Nuuskommentaar: Sal buiteland se gesindheid teenoor Afrikaanssprekendes, wit mense en Afrikaners ooit verander?    

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Hoe goed is die kanse dat die Afrikaners, Afrikaanssprekendes en wit mense in Suid-Afrika finaal die muishondbeeld oorsee kan afskud, en dat die ANC werklik objektief beoordeel word? Om die skynbare klimaat van groter objektiwiteit reg te benut, is baie belangrik vir die huidige veldtogte van byvoorbeeld AfriForum en die Instituut vir Rasseverhoudinge om buitelandse steun te werf vir die stryd teen grondgryp sonder vergoeding.

In wêreldpolitiek het lande nie vriende nie, net belange. So lui een van die “waarhede” van internasionale politiek. Of dit die waarheid is of nie, daar is ten minste uitsonderings. Die ANC het ná die party aan bewind gekom het, gou gewys dat hy lojaal bly aan vriende, al is dit ook van die wêreld se grootste muishonde en al was dit ten koste van die internasionale openbare mening.

Een van die eerste dinge wat pres. Nelson Mandela gedoen het, was om af te sit en die Libiese leier, Moeammar Ghaddafi, om die hals te gaan val, en die ou aartsterroris op te hemel asof hy die aartshumanis van alle tye was. En so kon ’n mens hulle inryg – Kuba se Castro’s (verskeie bloedstollende bloedbaddens ten spyt), die destydse militêre junta van Mianmar, ook Mugabe, in weerwil van ’n risiko om ’n breekspul met Cosatu op die lyf te loop wat ’n “broederlike susterparty” van die vakbondgebore MDC was, en selfs by geleentheid ’n stemming ten gunste van Al-Kaïda uitgebring het. Om maar net ’n paar te noem.

Maar ten spyte hiervan het die algemene wêreldmening oor die ANC positief gebly. Die beeld wat die wêreld van Mandela gehad het, was so vasgemessel dat sy aansien alle negatiewe feite eenvoudig uitgewis het. Selfs Mandela se eie erg omstrede woorde wat hy soms geuiter het, asook sy swye wanneer hy eintlik iets moes sê om die beeld te regverdig, kon nie daardie algehele beeld uitwis nie.

Min of meer dieselfde kan van die ander kant gesê word. Apartheid was immers internasionaal so gedemoniseer dat selfs die toekenning van ’n Nobel-vredesprys aan oudpres. FW de Klerk nie die Afrikaners/wit mense se beeld kon verbeter nie. Selfs nie “die beste Grondwet ter wêreld” kon die gevestigde beeld van sy fondamente verwyder nie, en die feit dat die nuwe Grondwet later geblyk het eerder ’n ramp te wees, het niks te make met dit wat vasgeanker bly staan het nie.

’n Algemene wêreldmening word nie sommer verander nie. Daarvoor is die wêreldmenings te sterk aan internasionale ideologiese strominge gekoppel. Eie belang speel ook ’n enorme rol, met partye wat as hulle aan bewind kom maar al te dikwels in stilte verval oor beloofde beleidsrigtings wat hulle dan juis aan bewind gebring het. Soms is daar somerswaeltjies, soos die Nederlandse parlement wat verlede jaar ’n mosie teen Suid-Afrika (lees ANC en surrogaatpartye) se grondgryp sonder vergoedingsplanne aanvaar het. (Lees meer hier.)

Kwalik ’n half jaar later wil dit egter voorkom of dit vergete is, of dat pres. Cyril Ramaphosa se teenpropaganda op die politieke terrein ’n mate van sukses behaal het. Selfs nie die rampspoedige uitlatings en optrede van Suid-Afrikaanse diplomate, waaronder die selftoe-eiening van die titel “doktor” – hetsy op meriete of as eredoktorsgrade – deur ’n paar ambassadeurs, kon die beeld van ’n bra patetiese diplomatieke korps heeltemal verongeluk nie.

