Nuuskommentaar: SAUK: Wat doen ons nou?

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Dit is ou nuus dat dinge by die SAUK ʼn breekspul afgegee het. Die feit dat die SAUK ʼn “soewereine reg” vir homself geskep het wat nie met basiese regsbeginsels, soos natuurlike geregtigheid en versoenbaarheid met die grondwet ooreenstem nie, beteken ook dat sake nie gelate so aanvaar kan word nie. Dat alle beginsels van gesonde regspraktyk in die stof bly lê, roep ook om ingryping.

Die grootste gemors is egter as die komende munisipale verkiesing, weens die SAUK se optrede, nie as vry en regverdig beskou kan word nie.

Maar wat kan daaraan gedoen word?

  • Weens die regsposisie van die SAUK, is dit nie so maklik om lisensiegeld te weerhou met die idee om dan net betaalkanale in te span nie. En solank lisensies betaal word, al is dit hoe teensinning, so lank gaan die SAUK ʼn houvas op die lugweë hê.
  • Sit dit af! Sonder genoeg kykers en luisteraars koop adverteerders vir hulle ʼn kat in die sak. Daar is heelwat alternatiewe, soos gemeenskapsradiostasies (maar nie vir almal nie) en kommersiële radiostasies. Skiet die geldjies tekort, kry die SAUK egter ʼn regeringsaansuiwering (waarvoor ons betaal) en in hierdie geval gaan dit vanjaar blykbaar R500 miljoen beloop.
  • Max du Preez het sy beskikbaarheid vir deelname aan SAUK-programme, soos Kommentaar, opgeskort. Dit is ʼn morele dilemma waarmee baie Suid-Afrikaners opgesaal sit wat weens hul kundigheid vir deelname aan programme benut word – en dit ook sonder vergoeding. Die uwe, as skrywer van Ruimtenuus vir RSG se program, Sterre en Planete, is een van hulle. Wie word benadeel deur die opskorting van deelname?  Die aanbieder wat ʼn gesin het om te versorg en hoegenaamd geen aandeel in die Hlaudi-moleste het nie? Of die luisteraars wat ewe-eens nie ʼn aandeel het nie?
  • Verskeie prominente mense het uit die SAUK bedank omdat hulle nie met hul gewetes kan saamleef oor wat by die SAUK aan die gang is nie. Jimi Matthews en Ivor Price het om hierdie redes bedank.
  • Vir baie Suid-Afrikaners, veral in die platteland, is die SAUK nog die enigste nuustoegang. Moet hulle gestraf word omdat een persoon besluit het pres. Jacob Zuma mag nie bevraagteken word nie (waar val hy met so iets uit?).

Hierdie vrae kan nie so maklik beantwoord word nie. Die groot kwessie is egter of dinge reggestel gaan word. Indien nie, is dit ʼn uitgemaakte saak dat drasties opgetree moet word en die bestaande regsaksies opgeskerp moet word om enersyds ʼn regruk te eis, maar tweedens te voorkom dat onskuldiges die slagoffers word.

Sekere protesaksies is impakloos en selfs selfskadelik. Die uwe maak dit duidelik geen nuus van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap word in Ruimtenuus of enige ander beriggewing gebruik nie, weens SANSA se besluit om Afrikaans “uit die grondwet te steel” en net in Engels, Zoeloe en Pedi te kommunikeer. Maar ontlok hierdie protes enige reaksie en wie ly daardeur skade?

Gaan Max se onttrekking van deelname aan enige SAUK-program enige jota of titel verskil maak?

Dit is wonderlike nuus dat soveel geld reeds ingesamel is om die afgedankte werknemers (hulle is op die oog af sonder verhoor afgedank omdat hul reg om te verskil, “afgeskaf” is), van lewensmiddels te voorsien. Dit sal egter tog goed wees as die regsvergrype baie vinnig deur regsaksies ongedaan gemaak kan word.

Dit is egter moeilik om te sien hoe ʼn groot organisasie soos die SAUK, met ʼn enorme topbestuur (met blykbaar min gedelegeerde of oorspronklike gesag) en waardeur die tentakels van verderf reeds stewig geanker is, oornag reggeruk kan word.

Die ANC se bontpratery oor die saak en skynbare vasbeslotenheid om eers na die verkiesing iets daaraan te doen, help ook nie om die chaos op te klaar nie. Die kiesers kan en behoort die ANC in die komende verkiesing hard te straf vir sy aandeel daarin om die land van ʼn belangrike deel van sy demokrasie te stroop.

Dit sluit hierby aan dat die SAUK nou lustig ploeg deur die Afrikaanse segmente wat ingestel is en hopelik nog is, om ʼn diens van uitnemendheid aan luisteraars en kykers te bied.

