Nuuskommentaar: Selfbeskikking

Argieffoto: Pixabay

Met ’n vorige bespreking oor selfbeskikking het sekere aspekte nog ietwat in die lug bly hang. Die afgelope naweek is die Vryheidsfront Plus se manifes bekend gestel en kan sekere bewerings en vrae ook nou afgehandel en ter ruste gelê word.

Die meeste belangrike partye het nou reeds hul verkiesingsmanifes vir die komende algemene verkiesing bekend gestel. Dit wissel van ’n dik boeklengte onrealistiese wenslys deur die EFF, tot ’n kernagtige beredenering van net meer as 20 bladsye deur die Vryheidsfront Plus.

Die media het betreklik breedvoerig hieroor berig en dit kan nie deur nuuskommentare gedupliseer word nie. Van die belangrikste aspekte sal egter onder die soeklig geplaas word, soos die kwessie van selfbeskikking wat in ’n vorige nuuskommentaar (lees hier) nog met verskeie los drade gelaat is. (Lees gerus ook hier en hier.)

In sy verkiesingsmanifes verwys die VF Plus, afgesien van ’n hoofstuk oor selfbeskikking, op nog twee plekke daarna. Die eerste is ’n hoofstuk wat handel oor taalregte en veeltaligheid, terwyl die tweede punt in die samevatting soos volg lees: “Verwesenlik die internasionaal erkende en grondwetlike reg van gemeenskappe tot selfbeskikking.”

Ander aspekte, soos die daarstelling van gemeenskapsrade en die uitbreiding van die magte van provinsies, sluit hierby aan.

Selfbeskikking word gewoonlik op grond van een van twee bronne gevestig. Die een is op sterkte van oorspronklike gesag, en die tweede is toegedeelde gesag. ’n Tipiese voorbeeld van die eerste is die VSA waar ’n rits onafhanklike state besluit het om ’n federasie te vorm, maar elke deelstaat het ’n deel van sy oorspronklike gesag behou.

Toegedeelde of gedelegeerde gesag is waar ’n eenheidstaat in meerdere deelstate verdeel, en die oorspronklike sentrale regering ’n deel van sy gesag aan die deelstate afstaan. Die huidige Suid-Afrika is ’n voorbeeld hiervan waar die gesag van die sentrale regering, die gesag van provinsies en die gedeelde gesag (soos die polisie) in die Grondwet gelys word.

In federale regerings het die deelstate volle soewereiniteit oor sekere sake, en die sentrale regering oor ander, soos buitelandse sake, verdediging en tesourie. Kruipende sentralisering kom egter dikwels voor, soos in die VSA. Suid-Afrika kwalifiseer hiervolgens nie as ’n ware demokrasie nie.

Die grootte van ’n staat bepaal dikwels of dit ’n federale of unitêre staat sal wees. Dis nie altyd die geval nie, soos China wat ’n baie groot unitêre staat is, en Switserland wat ’n klein federasie is.

In die staatkunde word algemeen aanvaar dat ’n heterogene staat nie ’n gewone unitêre staat sal wees nie. Die ou Sowjetunie, die huidige Russiese Federasie, Switserland, België en Indië is voorbeelde van etniese federasies. Ander regeringsvorme om vir etniese minderheidsgroepe voorsiening te maak kom ook voor, soos Brittanje waar die Skotte, Walliesers, die mense van Cornwallis en die Noord-Iere oor verskillende vlakke van selfregering beskik. Dieselfde het vir Spanje met die Baske en Kataloniërs gegeld, maar is grootliks deur die Spaanse grondwetlike hof ongedaan gemaak.

Tot voor Rusland die Krim-skiereiland by die Oekraïne afgeneem het, het die Krim sy eie streekparlement gehad, en die Krim-Tartare, die oorspronklike inwoners, ’n soort selfregerende liggaam wat op die grondslag van korporatiewe selfbeskikking gewerk het.

