Nuuskommentaar: SA uitgedruk in (druip-)syfers

Pres. Jacob Zuma tydens die Jeugdagvieringe in Ventersdorp (2017) Foto: @PresidencyZA, Twitter

’n Telraampie sal nie deug om te bereken hoeveel miljarde rande belastingbetalersgeld word nie net afgeskep met korrupsie nie, maar sommer diep geskep. Die algemene gemoed sal begin lig as die tronkdeure begin oopgaan vir diegene wat die land se ekonomie leegsuig danksy die staatskaping.

Die bekendmaking van die jongste syfers oor plaasaanvalle deur AfriForum en die TLU-SA het skokgolwe deur die land gestuur. Maar dit was nie ál skokkende syfers waarmee Suid-Afrikaners hard tussen die oë geslaan is nie. Suid-Afrika is nie die enigste land waar syfers nie mooi in plek wil val nie – die magtige VSA se ekonomie blink nie altyd so mooi nie, en hoewel Suid-Afrika gereeld die plek inneem as die wêreld se verkragtingshoofsetel, kon hy dieselfde “status” nog nie met moorde oor die algemeen bereik nie. Dieselfde geld vir korrupsie, waar baie lande statisties meer korrup as Suid-Afrika is.

Dit is egter die wye front waaroor Suid-Afrika bedenklike syfers oplewer.

Met die jongste plaasaanvalsyfers blyk dit dat 2017 die jaar met die hoogste aantal plaasaanvalle en -moorde kan word. By die halfpadmerk vanjaar was daar reeds 246 plaasaanvalle, en 47 plaasmoorde. Die syfers vir die ganse 2016 was 369 plaasaanvalle en 72 plaasmoorde.

Geen wonder nie dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, meen dié syfers dui daarop dat die polisie se onderneming om dié soort misdaad as ʼn prioriteit te hanteer, nie in die praktyk uitgevoer word nie. Soos gebruiklik het van die plaasaanvalle met die grootste wreedheid gepaard gegaan.

Groenewald sê in die onlangse aanval by Wolmaransstad waar die boere self die aanvallers aangekeer het, was daar selfs ʼn lid van die polisie onder die beskuldigdes. Hy sê dit beteken die polisie slaag nie daarin om misdadige elemente in eie geledere te verwyder nie ten spyte van die minister van polisie, Fikile Mbalula, se onderneming om dit te doen.

Die VF Plus meen ook die feit dat geestesgesondheid besig is om MIV/vigs as siekte wat mediese hulp benodig verby te steek, aan die land se ekonomiese toestande te wyte kan wees. Dit blyk dat depressie en ander verwante toestande die grootste deel van die probleem uitmaak, en daar word bereken dat die ekonomiese impak hiervan in terme van produktiwiteit, tans tussen R12 en R16 miljard per jaar beloop.

Navorsing van die London School of Economics oor die verskillende faktore wat ʼn effek op mense se lewensgenietinge het, toon aan dat dit veel makliker is om ʼn liefdesteleurstelling of die dood van ʼn geliefde te verwerk as werkverlies.

Maroela Media het reeds oor die verskynsel geskryf dat die trauma wat met plaasaanvalle beleef word, baie dieper as gewone trauma strek en as viktimologie bekend staan. Lees gerus hier.

Wat egter ook tot ’n gemoedstoestand bydra is die byna daaglikse nuus via die #GuptaLeaks oor miljarde rande staatsgeld wat glo ʼn weg na die Guptas gevind het, maar dat daar nog byna niks gedoen is om ondersoeke met die oog op vervolging te begin nie. Die verstommendste is die bedrae wat genoem word – miljarde in bykans elke verdagte transaksie, en R30 miljoen vir ’n troue.

Gelukkig gebeur daar nie niks nie. Verskeie burgerlike organisasies, waaronder Outa, werk nou saam om die staatskaping uit die weg te ruim. Politieke partye kan ook nie voorbly nie – vandag gaan die DA byvoorbeeld kriminele klagte teen die munisipale bestuurder van Mangaung lê oor die talle Bloemfonteinse strate waar die riool afloop, maar niks aan gedoen word nie. Daar was vanjaar selfs ongelukke waar voertuie vroegoggende op die geysde riool gegly het. Ja, met presies dieselfde spelling, maar anders uitgespreek, beteken Mangaung dan nie meer die plek van groot katte nie, maar “die plek wat stink.” Nogal ironies.

En pres. Jacob Zuma meen hy vaar goed as president, maar nou ja, hy het hom ook al bewys as iemand wat moeilikheid het met syfers, veral lang syfers. Soos wat van die threehundred eleventy hundred and sixty million se droogtehulpgeld geword het?

Of tel dit nie as dit nie miljarde rande beloop nie?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henry ·

Adv Gerrie Nel en sy helpers vind hopelik nuttige leidrade/bewyse tussen al die sogenaamde Gupta Leaks.

piper ·

ek wonder wanneer gaan gerrie nel die bom laat bars. voor 8 aug. sal goeie tydsberekening wees

MCH ·

Ek voel niks.

Ek, ek voel nie meer nie,
sien nie die vierkop mielie.
Ek voel nie die oggendbyt,
van vroegoggend in strooptyd.

Ek voel voel nie die tapkar se kreun,
terwyl die oes daarin reën.
Ek voel nie die stoppelstof,
wat die lug verdof.

Ek voel nie die dieselwalm,
wat in die wenakker talm.
Ek voel nie die die hete spatsproei,
met die sweismasjien gestoei.

Ek voel nie my skaap se vag,
die aanwas vanjaar, onbetrag.
Ek voel nie die dip van bees,
wat nou, nie daar gaan wees.

Ek voel nie kleinkinders se uitbundige lag,
die toekoms terstond geslag!
Ek voel nie die moordernaarsloon,
gegryp, sonder om te skroom!

Née, ek voel niks,
nie die traan, nie die kluitklap op die kis…

John ·

Nee wat MCH, moenie jou talente so mors nie. Gee ‘n digbundel uit en maak geld op ons feeste. Afrikaners is veelkantig geslyp deur al ons wel wee juis om lig uit verskilende hoeke te kan opvang en uitstraal. Ons boere moet oppas vir die duiwel se slapriem en te dink ons toekoms le vasgebind in sy hande. Skryf sommer ook musiek by en …

SARIE VAN HEERDEN ·

As ek gepaardgaande met ‘n ” butternut ” kop/hoof nog na die stoccato paatjies moet luister wil ek in boere Afrikaans horries kry,. Suid Afrika se nommer een “clown” skryf nie sy eie toesprake nie, en waarom moet ons dan luister na sy geteem. Laat die skrywer van die toespraak dit self lees of ‘n opname daavan laat maak en dit dan uitsaai. Spaar ons dit!

Johannes Meintjes ·

Ten opsigte van voortslepende plaasaanvalle kom ons nie verder as blote akademiese of sosiale media kommentaar, kantlyntoeskouersgeluide en ‘n paar berade nie. Betreurenswaardig word ons landbouboere al minder, die gepaardgaande besigheidsnetwerke en markte al meer gestroop, naasbetsaandes wat nou verarmd moet voortsukkel word al meer, boedels wat deur banke en prokureers of familielede geplunder word hoop op, werkers sonder heenkome neem toe en landboubesigheid oor die algemeen ly skade saam met die totale verarming van die Nuwe SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.