens se stem vir die ANC te leen? Dit het moontlik vir die DA op kort termyn voordele gebring, maar so ’n stem vir die ANC is eintlik ’n blinde stem. Dis onmoontlik om te kies watter faksie moet die meeste voordeel daaruit trek.

Die beste bly maar om so te stem dat die ANC se eenparty-hegemonie verbreek word. Burgerlike instellings wat bereid is om die hande uit die moue te steek verdien elke moontlike greintjie steun – nie net geldelik nie.

Rassisme in die VSA

Kan die verwikkelinge binne die ANC ’n geldige analoog bied vir die rassegesindhede in die VSA? Heel waarskynlik.

Wêreldwyd word alle moontlike verklarings en uitlegte ingespan om die psige te snap van twee mans wat vir die jongste twee massamoorde in die VSA verantwoordelik is. Die webwerf 8chan, wat as ’n groot opstoker van rassespanning beskryf word, kom in verskeie berigte onder die vergrootglas.

Die 21-jarige verdagte skieter in Texas het ook ’n manifes van vier bladsye op 8chan geplaas wat effe lig werp op die denke agter die aanval. Dit kan as ’n ervaring dien van om in eie land bedreig te voel weens die indringing van mense uit Latyns-Amerika in die VSA.

In verskeie publikasies word dié gesindhede voor die deur van pres. Trump gelê. Volgens een peiling beskou 49% van die Demokrate Trump as ’n rassis. In ’n artikel word egter gemeld dat swart lidmaatskap van die Republikeine onder Trump se bewind aan die toeneem is.

Plaaslik kan dit egter moeilik anders verklaar (of ontken) word dat die ras-spanningsvlak sal toeneem as SA se ambassadeur in Denemarke, Zindzi Mandela, haar van haar pa, Nelson, distansieer en haar sentimente by haar ma inwerp om haar erg rassistiese twiets te verklaar. Die Openbare Beskermer se toesegging van haar steun aan Winnie Mandela sal ook min doen om die temperatuur tussen wit en swart te laat afkoel.

Dit sal egter goed wees om dié kwessie dop te hou om te sien hoe dit gaan ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Alfred ·

Die probleem is ongelukkig dat diegene wat “hulle almal” moet toesluit deel van “hulle almal”is. So die kans dat “hulle” mekaar sal toesluit is nul.

Pieter ·

Stem saam die een is net so sleg soos die ander een daar is geen verskil nie kyk maar net hoe gaan dit in zimbabwe hulle het van ou bob ontslae geraak en ou krokedil is niks beter nie die land is n grap

John ·

Herman spreek twee uiteenlopende aspekte aan, die tweespalt in die ANC en die wapengeweld in die VSA. Laasgenoemde het duidelik te make met die 2020-verkiesing en die Demokrate buit elke moontlike gebeurtenis uit waar rassekonflik ‘n hoofrol kan speel op die kassie. Die VSA is cowboy-land en die burgers rol saans nà hul hamburgers, soos by sekere gelowe, hul krale deur die vingers en wonder of hulle ander hul sondes wil vergewe of ‘n voorvinger om die pols moet knyp. Kinders met ketties skiet dikwels voèls of katte om hul wapens en selfvertroue te toets. Muti vir moed loop ook deesdae by Amerikaners se ore uit.

Heinrich ·

Dis baie jammer dat ons nie die hulpbronne het om kiesers volledig te kan oplei op opvoed nie. As mens kyk na van die produkte wat nou uit ons skole kom wat totaal en al sonder selfdissipline is en heeltemal verwyder van ‘n beskaafde werklikheid af is, is dit duidelik dat die ‘apartheidstudies’ (die eensydige viktimiseringsmentaliteit in Lewensoriëntering en Geskiedenis) in die skole goed slaag in die propaganda veldtog om die jonges te breinspoel. Dit terwyl baie van die jonges nie die vermoë geleer word om te onderskei tussen feit en fiksie, waarheid en propaganda nie. En dit is hierdie klomp ongeletterde, gebreinspeolde komp wat die klomp parasiete in bewind hou en so maklik val vir die populistiese en opruiende ‘leiers’ se vitrioel (om Herman se mooi woord te leen). En dan die oues wat te graag wil glo dat die blankes weer apartheid sal terug bring as hulle in bewind moet kom. Lae IK bly ook ‘n wesenlike probleem, en Suid Afrika is nou nie juis geseën met die hoogste gemiddeld nie – ‘there is no cure for stupid’. So tot tyd en wyl ons intelligente kruisies by die stembusse kry sal ons voortgaan oor die afgrond.