Vanuit hierdie wesenlike vertrekpunt het die onderhandelaars van die NNP by Kodesa drooggemaak en Suid-Afrika beskik nou oor ’n grootliks unitêre Grondwet. Dr. Leopold Scholtz het by geleentheid geskryf: Nadat dr. Gerhard Viljoen weens gesondheid as hoofonderhandelaar deur Roelf Meyer vervang is, het die regering sy vierde of vyfde span se reserwes as onderhandelaars ingestuur.

’n Onvanpaste grondwet sal immers solank dit van krag bly onder spanning en druk verkeer. Die wyd verkondigde propaganda dat Suid-Afrika oor die beste grondwet ter wêreld beskik “omdat dit die jongste ter wêreld was en die opstellers uit alle bestaande grondwette die beste kon neem” is lank reeds as mite bewys.

Ons Grondwet maak wel voorsiening vir selfbeskikking, hetsy geografies of korporatief.

Die hoofstuk in die manifes wat oor selfbeskikking handel, word soos volg ingelei: “Ons benodig dringend ’n nuwe staatkundige bestel waarin erkenning gegee word aan die diversiteit van Suid-Afrika as die ware boublokke van ’n ware eenheid in diversiteit. ’n Bestel gebou op respek vir mekaar, sonder diskriminasie en rassisme, met gelyke geleenthede, maar met erkenning van elkeen se eie, sowel as die gemeenskaplike. Dus ’n bestel waarin die korrekte vorme van selfbeskikking toegepas word.”

Die tweede paragraaf lui: “Soos elders in die wêreld bewys, is hierdie benadering nie in konflik met ’n grondwetlike- of ’n liberale demokrasie nie. Inteendeel, dit word as die nuutste en modernste staatkundige tendense beskryf. Federalisme, lokaliteit, subsidiariteit en selfbeskikking, soos dit internasionaal voorkom, is noodsaaklike boustene van so ’n staatkundige model. Grondgebonde outonomie soos oor provinsies moet uitgebrei word.”

Wat belangrik is, is dat die Vryheidsfront Plus ’n stelsel voorstaan wat in pas met die internasionale reg en die Grondwet is.

Die slotsin van die hoofstuk doen ook weg met die storie wat versprei word dat die VF Plus van geografiese selfbeskikking afgesien het.

* Indien ander partye ook aan die verkiesing gaan deelneem, en ʼn vorm van selfbeskikking voorstaan, is hulle welkom om hul manifes via Maroela Media aan hierdie skrywer beskikbaar te stel sodat bevooroordeeldheid besweer kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

B ·

Ek wik en weeg tussen Front Nasionaal en VF+, maar ek dink op die oomblik bied FN ‘n beter heenkome en tuiste vir die visie van ‘Onafhanklikheid / Selfbeskikking’

Wat dink mede-MM lesers?

Liza ·

B, ek stem saam. Indien FN meer stemme trek as die VF+ dan plaas dit laasgenoemde in ‘n ongemaklike posisie. Herman skryf dit is sommer ‘n storie dat VF+ afgesien het van geografiese selfbeskikking. Ek wag nog vir die dag dat Pieter Groenewald dit in die Parlement uitleef. Die doktore in die VF+ benader die saak te akademies, sonder tasbare aksies om die bal aan die rol te kry. Duidelik raak meer en meer Afrikaners ongeduldig met die voete gesleep. Selfs die Zulu koning het agtergekom dat nie-Zulus in sy kraal wil uitkamp.

Afrikaner ·

Lisa, dis onprakties, die stedelike Afrikaner is te verspreid met hul ekonomiese belange, en wat maak jy met die Afikaner en sy plaas? Dit is die realiteit, laat dit nou vir eens en vir altyd gesê word. Jy droom van ‘n eiland in die see op land in SA.

