Nuuskommentaar: SEB is rassisties teenoor wit én swart

President Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) is nie rassisties nie, en wit mense wat dit teenstaan, is soos iemand op die dak van ʼn gebou wat die leer wil afskop as iemand anders ook wil opklim. Só het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag tydens ʼn mondelinge parlementêre vraesessie in die Nasionale Vergadering op ʼn vraag van John Steenhuisen gereageer.

Verder het Ramaphosa verduidelik hoe wit mense steeds van die vrugte pluk van die bevoorregting en ongelykheid van apartheid. Sodoende is beleid soos SEB regverdigbaar.

Mense wat beleid soos SEB en RA voorstaan, doen dit gewoonlik op grond van die teorie daarvan. Mense haak vas by die morele argument ten gunste van veral iets soos regstellende aksie. Niemand hou van die idee van massas arm mense nie. Indien die meerderheid mense wat deel van dié massas uitmaak swart is, maak dit sekerlik sin om iets soos SEB te gebruik om hulle op te hef. Dit voel immers verkeerd om nie die armes te help nie.

Indien ʼn mens dit teoreties voorstaan, is die vraag dan nou of dit enigsins in praktyk werk. Kry SEB en RA dit reg om die arm swart massas op enige noemenswaardige manier op te hef?

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Verlede jaar het die regering ʼn verslag gepubliseer waarin hulle die tendense van ongelykheid in Suid-Afrika ondersoek. Die verslag het bevind dat ongelykheid binne-in rassegroepe hoër is as wat dit tussen rassegroepe is. Die regering wil wit-welvaart graag skets as die groot bron van ongelykheid. Die waarheid is egter dat ongelykheid binne rassegroepe – binne die swart bevolkingsgroep spesifiek – die grootste bron van ongelykheid in ons land is.

Dit beteken, indien al die wit mense met al hulle welvaart môre uit Suid-Afrika sou verdwyn, sou Suid-Afrika méér ongelyk wees. Die teenwoordigheid van families soos die Ruperts en Oppenheimers maak Suid-Afrika méér gelyk, en nie meer ongelyk nie.

Dit moet ook in die lig van algemene armoede gesien word. Armoede het sedert 2013 in ons land vir die eerste keer in 20 jaar weer begin toeneem. Dit beteken dat die ongelykheid binne die swart bevolkingsgroep nie ʼn gaping tussen ryk en buitensporig ryk is nie. Die gaping is tussen ʼn klein groepie ryk SEB-elites en die arm swart massas.

Indien iets soos RA en SEB werk, sou die swart bevolkingsgroep – wat disproporsioneel daarby behoort te baat – se ongelykheid verminder het. Die doel van die beleid is immers om die gaping tussen ryk en arm te verklein deur armes op te hef.

Thomas Sowell, swart Amerikaanse ekonoom, skryf sy lewe lank al oor regstellende aksie spesifiek in Amerika. Sowell staan beleid soos RA teen. Hy argumenteer dat ʼn mens bloot nie na die praktiese uitkomste van RA-beleid kan kyk en dit steeds teoreties ondersteun nie.

(Foto: Henk Kruger/ANA)

SEB wil die gapings in geleenthede en welvaart tussen die rykes en die armes verklein. Die regering verwys dikwels hierna as die ryk wittes en die arm swartes. Die probleem met SEB is dat dit egter presies dieselfde patrone skep wat dit probeer oorkom. Eerder as om die gaping tussen ryk wittes en arm swartes te verklein, vergroot dit die gaping tussen ryk swartes en arm swartes.

SEB kweek verder die mentaliteit dat swart mense net met die hulp van die regering kan slaag. Dit is daarom uiters ironies dat Ramaphosa aanvoer dat SEB nie rassisties is nie. Hoewel hy meen dat dit nie rassisties is om teen wit mense te diskrimineer nie, mis hy egter die veel belangriker punt.

