Nuuskommentaar: Sadou en gekoopte poste

Angie Motshekga tydens 'n vorige geleentheid. Foto: DOC

Angie Motshekga tydens ‘n vorige geleentheid. Foto: DOC

Vrydag is D-dag vir minister Angie Motshekga om die verslag oor poste vir kontant, wat Sadou betrek, bekend te maak. Die bekendmaking is reeds twee keer deur Sadou-dreigemente vertraag, maar ʼn kopie wat aan die media uitgelek is, behoort die minister genoeg te inspireer om met ʼn ongeredigeerde verslag deur te druk.

Dit is moontlik net die oortjies van die seekoei, maar die verslag oor ʼn ondersoek na die verkoop van onderwys-verwante poste, wat bestem is om Vrydag bekend gemaak te word, gaan uiteindelik méér as net die onderwys skud. Die bekendmaking van die verslag deur minister Angie Motshekga is reeds twee keer weens dreigemente deur Sadou uitgestel en steeds word met hof-optrede gedreig. ʼn Kopie van die verslag het egter reeds aan die media uitgelek en dit laat Sadou se manewales net nog meer verdag lyk.

Sadou is al by meer as een geleentheid beskryf as onderwys in Suid-Afrika se grootste vyand. Dit is veral berug vir sy veldtogte om te keer dat gehaltebeheer toegepas word, asook dat dissiplinêr teen loodswaaiers opgetree word.

Die vakbond is geen liggewig nie. Met die wegbreek van Numsa uit Cosatu en die NUM se gedeeltelike verkrummeling, is Sadou nou effektief die groot meneer in Cosatu. Dit is dus deel van die ANC se drieparty-alliansie. In verkiesingstye is die ANC baie afhanklik van die logistieke en organisatoriese vermoëns van geaffilieerde vakbonde om sy mobilisasie vir verkiesings te rugsteun.

Om Sadou nou regstreeks kort voor ʼn verkiesing te konfronteer en die praktyk van verkoop van poste te stuit, sal nie vir die minister en die ANC maklik wees nie. Daar is reeds bespiegelings dat die minister die finale verslag gaan redigeer om die ergste angel daaruit te haal – iets wat danksy die uitgelekte verslag soos ʼn seer duim gaan uitstaan.

Voorts verskaf Sadou, na berig word, die grootste gros tydelike OVK-personeel tydens verkiesings.

So belangrik soos dit is om Sadou oor ʼn wye front in die bek te ruk – ook om die onthalwe van skolesportontwikkeling, so belangrik is dit om te besef die probleem van die verkoop van poste strek baie wyer as net Sadou. Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê hy weet van twee gevalle wat niks met die ondersoek te make het nie, waar amptenare poste probeer verkoop het.

As net ʼn fraksie van die gerugte waar is oor hoe werksoekers se nood uitgebuit word, is dit ʼn enorme probleem. Dit wissel van die afstaan van ʼn persentasie van die salaris aan die “posgewer”, tot seks in ruil vir poste.

Die huidige sage rondom die minister van finansies en die Valke hou die potensiaal in om die land se ekonomie in ʼn ommesientjie baie ernstig te skaad. ʼn Verslag waarin ʼn grootskaalse gekonkel met onderwysposte voor die deur van een van die ANC se belangrikste alliansievennote gelê word, gaan nie juis help om beleggersvetroue te verbeter nie.

Maar dit sal nog meer skadelik wees as die verslag, teen die agtergrond dat dit reeds uitgelek het, nie Vrydag uitgereik word nie, of selfs net beduidend “geredigeer” is.

Die voorbeeld wat Sadou stel, is ook nie juis bevorderlik vir die lewering van studente wat skouer aan die wiel sit en nie moles maak elke keer wat hulle nie hul sin kry nie. Uiteindelik versprei Sadou se kanker oor die hele land.

Gaan Motshekga haar rug styf maak en doen wat in landsbelang gedoen moet word?

Die land wag met ingehoue asem.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Gewetenlose en hartelose boosdoeners!ANC ek bid vir jul val en ek weet God slaap nooit!

alida ·

Kry vir jou en gee rekenskap jou pateet. Net so skelm soos haar president !!! GEEN instansie is ‘n sukses met hierdie mense aan die stuur nie. Tot die siekes se medikasie word al gesteel. Mense word aangestel sonder integriteit of enige kwalifikasies. Hul vel kleur is ‘n waarborg van ‘n werk of jy dit kan doen of nie.

Gideon ·

Ek weet dit is verkeerd om mens op sy baadjie te takseer, maar ek kan net nie help as ek na Angie kyk nie, sy kom regtig so onbeholpe voor!!

Siestog ·

Ag dit sal seker net weer apartheid se skuld wees om tot sulke dade oor te gaan.

Oom Kalahari ·

@Herman Toerien, weereens ‘n puik skrywe uit jou pen. Solank die soustrein nog kan gee sal die dikvelliges no wil aanbly tot die wiele heeltemal af is, dan is dit tyd om die geldjies op die nuwe vliegtuig te beproef vir ‘n rit na palm land (Dubai – Gupta Plesier oord). Onderwys is al lankal geskaad met die koper/verkoper opsies om poste asook punte en sertifikate te kan bekom. Die kannetjie wurms is geweldig groot in vele instansies, maar die tyd sal leer. As werklike ondersoeke na vele staats instansies deur die leiding van opregte en eerlike neutrale ondersoek beamptes gedoen word, gaan die publiek se monde oophang oor al die bevindinge van verrykings prosesse en geld verduisterings gepaardgaande met poste.

Zirk ·

Ek stel voor dat Maroela Media Vrydag, met of sonder enigiemand se toestemming , , ‘n volledige ongeredigeerde opsomming van die verslag publiseer, asseblief. Dis in landsbelang en sommer ook ‘n moordende hou teen die ANC en die korrupte vakbond Sadou net voor die verkiesing.! As korrupsie nie deur die regering vasgevat kan of wil word nie, moet die wetsgehoorsame burger dit doen. Iewers moet daar ‘n begin gemaak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.