Nuuskommentaar: Sal die regte SA asseblief opstaan?

Nelson Mandela en sy vrou, Winnie, op 11 Februarie 1990 kort nadat Mandela uit die Victor Verster-gevangenis vrygelaat is. Foto: (AP Photo/Greg English, File)

Terwyl daar ’n groot poging aangewend word om deur die 30-jaar-herdenking van oudpres. Nelson Mandela se vrylating, en in die aanloop tot vanjaar se staatsrede Donderdag, entoesiasme te wek, word sake inteendeel erg bemoeilik deur ongure optredes en blapse vanuit alle kante van die politieke spektrum – die president ingesluit.

Selde of ooit het Suid-Afrikaners oor so ’n breë front soos vanjaar so vroeg en so wydverteenwoordigend menings oor ’n staatsrede gelewer as oor vanjaar s’n wat Donderdag deur pres. Cyril Ramaphosa gelewer word. Dit is Ramaphosa se vierde staatsrede, en dus het die breë publiek ’n opvatting oor die kaliber van die staatshoof – goed of sleg, of baie goed of, te oordeel na die aard van sommige kommentare, baie sleg.

Die feit dat hierdie staatsrede so byna-byna saamval met die 30-jaar-herdenking van oudpres. Nelson Mandela se vrylating, en die duidelike inploffing van die ANC se regeervermoë oor ’n wye spektrum, sou noodwendig die aandag op oudpres. FW de Klerk laat val, en die weerlig trek van diegene wat De Klerk as verraaier die spit wil laat afbyt. Van De Klerk se voorste ondersteuners het dié keer ook sterk in die openbaar gereageer, en ongelukkig nie altyd met die nodige oordeel wat dit sou verg nie.

In ’n verklaring wat deur Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerk-stigting, deur die stigting uitgereik is, word uiteraard sterk vir De Klerk in die bresse getree. Die grootste fout, soos al telkemale uitgewys is, is dat hierdie verklaring, soos ander verklarings van die afgelope paar jaar, slegs in Engels uitgereik is. (Dit lyk of slegs die pennevrug van die grootbaas, dr. Theuns Eloff, ook in Afrikaans die lig sien.)

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Steward skryf onder meer die volgende: “As Mr De Klerk observed in his autobiography: as he watched Nelson Mandela walking through the gates of Victor Verster Prison, he was struck by an inescapable truth: ‘… an irreversible process had begun and nobody could predict precisely how it would end’.”

As pluspunte maak Steward onder meer die volgende stellings: die grondwetlike demokrasie waarin De Klerk en Mandela die leiding geneem het, is steeds in werking; Suid-Afrika is weer deel van die internasionale gemeenskap; Suid-Afrika is van die albatros van minderheidsoorheersing bevry; alle Suid-Afrikaners geniet nominale gelykheid; die nuwe veelrassige middelklas het floreer.

Maar dan noem hy ’n lys van mindere sukses:

  • the great exercise in reconciliation and nation-building to which Nelson Mandela dedicated so much of his Presidency has come to a grinding halt;
  • the language and cultural rights that were entrenched in the Constitution have been broadly ignored;
  • our new society has failed dismally to promote many of the values on which our new Constitution was founded – particularly with regard to human dignity and the achievement of equality and non-racialism;
  • too many South Africans are afflicted by inadequate education, health and municipal services and by unacceptable levels of inequality, poverty and unemployment;
  • our non-racial democratic Constitution and our economy are under enormous pressure from fundamentally racial and totalitarian ideologies;
  • we are now a more racialised society than we have been at any time since 1994 – a society in which the prospects of individuals are once again being determined by their race and not by the content of their character;
  • ugly racial stereotypes are once again being propagated by government and political leaders engage in inflammatory rhetoric inciting harm against minorities.

Oor elkeen van die positiewes kan ’n ellelange nuuskommentaar geskryf word, wat nie weens die reeds te lang nuuskommentaar sou deug nie. Dit dien vermeld te word dat Ramaphosa ’n verklaring uitgereik het waarin hy in wese De Klerk se positiewe ingesteldheid afkam, en die “suksesse” van die onderhandelinge onder meer aan die “sukses” van die ANC se gewapende stryd toesê. (In ingeligte kringe is daar redelike konsensus dat Ramaphosa tans in feitlik elke aspek van sy presidentskap nie juis uitblink nie, en hierdie opmerking span as versoeningsblaps moontlik die kroon.)

