Nuuskommentaar: Sal die regte Grondwet asseblief opstaan?

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die gedweep met die Grondwet as “beste grondwet in die wêreld” het stiller geword, maar vertolkingsprobleme en self leke-gevolgtrekkings oor wat die Grondwet werklik bevat, skep veral vir die owerhede, maar selfs die Openbare Beskermer en by geleentheid die parlement, kopkrappers. Dis moeilik om ’n trop half wilde werfhoenders snags, nadat ’n muishond sy opwagting gemaak het, in ’n hoenderhok in te jaag. Afgesien van chaos en ’n groot lawaai word dadels uitgerig.

Wanneer laas het jy die geykte kluitjie gehoor dat Suid-Afrika “die beste grondwet in die wêreld het”? As dit so moes wees, sou dit mos in die praktyk in feitlik al die lande in die wêreld nog meer beroerd moes gaan as in Suid-Afrika, dan nie?

Darem nie. Hoewel grondwette, goeies en slegtes, bepalende invloede sou hê op hoe dit in ’n land gaan, is dit lank nie die enigste faktor nie. Om ’n “gewese” politiek onjuiste term buite konteks van toepassing te maak – nie alle nasies en volke is beskawingsmondig nie.

Ná ’n kwarteeu is die foutlyne in die Suid-Afrikaanse Grondwet al by herhaling belig. Hoe is dit moontlik dat daar, volgens Panyazi Milner II, geen Afrikaanse universiteit oor is waar klasse in Afrikaans-medium aangebied word nie? Selfs al sou hy net na staatsgefinansierde universiteite verwys (want wat anders as Afrikaans is Akademia dan nou?), maar plek-plek word nou vir Afrikaanse onderrig ruimte gelaat, soos by die University of the Free State waar aspirant-onderwysers en predikante nog in die skoonste taal touwys gemaak kan word. En dan is daar nog die onafgehandelde regsproses by die US.

Weersprekende voorbeelde van die Grondwet blyk nou uit twee gebeurtenisse ’n duisend kilometer uiteen. In die Wes-Kaap dring die ANC aan dat veral sekere skole met Afrikaanse name hul name moet verander. Dié name sluit dié van Jan van Riebeeck in, en word deur die ANC beskryf as dat dit van die apartheidsera dateer en “daarom teen die Grondwet indruis”. Die ANC eis dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement die leiding moet neem, so asof dit iets is waaroor die staat enige seggenskap het. Dis uitsluitlik, in die geval van sekere kategorieë skole, die funksie van die beheerliggame.

Die ANC kon belangrike leidrade verkry oor wat die Grondwet oor die saak te sê het, as gekyk is na wat in Limpopo, ’n ANC-beheerde provinsie, gebeur het. Om maar een voorbeeld te noem – kort ná die ANC en meelopers Pietersburg se naam na Polokwane verander het, het die ANC gekla omdat sekere skole en kerke hul “ou name” behou het, en nou byvoorbeeld Hoërskool Polokwane, of NG kerk Polokwane-Noord, moes heet. Toffies is egter oor ’n wye front vir die ANC gewys.

In Bloemfontein het ’n bekende radiopersoonlikheid van Radio Rosestad, asook sakeman Bernie Naudé, ’n klag van diefstal teen die Mangaung-metro ingedien nadat hy en sy gesin die afgelope week weer ’n paar dae sonder water was. Sy waterrekening is ten volle betaal, maar desondanks was sy huishouding die afgelope 17 maande altesaam 44 dae sonder water. Ook Naudé beroep hom op die Grondwet, wat basiese toegang tot water as ’n grondwetlike reg beskryf. Naudé vra vrae oor wat van die geld geword het wat inwoners aan die munisipaliteit betaal het, maar klaarblyklik nie ten volle aan Bloemwater oorbetaal is nie. Bloemwater beperk die stad se toegang tot water, wat beteken dat hoogliggende huise soos dié van Naudé onder die eerstes is wat nie water het nie, en as die krane weer oopgedraai word, van die laaste huishoudings is om die nodige te kan doen soos laerskoolkinders skoon skool toe stuur, toilette spoel en wasgoed was.

Wat Naudé aanraak, is bykans landwyd ’n probleem. Gevalle waar Eskom en waterrade hul dienste beperk (soos met beperkte toevoer), het al verskeie kere in die howe gaan draai met bloedneuse vir die grootmaat-diensteverskaffers wat die spit afbyt. Maar dit los nog nie die probleem op, of penaliseer diegene wat verantwoordelik is dat dienstegeld tussen die verbruiker en die verskaffer “verdwyn” nie. Ironies is munisipaliteite in staat gestel om water en elektrisiteit aan te koop en teen ’n wins te herverkoop om dié instansies te help om finansieel lewensvatbaar te wees.

Die probleem is natuurlik baie groter as net die gehalte van die Grondwet. Onder die probleme tel dat sy koste te hoog is weens die aanstelling, teen hoë salarisse, van te veel werkers. Die ANC se ekonomiese modelle kan gewoon nie in die praktyk werk nie, soos pas in detail deur die TLU-SA uitgewys, en verwurg semi-staatsondernemings. Sekere kategorieë armes kry ’n persentasie water gratis, en wetstoepassing met die steel van kabels en pype is nie voldoende nie. Korrupsie het die tenderproses gestaatskaap en sommige raadslede se eie munisipale rekenings is tienduisende rande in die rooi. Owerheidsfondse word gebruik vir hersubsidiëring van owerheidsfondse, byvoorbeeld deur begrafnispolisse vir raadslede te finansieer, en in die bankrot Mangaung se geval, raadslede se begrafnisse met ’n bykomende R100 000 per begrafnis te kruissubsidieer.

