Nuuskommentaar: SEB en slawerny

RegstelaksieWat het swart ekonomiese bemagtiging en slawerny in gemeen? Of is dit maar doodgewoon ‘n alarmistiese vraag?

Gister het die Walk Free Foundation die jongste indeks oor slawerny bekend gemaak waaruit dit blyk dat daar ‘n raps minder as 50 000 slawe in Suid-Afrika is, en ook gister het minister Rob Davies in die parlement nog ‘n juweeltjie kwytgeraak deur te sê geen blanke in Suid-Afrika is nog deur SEB verarm nie.

Dit is moeilik om te oordeel hoe die minister by sy stelling kon uitkom, want soos uitgewys deur Paul Joubert, senior navorser van Solidariteit, almal in die land uitgesonderd ‘n paar uitgesoekte handperde, is deur SEB verarm.

Sosio-maatskaplike lewensomstandighede lê ook meestal die slawerny in die wêreld, en ook Suid-Afrika, ten grondslag. ‘n Groot deel hiervan is seksslawe – volgens die Walk Free Foundation mans, vroue en kinders – wat tot prostitusie gedwing word om byvoorbeeld deportasie vry te spring. Heel dikwels is hierdie mense nie uit vrye keuse onwettig in die land nie.

Wêreldwyd is daar 30 miljoen slawe, waar Indië getalsgewys die toon aangee, en Haïti en Mauritanië pro rata die pas bepaal. Mauritanië, waar slawerny eers in 1981 afgeskaf en in 2007 ‘n misdaad geword het, is die land waar slawerny die meeste ooreenkomste met die antieke begrip daarvan toon. Veral donkerder inwoners van hierdie land word steeds min of meer openlik as slawe aangehou, en onlangs was daar ‘n polemiek toe ‘n regter in ‘n lokval erken het dat hy slawe aanhou.

Julius Malema se “party,” die Economic Freedom Fighters, teer op die konsep dat ‘n mens nie vry is voor jy ook ekonomies vry is nie. Ook die ANC het al meermale gesê die tweede deel van daardie party se vryheidstryd behels ekonomiese vryheid, en ‘n stewige aandeel van die Nasionale Demokratiese Revolusie handel juis hieroor.

Maar wanneer die eend wat die goue eiers lê geslag word …

Solidariteit het na ‘n deeglike studie getoon dat ook die nasionale ontwikkelingsplan te veel elemente bevat wat op die voortydige einde van die arme eendjie dui.

Dit is minstens gerusstellend dat minister Davies meen die bedoeling is nie dat enige persoon, wittes ingesluit, deur SEB benadeel moet word nie. Of hy werklik glo dat dit nie in die praktyk gebeur nie, en of sy gevolgtrekking op dieselfde soort logika dui as pres. Jacob Zuma wat in die parlement nie net gesê het hy is onbewus van enige blanke wat deur “affirmative action” benadeel is nie, en daarop ‘n uitnodiging gerig het dat as daar mense benadeel is die name aan hom gestuur moet word, is nie duidelik nie.

Vandag lewer die arbeidshof in Kaapstad uitspraak in die nou reeds  baie bekende Solidariteit-DKD-saak. Die vraag is nie of bruin en wit amptenare deur die departement van Korrektiewe Dienste se aanstel- en bevorderingsbeleid benadeel is nie, die vraag is of die wetgewing en reëls wat die DKD inspan, sulke gevolge wettig mag toelaat.

Die woorde, “affirmative action” kom net so min soos transformasie in die grondwet voor. Die regstellende maatreëls wat die grondwet, en aanvanklik die oorgangsgrondwet ten grondslag lê, het die skrywers van “Fundamental Rights in the New Constitution” reeds in 1993 laat skryf dat dit wat die grondwet in die oog het “corrective action” eerder as “affirmative action” moes heet – en boonop aanvaar daar sal ‘n sonsondergangkousule wees. Hierdie skrywers was nie maar ‘n klomp onafhanklike regsfilosowe nie, maar verskeie was en is steeds intellektuele swaargewigte in die ANC-dampkring – Azhar Cachallia, Dennis Davis, Penuelll Maduna en Gilbert Marcus, om ‘n paar te noem.