SEB is uiters beledigend teenoor swart mense. Ramaphosa impliseer dat die regering se mitiese SEB-leer die enigste manier is waarop swart mense hulself kan ophef. Die regering tree op asof swart mense verdoem is tot mislukking wanneer hulle aan hulle eie genade oorgelaat word.

Selfs erger ontneem dit alle arm mense van enige noemenswaardige kans om hulself ekonomies op te hef. SEB-beleid verlam ʼn ekonomie volledig deur alle aansporingsmaatreëls te verwoes. Die regering maak asof die ekonomie ʼn geïsoleerde eenheid is wat hy na hartelus kan manipuleer. Hy verstaan egter nie dat dit eerder ʼn lewende samestelling van miljoene mense se individuele aansporings en voorkeure is nie. Die ekonomie is nie ʼn masjien van beleidstellings nie, maar eerder ʼn organisme van menslike interaksie. Die oomblik dat ʼn mens só ingrypend by ʼn ekonomie inmeng, sal die funksionering daarvan belemmer word.

(Foto: Maroela Media)

ʼn Swak ekonomie benadeel juis arm mense disproporsioneel. Enige moontlikhede van opheffing – vir enige rasse – word hierdeur verwoes. Die regering wat op SEB aandring, gee homself die morele hoë grond van omgee vir arm swart mense. Dit is juis hoekom hy diegene wat SEB teenstaan as rassisties en onderdrukkend sien.

Die ironie van die saak is egter dat die werklikhede van SEB veel meer onderdrukkend en rassisties is. Die regering skets SEB as ʼn eerbare leer waarmee arm swart mense tot bo-op die dak van welvaart kan klim. Die werklikheid is egter dat SEB eerder ʼn helikopter is wat ʼn klein groepie kamerade optel en bo-op die dak neersit. Indien jy nie ʼn vriend of familielid in die regering het nie, bly jy uitgelewer op die grond. Die arm massas op die grond het geen SEB-leer waardeur hulle tot bo kan klim nie – die leer bestaan bloot nie.

Die regering se obsessie met ongelykheid is daarom eintlik waansinnig. Dit is baie beter om arm te wees in ʼn ryk land as wat dit is om arm te wees in ʼn arm land. Tans verdoem die regering miljoene mense tot armoede in ʼn arm land. Die bes moontlike ding wat die regering daarom kan doen, is om die ekonomie van SEB te bevry. Sodoende sal mense werklik die geleentheid kry om welvaart te skep en hulself daardeur sonder die hulp van die regering op te hef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nick

Net soos sportkwotas swart en bruin mense beledig doen RA met swart en bruin mense in die werkplek. Geen swart of bruin persoon sal glo hulle is goed genoeg solank RA in plek is nie. RA en BEE is ook grootendeels verantwoordelik vir armoede en rassisme. Dit polariseer en verneder mense. Die enigste persone wat dit voorstaan is die wat nie glo hulle is goed genoeg nie. Hoe gouer hierdie regering dit besef hoe beter. Maar ons weet mos hulle stel nie belang in wat goed is vir die land nie. Hulle wil almal en alles manipuleer en elke wit… Lees meer »

Danie

Die leer seb is net vir kaders van ANC en ons weet dit help nie arm mense nie want onderwys is in gemors en polisie neem baie kriminele goeds moet in diens (SEB) alle ander staats bedrywe is chaos weens die indruk van die leer net moet klim 5 trappies op n slag sonder bevoegtyd!

Natasha

Die mentaliteit wat die regering kweek dat alle wit mense ryk is is lagwekkend. As die regering armes wil help, skep werk geleenthede en maak ons ekonomie oop van covid-19! Armoede het sedert 2013 toe geneem… ironies 19 jaar na die ANC aan bewind gekom het. Ramaphosa begin al hoe meer en meer uit die kas te kom oor hoe erg rasisties hy is en dis hoekom hy niks doen om die EFF in die bek te ruk nie.

Jean

Dit is 100% rassisties

Frederik C

Ramaphosa se mening kom dus daarop neer dat apartheid ook nie rassisties was nie. SEB is die ANC se voertuig tot korrupsie en dit is dit.