Nuuskommentaar: SAUK gee Zuma hospitaal-“pass” en Maroela vier 50 000 keer fees

afrikaans scrabbleMaroela Media se Facebook-blad het ’n belangrike mylpaal bereik met sy 50 000 “likes”. Dit word ontvang as ʼn vroeë Kersgeskenk. Baie dankie aan al die lesers.

Die tempo waarteen elke nuwe duisend “likes” bykom – sowat elke twee weke – staan in skrille kontras met die haal van sy eerste duisend ’n paar maande na Maroela sy kuberdebuut gemaak het. Maroela is ’n Gideonsbende waar die span daagliks moet opofferinge maak om ver bo sy gewigsklas te boks.

Daar mag ’n paar ooglopende redes vir die sukses wees, waar Maroela eintlik net op die regte tyd op die regte plek was. Met Maroela wat net goed sy voete begin vind, het Media24 sy volle Afrikaanse kubernuusaanbod op ’n betaalplatform geplaas. Dit gebeur teen die agtergrond dat waar dit eens betaal het om Afrikaans te wees, ’n mens nou moet betaal om Afrikaans te wees – van die skool, TV-sport tot basiese nuus. Die radio is nog gratis, maar baie stasies het hul nuusaanbod tot af en toe nuusflitse gereduseer. Sommige radiostasies soos Radio Pretoria doen nog moeite met ’n behoorlike nuusaanbod, en bied ook nuusbesprekings en -kommentaar aan. Dit kan egter nie landswyd gehoor word nie, tensy die internet of satelliettegnologie ingespan word.

Wat die openbare uitsaaier se TV-nuus aanbetref, is ’n deel van die Afrikaanse nuus – en dikwels die nuus wat vir die meer intellektuele gehoor bedoel is – na ’n betaalopsie geskuif. Die wolk van verdenking dat veral die TV as His Master’s Voice ingespan word, bly swaar hang. Af en toe is daar harde bewyse, soos die opdrag van die wegredigering van die uitjouery van pres. Jacob Zuma tydens die gedenkgeleentheid vir oud-pres. Nelson Mandela in Soweto ’n jaar gelede.

Maar pas het die SAUK, in ’n poging om Zuma ter wille te wees met ’n knieval, die president met ’n yslike hospitaal-aangee uitverkoop. In die naweek se uitgawe van die program Interface is ’n onderhoud met Zuma gevoer. In hierdie program het Zuma veral oor die Nkandla-kwessie ’n paar verregaande stellings gemaak, soos dat al drie ondersoekverslae oor Nkandla bevind het Zuma het self niks verkeerd gedoen nie.

In sy hoofartikel som Die Burger die gevolge raak op: “In die afwesigheid van priemende opvolgvrae in die SAUK-‘onderhoud’, het Zuma heelwat om te verduidelik.”

Want al het die SAUK nié die vrae gevra nie, die ander media sal. Die media sal, want die land en sy mense wil weet. En teen hierdie tyd is dit duidelik dat Zuma nié wil antwoord nie, soos uit die parlementêre debakel en Zuma se groot makeer blyk. Volgens berigte was die onderhoud met Zuma ’n vooraf-opname (wat ’n klug maak van die begrip “Interface”, en dit is duidelik Zuma sou net instem as hy weet hy gaan nié die vrae oor die geld hoef te beantwoord nie.

Maar afgesien oor die bedenkinge oor die SAUK-TV se geloofwaardigheid, is die oop TV-kanale ook nou maar leeuwêreld vir Afrikaans. Die gehalte van Afrikaans in van die enkele Afrikaanse programme wat nog oorleef laat dikwels ook soveel te wense oor, dat maar liefs DVD’s gekyk word.

Om te oordeel dat Maroela Media net so kon groei deurdat daar ’n vakuum vir hom oopgegaan het, is ook nie heeltemal korrek nie. In die internasionale mediawêreld word sekere eienskappe gedeel wat ook in Suid-Afrika ’n rol speel. Gewoonlik word dit baie eenvoudig gestel dat gedrukte koerante oor die algemeen onder druk kom, en uiteindelik waarskynlik sal verdwyn.