In die VSA dien die kwessie van “affirmatiewe action” nou voor die Supreme Court nadat twee deelstate ‘n verbod daarop in die toelatingsbeleid van tersiêre instellings geplaas het. Die algemene verwagting is dat die regters ten gunste van die deelstate gaan beslis.

Suid-Afrika is in baie opsigte ‘n uitsondering. Ten eerste word ‘n meerderheid deur die beleid van “affirmative action” bevoordeel. Die enigste min of meer vergelykbare analoog was Maleisië waar dit ingestel was om die inheemse Maleisiërs sosio-ekonomies op dieselfde peil as die Chinese minderheid te probeer kry. Dit het maatreëls soortgelyk as die SEB ingesluit, maar daar is ook duidelike maatreëls ingestel om te voorkom dat die Chinese benadeel word. Ten spyte van ‘n duidelike sonsondergang, het dit baie daartoe bygedra dat Singapoer met sy Chinese meerderheid uit die federasie getree het.

Die neiging wêreldwyd is ook dat regstellende optrede wegbeweeg van ‘n suiwer raskriteria na sosio-maatskaplike kriteria, om te voorkom dat dieselfde mense wat reeds bevoordeel is, weer en weer bevoordeel word, en diegene wat reeds benadeel is, weer en weer benadeel word.

Pres. Barack Obama is byvoorbeeld uitgesproke gekant daarteen dat sy kinders op grond van hul ras bevoordeel word, omdat hulle nog nie ‘n dag van hul lewens weens hul velkleur benadeel is nie.

Hier te lande is die intussen afgedankte minister Tokyo Sexwale in die media aangehaal dat hy graag wil sien dat sy kinders, wat bruin is, ook nog deur “affirmative action” bevoordeel moet word. Sexwale is ‘n magnaat en dis moeilik om te sien waar sy kinders enige “regstelling” nodig het.

War die meerderheid deur “affirmative action” bevoordeel word, is dit opsigtelik moeilik om te verstaan hoe dié praktyk met die volkeregtelike minderheidsregte versoen kan word. “Affirmative action” is juis dikwels ‘n instrument om sosio-ekonomiese inhoud aan minderheidsregte te verleen.

Vandag se uitspraak in Kaapstad gaan ‘n belangrike skakel wees om rasbeheptheid te ontrafel uit die ideale om die aanspreek van sosio-ekonomiese agterstande te ontras. Volgens alle aanduidings gaan die saak uiteindelik in die grondwetlike hof beland, want ‘n uitslag wat die ANC se rasbeheptheid op die rooi tapyt plaas gaan vir die ANC wat van verkiesings ‘n rassesensus maak, soos ‘n klip in die maag wees.

En as die saak teen die benadeelde werknemers uitgewys word, is dit belangrik dat Solidariteit die saak na die grondwetlike hof verwys sodat reeds gemarginaliseerdes binne minderheidsgemeenskappe weens ‘n beleid om die meerderheid te bevoordeel, nie blywend in die slawerny van armoede en vooruitsigloosheid vasgevang bly nie – want so weet ons – so iets word maklik “oorerflik” wanneer die ondersteuningstrukture ook verarm en nie meer aan die behoeftes kan voldoen nie en daardie posisie boonop institusioneel verskans word.

Fokus regstelling op waar sosio-maatskaplike omstandighede dit vereis ongeag velkleur. Eerder as om ongekwalifiseerde kaders in sleutelposte te ontplooi wat die ekonomie ontman, kry die grondslag in die onderwys reg en dring daarop aan dat leerkragte van veral Sadou etiek aan die dag lê, sodat die onderwys toegeruste jong mense lewer. Onkunde hou ook sy slagoffers in die kettings van slawerny vasgevang. Die minister van basiese onderwys het juis gister daarop aanspraak gemaak dat die Titanic gedraai is, maar nou ja, sy het ook al voortydig geglo a die skole, ook dié wie se boeke in riviere gegooi is, het boeke gekry.

Vandag is ‘n baie belangrike dag vir Suid-Afrika en al sy mense, en is die oë op die arbeidshof in Kaapstad gerig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae