Nuuskommentaar: Saam op knieë en saamstaan vir Afrikaans

Bekendstelling van Akademia op 25 November 2014 Foto: Reint Dykema

Bekendstelling van Akademia op 25 November 2014 Foto: Reint Dykema, Solidariteit

Gister, vir ’n paar uur lank, is die kuberruim oorval met inskrywings van mense wat skryf dat hulle bid dat die bevryde buitelandse gyselaar in Jemen, die Suid-Afrikaner Pierre Korkie sal wees.

Die hoop het beskaam, maar nie na baie, baie Afrikaanssprekendes nie weer biddend gewys het hoe dit hulle raak as iemand uit eie geledere in die hande van gewetenlose terroriste beland nie.

Gister het ook getoon dat harte nog warm klop vir Afrikaans met die nuus dat die ontluikende universiteit, Akademia, as gemeenskapsuniversiteit ontwikkel gaan word. Nie net as Afrikaanse universiteit nie, maar universiteit van akademiese uitnemendheid – iets so eie aan die Afrikaner is soos biltong en ʼn potjie op die kole.

Die nuus oor Akademia volg minder as ’n week na Rapport onder meer in ’n hoofartikel sy kommer uitgespreek het oor die jongste verwikkelinge by die Pukke en op Maties. Akademici stamp koppe oor of die nuwe NWU-rektor, prof. Dan Kgwadi, se planne vir Afrikaans tot nadeel gaan wees, en so ook oor of die nuwe taalbeleid vir Afrikaans op Stellenbosch taalbeleid vir Afrikaans op Stellenbosch nie vir Afrikaans die dood in die pot inhou nie.

Op vele terreine word Afrikaans na die laaste loopgrawe teruggedwing.

Dan volg gister se nuus oor die bekendstelling van Akademia as  gemeenskapsuniversiteit.  In Maroela Media se Die Groot Debat lui Solidariteit se hoofde, Flip Buys en Dirk Herman in met artikels getiteld onderskeidelik  Akademia: Kom ons maak ’n wêreldklas- Afrikaanse universiteit en Verlig of verkramp – ons gaan eerder ʼn universiteit bou. Die reaksie is oorweldigend positief. Nie alleen word die twee artikels saam veel meer as ’n duisend keer op Facebook gedeel van die hoofblad af nie, die kommentare is oorweldigend positief.

Dit val boonop saam met AfriForum se voorlegging voor die VN se Menseregteraad in Genève oor minderheidsregte in Suid-Afrika.

Te midde van die strome gelukwensings en blydskap is ’n stroompie vyfdekolonners egter ook kliphard aan die werk, wat juis hierdie geleentheid gebruik om AfriForum en Solidariteit, en sommer ander vennote in die Solidariteitsbeweging verdag te maak of sommer net te beledig. Ongelukkig, te dikwels, laat hierdie Afrikaners se spêling en gramatieka hille in die steuk, soos hierdie juwele: “Dis die probleem met julle lot, julle besef nie ons moet eerder veg vir ons eie Boere republiek (sic) nie.” ʼn Ander skryf: “Afriforum (sic) se onder rok (sic) will (siek) bly uithang.” (Die name van die skrywers is maar liefs en om verstaanbare redes weggelaat).

As iemand ’n ander wil kritiseer of slegsê omdat die ander nie Afrikaans of Afrikaners genoeg sou wees nie, kan hy of sy darem seker as gesuiwerde Afrikaner darem nie Afrikaans gaan beledig deur dit soos sy of haar agterent te skruif, ekskuus, skryf nie.

Gelukkig is die boodskap uit die terugvoer oorweldigend positief.

Die Afrikaner is nie uniek as platgeslane volk wat kon opstaan en telkemale weer moes opstaan nie. Die Armeniërs moes oor honderde jare telkemale opstaan – ’n Christenvolk wat later deur die Islam omring is. Selfs die huidige Armenië val buite die oorspronklike Armeense hartland wat binne die teenswoordige Turkye was, en deur ’n volksmoord byna ʼn eeu gelede volkome van Armeniërs gesuiwer is. Die Koerde moes in hul geskiedenis ongelooflik baie terugslae, soos ook die volkome wegteken van ’n vaderland deur ander moondhede, beleef. Die Russe is verskeie kere vanuit die ooste platgeloop en op groot skaal uitgewis – soms met die wreedste metodes denkbaar. In Europa is talle volke wat steeds geen eie vaderland het nie, maar wie se minderheidsregte nie net beskerm word nie, maar ook geleentheid kry om uitgebou te word. Waar prakties moontlik is kan sulke gemeenskappe hul eie universiteite kry – juis volgens die internasionale reg, om konflik te voorkom en elkeen die geleentheid te bied om tot op tersiêre vlak in sy moedertaal onderrig te word.