Liza ·

Afrikaner, die Afrikaners sal se eindtyd kom al hoe vinniger nader in ‘n land wat reeds oor die afgrond geval het. Die stedelike Afrikaners woon grotendeels in stede wat vir alle redes bankrot is, en die verval in eens trotse plattelandse dorpe is tragies. Die ANC kan niks daaraan doen, die Afrikaners nog minder. Ons is by die omdraaipunt verby. Afrikaners verloor elke dag hul werk deur EE en hul besighede moet terugstaan vir SEB. Dit is net ‘n kwessie van tyd en wit armoede sal alledaags wees. Hoe nou gemaak? Moet ons ons hande in die lig gooi en dit aanvaar? Afrikaner kan steeds op hulle plase bly en deel wees van RSA of Azania of Msanzi of wat ook al , en hoop vir die beste. Grondhervorming gaan sy tol eis en wit boere het probleme. Gewone stedelinge kan ongelukkig nie veg vir die boer en sy plaas nie. Die goue era van wit landbou is verby en hulle is nou op hul eie.

Afrikaner ·

Dus, al wat oorbly, as ek jou reg lees, is ‘n tweede groot trek, daar waar die Afrikaner sy eie ekonomie kan begin, waar sal dit wees en uitvoerbaarheid? Die dae is verby dat mens net jou eiendom kan verkoop, oppak en na niemandsland trek om van vooraf te begin, dit sal ‘n langsame proses wees. En waar sal so ‘n ekonomies geografiese vatbare plek wees? Ek stem VF Plus, maar sal dit ook graag by Dr Groenwald spesifiek duidelikheid oor hierdie aspek wil kry, buiten dat daar na so ‘n plek gestreef word.

Realis ·

B, FN is totaal en al onprakties. Soos reeds deur ‘n ander leser genoem is, is die blanke Afrikaner te verspreid.

As dit so maklik was, was almal mos reeds in ORANIA gevestig?

Geografiese selfbeskikking KAN NIE werk nie. Korporatiewe selfbeskikking wel ja.

Liza ·

Afrikaner, dit gaan ‘n harde, lang en uitdagende pad wees om te volg. Maar wat is die alternatief? Om in stede te bly waar die infrastruktuur besig is om te knak te midde van verdere verstedeliking (wettig en onwettig) wat verdere druk op binnelandse waterbronne en besoedeling plaas, om nie eens te praat van vermidderde eiendomswaarde nie. Baie van my vriende en familie het lank reeds opgepak en woon nou in die buiteland in kleiner huise waaraan hulle hier gewoond was, so dit was ook ‘n mate van opoffering. In die 1980s het kritici altyd vir Andries Treurnicht gevra waar is die tuisland wat hy voorsien, dan het hy bloot gesê dit is daar waar jy nou sit. Ek glo dr Groenewald sal ook so antwoord. Heelwat lesers het die noordweskus al genoem, waarvan ek hou. Dit is yl bevolk. Ek het vinnig na Sensus 2011 se syfers gekyk en gevind dat in ‘n klein areas van slegs 15,000 vierkante km is daar selde meer 8,000 mense waarvan die meerderheid wel “coloured” en Afrikaanssprekend. is. Wat my betref is hulle daar gevestig, en hou hulle besig met visvang en ligte boerdery. Of hulle wel ten gunste van wit instroming is betwyfel ek wel. Maar die vet weet, die tyd hardloop uit en na 2025 kan ons maar ophou planne maak en probeer om net van dag tot dag te bestaan.

ZAR ·

Ek wil net byvoeg hier dat Afrikaners met ‘n besluit gaan sit, selfbeskikking of immigreer, want die regering wil jou nie hê nie, net jou geld. Die regering maak geld uit die witman se dood danksy boedelbelasting. So wil jy in ‘n vreemde land met vreemdes gaan bly waar alles werk of wil jy in jou land saam met jou mense bly wat jy weer moet opbou? Jy het ‘n ander alternatief, vreet alles op wat die regering na jou toe gooi.

Deon ·

Realis, Orania is net sowat 8 vierkante km groot, so al die Afrikaners kan nie daar inpas nie, tensy ons ondergronds gaan. Korporatiewe selfbeskikking skep geisoleerde gemeenskappe wat bitter moeilik gaan wees om vanuit ‘n sentrale punt te beheer. Wie gaan beheer aanvaar, ‘n rasgedrewe volksraad wat aan die parlement moet verslag doen?

humor ·

Ek hoop met my hele wese dat hierdie ambeeld van nouaf knaend, hard, en duidelik met oorgawe geslaan sal wrod. En nie net op parlementere vlak nie, maar ook deur bugerlike verteenwoordiging, selfs dat dit die polsslag van elke huishouding sal wees. En natuurlik ook op internasionale gebied. Soos wat nasionalisme tans otwaak en groei ,sal daar gewis iewers na ons geluister word.