Ekke Dink ·

Sjoe Heinrich, dink jy nie dat opvoeding by die huise begin nie? Dissiplenering van leerders moet by die huis plaasvind en nie by die skool nie. Is skole nie daar om kinders (jong mense) met kennis toe te rus, sodat hulle na hul skool opleiding, goeie loopbane, en toekoms besluit te kan neem nie. Hou politiek en disipline uit die skole uit. Het jy al gesien hoe 20 en 21 jarige seuns met mekaar en ,matriek dogters ooglopend op skool gronde, en gedurende skool tye, seksuele omgang het? Wel ek het dit baie gesien. Is die skool ook hievoor verantwoordelik? Nee, nee , nee ek het twee kleindogters wat onderwyseresse is, en vol emosionele wonde is.

marous ·

“Hulle wat deur die swaard getref word is beter af as die wat deur hongersnood omkom ” Hier gaan dit beide wees , binnekort en vir baie lank …

Pieter ·

In die land gaan ons nog baie swaar kry ons blankes moet op hou praat en begin doen

Elna ·

Wat kan ons doen Pieter? Ons is orals ” gehandy cap” soos die engelse sal sê. Baie oplossings ja maar die daad en aksie is die probleem ons is magteloos ons sit sonder n leier wat staan ons te doen?

Mel ·

Ek dink ons besit een van die beste sirkusse regoor di wêreld

Jerry ·

Kry die CR faksie die oorhand, dan word SA wettig ge-dekoloniseer en word die Afrikaner tot in lente van dae onderdruk. Kry die Zuma faksie die oorhand dan word daar geweldadig ge-dekoloniseer en kan n burgeroorlog nie uitgesluit word nie.
Wat Trump en die ANC aanbetref is dit duidelik dat beide hulle messe in het vir minderhede en minderhede voorhou as kwansuis n bedreiging wat nie werklik die geval is nie, maar wat eerder as n politieke speelbal gebruik word vir blaam en om eie leemtes en gebreke mee te probeer verdoesel!

Pietman ·

Trump staan onwettige immigrasie teen, nie minderhede wat wettige VSA-burgers is nie. Inteendeel is werkloosheidsyfers onder minderhede in die VSA die laagste in dekades en Trump se steun onder minderhede is aan’t groei.

skurweberg ·

Lees die leiers van die land hulle Bybels? , veral diegene wat in die ANC is. Vir die wat nie weet wat die uiteinde van hulle verdeeldheid gaan wees nie, gaan lees asb Lukas 11:17 en wees gewaarsku.

Werner ·

sien die Dyton skietter dit was nou die tweede skietvoorval in VSA is n selferkende libberalis volgens RT

Ja nee ·

Skurweberg. As hulle bybel gelees het was ons nie waar ons nou is nie.

humor ·

Die probleem is 1000 de Afrikaners is ook nie bybellesers nie en weet nie eens hoe die binnekant van die kerk lyk nie. hoe kan ons na reg leiding gee. Dan het ons nog die sosialemedia wat nie eintlik aan die kant van die christenoortuigings is nie en veroorsaak dat ons respekloos, boodskaploos gelaat word.

lewies ·

Die oplossing waarna ons soek om die chaos in Suid-Afrika om te draai is ongetwyfel in die Woord opgeteken. Ons moet dit net weer vind. God se genade is nog nie vir ons verby nie. Die opstaan is belangriker as die val.

hercu ·

“slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle” – Ps 37:12‭-‬15‭, ‬17 DB – Shalom

Cyril die Squirrel ·

My man het etlike maande voordat Cyril president geword het, gesê hy is net so skelm; en hier is dit nou…. voëls van eenderse vere. Immers is die EFF nie sulke 2 gesigte nie – hulle sê prontuit hulle gaan ons doodmaak en uitmoor. So ook die BLFL. Ons weet waar ons met hulle staan. Moenie vir Zuma sò kyk nie – met sy twee breins; die kop wat lyk soos ‘n bubbly van Cadbury.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.