Ja, daar is klein jakkalsies soos Beiere, wat in ʼn Afrikaanse nuusbulletin Bavaria word, of Algeryne wat kort-kort Algeriërs word. Dit is sake wat reggestel moet word, maar as die Afrikaanse komponente van hul reg tot uitnemendheid gestroop word, sal enige poging om Afrikaans self op ʼn aanvaarbare standaard te hou, vrugteloos wees.

Intussen is dit noodsaaklik dat Motsoeneng en sy g*tkruipers helder en duidelik weet Afrikaans leen hom nie uit tot onregte en ʼn verlaging van standaarde nie. Ruk julle nou reg, of dra die gevolge.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Kaufman ·

1. Adverteerders moet SAUK boikot, en die adverteerders wat hulle nie boikot nie moet self deur ons geboikot word.
2. Begin sosiale media nuusdiens vir mense in die platteland, dalk iets soos Maroela. Meeste mense in die platteland het nou al n slimfoon. Dink net hoe kragtige een voordelig dit gaan wees as die swart plattelandse mense ook ordentlike nuus soos ons hier kry.

JOHAN ·

HIERDIE MOTSOENENG IS NET SOOS MUGABE – WAT KAN DIE ZIMBABWERS DOEN – AS HULLE TEENSTAND BIED BELAND HULLE IN DIE TRONK – WAY HY SE IS WET – SAUK SE REAKSIE DIESELFDE – EK STEUR MY AAN GEEN WET NIE – DANK MENSE AF SONDER OM STAPPE TE VOLG – HY MAG MISKIEN DINK HY WERK AAN ‘N GOUE HANDDRUK – MAAR HOEKOM NIE DIESELFDE OP HOM TOEPAS EN NET ‘N E-MAIL AAN HOM STUUR DEUR DIE “REGTE” KANALE – “JY IS GEFIRE” EN LAAT SEKURITEIT HOM UITSTOOT SOOS DIE HOORT – HIERDIE DINGE LAAT ‘N MENS SE BLOED KOOK

kat ·

ons moet ook op hou teliviesi lesensies betaal dat hy ook in pad gesteek word

Janneman ·

Johan, hoekom skreeu jy, ons is nie doof nie. Druk “caps lock” na jy begin tik. :-)

Marietjie ·

Van wanneer af besluit die SAUK oor hul eie regs kwessies . Is hulle nie die beskuldiges nie en is ons nie die kliënte wat diens verwag nie??? Ewe skielik lyk my eie vrae dom!!!

Daenerys Targaryen ·

Ja hierdie artikel laat my weereens diep dink . Mens voel soms so magteloos en wil tot ‘n aksie oorgaan – MAAR gaan dit die situasie aanhelp of stuit…….

Ww ·

As die reg dit wel so aan vaar die manier van afdanking sal dit ‘n totale verandering tot gevolg hê.

Koos1 ·

Ek stem Burger, maar wat gebeur met ‘n pion as dit die andkerkant van die bord bereik?
Ek is egter in ‘n ander sin baie bekommered. Die situasie by die SABC is verkeerd en baie erg, maar is die nie ‘n afleidingstaktiek nie, soos bv. Zuma se eks vrou wat wil staan vir president nie? Alles in die staatsektor gebeur nou, in my opinie, om vir Zuma te beskerm, en ook die aandag van sy gemors af te lei…….. of sit ek nou die pot mis?

Wern ·

Ja Hlaudi is slegs n pion met volle ondersteuning van die ANC. Dit is slegs toneelspel om nog n instansie te kaap vir Zuma se looting.

Rynhardt ·

Die SAUK wat die Afrikaner gestig het, het gehelp mwt sy ondergangen draai nog steeds vandag teen hom! Wanneer gaan mense besef dat die SAUK lankal nie meer geloofwaardig is nie! Die SAUK tree op volgens die Vryheidsmanifes-beginsels! Die era van propaganda gaan nou met mening uitgevoer word.Ek glo daar is ook groot wanbestuur betrokke by SAUK, n regte ou byenes!!

Rina Pretorius ·

raak ontslae van hierdie Hlaudi, hy is bad news vir SA en klaar

Burger ·

Koos , ek stem saam met met jou . Ons leef in n tyd waar n leun nie meer verkeerd is nie , bedrog meer aanvaarbaar raak . Dis n geleidelike gewoond maak aan dit verkeerd is .

Laat my dink aan die vrou wie se man elke aand vol wyn by die huis aangekom het en haar dan aanrand. Na baie trane het hy die aanrandings gestop . Hy is nou in haar oe n goeie man al kom hy nog steeds vol wyn by die huis aan.

