Nuuskommentaar: SAKP se “liefde” vir Zuma

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede 2014 Foto: Siyabulela Duda, GCIS (SAPA)

Pres. Jacob Zuma tydens sy staatsrede 2014 Foto: Siyabulela Duda, GCIS (SAPA)

Baywatch-ondersteuners sal moontlik weet dat dié gewilde reeks van wit strande en mooi meisies op ’n Kaliforniese strand met die naam, Zuma-strand, geskiet is.

Nee, die Amerikaners is nie so lief vir pres. Jacob Zuma dat hulle ’n strand na hom vernoem het nie. Om by die herkoms van die naam uit te kom verg bietjie delfwerk, en dit blyk dat die strand sy naam gekry het van ’n canyon wat op die strand uitmond, Zuma Canyon. Dié canyon het weer baie lank gelede sy naam van ’n Rooihuidstam, die Chumash, gekry. In dié taal beteken zuma oorvloed, of meer korrek, ’n oorvloedige verskeidenheid. Die canyon huisves ’n buitengewone groot verskeidenheid diere- en plantlewe, en baie van die wêreld se bekendste orgideë kom uit Zuma Canyon.

En hoewel Jacob Zuma en Zuma Canyon geen verbintenis het nie, kan niemand stry dat Zuma ’n bonte verskeidenheid “verteenwoordig” nie. Hy is waarskynlik, op wyle Hugo Chavez van Venezuela na, die regeringshoof wat die meeste bekende vreemde uitlatings gemaak het. Sy godsdiensuitsprake het hom by herhaling by hoofstroomkerke in die warm water laat beland, terwyl ʼn “tradisionele kerk” hom ’n ere-pastoor gemaak het. Sy honde-uitspraak het wêreldwyd opslae gemaak, kort daarna gevolg deur ’n opmerking dat mense wat nie aan sy beplande reinigingseremonie wil deelneem nie, nie versoening nastreef nie. Boonop wou hy emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, ’n Anglikaan, inspan om dié animistiese ritueel te lei.

Juridies gesproke het hy as opperste Houdini ontpop, nadat ’n verhoorregter reeds bevind het daar het ’n “algemene korrupte verhouding” tussen Zuma en die veroordeelde bedrieër Shabir Shaikh, bestaan het. Sy administrasie trek nou al ʼn derde keer internasionale vuur oor ’n krisis met die toestaan van ’n visum aan die Dalai Lama.

Terwyl hy eintlik op die agtergrond is (op die oog as deel van ’n uitfaseringsplan, of om ’n blaaskans te kry sodat sy beeld herstel te kry), skryf hy ’n uiters omstrede brief aan die Openbare Beskermer wat tegnies ’n grondwetlike krisis skep, en bitter naby op ’n statutêre staatsgreep neerkom.

Dit, om maar ’n paar voorbeelde te noem van ’n man wat ’n bonte verskeidenheid omstredenhede in oorvloed saamdra.

Tog sê die Vrystaatse ewe omstrede premier, Ace Magashule, Zuma is “geen fabrieksfout” nie. Hy gaan voort om die president groot lof toe te swaai.

Maar hierdie in die bresse tree vir Zuma kom grootliks uit die SAKP-geledere.

Terwyl dit aan die een kant lyk of die ANC met die een of ander vorm van “uitvaartstrategie” met Zuma besig is – een waar Zuma so op die agtergrond as moontlik bly en hoofsaaklik die rol van ere-diplomaat (of dan in die ANC se oë superdiplomaat) speel, tree die president andersins hoofsaaklik seremonieel op, en sê net wat vir hom (voor)geskryf word om te sê.

Maar selfs só duur die omstredenhede voort – dikwels juis sake wat soos spoke saam met hom trek soos die spioenasiebande en Nkandla, maar met genoeg kortstondige “uitbreke” waartydens die prez maar weer daarin trap.

