Nuuskommentaar: SA weer muishondland

'n Vredesoptog teen xenofobie wat in Durban gehou is. Foto: Verskaf

‘n Vredesoptog teen xenofobie wat in Durban gehou is. Foto: Verskaf

Suid-Afrika was die afgelope paar weke weer in die nuus oorsee – eers oor die beeldestorm en toe oor die xenofobiese geweld.

Die berigte oor die beeldestorm het nog knypies na Suid-Afrika se apartheids- en koloniale verlede bevat, maar dit is uiteindelik die hele land wat skade ly.

Die xenofobiese geweld het as ’n “tydige” weerligafleier gedien oor hoe ekonomiese migrante en vlugtelinge elders ter wêreld ontvang en behandel word. In die VSA is daar ’n verdelende debat oor pres. Barack Obama se planne om toestroming te vergemaklik. Europa het te kampe met derduisende migrante wat onder meer van Libië Europese jurisdiksie met lendelam bote probeer bereik. Ongevalle is hoog en het die Europeërs se gewete sterk begin aanspreek.

Moontlik die grootste ramp onder migrante in ’n baie lang tyd het onlangs voorgekom toe moontlik tot 700 mense omgekom het toe ’n boot omgeslaan het. Baie van die “passasiers” was in binneruimtes toegesluit en het geen kans gestaan om die oppervlak te bereik nie. Die ramp het glo voorgekom toe die dobberende boot se passasiers ’n verbygaande skip gewaar het en almal op die dek na daardie kant beweeg het om om hulp te roep.

Dit volg kort ná sowat vierhonderd migrante omgekom het toe nog ’n boot gesink het en sowat veertig mense aan boord van ’n opblaasboot dood is toe dié begin lek het.

Die “roete” wat hierdie migrante kies is uiters gevaarlik. Hulle kom van verskillende dele van die wêreld, soos Pakistan, Sirië en Somalië, maar ook van Noord-Afrikaanse lande soos Nigerië, die Ivoorkus en ander. In elke geval is hulle dikwels aan gewetenlose mensesmokkelaars uitgelewer en die ongevalle in die woestyne is hoog. Verskeie gevalle is al aangemeld waar die vlugtelinge, ná die smokkelaars betaal is, in die woestyn beroof en bloot aan hul lot oorgelaat is.

Libië, wat tans in chaos is, is ’n “gewilde” bestemming omdat dit die smokkelaars baie ruimte gee om hul konkelwerk te doen. Aan die kus word die vlugtelinge aan boord van enige uitgediende, lamlendige drywende ding gelaai. Die bestemming is die Italiaanse eiland, Lampoechea, aan die kus van Tunisië. As hulle eers daar aangeland het, is hulle op Europese bodem en word hulle die verantwoordelikheid van Italië en die internasionale gemeenskap. Die eiland is egter meer as 200 kilometer van die naaste Libiese kus en om so ver die see met ’n oorlaaise onseevaardige ding aan te pak is meer as net ’n dobbelspel.

Ná die mees onlangse rampe is diepte-studies gedoen oor die sielkundige foltering waaraan die vlugtelinge blootgestel word. Die geval waar ’n groep Moslems ’n groep Christene oorboord gegooi het om te verdrink, is aan hierdie trauma toegeskryf. Dit het juis gebeur aan boord van ’n erg oorlaaide boot wat onklaar op die see rondgedryf het. Die Christene het saam begin bid en van die Moslems het hulle begin beledig en ’n bakleiery het uitgebreek.

Ná die jongste ramp het Europa blitsig in rat gespring om die voortdurende ramp af te weer.

Dit is teen hierdie agtergrond wat die wêreld na Suid-Afrika kyk. Die berigte is redelik feitlik, maar die fotobeelde wat daarmee gepaard gaan, doen die land ontsettend skade. (Kyk gerus hier na voorbeelde – dit herinner aan die beeldmateriaal wat oorsee versprei is toe die vorige bedeling met onluste te kampe gehad het).

Na berig word, is ekonome baie bekommerd oor die vergeldings- en strafmaatreëls wat Afrikalande op Suid-Afrika kan toepas. Selfs Boko Haram is as verswarende faktor in die bedreigings ingeklits, juis toe berig is dat Boko Haram dorpsbewoners in Kameroen onthoof het.

Kortpad-sosioloë en ander meningsvormers het gou die blaam vir die neiging tot geweld – soos ook ervaar met plaasaanvalle, geweld tydens stakings, die beeldestorm en toenemende en meer gewelddadige dienstebetogings, op die brood van apartheid en kolonialisme probeer smeer. Die probleem is egter baie meer ingewikkeld en hou op die kort termyn nie rekening met lamlendige politieke leiding nie.

In die aanloop tot die 2016-landswye munisipale verkiesings kan aanvaar word dat die ANC se stratege reeds begin beplan het om die ANC se “goeie storie” te verkwansel. Die probleem is dat hierdie goeie storie nie werklik op die onderste vlakke, waar werkloosheid en armoede hard gevoel word, ervaar word nie. As teenfoeter probeer die regering sy toelaebeleid verkwansel, wat inderdaad baie help, maar terselfdertyd onderstreep dit die verskil tussen hulle wat danksy kaderbande miljoene oes en mense wat toelae ten spyt, nie werklik liggaam en siel aanmekaar kan hou nie.