Deon ·

Absoluut humor! Dit is dalk tyd om die FN ook in die parlement te kry om vuur te maak onder die VF+. Dink net, die twee partye kan mekaar takel in die parlement oor al die definisies van selfbeskikking. Selfs die EFF kan besluit dat die Boere eerder die pad alleen moet loop. Die ANC speaker kan dan ‘n Kommissie vra om die moontlikheid te ondersoek.

Rasper ·

Ek het nou al my kommentaar ‘n paar keer oorgetik. Wil so baie sê, wil so baie doen. Ek sien ‘n kers wat al korter brand…. Hopelik eendag in my leeftyd nog, sal selfbeskikking meer wees as planne op ‘n tafel, maar ‘n plek waar ek my tafel kan neersit.

DewaldS ·

Goeie* en leersame artikel Baie dankie, Herman

*Net vir die rekord – ek is nie spesifiek ‘n VF plus ondersteuner .

DewaldS ·

En ek stem ook nie saam dat die Russe die Krim-skiereiland afgeneem het nie. Die mense wat daar woon het op ‘n demokratiese (hoe ongewoon!) manier gekies om deel van rusland te wees. En histories maak dit ook baie meer sin dat dit deel van Rusland is.

Afrikaner ·

Vergelyk dit nou met die DA en Maimane se verkiesingsmanifes, dan is daar mos nou nie ander keuse nie betreffende die realiteite gegewe die diversiteit in die land.

Sê maar net ·

Gisteraand lees ek tydens my Bybelstudie Exodus 19:5 “…want die hele aarde is myne.” Dit was God se woorde aan Moses toe Hy hulle uit Egipteland deur die woestyn na Kanaan gely het. Waarom moet die Blankes opskuif na ‘n hoekie van Suid-Afrika toe om plek te maak vir volke wat uit Midde-Afrika na SA geëmigreer het? En in die proses alles afgebreek het wat ons voorouers met groot opoffering en moeite oor die eeue tot stand gebring het? God sal self besluit watter deel van sy aarde Hy aan watter volk gee. Lees maar net wat die Siener ook hieroor sê (en die blye afloop) en ons sal begryp dat God steeds met ons oppad is – tans deur die woestyn heen. Kom ons kyk liewer boontoe as rondom ons. En nee, ek is nie regs of selfs verregs nie – net gelowig.

Dries du Toit ·

Daardie vorme van selfbeskikking kan net afgedwing of onderhandel word indien die meerderheid van die minderheid bymekaar staan en stem. Die VF+ gaan alleenlik n mandaat hiervoor kry indien hy kan se hy praat namens die meerderheid blankes of Afrikaans sprekendes. Maar indien die blankes verdeel is en verdwyn in n party soos die DA sal selfbeskikking in die niet verdwyn

marco polo ·

Nou waar is daardie geografiese selfbeskikkingsgebied? Ek wil in die nabye toekoms aftree en teruggaan na SA en wil dan in daardie gebied wees.

Dries du Toit ·

Marco Polo. Daar is al twee dorpe waar selfbeskikking tenvolle uitgeleef word. Orania en Kleinfontein. Maar totale onafhanklikheid kan net onderhandel word as die minderheid saamstaan om getel te word. Dit help niks indien die kiesers wat hierdie ideaal van selfbeskking graag wil sien maar dan in die see van beloftes van die DA gaan versuip nie. Hierdie ideaal word erken deur die wereld as n volksreg maar ons kan net praat as n minderheid as 80% van daai minderheid as n eenheid saamstaan. En dit is hoekom ons die VF+ moet ondersteun. Gee hulle n sterk mandaat om ons oral in die wereld te verteenwoordig