Dit is egter die SAKP wat dit duidelik maak dat Zuma steeds ’n groot rol te speel het, en dat die president nie (nou) vir die ashoop bestem is nie. Die Mail & Guardian het pas ʼn interessante artikel geplaas, SAPC leading the Nkandla cover up. Die media  berig vanoggend dat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, ʼn brief aan Buti Manamela, adjunkminister in die presidensie, en die presidensie gerig het waarin sy ’n verskoning eis vir ʼn skerp aanval op haar deur die adjunkminister. Dit is nie die eerste keer dat Manamela ’n aanval op die OB loods nie. In Maart vanjaar het hy reeds gesê sy is geen god nie.

Minister Nomvula Mokonyane, minister van waterwese, wat pas die wenkbroue laat lig het met haar stelling dat “ons” Zuma met ons agterwêrelde sal verdedig, is ’n uitvoerende bestuurslid van die SAKP. (Sy het verduidelik dit is ’n Pedi-idioom).

Selfs die ANC-sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, wat so ver bekend nie persoonlik baie erg oor Zuma is nie, het vir sy in die bresse tree vir Zuma, die OB só sleggesê, dat kriminele klagtes teen hom gelê is. Mantashe is ook ’n kommunis.

Kortom, onder Zuma kan daar behoorlik onder elke bos ’n kommunis uitgeskop word.

As dit inderdaad so is dat die SAKP juk teen die gat is met ’n “uitvaartstrategie” vir Zuma, moet daar ’n rede of redes voor wees. Twee duidelike moontlikhede staan uit, die een bloot in die dampkring van baantjies vir (rooi) boeties, die ander onheilspellend.

Zuma het ’n buiten proporsionele groot deel van die kabinet uit die geledere van die SAKP aangestel. Die ministers in die portefeuljes wat met die ekonomie verband hou, kom volledig uit die geledere van die SAKP.  Indien Zuma nou as president vervang sou word, is dit baie waarskynlik dat Cyril Ramaphosa hom nou sal opvolg. Dit is onwaarskynlik dat Ramaphosa, of enige ander persoon wat nie regstreeks uit die geledere van die SAKP kom nie, só baie kommuniste in sy of haar kabinet sal opneem. Op die oog af lyk dit of die SAKP tyd nodig het om hul eie kandidaat as opvolger vir Zuma te posisioneer, en lei daarom die aanslag op Zuma se grootste bedreiging, die Openbare Beskermer.

Die tweede scenario is een waar die SAKP sy baadjie van (weliswaar internasionaal uitgediende) Euro-Kommunisme en verbintenis tot grondwetlike demokrasie uittrek, en hom weer tot die karakter van ’n rewolusionêre organisasie verbind wat eerder nie-demokraties wil oorneem, as om bloot deur infiltrasie sy doelwitte so goed as moontlik te wil bereik. Onthou, nie alle kommuniste in SA is met die SAKP geassosieer nie, en daar is sterk sprake van ʼn nuwe werkersparty wat uit Numsa gebore kan word. Ook met die steun wat Amcu kry, lyk dit inderdaad of ’n alternatiewe, meer radikale vorm van kommunisme populistiese steun kry en die effens gemufte, intellektuele SAKP na die kroon kan steek. Die SAKP moet nou, terwyl dit nog relevant is, meeding om populisme.

En hierdie soort kommunisme gedy in ’n omgewing van politieke destabilisasie. En min hoef nog oortuig te word dat daar daagliks ’n oorvloed tekens van destabilisasie is – tot in die parlement waar ook die mosie van wantroue in die speaker tot chaos gelei het, die onluste by Grabouw en Kriel, die polariserende uitspraak in die Renate Barnard-saak, stakings, grondgryp-gedagtes, munisipaliteite wat reeds in die toilet afgespoel sou wees as hul rioolstelsels nie buite werking was nie voor ingegryp word, LUR’e wat krimineel vervolg word maar in hul ampte aanbly; alles dra by tot ʼn beeld van destabilisasie.

