Nuuskommentaar: SAUK, wie is die baas en wie is die Klaas?

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng se skop in die tande wat hy die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (Okosa) toegedien het, beteken dat die wiele nou baie vinnig gaan rol om ’n hele rits onregte te voorkom, en om ’n vry en regverdige verkiesing nog betyds uit die kole te krap.

Tot die Afrika-kommissie vir menseregte het ’n beroep op pres. Jacob Zuma gedoen om by die SAUK in te gryp omdat die land andersins skuldig sou wees aan aanslae teen persvryheid waardeur die land hom deur die Afrika-kommissie se handves verbind. Maar Zuma swyg.

By die SAUK is die organisasie (wat vanjaar na verwagting ’n bedryfsverlies van ongeveer R500 miljoen gaan ly teenoor verlede jaar se amper R400 miljoen) se  omstrede bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, rammetjie uitnek teen ’n uitspraak van Okosa dat die organisasie ongrondwetlik optree oor die verbod op die uitsaai van vernielsug en vandalisme tydens (politieke) protesoptrede.

Dit is egter maar die wit puntjie op ’n pitsweer wat al lank septies is, en waar die howe en die openbare beskermer (OB) in die tande geskop word. ’n Heksejag word op personeel uitgevoer, wat tegnies geweier het om onwettige opdragte uit te voer. Hul sonde is dislojaliteit, volgens Motsoeneng. Na berig word is “Operation Cleanup” veral teen RSG gemik.

Maar daai pitsweer se wortels sit al diep. ’n Paar los voorbeelde was toe SAUK-TV-kykers kon agterkom daar is groot moles in die parlement (daar was ’n lekker bakleiery) maar die TV-kameras is in opdrag weg daarvandaan gedraai. Tydens die groot afskeidsgeleentheid van wyle pres. Nelson Mandela in Soweto, is Zuma deur ’n deel van die skare uitgejou, maar dit is weens ingryping deur grootbase in die nuuskantoor van die kykers weerhou.

Dat die SAUK se optrede nou as ongrondwetlik beskou word, blyk duidelik deur die optrede van verskeie mediawaghonde, Solidariteit, en nou ook in ’n artikel deur Rebecca Sibanda, regsassistent van die Sentrum vir Grondwetlike Regte.

Het Motsoeneng die versekering van “bo” gekry dat hy ongeag wat volle ondersteuning en beskerming sal geniet? Of het die groot kop wat hy ontwikkel het nou so groot geword dat hy soos ’n diktator kan aangaan?

Selfs die ANC het onlangs erg bontgepraat. Terwyl die SAUK aan die een kant gelooi is, en die minister opgeroep is om voor die ANC te verskyn (wat nie gebeur het nie), is ook geluide gemaak dat die SAUK en die ANC een is, en dat ontplooide kaders weet wat van hulle verwag word.

Die saak stuur nou op onder meer die konstitusionele hof (as toestemming verkry kan word) sowel as die arbeidshof af.

Tyd is egter nou van kritieke belang. Die landswye munisipale verkiesing vind op 3 Augustus plaas, dus oor minder as drie weke. Soos die SAUK nou (ongrondwetlik) optree, is daar geen kans dat die kiesers op ’n onverbonde wyse ingelig sal kan word nie, en daarsonder kan die verkiesing nie vry en regverdig wees nie. In dié stadium lyk dit egter ook nie of die OVK (en ook verskeie rubriekskrywers wat slegs op die aspek van politieke geweld fokus) hom enigsins verknies oor die SAUK se moontlike impak op hoe vry en regverdig die verkiesing gaan wees nie.

So iets sal uiteraard agterna deur hofaksies aangespreek kan word, met die verkiesing wat tersyde gestel kan word, maar teen die agtergrond dat die verkiesingsdatum nou baie na-aan die laaste dag waarvoor die Grondwet voorsiening maak gaan plaasvind.

Dit is dus baie beter om die kwessie vooraf reg te kry, en daarvoor is daar bitter min tyd. En hoe lank sal genoeg wees om die gedokterde nuusdekking van die SAUK reg te stel voordat die verkiesing as vry en regverdig beskou sal kan word.

Dinge gaan nou noodwendig baie vinnig gebeur.

Terselfdertyd moet politieke partye ook hul hand in eie boesem steek. ’n Opposisieparty wat nou aansienlik meer mediaverklarings uitreik as in die verlede, maar heelwat minder nuusdekking verkry, kan nie (net) die SAUK blameer as hy alles net in Engels uitreik nie. Die dae van hoofsaaklik groot media-instansies met vertalers wat voltyds nuusberigte vertaal, is lank reeds verby. Gemeenskapsmedia stel nuwe eise.

En dan is daar partye wat eintlik niks doen om mediaverklarings uit te reik nie, of dit uiters selde doen, en dan langlippie is oor die min nuusdekking.

Kom ons hou duim vas dat sake binne die volgende net meer as twee weke behoorlik vlot gemaak kan word.