Liza ·

Dries, Orania en Kleinfontein is slegs vestings en alles behalwe potensieel voortuitstrewende nasie state wat ‘n verskil kan maak. Ek het al deur Kleinfontein gery en was alles behalwe beindruk. Vir ‘n selfregerende gebied is die groote van Israel of selfs die Kruger Wildtuin nodig, nie die 4 vierkante km van Kleinfontein of die 8 vierkante km van Oranje nie. Ek wag steeds in spanning vir die VF+ se leierskap om die Parlement as platform te gebruik om die bal aan die rol te kry. Maar na 25 jaar sal seker niks gebeur nie. Dalk is Front Nasionaal wel die beter opsie vir Afrikaners wat in selfbeskikking glo.

Zef Leppard ·

Dries. Die volgende twee realiteite gaan nie verdwyn nie. 1. Die meerderheid Afrikaners stel nie in selfbeskikking belang nie. Die verkiesings uitslae bevestig dit. 2. As jy in hierdie land wil bly is daar net een party wat wat vir jou n “Suid Afrikaanse” toekoms kan bied. Dis die DA. Maar dan moet jy berus by die feit dat die voormalige heersers met hulle “Master moraliteit” en die voormalige onderdruktes met hulle “Slaaf moraliteit” mekaar sal moet vind en n nuwe tipe toekoms uitwerk wat vir almal werk. Dis wat ek dink net die DA kan doen. Dis die enigste party waar “gematigdes” van albei kante bymekaar kom. As jy enige iets anders wil hê, gaan jy dit NOOIT meer in hierdie land kry nie. Dit sal jou baat om eerder na n land te gaan waar die meerderheid jou eie tipe moraliteit deel. Ek is nie eintlik seker of daar meer so n plek op aarde is nie. Almal is n “mix” deesdae. Sorg maar net dat die waarmee jy vereenselwig in die meerderheid van daardie land is.

marco polo ·

Dankie Liza, jy verwoord presies my gedagtes. Ek was al in Orania en het baie daarvan gehou, maar as ons net in nedersettings tussen die meerderheid gaan bly, gaan ons steeds verswelg word. Ons benodig ‘n gebied waar ons die meerderheid kan wees en ons kultuur kan uitleef. ‘n Rasgebaseerde gebied gaan ons nerens bring nie, maar as ons ander Afrikaanssprekendes ook kan insluit, kan dit haalbaar wees. Ek is opgewonde oor die VF se besluit om vir Pieter Marais hul premierkandidaat in die Weskaap te maak. Dis die tipe denke wat nodig is, nie kleindorpie gedagtes nie.

Liza ·

Marco Polo, jy het ook al genoem die noord weskus is ‘n alternatief. Daar woon bruinmense en persoonlik glo ek hulle moet daar bly. Hulle is Afrikaanssprekend, deel van die streek, sukkel ook met die Ingels en steun op die see en grond om ‘n bestaan te maak en hul kinders groot te maak. Ek glo tog die meerderheid regdenke Afrikaners is nie rasbehep nie. Die situasie in die binneland raak soms onuithoudbaar en jaar in jaar uit is dit SEB, EE en taal issues by skole. Om daarteen te baklei teen die meerderheid is myns insiens ‘n mors van tyd en geld.

aj ·

Etniese verskille word toenemend meer prominent en dit word só verpolitiseer dat konflik (oorlog) onafwendbaar is.

Afskeiding van sekere etniese en /of geografies groepe van die eenheidstaat sal die DRUK verlig en moontlik geweld (oorlog) kan voorkom.

Dit wat Herman hier bó skryf is belangrik!