In ’n klimaat waar blaampolitiek vrylik deur die regering ingespan word, sal oorsake gesoek word. Dit kos net ’n onverantwoordelike tradisionele en spandabelrige koning om ’n onverantwoordelike ding kwyt te raak, of ’n Julius Malema om die blaam op enigiets ligter as hy self te plaas en die pot is geroer.

Hoe moeiliker die ANC sy “goeie storie” kan verkwansel, hoe makliker begin hy die rassetamboer slaan. En die resep vir moeilikheid is vervolmaak.

Gelukkig is daar stemme van redelikheid – al is dit die Afrika-broers anderkant die Limpopo wat die ontnugtering ingelui en effektief afgedwing het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Ek sien in die Nederlandse media dat apartheid en kolonialisme nie langer verantwoordelik gehou word vir byvoorbeeld die xenofobiese geweld. Die media wys al meer na die armoede in Suid-Afrika as grootste rede. Vervolgens word die ANC se onvermoë en wanbestuur uitgewys as rede hoekom daar nog steeds armoede is. Hoewel die media ook sê die ANC het weens die apartheidsverlede ‘n moeilike taak gekry om daardie verlede/hede van armoede reg te ruk, is dit volgens die media net “verligtende” omstandighede. Die ANC het nou definitief sy mooi gesiggie verloor.

Waar die party in Europese media vroeër nog “vredesdividend” gehad het, tydens eerdere xenofobiese geweld, rassistiese BEE-wetgewing en transformasie, is die dividend nou op. Die ANC het suksesvol daarin geslaag om Suid-Afrika se beeld na die van ‘n Afrika-land te transformeer.

jacques ·

Die imigrante wat so vlug het eintlik nie n keuse nie want America het hulle lande uitmekaar gebom en daar is niks meer werk vir hulle daar nie.Dan moet hulle nog vlug voor ISIS ook nog,dis hoekom America dit nou vir hulle makliker wil maak om na Europa toe te kan vlug sodat hulle nie sleg kan lyk in die oe van die wereld nie.Nou sit die hele wereld met die probleem terwyl America die probleme al hoe erger maak vir die wereld.Nou is hulle nog besig om reg te maak om Rusland ook aan te val wat einlik net vrede in die wereld soek.

Jasper ·

Net n paar dae gelede het onse Prof. Chris Landsberg van die Universiteit van Johannesburg, breëbors aan Al Jazeera Nuus vertel dat apartheid die groot sondebok van die Xenofobie is.

Nico ·

Die meerderheid immigrante in SA is van Zimbabwe. Nou wil ek wil ek graag weet wanneer het Amerika Zimbabwe uitmekaar gebom. Dit klink vir my Jacques hou van Mugabe. Mugabe het niks verkeerd gedoen nie. Die werkloosheid in SA is seker ook Amerika se skuld.

jacques ·

Nee Nico lees die hele berig ek praat van die lot wat n Europa toe vlug ons het Mugabe probleme ja en dit weet almal.

Ampie ·

Ek sien ‘n paar duisend buitelanders wil nou terug na Zimbabwe of Malawi. Aangesien daar tot so veel as 10 miljoen van sulke buitelanders in SA woon, is ek geneig om te glo dat die “vlugtelinge” eerder lus is vir ‘n gratis buskaartjie om familie te gaan opsoek. Oor ‘n maand is hulle weer terug. Daar is in elk geval niks om te roof, of aan te werk in hul lande van oorsprong nie. Kyk vir motors by ‘n winkelsentrum, wag vir ‘n “piece job” of roof en plunder is makliker in die land wat van melk en heuning. Die slagoffer mentaliteit en slinkse opportunisme van Afrika maak mens moedeloos.

Leendert van Oostrum ·

Die regering kan nie misdadige geweld teen “koloniste” en “koloniale simbole” kondoneer, en dan verbaas wees as misdadige geweld uitbrei na ander, meer kwesbare, teikens nie.

As jy die kultuur laat ontwikkel dat geweld ‘n geldige instrument is om sosiale/ekonomiese/politieke probleme mee op te los, het jy die lat gesny waarmee jy self gegesel sal word.

En die grondlegger van daardie kultuur was die nimlike Mr Mandela self – van die politieke geweld in KZN in die vroeë negentigs tot met die Shell House -slagting. Onthou: Die rede waarom Amnestie Internasionaal konskwent geweier het om Mandela op sy lys van “prisoners of conscience” te sit, is omdat hy geweier het om geweld af te sweer as politieke instrument.

Die geweldskultuur het groot diepgang in die psige van ANC en Seun.

Simon ·

Baie goeie punte. Nogal ironies dat die geweld kultuur van Mandela en kie wat die ANC ook nou gesel min kon doen teen die effektiwiteit van die veiligheidsmagte en die modus operandi hul seker nooit sou toelaat om die oormag te kry nie.

As hul net vroeër geweet het hoe onbeholpe en lamsakkig die NP regering se onderhandelaars was dan kon hul hulself en ander die lat gespaar het deur vroeër oor daardie spul onderhandelaars te loop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.