Nuuskommentaar: Sassa en plaasmoorde: Dis alles apartheid se skuld

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Minister Bathabile Dlamini se verontskuldiging in die parlement dat die Sassa-gemors eintlik apartheid se skuld is, het op verdienste min media-aandag geniet. Dit openbaar egter steeds ’n stiksienigheid by die ANC om probleme na behore te takel, tot so ’n mate dat die land se ekonomie konstant bykomende druk ervaar. Maar gaan die verantwoordelike segment in die ANC dit so bly aanvaar, of moet iets gebeur?

Jan van Riebeeck dié keer uitgespaar

Die Sassa-debakel is apartheid se skuld, aldus die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini. Toegegee, oorle’ apartheid was maar een van talle faktore wat al die afgelope maande die blaam kry vir die debakel, terwyl die minister haar lyf steeds Pontia Pilatus hou.

Trouens, die apartheidsverweer haal kwalik die media, en weerspieël hopelik die posisie waar selfs die mees onervare of politiek-moedswillige joernalis besef dat hierdie verskoning nou al so uitgedien is soos eergister se vistoebroodjies wat in die son vergeet is.

Jan van Riebeeck is dié keer darem uitgespaar.

Gewoonlik dien dit as ’n soort finale verweer – die onbetwisbare verweer wanneer niks anders meer wil werk nie. Dit is familie van die “verweer” van kolonialisme en imperialisme wat steeds in Afrika gelooi word.

Gister is twee debatte in die parlement gehou – een oor plaasaanvalle wat ook eers ná ’n tweede probeerslag van die Vryheidsfront Plus goedgekeur is, en die ander oor Sassa. Die VF Plus is egter ontsteld oor die “see van leë ANC-stoele” tydens die twee vergaderings, terwyl twee komitees ook terselfdertyd ’n gesamentlike vergadering gehou het, wat op groot disrespek neerkom.

Soos te wagte is, was veral die EFF en Agang se optrede tydens die debat oor plaasaanvalle teleurstellend (eufemisties gestel) en weer gelaai met rasseretoriek. Dit terwyl partye soos die VF Plus en die DA, en selfs die ANC, in hul toesprake die hele kwessie hard probeer “ontras” het. Die EFF en sy mini-me, Agang, was egter hiervoor horende doof.

Soos te wagte het die ANC die omvang van die probleem probeer wegpraat deur dit in ’n groter misdaadpot in Suid-Afrika te probeer verdrink.

Dit laat die analis met twee opsies – dit wat ons nie sonder twyfel kan weet nie, en dit wat ons wél weet.

Wat ons nié sonder twyfel weet nie

So belangrik soos die twee debatte was, so waarskynlik is dit dat ook ander afleidings uit die bywoning en bewoordings gemaak moet word, en die sommetjie wat gemaak word dui op ’n heel ander kwessie – ʼn statutêre staatsgreep.

Daar is in die jongste tyd heelwat gehoor en gepraat van ’n staatskaping, met ’n gevolglike spottery oor “Zupta” en sy lakeie. Dis ernstig, en die kwessie moet dringend en deeglik ondersoek word.

’n Statutêre staatsgreep is egter iets anders. ’n Statutêre staatsgreep is gewoonlik wettig, en noodsaaklik, soos wanneer ’n staatshoof seniel raak, of Alzheimer se siekte ontwikkel, maar hardnekkig aan die bewind wil klou. Intussen neem hy die een irrasionale besluit na die ander, of begin weens paranoia ’n soort skrikbewind voer. Soms is ’n statutêre staatsgreep al manier behalwe ’n gewone staatsgreep om van ’n leier wat ná sy verkiesing korrup blyk te wees, ontslae te raak. In breë trekke het ons in die onlangse verlede twee statutêre staatsgrepe sien plaasvind, naamlik in Brasilië en Suid-Korea. Albei is in die vorm van ’n staat van beskuldiging hanteer.

Die manier waarop pres. Donald Trump se teenstanders / vyande met hul druk op haas elke terrein probeer volhou om Fort Trump ineen te laat stort, dui ook op ’n vorm van gepoogde statutêre staatsgreep. In Suid-Afrika was die manier waarop oudpres. PW Botha ná sy beroerte uitgewerk is waarskynlik ook ’n statutêre staatsgreep.

Die vernaamste rede hoekom ’n statutêre staatsgreep soms nie plaasvind nie wanneer die klimaat daarvoor self meer as ryp is, is omdat dit kan misluk. Die regeringsleier wat geteiken kan word tref gewoonlik ’n gedugte voorsorg, soos die ontplooiing van maatjies oral in sleutelposte.

Kortom, die klimaat vir ’n statutêre staatsgreep is nou binne die ANC besonder ryp. Zuma se posisie is ongewoon kwesbaar omdat bykans enige poging van Zuma nou enersyds die prop heeltemal uit die ekonomie kan ruk, en andersyds omdat daar (vermoedelik) ’n kern in die ANC is wat uiteindelik, buig of bars, sal optree om te keer dat die hele land ter wille van Zuma inplof.

Ná Nenegate is byvoorbeeld ingetree en ’n soort skietstilstand bewerkstellig. Minister Derek Hanekom se mosie van wantroue teen Zuma in die NUK het amper sukses behaal, meer as wat baie mense verwag het, en intussen is Hanekom en ander, vir wie Zuma duidelik die mes in het, steeds in die kabinet.

Intussen verskans Zuma hom op enige manier denkbaar. Die manier waarop hy sy veiligheidskontingent uitgebrei het en die veiligheidsmagte wat hy vir die parlementsopening opgeroep het, laat dit eerder lyk of Zuma ’n militêre staatsgreep verwag.