Om met gesag te kan praat oor wat in die Grondwet staan en wat daarmee bedoel word, is ’n komplekse saak. Minderheids- en meerderheidsuitsprake waar die verdelingslyn perfek tussen wit en swart regters loop, is al uitgewys.

Anders as met die oorgangsgrondwet is die huidige Grondwet nie ’n detail-dokument nie. Soos een regsgeleerde dit beskryf het, ’n wa en span osse kan daarin draai. Die detail moet deur presedentereg en aanvullende wetgewing bepaal word.

In die proses rafel sake gereeld uit. By geleentheid het die DA-Jeug ’n optog na Kleinfontein gehou om teen die “ongrondwetlikhede” daar beswaar te maak. Die jeug is deur senior DA-leiers daarop gewys dat Kleinfontein juis sorg dra om binne die Grondwet te bly. Selfs die parlement is al gelooi oor dit nie volgens die Grondwet funksioneer nie, en die Openbare Beskermer verbrand op gereelde grondslag haar vingers.

Na berig word, hou hoofregter Mogoeng Mogoeng môre ’n nuuskonferensie waarin gereageer word op onlangse kritiek soos beweerde korrupsie op die regbank. Dalk skyn daar dan meer lig op hoe die Grondwet ingespan behoort te word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vryburger ·

SA het gefaal. Die reenboognasie is ‘n fabel. Die skrif was reeds in 1910 aan die muur. Dis tyd om die land op te breek en af te stig, al is dit eensydig. Die regering sal maar net sit en kyk hoe dit gebeur sonder veel werklike mag en wil om dit te stop. Sodra die momentum begin sal die regering nie al die gate kan toestop nie. Tans kla en kerm ons terwyl ons bewustelik in die septiese tenk afgetrek word.

Onnodig ·

Indien die Grondwet uitgevoer kan word soos dit geskryf en bedoel is, behoort daar baie minder probleme te wees maar ongelukkig word dit nie uitgevoer soos dit moet nie.

Jerry ·

Of Mogoeng dit gaan se of nie, die feite van reeds gedane sake dui tog alte duidelik daarop dat die ANC ideologies gesinde howe die grondwet interpreteer en inspan om die onreg van die verlede teenoor swartmense reg te stel met n onreg teenoor witmense in die hede en wat sal voortduur in die toekoms! Opposisiepartye moet net met meer geloofwaardige teeninterpretasies vorendag kom, maar dit lyk of hulle maar net n bloudruk is vir ANC grondwet interpretasies wanneer die onreg van die verlede ter sprake kom! Opposisiepartye gaan regtig uit hulle gyselaarsboksie moet uitklim sodat hulle kan begin dink en besef dat om net n bloudruk te wees vir ANC interpretasies is tot voordeel van ANC kiesers en dat dit wat tot voordeel van ANC kiesers is, is op die ou einde van die dag, noodwendig sleg vir opposisieparty kiesers!

Willem Grobler ·

Hierdie grondwet beteken vir die gewone, wetsgehoorsame burger van die Nuwe Suid-Afrika net mooi niks. Dit beskerm egter die skelm elite tot die dood toe – in terme van die grondwet sit party van hulle vir jare by die huis en word ten volle betaal sonder om ‘n steek werk te doen met die regte wat vir hulle uit die grondwet voortspruit. Die voorbeelde van korruptes wat ywerig van hul grondwetgegewe regte gebruikmaak is legio!

Gemaskerde Sopbeen ·

‘n Grondwet is net so goed as die mense wat die waardes daarvan bewaak en die riglyne daarin toepas….anders is dit nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Nes die christene se bybel weerspreek die konstitusie homself op elke tweede bladsy. Voorbeeld: Seksie 184.2(b)…Die menseregte kommissie het alles wat nodig is om mense wie se regte geskend is by te staan om restitusie en kompensasie te bekom om hulle situasie te herstel………Hoe herstel jy die situasie waar ‘n gesin se broodwinner vermoor is, nadat sy of haar reg tot veiligheid en sekuriteit skandelik geskend is? Die enigste restitusie wat so ‘n gesin einltik kan help is kwytskelding van enige vorm van belasting aan die staat, wie hulle gefaal het in terme van veiligheid en sekuriteit…As die regering wil aanspraak maak op boedel belasting, behoort dit net op boedels van mense te wees wat aan natuurlike oorsake sterf, en nie moord nie. Dis amper soos om aanspraak te maak dat mense jou moet jammer kry omdat jy ‘n weeskind is….nadat jy jou eie ouers vermoor het!!

Leon ·

Het julle nie geweet daar is drie grondwette nie.
Een is vir cie blankes
Twee is vir die swart mense
en drie is vir die ANC, PAC,SAKP en EFF.

JR ·

Ja nee jy kan ook nie jou skape in die leeukamp jaag en verwag hulle moet ongeskonde daar uit kom nie

Adam ·

Die vraag oor of die Grondwet goed of sleg is is eintlik bloot van akademiese belang aangesien die patetiese regering of die Grondwet ignoreer of slegs dit inspan wat in ‘n gegewe situasie tot hule voordeel is. Ons kon net sowel die agterblad van die Son-koerant as grondwet gehad het.

Swannie ·

Ek wens ek kan `n afskrif van die grondwet kry – dit behoort baie goedkoper as toiletpapier te wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.