Van die verwyte teen die ontwikkeling van Akademia is dat dit glo nou sou beteken dat Solidariteit en vennote Afrikaans by ander universiteite gaan afskryf. Maar Buys skryf dan in sy bydrae tot Die Groot Debat pertinent: Daarom fokus die Solidariteit Beweging se twaalfpuntplan vir Afrikaans op universiteitsvlak baie sterk op Afrikaans by die huidige universiteite. Dit is mos nie ’n guns wat ons vra nie, dis ons demokratiese en grondwetlike reg. Ons belastinggeld praat immers ook Afrikaans.”

Wat anders as vyfdekolonner-kwaadwilligheid kan dit dan wees as die kubermuur beplak word met leuenagtige inskrywings hieroor?

Dat enige pad vorentoe vir Afrikaans weer opofferings gaan verg, is ongetwyfeld so. Maar as genoeg mense saamwerk, word dit soos ’n belegging in die toekoms waar dit wat nou afgeknyp kan word, eendag mooi dividende dra.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat om Afrikaans by enkele bestaande universiteite te beredder, nie die volle prentjie bied nie. Kultuur is veel meer as net taal. By Kovsies het ’n jong Afrikanerseun, en diep gelowige Christen, enkele jare gelede vir ’n landbougraad ingeskryf. Die universiteit se etos en logo het gepas by sy eie. Toe hy sy B-graad ontvang, was die gradeplegtigheid egter in geheel van enige Christelike tradisies soos opening met gebed gestroop. Die naam van God is ten spyte van groot protes uit die logo verwyder. Sy honneursklasse moet hy hoofsaaklik in Engels deurloop. Daardie volgende gradeplegtigheid is vir die ouers ’n kultuurskok, chaoties en “opgekikker” met ’n “sangitem” wat die toeskouers die hasepad wil laat kies.

’n Eie universiteit bring meer as net taalbestendigheid en -sekuriteit, dit bied ook die ruimte waarbinne die Christelike kultuur sy fondamente stewig kan lê – en “teen die ganse wêreld vry”.

Dit is immers baie beter as die bobbejaan wat sy hand deur die gaatjie steek wat die boer vir hom in die pampoen gesny het. Dan gryp hy ’n hand vol pitte, en sy vuis is te groot om terug deur die gaatjie te trek. En dan is dit klaar met Kees.

Mag Akademia ’n sieraad vir die Afrikaner en sy tradisies word, en uitmuntende graduandi oplewer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

jakoos ·

Die idee van ‘n Afrikaanse universiteit in die kuberruimte is ‘n uitstekende een – veral aangesien alle universiteite toenemend kuberstudies gaan aanbied en al hoe minder klasse op kampus. Dit gebeur glo reeds by verskeie Amerikaanse instellings.

Waaroor ek wel wonder is die konsep dat so ‘n Afrikaanse universiteit ‘n “christelike” kultuur sal of moet he^. Dat die christelike geloof en die Afrikaanse kerke sterk deur studente aangehang en gevolg sal worfd, is gerwis. Die Afrikaner is immers oorwegend christelik.

Maar dit kan probleme skep as dit by sekere wetenskaplike dissiplines kom. Sal die Dierkunde-vak die evolusiekonsep behoorlik en deeglik uitdra, of gaan die kreasioniste in die kerke en selfs die akademie bepaal wat in Dierkunde geleer word? Gaan daar ‘n vak soos Astronomie of Astro-fisika aangebied word waarin die Oerknal-konsep en sy verwante stellings soos die ontstaan van sonne en planete, behoorlik en deeglik gedoseer word? Gaan daar ‘n vak wees soos Vergelykende Godsdiens (Comparative Religion) waarin die ontstaan en wese van die verskillende godsdienste van die wereld sonder vooroordeel en eensydigheid aangebied word?

Daar sal sekerlik Wysbegeerte as vak wees. Uit watter hoek of grondslag of leerstellings? En sal die dosente slegs wedergebore Christene mag wees – om nou ‘n bietjie aspris te wees oor hoe ver daar gegaan kan word met die konsep van Christelikheid?

Kobus ·

Ek sê weer soos gister, as hierdie nie ‘n positiewe is om in die toekoms van SA te belê en die ekonomie te help uitbou tot voordeel van die hele land nie, dan weet ek nie wat ‘n positiewe bydrae is nie.

Dan wil ek ook die volgende byvoeg oor ‘n berig wat vandag op Netwerk24 verskyn, wat die rede is waarom ons almal is waar ons vandag is.

Die artikel handel oor Johann Rupert se toespraak op Remgro se jaarvergadering die week, http://www.netwerk24.com/sake/2014-11-26-wit-afrikaners-praat-net-oor-rugby. Sy verwysing na Apartheid in sy toespraak is nie verkeerd nie, maar kan dit nie in isolasie gesien word nie.