James ·

Herman, jy is verkeerd rondom jou eerste punt rondom weerhouding van lisensiegeld. Ek het 10 jaar al gelede begin met my eie weergawe van “burgerlike ongehoorsaamheid” – die eerste stap was om op te hou TV lisensie betaal. Ek kyk LEKKER dstv, sedertdien, en ek het in die afgelope 10 jaar 3 voertuie en ‘n eiendom gefinansier sonder dat ‘n haan gekraai het oor ‘n kredietrekord…Hulle het my vir so vyf jaar vermaak met allerhande dreig- SMS’sies, en ‘n paar oproepe, (waartydens ek GROOT pret gehad het met die ou BEE vroutjie op die anderkant van die lyn). Hou op BANG wees mense. Hou net eenvoudig OP met betaal! Ek betaal SLEGS vir SARS, want hulle werk nog. (Sodra hulle ook breek, gaan ek hulle OOK nie meer betaal nie..) Die res is klaar gebreek – vanwee AA. Hulle dreig jou, maar eintlik kan hulle niks aan jou doen nie. (Dieselfde geld vir E-tol, en verkeersboetes wat in jou windskerm geplaas word). Ons moet oor ons Calvinistiese sin vir “doen wat reg is” kom. Hou op om jou eie ondergang te finansier!

Eend ·

Ek sal so maak! Hulle kontak my ook nie eers oor tv lisensies nie. Neewat, laat hulle inmekaarval sonder geld.

andrea van vuren ·

Briljante mening James! So ‘n bek kort heerlike appelkoosjam!!!

Theuns ·

Herman, baie dankie en ek stem 100% saam met jou. Ons kan nie bekostig dat Gods water oor Gods Akker loop sonder dat daar gevolge vir Hlaudi en sy bende is nie. Ons moet miskien weer jou voorstelle ivm ons eie media onder oe neem! Ons kort ook n nuwe tuiste vir jou en Sterre en Planete. Ek is ook baie bekommered oor die Argiewe wat ons Afrikaanse visuele en radio opnames huisves. Is dit moontlik om met n hofbevel weer daarvan besit te neem? Die kanse is groot dat dit totaal vernietig kan word deur die SAUK en ANC. Dit behoort mos aan die Afrikaner en Suid Afrika.

JWM ·

Hoekom moet meeste goed deesdae by n hof draai? Dis n onnodige vermorsing van bronne en maak van wette en prosedures n klug?

Wern ·

Dinge draai deesdae in die hof omdat die wat “demakraties ingestem” is nie eers meer omgee om te doen net wat hulle pas nie, hulle oortree regulasies en dit is presies waarom dit in hof nou draai. As dit van my afgehang het sou dit nie, die wat so oortree sou almal swaer gekry het in die tronk en kundiges sou weer aangestel wees.

Theuns ·

Beste JWM, ja ek sal dit ook anders wou gehad het. Maar helaas dit gaan seker nie moontlik wees as ons nie ‘n ander Regering kry nie. Maar is dit haalbaar?

Jan maak n Plan ·

Herman weereens ‘n goeie rubriek. Dit is my mening dat aangesien die sosiale media so wonderlikke hulpmiddel is, dat dit gebruik moet word om alle landsburgers te vra om nie hulle TV lisensies te betaal nie en ook n beroep te doen dat besighede hulle advertensies van die lug af haal totdat dinge by die SAUK reg gestel is. Indien hulle nie gehoor gee nie, dan moet daar n beroep gedoen word dat hulle geboikot word. Sodoende sal dinge hopelik vinniger na normaal by die SAUK terug keer.

Theuns ·

Ek stem dat die geld krane toegedraai word! Dink net die verbasing of die ouens se gesigte as hulle uitvind die OTM by die SAUK het nie geld nie! Verbasing/Skok!!!!

John ·

RSG is ongelooflik vervelig en daarmee saam die omroepers. Hul Afrikaans, die musiek en die ewige resepte gee mens hoofpyn en sooibrand en die skreeuende kerel wat ‘Sy eie keuse’ aanbied, laat dowes na hul klankknoppies gryp. Sluit die stasie. Die plaaslike stasies op die dstv-kannale kan ons inlig oor brandpunte en probleme.

Ben Prinsloo ·

James dankie maat, dit word by my al baie langer as 10 jaar so gedoen. Die provinsiale spietkops moet jou net nie n kaartjie gee nie want hulle het deesdae BMW voertuie met spesiale toerusting en as hulle jou kry met n onbetaalde boete dan gaan jy maar betaal of voor n landros verskyn. Maar jy is reg ons volg die beleid van non payment.

Pietsepan ·

Daardie man is net ‘n pion van die Zuma kliek met ‘n pistool teen die kop. Hy doen goed want die baas het hom mos gewys hoe om gesag te misbruik en die grondwet te ignoreer.

Johann Smith ·

Stem saam met Kaufman. Hulle sal ook nie sonder ons lisensiefooie die mas kan opkom nie. Staat sal nie kan help nie want ek dink nie daar is nog so baie geld oor want meeste is deur bedrog en swak bestuur gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.