Maar al is dit ’n belangrike faktor, word die proses ook gestu deur ander faktore. Die aanstelling van ’n “verkeerde” redakteur kan ’n koerant gou in ’n oorlog met sy eie lesers gewikkel laat, en die daling in verkoopsyfers ’n hupstoot gee.

Die verjonging, dikwels weens minder geld genoodsaak, lei tot ’n gebrek aan institusionele geheue. Iets wat ’n paar jaar tevore wyd in die media gedra is, word dan skielik ’n voorblad-scoop van ’n koerant wat dan boonop nog ’n hoofartikel daaroor skryf en ’n paar dae lank myle uit die scoop probeer haal – bloot omdat die personeel nie kon onthou dat dit eintlik ou nuus was nie.

Maar namate tyd verloop en meer tyd spandeer is om tendense te ontleed, kom ook nuwe insigte. So ’n insiggewende ontleding is pas in die Nederlandse koerant, Trouw, gepubliseer (vir diegene wat die artikel gaan lees, is dit net belangrik om daarop te let dat die Nederlandse woord “redacteur” ongeveer dieselfde as “joernalis” hier beteken. Ons begrip as “redakteur” staan daar as “hoofdredacteur” bekend).

Die agtergrond is dat Perdiep Ramesar, ’n joernalis van die koerant, uitgevang is dat hy bronne vir sy berigte gefabriseer het. Na hy uitgevang is, is ’n ondersoekkommissie aangestel om vas te stel hoe so iets kon gebeur, en het die koerant hom van die inhoud van 126 berigte en artikels uit Ramesar se pen gedistansieer.

Hierdie was nie die eerste geval van sy soort nie. In 2003 is Jayson Blair by die New York Times ontslaan omdat hy hom aan plagiaat skuldig gemaak het.

Marc Deuze, hoogleraar in joernalistiek aan die Universiteit van Amsterdam, meen ’n groot deel van die probleem is dat ’n neiging ontstaan het dat redaksies te eenders geword het. Almal dink min of meer dieselfde oor sake, hulle is ongeveer ewe oud (of dan jonk), hulle is dikwels van dieselfde geslag. Hulle is dus nie geneig om krities op mekaar se werk te wees nie.

Omdat diversiteit dikwels verlang word, word daar iemand “anders” ook op redaksies aangestel. Hierdie persoon is nie net ’n minderheid in die redaksie nie – hy of sy word sommer die “verteenwoordiger” van daardie groep daarbuite.

“Ons het nou ʼn swart persoon / vrou op die redaksie, nou kan ons agteroorsit.” Die persoon ontsnap dus ook die nodige indringende toesighouding.

Maroela Media se tuisbof word deur ’n jong, dinamiese span, mans en vroue, beman. Wanneer na die hele speelveld gekyk word is daar heelwat ervaring in bydraes soos vir Die Groot Debat (wat voortaan as Nóú pra’ jy bekend sal staan) en berigte en artikels van wetenskaplike agtergrond opgesluit.

In ’n sekere sin, stel Maroela Media se speelveld hoë eise. Baie van sy lesers is oorsee waar die lesers ook blootgestel is aan gehaltepublikasies soos die Christian Science Monitor met ondersoekende joernalistiek uit die boonste rakke.

Hoewel dit oorsee nog algemeen voorkom, is dit in Suid-Afrika seldsaam om ’n nuusmedium te vind wat homself duidelik as Christelik definieer. Dit beteken nie net ’n godsdiensrubriek nie (wat in Maroela Media se geval ook besonder gewild is), maar dat dit na die ganse redaksionele inhoud deursuurdeeg. Maroela Media handhaaf dus ’n redaksionele aanslag van fatsoenlikheid en ordentlikheid.

Maroela Media beoog om nog lank sy lesers met gehalte te bedien, feitelik suiwer, en met ontledings wat verantwoordbaar en so goed menslik moontlik is, deurdag is.

Alles gratis in Afrikaans.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Henrietta Klaasing ·

Baie geluk en baie dankie Maroela Media. Ek het ‘n skakel na julle op my blog sodat ek daagliks sommer gou-gou by julle kan uitkom, om die heel varsste en mees relante nuusbrokkies te lees. Mag julle van krag tot krag gaan!

Daleen Veldman ·

Voorspoed met jul pad vorentoe, dit kan net beter! Julle is tops en lees net Marula Nuus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.