Nuuskommentaar: Sassa siesa simptomatiese skuinsneuk

Argieffoto

Argieffoto

Die aap is skynbaar uit die mou met die berig van Netwerk 24 Sake, dat die staat se Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) nie in April die pensioen-uitbetalings van miljoene oues, gestremdes en kinders gaan oorneem nie, maar dat ʼn kontrak wat deur die konstitusionele hof onwettig verklaar is, eenvoudig voortgesit gaan word. Die hof het, na verskeie hofsake, die spertyd van April gestel, juis om aan Sassa genoeg tyd te gun.

Sassa  het tot baie onlangs volgehou die spertyd sal gehaal word. Sassa was skynbaar die enigste wat onder die indruk was die spertyd sou gehaal word, want die huidige diensverskaffer, Net 1/Cash Paymaster Services (CPS), het onlangs sy aandeelhouers gerus gestel dat die kontrak voortgesit gaan word. Die moontlike voortsetting is egter ongrondwetlik, waarsku verskeie grondwetkenners.

Intussen het Sassa erg onder skoot gekom, toe dit aan die lig gekom het dié organisasie hou verskeie peperduur verjaarsdagpartytjies ter herdenking van sy tiende verjaarsdag. Met die partytjie in Bloemfontein, is ʼn koek van R200 000 waarvoor betaal is en wat in Johannesburg gebak is, glo nie afgelewer nie. Die hele affêre getuig van ʼn vermorsingsingesteldheid.

Sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners kry maandeliks hierdie pensioene of toelaes, wat gesamentlik R10 miljard per maand beloop.

Die regering kom dikwels onder skoot oor soveel Suid-Afrikaners van ʼn maatskaplike pensioen afhanklik is om te oorleef. Die bedrae is nie groot nie en in verskeie kategorieë, nie naastenby genoeg om die broodlyn te haal nie. Omvangryke werkloosheid veroorsaak dikwels dat ʼn groot aantal gesins- en familielede van een bejaarde se pensioen leef.

Die aantal pensioenarisse wat kla onbekende bedrae word van hul reeds karige pensioen afgetrek, word ook skynbaar meer en geen bevredigende antwoorde word gegee nie. Volgens die jongste berig waarna hier verwys word, is die ontvangers van hierdie aftrekkings dikwels filiaalmaatskappye van Net 1, terwyl CPS probeer keer het dat die regering se planne om aftrekkings te keer, van krag word.

Onwaarskynlik soos wat dit mag klink, is dit wat by Sassa ontvou, net ʼn vulletjie teen wat op die oomblik oor die SAUK aan die lig kom en hef aan lê skynbaar nog voor. Veral die getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee laat die ore suis.

Maar dit is nie all nie. ʼn Ondersoekende joernalis kan skynbaar omtrent na willekeur sy stok gaan insteek waar die staat ʼn sê in die saak het en lelike goggas peul iewers uit. Die staatskapingskwessie het nog ʼn baie interessante dinamika by die kwessie gevoeg.

En net te dikwels val pres. Jacob Zuma se groot skaduwee oor die saak wat onder die vergrootglas is.

Wie kan die gewone nuusleser verkwalik as hy ʼn erg negatiewe beeld van die land kry, as hy in een koerant meer as een berig oor plaasaanvalle kry, moet lees die stryd teen veediefstal word plek-plek verloor, onder meer omdat die polisie te min voertuie, of dan diensbare voertuie het om hul werk te doen, dat miljoene mense iewers in die toekoms probleme kan ondervind om hul pensioen te ontvang, dat die land se openbare uitsaaier deur ʼn Mafia-agtige kliek beheer is en nuus gemanipuleer is, dat die staat se lugdiens nie met eie vlerke die lug kan inkom nie, dat Suid-Afrikaanse munisipaliteite se skuld aan Eskom tot R10,2 miljard  gestyg het…

Die ANC en ander instansies probeer periodiek ook die “goeie storie” verkwansel, veral net voor verkiesings. Hoewel die getalle dikwels in isolasie beskou indrukwekkend klink, is dit ook so dat in die afwesigheid van ʼn regerende ANC, daar ʼn ander regering sou wees wat met dieselfde hulpmiddels nog meer sou kon vermag.

Die feit dat van die ANC se vernaamste spogstukke, juis soos die land se uitgebreide pensioenstelsel, asook die huisvestingsprogram, ook gereeld onder slegte nuus deurloop, soos nou met Sassa. Met die HOP-skemas kom brouwerk, onvoltooide projekte, toekenningsbedrog en vele meer gereeld aan die lig.

Dis amper Kersfees en baie mense sukkel om uit ʼn swartgallige bui te kom om die ware vreugde van ʼn Christusfees te beleef.

Elkeen moet aan homself werk om sy seëninge te tel, maar elkeen moet ook sy kant bring om sy naaste te help om sy seëninge te vermenigvuldig.

Maar … “Slegte dinge sal gebeur as goeie mense niks doen nie.” (Die Brit Edmund Burke het dit oorspronklik reeds in die 1700’s gesê.) (Met erkenning aan Lizette Rabe hier.)

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

katryn ·

Huh? Ek het nie die agtergrondinligting, so hierdie stuk is reg bo-oor my kop – nie ‘n clue wat hier gesê word nie.

cor ·

Lees ek reg ‘n koek virR200000-00 is dit van goud gemaak en hoe groot was die vragmotor om dit af te lewer. Die tog van Jhb was seker lank en stadig want die koek kan beskadig word. Dit is toe seker op pad geeet vir padkos eish

peanut ·

Wat n ongelooflike vermorsing van geld, wat die land nie het nie.

Ek sweer as mens gaan soek sal jy vind die grootbase van Net 1 is assosieerbaar met ‘Namba 1’ of sy bondgenote, die Guptas.

Dit gaan my verstand te bowe dat hierdie uitbetalings nie deur die Welsyns dept.self hanteer kan word nie, of is die werk bo hul vuurmaak plek, of dalk vrees ‘the powers that be’ vir nog meer agterlik optredes en gedrag

n verjaarsdagkoek vir 200 000, ghmmmmmffff. Hoop hulle verstik in die ding, as hy ge-eet word

VerspreiDieNuus ·

Julle moet vir al julle werkers, kollegas, swart bure vertel wat SASSA doen met geld terwyl hulle grootouers en kinders in die platteland en townships hongerloon of niks kry nie.

wilma ·

Begunstigdes het ook groen kaarte-leningmaatskappy en raai watter bank is betrokke-Grindrod bank. Die selle bank van Sassa. So miljoene begunstigdes leen geld teen enorme rente. Sies Skande Skaamteloos

John ·

Hierdie is ‘n doelbewuste selfgefabriseerde papwiel. Gerieflik onoplosbaar soos die probleme by die SAUK. Mens wonder net, die miljarde wat so verdwyn al vir baie jare, wanneer kry die mense wat dit verduister kans om dit te gebruik, want hulle moet die hele tyd jammer_ _ _ speel sodat mense dit nie uitvind nie? Buiten natuurlik vir ‘n paar… en hulle kry dit nou hotagter. En gou is ons lewens verby…

Anoniem ·

Die SASSA rekanaarstelsels was so 10 jaar gelede ondersoek en daar was GROOT bedrog deur SASSA amptenare blootgele. Lyk my dit hou steeds nie op nie

Bekommerde ·

Kan julle dink hoe bekommerd is die mense afhanklik van hierdie toelaes nou al is – ‘n slegte Kersgeskenk – hulle sukkel alreeds om uit te kom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.