Of die destabilisasie algemeen genoeg is om ʼn klassieke werkersrewolusie te bewerkstellig, is te betwyfel, maar binne ’n klimaat van so ʼn destabilisasie is kiesers en hul leiers ook nie altyd demokraties baie rasioneel in hul besluite oor wie die geskikte persoon is om sake op te ruim nie. Dink maar aan die Duitsers met hul mooi Weimar-grondwet wat Hitler heel demokraties tot diktator verkies het.

En Suid-Afrika het dr. Blade of ’n ander kommunis omtrent so nodig soos ’n loodpil teen maagkrampe.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sjert ·

Dat die SAKP vanaf die stigting van die Congress beweging in die vroeë vyftiger jare die kitaar binne en buite die ANC se dampkring slaan, is ‘n geskiedkundige feit.

So het Bram Fischer, die Slovo’s en al hulle pelle wat hoofsaaklik uit wit geledere gekom het, nog altyd die ANC se strategieë en beleid voorgeskryf. Altyd op die agtergrond en oënskynlik as minderes binne die beweging. Soos alle goeie en doelgerigte kommuniste oor die jare heen met groot sukses tewerk gegaan het.

Die ou spulletjie oor die res van die wêreld heen, het reeds groot terugslae sedert die verdwyning van die Berlynse muur ervaar, maar hier en daar is daar ‘n ou ligpuntjie vir die aanhangers van hierdie uitgediende dogma. Ons droewe land is duidelik een van die oorblewende Marxistiese eksperimente. Snik!

So het Slovo met die hulp van die Russiese intelligensiedienste – KGB en GRU – maar veral die Oos Duitse HvA en hul enigmatiese hoof Marcus Wolf, ook die piete by Kemptonpark ore aangesit. Ons ervaar oor die afgelope jare en veral sedert Zuma se bewind, die ekonomiese en finansiële gevolge van hierdie sotterny wat deur die aanhangers van Marx bedryf word, terwyl hulle die ANC as skans vir hul sotterny gebruik.

Is maar hoe dit is…

Herman Toerien ·

Dankie Sjert. Ook Leopold Scholtz skryf gereeld oor die historiese impak vd SAKP op die ANC. Dit kan dalk selfs parasities genoem word weens die buite-proporsionaliteit daarvan.
Wat ek nou opmerk en die spênner in die hoenderhok in oor gooi, is die skerp manier waarop die SAKP agter Zuma konsolideer en eintlik banaal raak. Dit is meer as die gewoonlik meer subtiele rol. Dit terwyl ander kommuniste wat nie deel vd SAKP is nie, oor die algemeen juis anti-Zuma is. Iets baie besonder moet dus op die spel wees dat die formele lotjie bereid is om hul grondvlak-steun in die tande te skop.
Maar, soos gestel, dis ‘n waarneming. Met Zuma is dinge baie selde soos analiste dit “lees” en dis net moontlik dat ek die kat hier heeltemal aan die stert beet het.

Sjert ·

Ek dink nie dat jy die kat aan die stert beet het nie Herman.

Die ander kommuniste waarna jy verwys en wat meer radikaal as die SAKP siele is, vind dikwels meer aansluiting by die sogenaamde Trotsky denkpatrone. Gewoonlik vind dit neerslag by arbeidersorganisasies soos die huidige teenstanders van COSATU. SAKP is natuurlik tradisioneel die handperd van Moskou. Wonder dikwels hoe die verhoudinge met die huidige Russiese bewind onder Putin werk. Ek wil soms ‘n rot ruik…

Ek vermoed dat die Mbeki ondersteuners binne die SAKP ook die mense is wat die anti Zuma vleuel verteenwoordig. Kasrils, Mbeki ens.

Moontlikheid bestaan natuurlik dat die ouens wat nie saam uit die geldtrog kan vreet nie, bokbek is en graag van Zuma ontslae wil raak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.