Dit moet saam met Leopold Scholtz se rubriek van so twee weke gelede, http://www.netwerk24.com/stemme/2014-11-14-was-ou-sa-bloot-n-onregstaat , gelees word om agter die werklike kap van die byl te kom.

Dan vir seker het al daardie faktore ‘n invloed gehad op waar ons, wit en swart vandag in die land is, maar soos Leopold dit teen die einde uit spel, sou die land in ‘n veel hagliker posisie gewees het as die Marxiste die land regeer het.

Ek haal vir Leopold aan: “Ja, die ou Suid-Afrika wás ’n onregstaat, al moet jy dit met voorbehoude sê. Maar as die ANC/SAKP destyds al die bewind oorgeneem het, sou die land ’n onregstaat met veel minder voorbehoude geword het – wat God sy dank nie gebeur het nie.”

Hanno Visagie ·

Hoekom verswyg Maroela Media steeds die wesenlike artikelinhoud op Netwerk gister van US-Konvokasie-President, prof Christo Viljoen, getitel “US: koeel is deur die (taal)kerk?

jakoos ·

Hanno of Marioela, wat het geword van die tweegesprek wat ek en Hanno gehad het oor fundamentalistiese kreasioniste? Ek maak beswaar daarteen dat redelike, verantwoordbare standpunte wat ek gestel het, sommer net so verdwyn.

jakoos ·

MAroela, kan ek asb. ‘n antwoord kry op my vraag wat van my insette geword het. As julle dit weggevat het, le minstens die moed aan die dag om dit te erken.

Susan Lombaard ·

Dagsê Jakoos. Ons het die gesprek verwyder, aangesien die opmerkings geneig het om persoonlik beledigend te begin raak en nie relevant was tot die nuuskommentaar waarop oorspronklik kommentaar gelewer het nie. In die geval van ʼn tweegesprek is dit nie moontlik om slegs sekere kommentaar te verwyder nie, aangesien die oorblywende kommentaar dan uit konteks is en nie meer sin maak nie. Ons laat ruimte vir verskillende menings, en om ʼn ander leser kommentaar toe te voeg soos “Dis tyd dat julle bykom”, moedig nie ingeligte en sinvolle kommentaar aan nie, laat nie ruimte vir ʼn ander se mening wat van joune verskil nie en is geensins “redelik en verantwoordbaar” soos jy na jou eie kommentaar verwys nie. Ek vestig graag jou aandag op ons kommentaarbeleid. Die oordeel om enige kommentaar te verwyder wat nie aan ons beleid voldoen nie, berus by die redaksie. Groetnis, Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)

jakoos ·

Dankie vir die terugvoering, Susan. Ek moet jou dit toegee dat die “tweegesprek” wel as persoonlik van aard beskou kan word, maar dan moet jy darem ook uitwys dat die eerste opmerking van die kant van Hanno dat ek oorkom as ‘n “Ogod god…iets” eintlik die ding begin het. Moes jy nie toe maar dadelik ingetree het nie? Ek self het eintlik nie eksepsie geneem teen sy opmerkings nie.

En ek dink ek kan darem ter verdediging van my saak uitwys dat ek in my opmerkings steeds probeer het om by die vraag te bly oor watter soort van sieninge en oortuigings en “geloofsvereistes” daar by die voorgestelde kuberuniversiteit sal bestaan as daar na dit as “christelik” verwys word.

Ek kry helaas nie enige reaksie op die vraag nie – nie eens van Herman, die paleontoloog se seun, nie! Jammer dat daar nie genoeg mense is wat bereid is om die saak bietjie te ondersoek nie.

Maar dankie dat jy die tyd gevind het om te reageer.

Pietsnot ·

Dankie, Susan, dat julle ingegryp het. Die gedurige kommentaar van die ou ateïste wat die laaste paar jaar hul eie stemme ontdek het, raak rêrig al bietjie afgesaag.
Kommentaar moet oor die algemeen op die punt af wees.

andrea van vuren ·

Ek is ‘n oud verpleegkunde wat in 1965 aan UP gegradueer het en tot einde 2006 onderrig gegee het aan ‘n verpleegkollege in Pretria. Die onderrigtaal het geleidelik na 1994 oorgeskakel van Afrikaans na Engels en baie van die studente moes dan in hul tweede taal lesings ontvang. Daarom is dit verblydend om te hoor dat die nuwe Akademia besluit het om ook ‘n graadkursus in verpleegkunde aan te bied. My dank aan Afriforum en Solidariteit vir volgehoue ondersteuning aan ons handjie vol Afrikaners wat steeds ons koppe in die nuwe Suid Afrika probeer hoog hou. Ek wens ek was jonger dan het ek beslis aansoek gedoen om Verpleegkunde en Sielkunde by Akademia te gaan doseer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.