Die ongelukkigste flater is egter deur Eloff self gemaak in sy bydrae op Maroela Media. Oor die Kodesa-referendum skryf hy onder meer oor die beskuldiging dat De Klerk die volk uitverkoop het: “Baie van hulle haak trouens (nou amper 40 jaar gelede) by die referendum van 1982 (eintlik 1992 – my inskrywing) vas – toe wit mense gevra is om ‘ja’ of ‘nee’ vir politieke hervormings te stem.”

In onlangse bydraes op Maroela Media was daar egter artikels wat onder meer daarop wys dat gesaghebbendes soos dr. Leopold Scholtz en prof. Hermann Giliomee bevestig het dat hierdie referendum bloot gegaan het oor die vraag of met onderhandelinge voortgegaan moes word of nie, en dat die kwessie van politieke hervormings of nie, deur ’n tweede referendum bepaal sou word waar oor die aanvaarding al dan nie van die Kodesa-onderhandelings gestem sou word.

Die kiesers sou dan daaroor kon oordeel of die produk brouwerk was of nie. Daardie referendum is egter later verswyg, en het verdwyn. Daardeur is baie ja-stemmers in die steek en verleentheid gedompel omdat nou voorgegee word hulle het die produk gesteun, wat baie nié sou doen nie. Deur met hierdie mite vol te hou word die land en sy mense geen guns bewys nie.

Pres. Ramaphosa by ‘n byeenkoms van die Afrika Unie. (Foto: GCIS)

Dit gaan reeds ’n bomenslike taak wees om ’n staatsrede te lewer wat aan die klassieke vereistes van so ’n toespraak voldoen. Deur die ANC se halsstarrige volharding met planne vir grondgryp sonder vergoeding word die ideale van die oorgangsgrondwet verwoes, terwyl daar van die grondbeginsels van die “finale” Grondwet bitter min oorbly ná veral die Matie-taaluitspraak in die Konstitusionele Hof, die Zuma-era van grondwetlike mistasting en die verkragting van die Grondwet, en nou die grondgrypplan wat reeds uit verskeie dele van die wêreld ’n rooi kaart gekry het.

Maak nie saak hoe die onverskoonbare uit watter politieke hoek verswyg of goedgepraat word nie, daar word op ander, ook saakmakend, se tone getrap en dit sal die opdis van ’n versoenende en hoopvolle staatsrede byna ’n wonderwerk maak. En Ramaphosa het sedert die aanvaarding van sy presidentskap nog nie daardie vermoë geopenbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Werner ·

Wel as ek kyk hoe die boerevolk vermoor vertrap en vergruis word sou jy n klap weg he as jy dink dit gaan goed en wat de Klerk aanbetref hy is die grootste veraaier ooit

Kiewiet ·

Politieke geraas? Ek wonder die heeltyd wat sou gebeur het, as bv. Ace Mageshule president sou word instede van Cyril Ramaposa? Ja, Cyril is ook maar deel van n faksie binne die regering, en het ook tot nog toe nie n kopskuif gemaak dat hy eintlik die beste mense in die land, ongeag politieke party, in sleutel posisies MOET aanstel nie. Hy ploeter ook maar voort met populistiese slag spreuke, soos die nuttelose eff. Did laat my ook dink aan die rondploeter van die Zondo kommisie. As die agbare heer Zondo nou nog nie genoeg getuienisse het dat die regering korup is en behoort vervolg te word nie sal hy NOOIT genoeg bewyse he nie.

Vrystater ·

Werner, die Boerevolk se grootste vyande was die Engelse imperialiste, wat die duurste oorlog in die geskiedenis teen die Boere geveg het. Nogtans het die Boere opgestaan en binne 70 jaar was Suid-Afrika die 18de grootste ekonomie in die wêreld.
Om te sit en ons lot te bekla, mekaar as verraaiers uit te kryt, of te verwag dat die ANC na die Boere moet omsien, gaan geen sukses oplewer nie.
Niemand sien na die Chinese om behalwe die Chinese self nie. Dieselfde vir die Amerikaners of die Russe. En dit geld vir ons.
As ek en jy nie met die ANC of EFF baklei nie, gaan ons met mekaar baklei, soos die Natte en Sappe vanouds. Ons noem dit die demokrasie.
Daar is meer as genoeg welwillendheid en geleenthede in Suid-Afrika om saam te werk. Maar steeds moet ons onsself beskerm. Steeds moet ons onsself en ons kinders en kleinkinders ten beste bekwaam met geleerdheid en vaardighede sodat ons dienste in aanvraag sal wees. Hierdie is basiese vereistes, maak nie saak in watter land jy of ek woon nie.

