Nuuskommentaar: Sal die regte SA nou asseblief opstaan?

Argieffoto (Foto: Motshwari Mofokeng/African News Agency/ANA)

Die woord “heterogeniteit” het so stil-stil weens politieke korrektheid begin plek maak vir die woord “diversiteit”, maar dit verander niks aan die feit nie dat heterogeniteit/diversiteit akuut raak in al hoe meer lande namate migrante oor die aardbol versprei. Boonop het Suid-Afrika in stryd met hierdie werklikheid ’n unitêre grondwet, wat die ontleding van kiesersgedrag nog baie moeiliker maak. Dit word weer verder gekompliseer deurdat baie van die diversiteitswerklikhede self as politiek inkorrek of selfs taboe beskou word.

Wanneer statistieke aangebied word, is Suid-Afrikaners oorweldigend Christene. Wanneer daar Christen-saamtrekke is, soos die Mighty Men-saamtrekke en later ander mega-saamtrekke, daag duisende op, en soms word in die rigting van ’n miljoen gehoop. Wanneer na die land se misdaadsyfers en die onthullings oor bedrog en korrupsie gekyk word, word ’n heel ander prentjie geskets. Dis nie net korrupsie tot op die hoogste vlak nie, maar boonop ’n toesmeerdery daarvan op ’n verbluffende skaal.

Skisofreniese politieke en stemgedrag in Suid-Afrika is nie nuut nie. Baie Christene skud die kop oor ander kerkgangers wat openlik vir partye stem wat heeltemal ander waardes nastreef, soos byvoorbeeld pro-aborsie.

Uiteraard moet ’n mens versigtig wees om nie te veralgemeen nie, maar as ’n mens na die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis kyk, is dit maklik om te verstaan hoekom daar soveel persepsies bestaan dat Suid-Afrika se politici leë beloftes maak, én kan lieg dat die nete op hul koppe swel en bars. ’n Voormalige premier van Mpumalanga het selfs by geleentheid gesê dit is in die haak vir politici om te lieg.

Politici is ook mense met voete van klei.

Maar hoekom lyk sake so skisofrenies?

’n Groot probleem is natuurlik uiteenlopende historiese perspektiewe. Die bril waarmee verskillende gemeenskappe na sake soos historiese grondbesit kyk, dra ’n ingeboude konflikpotensiaal. Hoofsaaklik Westerse ideologieë is nie altyd ewe suksesvol op Afrika-kulture oorgeplant nie. En meng dit met die historiese werklikhede, dan kom iets soos die viering van diversiteit teen die afkeer in “tribalism” te staan.

’n Paslike grondwet is ’n belangrike onderdeel van ’n suksesvolle staat. Maar weer eens kan hierdie historiese perspektiewe sake bederf. Dit is ’n oorwegend sterk begrip in die staatkunde dat heterogene state (of soos die mode nou lui nadat die term “heterogeniteit” taamlik politiek inkorrek begin word het, state met ’n groot mate van diversiteit) nie unitêre grondwette behoort te hê nie. Selfs China, wie se staatkundige bestel as unitêre beskryf word, se Moslem-provinsies het ’n mate van outonomie.

Maar die afkeer in “tribalism” wat weer na apartheid herlei word, het grootliks daartoe gelei dat Suid-Afrika nou ’n unitêre grondwet het, terwyl die land seker een van die mees heterogene/diverse lande ter wêreld is. Prof. Pieter Labuschagne, politieke wetenskaplike en regsgeleerde, het pas ook weer in ’n artikel na Suid-Afrika as ’n grondwetlike unitêre staat verwys.

