Nuuskommentaar: SAUK maak van joernaliste joernaluise

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Daar is ʼn beginsel in die mediawêreld dat die joernalis die nuus soek en aanbied en nie self die nuusmaker kan wees nie. Die SAUK slaag egter nou daarin om omtrent in gelyke mate vir slegte nuus te sorg (maar nie uit te saai nie) en sonskynjoernalistiek op te dis, wat die ANC se “goeie storie” beklemtoon. Maar so iets voorkom dat die komende verkiesing werklik vry en regverdig sal wees, omdat ʼn groot deel van die bevolking uitsluitlik van die SAUK vir nuus afhanklik is.

 Dit moet selfs vir ʼn leek duidelik wees dat die SAUK nou die kluts kwyt is, met nie net redaksionele beleid nie, maar ook met bestuurstyl. Hoewel die kwessie van politieke neutraliteit, wat by ʼn openbare uitsaaier pas, nie van gister af bevraagteken word nie, lyk dit asof die grootbaas, Hlaudi Motsoeneng, nou uit sy pad gaan om te bewys waarom die openbare beskermer (OB) en die howe (tot dusver) meen hy is nie geskik vir die pos nie. En natuurlik staan hy nie alleen nie – hy word deur ʼn minister en raad gekoester.

Seker die grootste aanduiding dat als nie wel is nie, is dat die swaargewig, Jimi Matthews, met onmiddellike effek bedank en die luisteraars en kykers om verskoning gevra het omdat hy nie gouer beswaar gemaak het teen die vergrype nie. En getrou aan sy huidige styl, kondig die SAUK die bedanking aan, span selfs die heuningkwas bietjie in, maar swyg dawerend oor die redes wat Matthews aangegee het. Dadelik het ons weer verwronge nuus.

Behalwe dat die publiek en die demokrasie so in die voet geskiet word (sommige sal meen die skoot is ʼn ent hoër deur die anatomie), is dit die personeel wat in ʼn baie moeilike posisie geplaas word.

Aan die een kant geld die ou regsreël dat onwettige opdragte nie uitgevoer mag word nie. Aan die ander kant het veral Motsoeneng ʼn reg op sy eie geword. Weliswaar nie wettig nie en normale, laat staan nog gesonde, bestuursbeginsels word oorboord geslinger.

Boonop is daar regspraak (Stadsraad van Pretoria versus Walker en ander in die konstitusionele hof), dat die verontregtes dit nie maar kan ignoreer of die reg in eie hande mag neem as ʼn owerheidsinstansie ongrondwetlik optree nie, maar regstappe moet doen om die halsstarrige owerheidsinstelling tot besinning te bring.

Die SAUK het dus genoeg tyd om “weerbarstige” joernaliste en bestuurders erg te viktimiseer en selfs hul loopbane te verwoes voordat sake deur die howe tot orde geroep word. Met die aanstellingskwessie van Motsoeneng het dit egter duidelik geword dat dié instelling ruim by Zuma geleer het oor hoe om regsprosesse uit te rek totdat dit blou in die gesig is. En wat die land betref, kom die “spertyd” van die verkiesing van 3 Augustus al nader. En soos sake staan, is daar binne die OVK ook maar probleme, soos die verpligte adreslys in Tlokwe.

Die SAUK se statutêre verpligtinge oor nuus en aktualiteit kan dalk die beste opgesom word deur die volgende lisensievoorwaardes vir nuus:

  • Moet aan die hoogste professionele standaarde van joernalistiek voldoen.
  • Moet onpartydige, onbevooroordeelde en regverdige nuusdekking verskaf, onafhanklik van inmenging, hetsy deur die regering, die kommersiële sektor of ander bronne.
  • Moet ʼn verskeidenheid uitgangspunte stel oor sake van openbare belang.

Die feit is egter dat daar, soos sake nou met die SAUK staan, geen manier is waarop die OVK die komende verkiesing as vry en regverdig, of selfs net as genoegsaam vry en regverdig, kan verklaar nie.

Suid-Afrika staan reeds op wankelende bene nadat dié land oor sy voete geval het om die laaste verkiesing in Zimbabwe vry en regverdig te verklaar, terwyl Verslaggewers Sonder Grense (VSG) dieselfde verkiesing as nié vry en regverdig verklaar het nie en ʼn ellelange lys van mediavergrype die wêreld ingestuur het. Lande soos Australië en Botswana het gevra die verkiesing moet weer gehou word weens die grootskaalse ongerymdhede wat plaasgevind het.

Hoewel die voorsitter van die OVK reeds gewys het op die gevaar dat die verkiesing in Suid-Afrika, weens onder meer politieke geweld, dalk nie vry en regverdig verklaar sal kan word nie, is sover bekend nog nie ʼn woord gerep oor die moontlikheid dat die SAUK se blatante optrede ook kan voorkom dat die verkiesing vry en regverdig verklaar word nie.

Op die oomblik lyk dit asof die regsprosesse wat aan die gang is, reg en noodsaaklik is, maar dit lyk of daar ook omvattend na bo-en-behalwe optrede gekyk sal moet word.

Sover lyk dit asof dit gebiedend noodsaaklik raak dat betrokke instellings, soos Solidariteit en Right 2 Know, asook politieke partye, ernstig daaraan dink om ʼn afvaardiging na VSG se hoofkantoor in Parys te stuur en die erns van die saak onder dié instelling se aandag te bring. VSG, wat ook vir die jaarlikse persvryheidsindeks sorg, het Suid-Afrika sterk onder die duim gehou solank as wat die ANC die Snoerwet deur die parlement gestoomroller het.

