Nuuskommentaar: SAUK en ’n vry en regverdige verkiesing

ovk-stem-saukAltesaam 23 Europese ambassadeurs in Suid-Afrika wou by min. Des van Rooyen weet wat die impak van die SAUK se redaksionele beleid op die hou van ’n vry en regverdige verkiesing is. Die minister het die versekering van ’n vry en regverdige verkiesing gegee, maar die vraag nie beantwoord nie. Ook die OVK is traag om van die gevaar kennis te neem.

Dit lyk of die Suid-Afrikaanse regering en ’n groot deel van die buiteland op heeltemal verskillende golflengtes is oor die krisis wat die SAUK aan die fondamente van ’n vry en regverdige verkiesing veroorsaak.

Pas het ’n afvaardiging van 23 EU-ambassadeurs, op versoek van die Europese Unie, samesprekings gevoer met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die verkiesing het ook aan die bod gekom.

Trouens, die ambassadeurs het pertinent groter duidelikheid verlang oor die vooruitsig van ’n vry en regverdige verkiesing op 3 Augustus teen die agtergrond van die SAUK se redaksionele beleid, proteste en die kwessie van adresse op die kieserslyste.

Hoewel die ministerie in sy verslag oor die samesprekings hierdie kwessies noem, is daar geen aanduiding uit die verslag en nuusberigte dat die minister dié pertinente vrae enigsins beantwoord het nie. Hy was wel breëbors daaroor dat meer as 200 politieke partye en 61 000 kandidate hulle verkiesbaar gestel het. Dit sal interessant wees om die EU se verslag onder oë te kry wanneer dit beskikbaar word.

Die EU se betrokkenheid by verkiesings in Suid-Afrika is baie prominent sedert ’n vaste missie hiervoor in 1994 in die lewe geroep is. Daarna was daar met elke verkiesing hoëvlak-samesprekings, en kry die departement ook ’n aardige meevaller van €242 miljoen. Hulp word ook verleen om nuwe raadslede wat verkies word op te lei om die mas op te kom.

Die OVK het wel reeds op die gevaar gewys dat die vlakke van gewelddadige protes so ’n omvang aanneem dat dit die gevaar inhou dat die verkiesing nie vry en regverdig verklaar sal kan word nie, maar nog heeltemal versuim om op die krisis in die SAUK te wys.

Wat die SAUK se posisie so moeilik maak, is dat die bestuur se optrede die weerlig trek. Ook die buitelandse media het ’n groot belangstelling getoon in die hofsaak wat Solidariteit namens vier senior redaksielede teen die SAUK gevoer het, en wat die SAUK met onderskeiding gedruip het.

Tog is dit nie net die OVK en die minister wat anderpad kyk oor die SAUK se rol om stremming te plaas op die mate waartoe die verkiesing vry en regverdig kan wees nie – daar is ’n groot windstilte op die terrein van openbare mening en debat.

Dit is moeilik om die rede hiervoor te bepaal, maar dit sou jammer wees indien diegene wat veronderstel is om rolspelers te wees, se eie insig oor die rol wat ’n vrye media in vry en regverdige verkiesings speel te beperk is, of dat daar ’n gemaklikheid is dat die gebrekkigheid die standaarde vir vry en regverdig na middelmatigheid of selfs swak reduseer.

Dit moet ook onthou word dat ’n aantasting van persvryheid nie net die vry en regverdige grondslag van verkiesings ondermyn nie, maar die demokrasie self in die voet skiet. Dit geld grondwetlike demokrasieë ook. Die vrye media word dikwels as die vierde, nie-amptelike been van die demokrasie beskou.

Gelukkig is Suid-Afrika se burgerlike samelewingstrukture besig om sterk en volwasse te word, iets wat ook as kenmerkend van ’n grondwetlike demokrasie beskou word. ’n Mens hoef net na die onlangse optredes en hofsake van instansies soos Solidariteit, AfriForum, Right 2 Know en Outa te kyk om te sidder om te dink waar die land en sy naam, oftewel deesdae eerder reputasie, heen sou wees as dit nie hiervoor was nie.

En nee, dis nie staatskaping nie, heer Max, dis die bereddering van die staat. Onder meer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wern ·

Afrika soek net mooiweersvrienskap met Europese lande: Europa moet niks kla oor demokratiese beginsels en menseregte nie, maar hulle moet aanmekaar hulp gee in die vorm van geld, medisinale uitvindings en tegnologie.

Ja ons burgerlike organisasies groei en dit is baie goeie teken, dan dink mens weer aan hoe n gek Max is om dit te wil slegsê.

Lida ·

NIKS in SA is meer vry en regverdig nie. Daar is altyd korrupsie betrokke.

M A ·

“Minister van samewerkende regering”??? Samewerking van ons regering? Net saam met Zuma en Gupta, seker.

Emile ·

Die ANC is ‘n tweegatjakkals wat hul houding jeens die SAUK-sensuur aangaan.

Ongegag hul ooglopende teenkanting teen SAUK sensuurbeleid, dryf hulle hierdie sensuur agter die skerms en laat toe dat die proses uitgerek word om te verseker geen negatiewe nuusdekking vind plaas teen verkiesingstyd nie. Doelwit bereik.

George ·

Die ANC se strategie om die nuus te manipuleer was ongelooflik suksesvol. Hulle wen al die pad ….

Lida ·

Des van Rooyen en Zuma is dan groot pelle. Wat kan ooit eerlik, vry en regverdig wees waar hulle twee betrokke is. Belaglik. Hierdie uitslae gaan ook gekook word en is in elk geval ‘n klug. Die enigste ligpunt is dat Maimane hulle met ‘n valkoog gaan dophou en sal nie duld dat sy party benadeel word nie.

Wim Kotze ·

Daai ligpunt is seker ‘n pit in ‘n blikkie lamp olie? Hoeveel divisies het Mmusi?

HANS ·

Laurie Halse Anderson het gese: “Censorship is the child of fear and the father of ignorance.” Die ANC weet hulle rue is teen die muur, vandaar hulle bisarre pogings om almal te muilband.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.