Suid-Afrika se grondwet het wél elemente van ’n voorsiening vir heterogeniteit, soos die reg op selfbeskikking, taal- en kultuurregte, reg op vrye assosiasie en ander, maar in die praktyk blyk dit so kwesbaar te wees soos die “doeltreffend” te wees soos die grondwetlike liggame wat veronderstel is om daarna om te sien, soos Pansat en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe. Meer impotent kan ’n mens jou beswaarlik indink. Boonop is die kommissie nie net veronderstel om na taal- en ander regte te kyk soos die ANC-politici gewoonlik voorgee nie, maar die veronderstelde heelwat wyer ander regte van die gemeenskappe wat daardie tale praat, godsdienste aanhang en as kultuurgemeenskappe bestaan.

Dit is ook nie sonde om aan hierdie gemeenskappe, veral as hulle die status van minderhede of die sogenaamde eerste nasie het (want dit het implikasie op hul regte in terme van die internasionale reg) sekere staatkundige regte toe te ken nie. Die oorspronklike inheemse bevolking van Indië het byvoorbeeld ’n aantal gewaarborgde setels in die nasionale parlement, en die Maori’s in Nieu-Seeland ook, en daarbenewens ’n Maori-kongres (parlement met taamlik wydlopende magte). (Hierdie is ’n baie omvattende onderwerp en Maroela Media en sy onafhanklike rubriekskrywers het ook reeds verskeie kere daaroor die kuberpen opgeneem.)

Is die teoretiese voorsiening vir heterogeniteit in die Grondwet voldoende om die natuurlike drukkoker van diversiteit se drukking binne perke te hou? Sienings hieroor hang grootliks van ’n mens se ideologiese aangetrokkenheid af, soos getemper deur hoe die mens deur ander se beïnvloedingspogings beïnvloed is. Met hierdie verkiesing word die kwessie om verskeie redes wat gereeld onder die loep geneem word, deeglik getoets. Dit manifesteer rofweg in die debatspunt oor hoekom die meeste Afrikaners sekere sentimente met die Vryheidsfront Plus deel, maar vir die DA stem. (En nie net pragmaties nie, terwyl die party se beleid dikwels heeltemal teenstrydig is met dié mense se eie uitgesproke opvattings. Trouens, in van die meer liberale kommentators het al hierna as ’n blok aan Suid-Afrika se been geskryf.)

Dié keer, so word wyd voorspel of bespiegel, gaan die Afrikaner se stem meer in ooreenstemming met sy oortuigings wees.

Maar die tweede faktor, wat ook pas deur prof. Johannes Froneman, ’n mediakundige, in ’n artikel ontleed is, is die ideologiese diversiteit onder die Afrikaner en meer bepaald die konserwatiewe Afrikaner self. Die opskrif van sy artikel is selfbeskrywend: “Konserwatiewes is maar eiesinnig.”

Hierdie bespreking bring ons lank nie by ’n netjiese samevatting oor die Afrikaner se politieke en staatkundige voorkeure nie, en allermins iets waarmee daar breë konsensus sal wees. Maar dis nie net die Afrikaner wat na die stembus gaan opruk nie. Trouens, die Afrikaner (en selfs wit mense) is in die Ramaphosa-bewind grootliks irrelevant anders as restitusieteikens en die BLF sluit wit mense selfs formeel uit van lidmaatskap (hallo blatante rassisme), en om die “ander” se politiek te verreken gaan ’n veel groter taak wees as om die Afrikaner kollektief te probeer verstaan. Byvoorbeeld: Is tribalism wel so “uitgeroei” in swart politiek soos wat die ANC graag voorgee? Was Jacob Zuma se opmerking dat hy ’n “100% Zulu boy” is nie ’n teken van tribalism nie? Sy gewese vrou en amperse staatspresident, Nkosazana Dlamini-Zuma, het haar tydens die mislukte Kliptown-beraad oor konflikverligting, in soortgelyke terme uitgedruk. Wyle Winnie Madikizela-Mandela het by geleentheid ’n wye verskeidenheid ANC-leiers, waaronder Thabo Mbeki, van tribalism beskuldig. Kortom, dit leef onder die oppervlak, maar bly grootliks onder die oppervlak omdat dit die klanke van primitiwiteit opgedoen het.