Suid-Afrika het soos ʼn klip op die persvryheidsindeks geval.  Ontstelde mediaverklaring op mediaverklaring hieroor en ander sake is uitgereik. Skielik is die druk laat los en Suid-Afrika het ʼn dramatiese verbetering op die indeks gemaak. Die hoofrede en dit word steeds so groot op VSG se webwerf aangetoon, is dat “pres. Jacob Zuma geweier het om die Snoerwet te teken”. VSG is by herhaling reggehelp dat Zuma bloot die wetsontwerp na die parlement terugverwys het vir die regstel van sekere tegniese foute, maar daar mag nie aan die skadelike impak van die wetsontwerp geraak word nie.

VSG het alle regstellings van die feite geïgnoreer en dit lyk asof slegs ʼn besoek van ʼn kundige swaargewigspan dié saak sal kan beredder. Sodoende kan ook verseker word dat VSG die verkiesing in Suid-Afrika volg met dieselfde aandag as wat die geval met Zimbabwe was.

Dieselfde span kan ook ʼn besoek aan Freedom House (VSA) bring, wat ʼn veel objektiewer prentjie van Suid-Afrika byhou.

Om ʼn dringende hofbevel te probeer verkry om so kort voor die verkiesing die SAUK as’t ware onder administrasie te plaas, is waarskynlik te veel gevra.

Die feit van die saak is dat die SAUK se optrede op soveel terreine negatief inwerk. Suid-Afrika word opnuut as belaglik aan die wêreld voorgestel. Die leserspubliek se intelligensie word blatant beledig deur sulke wollerighede aan te voer soos dat programme soos The Editors en volgens mediamededelings RSG se Kommentaar, geskrap gaan word “omdat hulle nou al te lank op die lug is”. Om so kort voor die verkiesing te sê die twee programme, wat soms kwaai kritiek op die regering uitsaai, het niks met die verkiesing te make nie, is soos om die publiek te oortuig perdebolle is turksvye.

Iets moet dringend gedoen word om die nuuspersoneel met integriteit behoorlik te bevry sodat die SAUK sy mandaat binne die statutêre raamwerk kan verrig.  Hulle is nie maar bloot ‘joernaluise’ op wie bestuurslui, wat nie die konsep van demokrasie verstaan nie, net kan trap nie.

En sodat ons ʼn waarlik vry en regverdige verkiesing kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Theuns ·

Herman, wragtag! Moet se se jy hou al die fasete van die SA samelewing fyn dop. As die regering met ‘n slinkse plan voorendag kom weet jy alreeds wat beoog word. Politieke Partye kan maar net jou kommentaar lees om te weet wat om volgende te doen. Maar sal hulle? Dankie Herman!

Attie Snyman ·

Hlaudi Motsoeneng is Zuma se minister van propaganda en woed buite beheer in die SABC. Hoe is dit moontlik dat twee sulke semi-geletterdes soveel mag in ‘n demokrasie kan uitoefen? Is dit die gevolg van ‘n korrupte demokrasie? Of is dit die gevolg van ‘n demokrasie wat gekorrupteer is deur ‘n korrupte en magsbehepte ANC?

GES ·

Ek vra die selfde vraag. Twee semi-geletterdes met so veel mag? Motsoeneng het mos al die trekpas gekry maar hy bly sit. Is daar nie meganismes om hom uit sy pos te verwyder nie? Die situasie raak daagliks al hoe meer absurt. Twee narre plaas ‘n land in skaakmat ….

Theuns ·

Attie, Zuma en sy kornuit is propagandiste, soos iemand gese het die Goebels van SA. Die ouens het skool gegaan waar die Hoofvakke Propaganda en Korupsie was. Zuma het reggekry wat ons nie met ‘n oorlog teen hom en sy kaders kon regkry nie. Ons het die oorlog gewen maar die propaganda oorlog verloor! Die rede daarvoor is ons ou volkie is nie soos hulle nie, goed opgevoed en wil ons medemens met deernis en empatie behandel. Veral die wit liberaliste het ‘n ontsettende toets gedop en leef vandag nog in ontkenning. En terwyl die liberaliste vandag spartel en verdrink in see van die riool wat hulle oor hulleself gebring het en ook geglo het, gaan dit sleg met ons ligelowige ou volkie. Dankie vir Maroela, Leopold Scoltz en Herman Toerien en ook AfriForum en Solidariteit

Joann ·

Like father like son. Zuma ken van bollie aanjaag en sy mede kaders ook.

Johann ·

Kul jou hier en kyl jou daar en siedaar…ons eie moderne HOUDINIE laat vryheid van soraak verdwyn…?

hans brits ·

Hierdie ding gaan nie die situasie in sa toe kan smeer nie,elke ou met n foon kan fotos en videos neem van wat aangaan in hulle gebied kommentaar lewer en dit op utube publiseeer.So kan die hele wereld sien wat se ghaos hier aangaan.

Karma ·

@hans brits – gaan maak net ‘n verklaring by die SAPD dat jou tiewie gesteel is of die gees gegee het. Dan sê jy maar net vir die es-y-bie-sie jy het nie meer ‘n tiewie nie en omdat jy vantevore benadeel is en a.g.v. die nalatenskap van apartheid, kan jy nie ‘n nuwe tiewie bekostig nie. Moenie worry oor meineed nie – our prezzie mister no. 1 – hy lieg net so lekker en kom dan weg daarmee? :-)))

Johan ·

Sien niemand die naams verandering: ANC Broadcaster. Ek wonder net of, terwyl ons tv lisensies aan SABC moes betaal en dit nie meer bestaan nie, die Guptas die toekomstige borg vir die Broadcaster is. Het groot geword met kennis is mag maar nou is korrupsie die magtigste wapen in ons gewese mooie Suid Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.