Leon ·

Demokrasie- nee gladnie. Eerder ‘n diktatuur sedert die ANC net doen wat hy wil, verander wat hy wil en soos hy wil. Geen Demokratiese optrede.
Gelykheid – eerder omgekeerde apartheid. Gruwelike swart rassisme. Die ANC het baie geleer by die NP, net beter ge-implementeer as die NP.
Die ANC het ‘n werkende ekonomie gekry en dit totaal vernietig. Die ANC is deur die buiteland baie ingeloop deur hulle stelesels wat ‘n totale mislukking is aan die land te verkoop en sodoende die geld wat hulle spandeer het terug te maak en ons sit met die gemors. Ongelukkig het die ANC kaders in posisies gesit wat onbevoeg en ongekwalifiseerd is vir die poste en sodoende kon die buiteland gemors aan ons verkoop en die arme goed het nie ‘n idee gahad wat hulle koop nie, maar die vakansies en geskenke was wonderlik.

Vrystater ·

Leon, as ons ‘n diktatuur was, sou jy of ek nie toegelaat gewees het om op Maroela Media die ANC se doen en late te kritiseer nie. Ons twee se koppe sou dan lankal in Idi Amin se vrieskas gewees het, sodat hy ons koppe op sy etenstafel kon uitstal vir sy gaste.
Demokrasie beteken dat ek en jy en die ANC mekaar mag kritiseer, m.a.w. daar mag opposisie en kritiek wees. In ‘n diktatuur word opposisie en kritiek nie toegelaat nie.
Demokrasie beteken ongelukkig nie noodwendig skoon of doeltreffende regering nie. Die Grondwet sê nêrens dat politici eerlik moet wees of die waarheid praat nie. Dit sê nie eers wat die President se kwalifikasies moet wees nie!
Al moet hulle by ‘n parlementêre etiese kode hou, geniet hulle steeds parlementêre privilegie.
Demokrasie belowe vir niemand ‘n veilige en voorspoedige lewe nie.
Die demokrasie gee bloot vir jou en my ook die geleentheid om ons idees en voorstelle vir ‘n beter regering bekend te maak en te bevorder en onsself polities te organiseer.

Magda ·

Het nou in n nuwe buurt ingetrek (Daspoort Estate 1) meeste Wit mense – Glo my – Die son word vir niemand gegun behalwe die klomp wat heeldag by die huis is nie – Dis die klomp ongeskikte en self behepte wit mense wat ek nog gesien het – Dit is nou die 2de keer dat ek in n buurt bly waar die meerderheid Wit mense is, kan ongelukkig nie n ander plek bekostig nie, maar ONS WIT mense is ons eie enemie – Ons hou ons in ons erf, maar nou JA nie meer nodig om te se nie. Ons is n selfsugtige / selfbehepte Nasie, so begin daar. Het al n paar keer saam met ander mense gebly en moes ongelukkig trek want die plekke word verhuur met die opsie om te verkoop, en doen dit nou al vir n hele paar jaar. Die plek waar ons nou bly is n huis in n trust en is nie in die mark nie – KAN nie bekostig om n huis te koop nie, maar JA – Ons Nasie is ons eie enemie. Ek is WIT en n trotse wit mens, maar regtig, en ek praat uit ondervinding – Eerste ondervinding in PTA Noord, en nou in Daspoort Estate 1. .

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Soogdier Meerkat van Naasteliefde-hoopfontein raak ontsteld oor al die verwyte wat vele Suid-Afrikaanse soogdiere Homo sapiens sapiens oor foute van die verlede teenoor mekaar rond slinger. As die mens nie sy medemens kan vergewe nie, hoe op dees den aarde kan hy verwag dat sy Skepper hom moet vergewe vir sy eie wandade en inbreukmaking op die menswaardigheid van andere. Leer by die meerkatte: hulle weier om slawe van die verlede te wees.

Anoniem ·

Magda ek stem saam met jou. Ons mense is ons vyande maar dit het ook gebeur omdat omstandighede mens dwing om so op te tree want as jy die goedheid vanself is dan leen hulle jou dood dushou almal maar by hulself want hulle is te bang om met hul eie te praat want dan moet jy iets gee, leen of net skinder. Jy sal vandag nie jou buurman sien nie want hy wil nie betrokke raak nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.