Sy duidelikste optrede van skei teen die juk is egter die manier waarop hy ’n sekere groep ministers, wat sy slaafse ondersteuners is, teen so veel as moontlik aanslae beskerm, en veral nie sal afdank nie ongeag hoe onbekwaam en selfs moontlik korrup hulle mag wees. Gister was die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, ’n tweede keer nie voor ’n komitee nie omdat sy ontbied is om Zuma op ’n reis te vergesel. En terwyl die land om Muthambi se bloed roep, het Zuma haar as minister van justisie laat waarneem.

In haas enige land sou Dlamini al ’n geruime tyd gelede die trekpas gekry het. As president van die ANC se vroueliga en Zuma-ondersteuner is haar rol net te belangrik om Zuma aan die mag te hou – meer nog, te sorg dat Zuma se gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, hom opvolg en vermoedelik uit die tronk hou. Daar was trouens gister ’n duidelike magsvertoon van lede van die vroueliga in die parlement.

Hoewel oor die algemeen aanvaar word dat die staatstoelaes, buig of bars, wettig of onwettig, op 1 April betaal gaan word, sal selfs net ’n gedeeltelike mislukking ingryping noodsaak. Dit lyk ook nie of die regering en Sassa werklik die omvang van ontevredenheid begryp wat die hardnekkige “aftrekkings” van toelaes vir byvoorbeeld “beltyd” en “begrafnispolisse” (en duidelik ʼn bedrogspul is) onder begunstigdes veroorsaak nie. Dikwels veroorsaak hierdie onvoorsiene en ongemagtigde uitgawes dat die armes nie die maand kan uitkom nie.

Om hier kristalbalkyker te wees loop die analis op spreekwoordelike dun ys, en dit is tegnies moontlik dat ’n verantwoordelike kontingent nié sal intree nie, selfs al beteken die alternatief dat die land skouspelagtig inplof.

Dit vereis soms dat die vervanging van die “kop” al is wat nodig is om ’n statutêre staatsgreep te laat slaag. ’n Goeie voorbeeld op kleiner skaal is die geskiedenis van Agang. Die stigter van Agang, dr. Mamphele Ramphele, het duidelik ’n gematigde party in die oog gehad, in so ’n mate dat dit in ’n stadium aangekondig is dat ’n samesmelting met die DA gaan plaasvind. Interne druk van Agang het dit egter laat sneuwel, en Ramphele het uit haar eie party getree en die politiek verlaat. Hierna was daar ’n leierskapstryd tussen die hoogsgerespekteerde en gematigde adv. Mike Tshishonga, wat Tshishonga verloor het en die party gelaat het met ’n patetiese leierskap, en waar dit nou die EFF in rassistiese retoriek probeer oortref. Agang het onlangs ook ten gunste van ’n grondwetlike wysiging vir grondroof gestem.

Intussen sit die ANC oor die einste kwessie van grondroof half met die wind uit sy seile. In die betrokke debat het die ANC se parlementêre koukus eenparig teen ’n grondwetwysiging gestem om onteiening sonder kompensasie moontlik te maak, in weerwil daarvan dat ’n minister en ’n adjunk-minister baie sterk daarvoor was. Kort hierna het Zuma helderheid oor ’n dubbelsinnige uitspraak gebring deur in die Huis van Tradisionele Leiers hom ook ten gunste van onteiening sonder kompensasie uit te spreek. Daar is uiteraard nie ruimte vir albei standpunte in die ANC nie, en ’n diep wig is tussen Zuma en ’n deel van die koukus ingedryf.

Al “geluk” vir die analis is dat dit wat gaan gebeur, waarskynlik gou gaan / moet gebeur, veral as daar ’n breekspul met die betaling van maatskaplike toelaes is. Die minister kan apartheid by voorbaat blameer, maar diegene in nood gaan waarskynlik nie met haar saamstem nie.

Wat ons wel sonder twyfel weet

Dit is ná gister se debatte oor plaasaanvalle en Sassa in die parlement baie duidelik dat nieregeringsorganisasies en die media ’n toenemende belangrike rol te speel het om dit wat die ANC probeer wegsteek, of met woord en houding tot nietighede probeer krimp, deeglik onder die publiek en die internasionale gemeenskap se aandag gebring moet word.

Dit neem nie die rol van politieke partye en die parlement self weg nie, maar die leemtes en struikelblokke aanroer wat noodwendig in ’n heterogene bevolking bestaan.

Dit is ook nie dislojaal teenoor die land, of ’n soort verraad nie, want die doel is om die regering te dwing om die regte ding in almal se belang te doen, soos wat die Grondwet en onder meer die presidensiële ampseed vereis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eugene

Haar antwoord is tog voorspelbaar gewees. Teken van swak leierskap as jy nie verantwoodelikheid kan vat vir jou foute nie.

Charlotta

Sy weet wragtig nie waarvan sy praat nie. Arme apartheid, sy skouers is baie breed.

Irene

Ja vandag se apartheid

As

Tog wil ek my verstout of daar nie dalk n derde mag vorm tussen van die wettelose groep in ANC en EFF is wat moontlik by plaasaanvalle betrokke is en om ook n statutêre staatsgreep te wil uitvoer nie?

John

Is Jan van Riebeeck se bankrekening nog nie gesluit nie? Sekerlik is dit darem al na 22 jaar leeg gesteel. Die minister behoort dit te weet… en nou wil hulle die boere te spaar-varkies gaan oes. Geestelike armoedigheid klink meer die rede vir hierdie drogbeelde.