Nuuskommentaar: SAUK mors met Afrikaans

Foto: jerm.co.za / africartoons.com

Foto: jerm.co.za / africartoons.com

Terwyl TV-kykers tot vervelens toe na ‘n inhuis-advertensie van die SAUK moes kyk oor die Afrikaanse nuus wat tydelik in ‘n nuwe tydgleuf na SABC3 verhuis, het daai einste nuusbulletin bloot “verdwyn.”

Dit sal darem glo weer môreaand verskyn.

Dit is uit sy gereelde plek en tydgleuf op SABC2 gesit om plek te maak vir die Sokker Wêreldbeker, maar nou word die Xhosa- en Zoeloe-nuusbulletins in die plek daarvan uitgesaai, en SABC3 saai nou in die “nuwe tydgleuf” ook sokker uit.

Selfs onder optimale omstandighede is daar bitter min Afrikaans in die week se TV-programme. 7de Laan is min of meer ‘n vaste instelling, maar nie almal is sepie-kykers nie, en van alle sepie-kykers het nie almal dit in hul gestel om na Gita se straffelose skelmstreke te kyk nie.

Die bietjie Afrikaans moet ook gereeld plek maak vir spesiale uitsendings soos onderhoude met politici, of uitsendings van toesprake waarvan die meeste kykers verkies om later die opsommings in die geskrewe media te lees.

En nou – nie alle Afrikaanse kykers is sokkermal nie. En wanneer die Afrikaanse kykers half agt besef daar gaan nie nuus wees nie, is die 19:00-nuus op eTV reeds verby.

En nie alle Afrikaanssprekendes kan betaal-TV bekostig nie.

Iewers het die linkerhand binne die SAUK nie besef wat die regterhand doen nie – juis noudat SMS-boodskappe aan lisensiehouers gestuur word om hulle te herinner dat die TV-lisensies binnekort betaalbaar is. Dis nou ‘n behoorlike gawe tyd van die SAUK om boos kykers (en uit die reaksie in die sosiale kommentaar is daar baie) te herinner aan die moontlikheid van ‘n lisensieboikot. ‘n Baie groot deel van die sosiale kommentaar dui daardie opsie aan. Heelwat spog nou openlik dat hulle in elk geval nie lisensies betaal nie. Minstens gaan baie nie hul TV-lisensies met ‘n lekker hart betaal nie.

As die SAUK se besluitnemers enigsins in voeling met hul Afrikaanse kliënte was, sou hulle besef het dat daar ‘n groot gevoeligheid is oor die behandeling wat Afrikaans – ten spyte van grondwetlike bepalings – van die owerhede ontvang. Die hele Puk-kwessie en die huidige verwikkelinge by Maties staan in die dampkring van vrese dat Afrikaanse universiteitsonderrig afgeskaal en selfs uitgefaseer sal word. Dit het ook nie gehelp dat die rektor van Wits, prof. Adam Habib, Afrikaanse universiteite nie net as ongewens beskryf het nie, maar boonop as “in stryd met die gees van die grondwet”. Wat beteken dat die grondwet en sy gees twee verskillende dinge sê.

‘n “Ekskuus” van die SAUK sou al baie doen om gemoedere te kalmeer, maar die bietjie “verduideliking” wat gebeur, toon eintlik totale onbegrip van die sensitiwiteit.

Voorts is dit uit die sosiale kommentaar duidelik dat baie kykers, verdiend of onverdiend, nie ‘n onderskeid tussen die SAUK en die regering (= ANC) sien nie.

Pas het AfriForum en Fedsas ‘n hofoorwinning teen die Gautengse onderwysdepartement behaal oor die departement se poging om Engelstalige leerlinge by Hoërskool Fochville op te dwing. Omdat dit ‘n skikking buite die hof was wat ‘n hofbevel gemaak is, behoort dit die regering se verdere aksies in hierdie koers te stuit – kort na die LUR aangekondig het hoe hy van plan is om die proses deur manipulasie te versnel. Klik hier om meer te lees.

Die land is besaai met sensitiewe kwessies waar persepsies harder as feite praat. Sadou se aandrang om die geskiedenis van die land ideologies te herskryf en aan almal op te dwing is een voorbeeld, en minister Gugile Nkwinti se 50%-grondgrypplanne is nog ‘n voorbeeld. Die Internasionale Rugbyraad se verbod op politieke inmenging en rassisme in sport ten spyte, gebeur presies dit nou sommer openlik hier.

In ‘n heterogene land kan polarisasie deur die opdwing van persepsies nie bekostig word nie. Die voorbeelde is legio – die Balkan-massamoorde, die massamoorde (verskeies) in die Groot Mere-gebied, Oekraïne, Israel se haaksheid met die Palestyne, Sirië se burgeroorlog, Irak se opmars van die neo-Salafiste en Sjiïtiese teenoffensief, terreur in China deur Moslem-militantes… noem maar op.

Die “ander kant” word maklik eenvoudig “terroriste” genoem, wat ‘n vrypas vir baie hardhandige optrede bied.

Elke individu en elke organisasie het ‘n rol om in versoening te speel. Hoe ‘n groter meningsvormer daardie instansies of persone, hoe groter word sy verantwoordelik om nie polarisasie aan te blaas nie.

‘n Uitverhuurder van studenteverblyf is gekruisig en by die Menseregtekommissie verkla omdat sy haar kamers eksklusief vir nie-voorheen benadeeldes geadverteer het. Tog is die ongevoelige wyse waarop die SAUK nou sy Afrikaanse kykers (en lisensiebetalers) behandel het, minstens net so ingrypend op gemoedere.

Elkeen moet eenvoudig daardie sesde sintuig ontwikkel vir wanneer sy optrede of woorde iewers hard op rou tone gaan neerkom. Vreeslik baie kan al uit voorbeelde van die verlede geneem en uit geleer word.

Die SAUK sal met ‘n baie groot verskoning moet kom vir die ongevoelige en lomp wyse waarop ‘n sensitiewe kwessie hanteer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

magda ·

Herman baie dankie!!!! Ek het gedink dis net ek wat so magteloos en radeloos voel teenoor SAUK! En glo my, my lisensie is betaal! Ek hoop werlik die AFRIKAANSE programme op TV2 soos bv SWARTWATER, PASELLA ens wat ons moes verbeur gaan iewers regmatig en tydig weer aan ons gebied word. Dis regtig sleg om so afgeskeep te word en by nabaat, ek hou NIKS van sokker nie! So ek verstaan die frustrasie van baie kykers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.