Die ANC kan natuurlik baie bydra daartoe om die druk op die knyptang te verlig deur ’n aantal van sy ontplooide kaders uit die kookpot uit te herontplooi Poeroekwaai toe.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Kaufman ·

Hlaudi is maar net n agressiewe pion, nie intelligent nie maar domastrant genoeg om hierdie taak vir die ANC te doen met die ANC se volle bewustheid en ondersteuning. Hulle moet net weet dat Mugabe met sulke dinge kon wegkom maar SA is te groot en die mense te slim en reg sal nog geskied.

Theuns ·

Herman is dit moontlik dat iemand aan die ANC en sy Kaders kan verduidelik dat hulle nie Aandeelhouers in entiteite is wat namens die mense van Suid Afrika deur hulle bestuur moet word nie? Die Parlement en die ANC Regering is slegs RENTMEESTERS wat nie Eienaarskap beteken nie en dat niks aan hulle behoort nie! Nie fisies nie en ook nie OTM’e is wat aangewend kan word vir self veryking nie! Die instansies moet so bestuur word dat dit ‘n Rendement Lewer?(wins) Ek is bevrees die skade wat deur die onbevoegde kinders aangerig word is alreeds so groot dat die skade onberekenbaar is! Groete.

Andries Strydom ·

Waar gaan die geld vandaan kom vir die regsgeding?

Maria van Dieweeck ·

HEHE Poeroekwaai. Ja ek dink hulle wil self die eleksie befoeter, sodat dit langer neem om Zuma uit die mishoop te lig. Panyaza Lesufi (LUR) is bv presies soos die man, ek sien n patroon van die aanstelling van domastrantes, in sleutelposisies, wat lojaliste is aan die troon.. Die vraag is Herman, wat kan ons mense in hierdie tyd doen, behalwe bid?

Wern ·

Ons kan nou begin onderhandel vir selfbeskikking, dit is regtig al volhoubare oplossing, ek belowe.

Rynhardt ·

JACKSON THEMBU se aanval op SAUK was net toneelspel met die afgewaterde verkiesing wat voorle.Mense verstaan dinge nog steedsnie.Die Vryheidsmanifes word met mening uitgevoer vir SA! Haudi Motsoeneng tree nou op as koninklike diktator van SAUK en Anc! Die fondament van propaganda word gele en hy wil van die bietjie ervare SAUK joernaliste ontslae raak! Met die gewelddadige betogings wat Motsoeneng nie wil dek nie, se alles vir jou.Wanneer word publiek wakker?? SAUK is lankal nie meer geloofwaardig nie.Moenie verbaas wees as media 24 min of meer dieselfde pad loop nie!

Bruno Stef ·

Ek is miskien oud en dom maar wat het riool/water en vullisverwydering in n Stadsraad te doen met NERSA wat volgens my wete net die verhoging van elektriese tariewe bepaal.Dit is deur die lokale Stadsraad op n briefhoof van NERSA deur ons op Internet afgelaai.Miskien kan van die lesers my daaroor inlig.Die gemeenskap van ons betrokke Stadsraad sit ook met dikvellige/ ongekwalifiseerde kaders wat net soos Motsoeneng vir jou die middelvinger wys en verder onbetrokke bly en by persoonlike navrae jou hanteer of jy iets is wat die kat ingesleep het.

JWM ·

Dis dalk nou die tyd om die kundige amptenare wat in 1994/95 uitgefaseer is terug te kry op die personeel van die Stadsrade?

HBK ·

@ Wern
Selfbeskiking? Ek glo dat die Afrikaner kan selfs van die moedelooste stuk grond ‘n sukses maak. My vraag is egter, soos dinge in Suid-Afrika agteruit gaan, en so stukkie selfbeskikking bly blom, hoelank gaan dit wees vorr hulle dit dan wil terug hê? Ooreenkomste is net stukkies papier.

Wern ·

As hulle die selfbeskikte land wil terugvat geld n hele rits internasionale ooreenkomste en wetgewing, en is dit basies net so goed soos SA wat Namibia of enige ander land wil inval.

HBK ·

Wat het al ons weeklaag by Internasionale liggame ons al te weeg gebring? Ongelukkig kan ons nie op die liggame vertrou nie. Dat dit ‘n plan is, stem ek mee saam. Dis die volhoubaarheid wat my bekommer.

Karabo ·

Hier kom nog ‘n GOLDEN HANDSHAKE van DER MILJOENE RANDE !!! Bye, bye belastinggeld. Hello potholes !!

pea ·

Kan ons nie n eie Uitsaaikorporasie stig nie maar wat ook beskikbaar is vir die hordes daarbuite sodat hulle ook kan sien wat die anc werklik is?

Joann ·

Wern ek stem saam. Orania is voorbeeld maar soos ek verstaan is huise ens.baie duur daar,dus weer net vir die ryk man.

Selfbeskikking ·

Om onsself te regeer behels baie meer as net Orania. En dit gaan reeds oor om almal te help want as dit net oor die rykes gaan kan die rykes net sowel emmigreer.

najsaab ·

N gevaarlike pion in n korrupte wereld….wonder hoe mens van hom/hulle ontslae gaan raak as die kiesers nie die skille van hulle oe afhaal nie

Regsadvies iemand? ·

Kan ‘n kundige my dalk help? Is dit steeds wet om ‘n TV-lisensie te moet hê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.