Veldtogte teen plaasaanvalle het al, tot groot irritasie van die ANC, groot duike in internasionale menings geslaan, maar selfs ernstige brouwerk aan die kant van die regering en sy diplomatieke korps kon dit nie akuut in die kollig hou nie. Dink maar aan die destydse Suid-Afrikaanse minister van polisie se uitlating dat AfriForum se veldtog wat openbare optogte insluit, net ’n goedkoop propaganda-foefie is, ’n diplomaat wat Suid-Afrikaanse afgevaardigdes by ’n VN-vergadering hul spreekbeurte wou laat ontsê en gesê het hul veldtogte teen plaasaanvalle beteken hulle hunker na apartheid, asook lawwe aansprake vanuit regeringskant om sulke veldtogte as verraad te probeer afmaak.

Voeg daarby Ramaphosa se ontkenning van pres. Donald Trump se stellings oor plaasaanvalle, en hoe hy probeer voorgee het plaasaanvalle bestaan nie werklik nie. In hoe ’n mate Ramaphosa buite konteks aangehaal en gelooi is, is ’n kwessie vir geskiedskrywers om uit te pluis, soos ook met sy Versoeningsdagaansprake oor die “indringers” se veldtog wat tot Bloedrivier se slagting van die “vryheidsvegters” deur politiek korrektes bewimpel word.

Ja, natuurlik word skade ook deur goedbedoeldes aangerig, soos die knaap wat te midde van een van AfriForum se buitelandse veldtogte op TV gaan ontken dat die Joodse volksmoord ooit plaasgevind het.

Maar wat dan van die opkoms van regse politiek in Europa, wat ook gepaardgaan met ’n skynbare opkoms van rassisme? Maroela Media het dit juis gister in sy nuuskommentaar oor die talle gevalle waarin dit by sokkerwedstryde manifesteer onder die loep geneem. Ná verlede jaar se verkiesing in België waarin die regse party, Vlaams belang, sterk opgang gemaak het en in Vlaandere as tweede grootste, en in België as derde grootste party uit die verkiesing getree het, het ’n leser laat weet hy het met die leier, Tom van Grieken, gepraat. Van Grieken het aangedui hy gaan die Suid-Afrikaanse kwessie in die parlement opper.

Om simpatie vir wit mense/Afrikaners oorsee te probeer werf deur dit met rassisme, veral die lelike manifestasie daarvan soos by sokkerwedstryde, te vereenselwig, laat staan nog simpatiek teenoor die Nazi’s te maak, draai die veldtogte by voorbaat nek om en laat ons in selfs ’n swakker posisie.

Hoe belangrik dit is dat feite en opvattings in die buiteland reggestel moet word, word vandag goed deur ’n artikel van dr. Leopold Scholtz getiteld Met die wysheid van nawete gedemonstreer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Die buiteland lag net vir ons. Hulle is in elke geval so diep opgekruip in die swart mense dat net hulle tone uitsteek. Dus kan hulle sien wat werklik gebeur nie. Hulle gee in elke geval vir soos hulle dit al aan my gestel het: “the savages running around naked” net wat die lui onbevoegde korruptes vra. Brittanje sien Suid Afrika gelykstaande aan die Kongo en ander agterlike lande as maar net nog ‘n agterlike Afrika land en hulle behandel ons ook so. Ek het al baie kommentaar van buitelanders gekry wat my laat besef het ons beteken niks in… Lees meer »

twaalfboor

Leon
Dit wil vir my voorkom asof jy Herman Toerien wil oortref.

Paul

My kinders woon oorsee.
Ek ken vele Afrikaners wat regoor die wêreld woon.
Ek self het ook al maande oorsee gebly.
As iemand my vra van waar kom ek sê ek, ek is ‘n Afrikaner van Suid-Afrika.
Nie een van my kenisse het al ooit gekla dat hulle nie met respek behandel word.
Inteendeel, die kritiek waarvan ek gehoor het, was net positief.
Of sit ek die pot mis?

Johan

Leopold moet liewer net sy mond hou, hy is net so belaglik soos die res…… Wens hy wil net agter sy held aantrek na Griekeland sodat ons kan aanbeweeg hier. Herman jy laat my in die steek met dié skrywe.