Dries du Toit ·

Liza ek respekteer die feit dat daar wel mense is wat die daad by die woord gevoeg het en hierdie gebiede of vestings gestig het. Dit is bitter klein maar groei daagliks. Om hulle te skel doen ons saak niks goed nie. Jy moet ook besef die VF+ se magte was so beperk as gevolg van die feit dat die meeste blankes agter die liberale DA aangehardloop het en indirek vir die VF+ n vinger gewys het en geglo het in die reenboognasie van die DA. Die VF het geweet dat dit n kwessie van tyd is dat die Afrikaner gaan agterkom dat die DA nie sy belange op die hart dra nie. ONS IS NOU DAAR. As die VF+ n goeie en sterk mandaad gaan kry sal hulle met oorgawe baklei vir daai selfbeskikking

Liza ·

Dries, ek skel beslis nie op die mense van Kleinfontein nie, maar ons moet groter dink. Ja, die DA het baie Afrikaners onnugter, maar die party het ook groter ambisies en die Afrikaners pas nie strategies hierby in nie. Hulle het aanbeweeg en ons moet dit so aanvaar. Die VF+ moet ook besef dat tyd is ‘n luukse wat ons nie het nie. Hulle moet nou van die heup af skiet, want groepe soos die FN kan ondersteuners trek en wanneer die Suidlanders en ‘n paar meer militantes ook op die wa spring gaan dit die Afrikaners verder verward en verdeeld laat. Draai die horlosie terug na die groot rebellie toe dit Afrikaner teen Afrikaner was. Dit is iets wat ek nie wil sien en sal dan maar liewer na Swakopmund verhuis.

Frik Lotz ·

VF Plus is die vaandeldraer van selfbeskikking en is die logiese groeiende alternatief om voor te stem.

Karin ·

Mag so wees Frik, maar dan moet hulle begin werk maak vir geografiese selfbeskikking. Die venster is besig om toe te gaan, moontlik nog 5 tot 8 jaar, dan is dit te laat. Die vraag is steeds, wat het die VF+ die afgelope 25 jaar gedoen vir geografiese selfbeskikking?

Grassie ·

Ek sou so graag ek leef in ‘n wit selfregerende tuisland wou woon maar ek sukkel om die geografiese ligging daarvan te bepaal. Orania en Kleinfontein is net twee speldpunte op ons landkaart. Ek kan aan geen ander plek dink waar daar meer witmense as ander woon nie. Ek dink die ANC lag in hul mou vir ons geskarrel om ‘n onwaarskynlike plan uit te voer. Ons volk is versprei oor die lengte en breedte van die land. Al waaraan ek kan dink is dat ons in hierdie fase van ons volksgeskiedenis liewers moet probeer om ‘n sterk volksgroep in die land te vorm en uit te bou, ‘n volk sonder vaste grense. ‘n Mens kan dit ‘n virtuele volkstaat noem. Ons is in ‘n ernstige oorlewingstryd gewikkel. As ons nou kan saamstaan en na ons taal, Godsdiens, kultuur, opvoeding van ons jeug en mekaar se veilgheid en welstand omsien kan ons die huidige aanslae op ons oorleef en sal daar sekerlik iewers in die toekoms uitkoms wees. Ons moet net onthou, ons is minder as 10% van die bevolking en die ander 90% gun ons nie eers die lug wat ons inasem nie. Dit gaan ‘n taai stryd wees.

Herman Toerien ·

Hallo Grassie. Goed om weer van jou te hoor. ‘n Mens moet net onthou dat in gevolge die grondwet en die internasionale reg is ‘n ras-gebaseerde volkstaat nie ter sprake nie, maar ‘n taal- en kultuurgebaserde entiteit. Dit is bv deur Kleinfontein duidelik uitgespel toe die DA-jeug daar gaan betoog het, en die DA op senior vlak toegegee het Kleinfontein druis nie teen die grondwet in nie. Daar is wel histories iets soos 26 bruin landelike gebiede, waarvan sommige soos Mier baie groot is, en ander, soos Genadendal en Thaba Patchoa betreklik klein. Ebenhaezer het as ek reg onthou geld eerder as grond met restitusie ontvang. Op universiteit het ek geleer hulle is gesamentlik sowat ‘n miljoen Ha groot maar ek kry nie ‘n bron wat dit bevestig nie. Die grootstes is byna almal in baie droë gebiede. Ek weet nie of die Khoisan se restitusiegronde hierby gereken is nie, maar ek dink nie so nie. Ek dink die virtuele staaat waarna jy verwys is wat as korporatiewe selfbeskikking bekend staan. Die VF+ se beleid maak daarvoor ook voorsiening, maar noem dit nie op daardie naam nie. Ek glo jy en ander lesers sal verstaan dat ek wel sekere staatsvorme kan bekend stel, maar nie partydig vir ‘n party kan wees nie. Partye en hul lede moet self hul saak hier stel.