’n Newe-effek is dat kritiek van wit mense teen swart mense – nie omdat hulle swart is nie, maar omdat dit wat hulle doen soos uitsprake wat soos haatspraak klink maar glo nie haatspraak is nie, korrupsie, tenderbedrog ensovoorts – gou as rassisme afgemaak word (kyk maar na die herkoms van baie van hierdie soort kritiek teen AfriForum). Dit het weer ’n newe-effek dat baie mense voel sulke sake moet liefs onaangeraak bly. Hoewel die jongste boek wat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, by korrupsie betrek, nog nie so ver bekend as produk van rassisme beskryf is nie, is die ANC se reaksie om hom (so ver nog) volmondig agter Magashule te konsolideer, wel ’n tipiese reaksie waar ras ’n sterk oorweging is.

Dit verhinder die natuurlike ontplooiing van politiek soos dit veronderstel is om in ’n staatkundig-unitêre bedeling te manifesteer.

Komplekse oorwegings by die stembus sal dus aan die orde van die dag wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andreas ·

Hierdie versugting sal ongelukkig nie rialiseer nie, want die ‘nuwe’ Suid-Afrika se politieke geskiedenis het eers na 1994 ontstaan. En ‘ons’ klou aan hierdie nuutgevonde ‘Afrika demokrasie’ vas soos ‘n neet.

Jerry ·

Niks in SA wat met politiek te doen het manifesteer natuurlik nie. Dit is 100% onnatuurlik en druis in teen alle geoorloofde waardes en selfs die grondwet. Dit is n gewetenlose siekmens vuilspel van misleiding van opponente en dan ook onder mekaar wat op n ongekende skaal plaasvind en daarom stel regdenkendes nie belang om betrokke te raak nie en eerder voor te berei vir die hoogs waarskynlikste moontlikheid en uitkoms van al hierdie narrery!

Johanna Botha ·

Moord en doodslag oral om ons verder is alles gebreek en sit meeste in sak en as omdat daar nie werk geskep word nie …..maar weer sal ons anc stem …..hoe onnesel !

Andreas ·

So terloops, ek dink die ‘regte’ Suid-Afrika is nou besig op om te staan, niee Cyril se klomp nie, maar die nuwe ACEnC.

Gert van Wierdapark ·

Die “Regte SA” ons die gewon(d)e burgers van alle rasse, kan nie meer opstaan na al die Lae Houe van die a en see, regstelende aksie, staats-kaping/korrupsie, skreiende brandstof belasting, neopotisme, beskerming van Bosasa-kaarthouers ens ens. Die antwoord is om SAAM te staan teen die 25 jaar oue slagting van die gans en sy goue eiers – dan sal ons kan opstaan om ‘n demokrasie te wees, en die juk van slawerny onder die “Demo-Crazy” af te gooi!

Gert ·

Dis moeilik om kommentaar te lewer oor hierdie onderwerp op so ‘n manier dat jy jou boodskap kan oordra sonder om jou kommentaar verwyder te kry. Die feit is, die huidige grondwet en bestel maak nie voorsiening vir minderhede nie. So word taalregte ondergeskik gestel aan “regte tot toegang”, en daar is self tussen die lyne ‘n “reg tot SEB” wat byvoorbeeld Afrikaanse universiteite onmoontlik maak want die “meerderheid” wil nie Afrikaans praat nie.
Al wat ek weet, is hierdie bestel is nie volhoubaar nie, iets gaan meegee.

Gys ·

Dis die ding van menseregte. Die enigste absolute reg is waarskynlik die reg op lewe. Alle ander regte word teenoor ander regte opgeweeg. So eintlik beteken menseregte net mooi niks nie. Ek wens iemand wil toiletpapier maak waarop ons geagte grondwet gedruk is. Ek sal dit beslis koop en gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.