Afrikaner ·

Herman, en dan, soos gister hier op Maroela berig, is die DA en Mmusie Maimane toetentaal gekant teen ‘n party wat ‘n taal- en kultuurgebaseerde entiteit voorstaan. (Maar natuurlik sal hy wees, net soos met SEB, anders het hulle erge probleme.)

Johannes ·

Sou graag opinies wou hoor oor die volgende. Ek verstaan dat daar ‘n tweede referendum moes plaasvind wat nooit gebeur het nie. Beteken dit dus:

Dat die Afrikanervolk verraai en uitverkoop is?
Dat die bewindsoorname deur die ANC/SAKP onwettig was en steeds is – maw, dat die huidige bewind is onwettig en tegnies hoef die Afrikanervolk hom nie te onderwerp aan hierdie regering nie?
Volgens internasionaal aanvaarbare praktyke en wette, waar los dit ons as Afrikanervolk? Mag ons op bv. aanspraak maak op die herstel van die laaste internasionaal erkende Boere Republieke?

Cherokee ·

Johannes, my persoonlike opinie is dat die ‘tweede referendum’ stories vertel word deur ja-stemmers wat hul gewetes wil salf.

Gert ·

Dankie Herman dat jy hier so mooi die ander kant van die muntstuk wys, teenoor MMusi se skandelike stelling dat mens nie mag stem vir ‘n party wat jou volk se belange bevorder nie. Vir my is dit verraad om as lid van ‘n minderheidsgroep te stem vir ‘n party wat optree spesifiek teen jou volk se belange in die parlement.
Daar moet ‘n beter bedeling vir Afrikaners kom, en definitief gaan dit nie gebeur via die DA nie.

ZAR ·

Dankie vir jou skrywe Herman, ek is ‘n groot aanhanger.
Net een ding, jy het hier met baie woorde gekom wat ek nie verstaan nie, en ek het my woordeboek verlê, ek sal hierdie politieke terme graag wil verstaan, maar is maar ‘n jan-alleman.

Dries du Toit ·

Dankie Herman. Ek wil glo dat solank ons oor selfbeskikking in welke vorm ookal kan praat is daar hoop vir ons. Dan glo ek ook dat as ons saam kan staan onder die vaandel van n eerbare politieke party soos die Vryheidsfront en ons kan nog n paar intelligente lede parlement toe stuur, wat saam met organisasies soos Afriforum, Solidariteit en goeie ander denkende organisasies kan sit en planne maak om vir ons nessie te skrop waar ons die reg het om na onsself te kan omsien en weer n gerespekteerde volk in die wereld te word

Stephan de S ·

Dankie vir die artikel Herman en dankie vir al die eerlike en opregte deelnemers aan die debat. Mag hierdie debat uiteindelik nuwe hoop gee en op n uitvoerbare strategie uitloop en genoeg steun verwerf.

Marietjie Blignaut ·

Uiteindelik begin skrywers en die media veral erkenning gee aan VF Plus se beleid oor selfbeskikking. Hulle is die afgelope 25 jaar dood geswyg. Verdagmakery van FN is egter so onvanpas. SB is ‘n baie moeilik begrip vir meeste mense. Indien die VF+ genoeg steun gehad het sou hierdie konsep al jare terug op die tafel gewees het, maar nee toe stem almal mos DA. Gelukkig word die DA nou geken aan hul onvoorspelbaarheid. FN het 5 jaar gelede ook nasionaal deelgeneem aan die verkiesing en hul dure deposito alles verloor. Pleks hul liewer hul 5000 stemme by VF+ voeg en help bou aan VF+ se ideaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.