Nuuskommentaar: Selfverdediging skiet selde tekort

(Argieffoto: Max Kleinen)

Die afgelope Saterdag het ʼn lid van die publiek een van vier rowers wat op ʼn juwelierswinkel in Centurion Mall toegesak het, geskiet. Minder as ʼn maand gelede het Pieter van der Westhuizen ook uit selfverdediging twee rowers tydens ʼn gewapende rooftog in ʼn kerk doodgeskiet.

Lede van die publiek wat met selfverdediging op misdaad reageer, is die afgelope tyd al meer in die nuus. Vroeër vanjaar het AfriForum op sy mediakonferensie teen plaasmoorde dieselfde tendens uitgewys. Ian Cameron, destydse hoof van gemeenskapsveiligheid, het opgemerk dat slagoffers van plaasaanvalle toenemend hul aanvallers teenstaan en hulle soms selfs afweer met selfverdediging. Cameron het genoem dat hierdie syfer uiters bemoedigend is en dat mense die belang van selfverdediging móét verstaan.

Gegewe Suid-Afrika se misdaadstatistieke is dit nodig dat burgers nie net vertroud moet raak met die idee van selfverdediging nie, maar ook met die toepassing daarvan. Ons misdaadsyfers en die gepaardgaande ondoeltreffendheid waarmee die polisie dit hanteer, noodsaak burgers om na hulself om te sien. In 2018 was Suid-Afrika se moordkoers meer as ses keer die wêreldwye gemiddeld. Met sowat 58 mense wat elke dag in Suid-Afrika vermoor word, het ons ook die negende hoogste moordkoers ter wêreld.

Hoewel ons oor jare heen tot ʼn groot mate gedesensitiseer geraak het teen ons vlakke van misdaad, ís dit abnormaal. Ons leef in ʼn land waarin die verbrokkeling van die regering oorgespoel het na ons alledaagse lewens. Namate die regering verswak en daarmee saam sy verantwoordelikheid oor algehele wet en orde versaak, word die las op ons skouers as burgers al groter.

Ten spyte van ons misdaadstatistieke het ons egter nie ʼn ooreenstemmende wapenkultuur nie. Ondanks ons hoë moordkoers en algemene misdaadvlakke besit minder as tien burgers uit elke 100 mense in ons land ʼn vuurwapen. Suid-Afrika het 5,3 miljoen wapens in burgerlike besit met slegs 3 miljoen daarvan in wettige besit. Hierdie syfers maak burgers nie net meer weerloos nie, maar kriminele ook meer weerbaar. Byna die helfte van die wapens in burgerlike besit is onwettig. Dit is waarskynlik veilig om te aanvaar dat die meerderheid hiervan in kriminele se besit is.

Dit is weens streng regulering en ʼn onvriendelike regering veral moeilik om in ons land op ʼn wettige wyse ʼn vuurwapen te bekom en te besit. Regulering maak dit moeiliker as nodig vir wetsgehoorsame burgers om vuurwapens te bekom vir selfverdediging. Die regering se negatiewe retoriek teenoor wapenbesit skep verder ʼn negatiewe wapenkultuur is die land.

Ons eie minister van polisie, Bheki Cele, het al by verskeie geleenthede genoem hoe wonderlik dit sal wees om ʼn wapenvrye Suid-Afrika te hê. Cele kryt burgers gereeld daaroor uit dat ons die probleem van geweldsmisdaad in ons land aanvuur deur wettige wapenbesit. Volgens Cele is dit dié wettige wapens waarmee kriminele uiteindelik misdaad pleeg. Tog is dit weens die polisie se roekelose nalatigheid dat hulle self sedert 2013 sowat 9,5 miljoen patrone en 4 357 vuurwapens verloor het. Die polisie self is een van die grootste bronne vir die verskaffing van onwettige ammunisie, nie die burgery nie.

Dit beteken egter nie dat alle Suid-Afrikaanse burgers volledig uitgelewer aan ons misdaadvlakke bly nie. In Suid-Afrika is dit veel meer algemeen dat mense weens die verbrokkeling van die polisie hul veiligheid aan private maatskappye uitkontrakteer. In 2013 reeds was die private sekuriteitsbedryf met 9 000 maatskappye en 400 000 geregistreerde sekuriteitswagte groter as die polisiemag en die weermag gekombineer. Teen 2017 het burgers 133% van die regering se begroting vir die polisiemag op private sekuriteit bestee. Dit het Suid-Afrika se private sekuriteitsbedryf per capita die vierde grootste ter wêreld gemaak.

Die ding wat onlangse nuusgebeure ons egter geleer het, is dat ʼn mens dit nie altyd kan bekostig om vir private sekuriteit te wag nie. Selfs die doeltreffendheid van private sekuriteitsmaatskappye taan teen die dodelike snelheid van selfverdediging.

Dit is daarom belangrik dat ons ten spyte van die negatiewe wapenkultuur wat die regering aanmoedig, sélf ʼn positiewe kultuur van wettige selfverdediging kweek. Die oomblik wat wapenbesit krimineel – of selfs net taboe – is, besit slegs kriminele wapens. Deur wapenbesit, ʼn verantwoordelike wapenkultuur en wettige selfverdediging aan te moedig, sal ons die magsverhouding tussen kriminele en burgers self kan herstel. Private sekuriteit moet daarom nie gesien word as alternatief tot selfverdediging nie, maar eerder as bykomend.

Sun Tzu was ʼn antieke Chinese generaal en militêre strateeg wat reeds 500 jaar voor Christus sy boek Die Kuns van oorlog geskryf het. Die lesse uit die boek is nietemin vandag steeds relevant:

“Krygskunde leer ons om nie staat te maak op die waarskynlikheid dat die vyand nie gaan kom nie, maar op ons eie gereedheid om hom teen te staan; nie op die kans dat hy nie gaan aanval nie, maar eerder op die feit dat ons ons posisie onaantasbaar gemaak het.”

Verlede jaar was die polisie se algemene reaksietyd tussen 17 en 20 minute. Private sekuriteitsmaatskappye kan binne minute met gewapende reaksie reageer. ʼn Pistool aan jou sy se reaksietyd is sekondes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jaco ·

Een ding word nie in die berig genoem nie: die ras van die persoon wat uit selfverdediging skiet. As daardie persoon wit is, lê GROOT probleme vir hom of haar voor.

Cherokee ·

Jaco, weeg die GROOT probleme op teen die GROTER probleme wat kon wees indien nie geskiet is nie. Die antwoord is tog logies.

Danie ·

Maar natuurlik is die burgers weerloos want wapenlisensies word links en regs afgekeur vir geen rede nie.
Ek het nie genoeg vingers om te noem hoeveel persone ek van weet wie se lisensies lukraak afgekeur is en geen maar geen kans gegun word om te apelleer teen die besluite nie.
Eerstens word net geweier om redes te verstrek en tweedens raak papierwerk net weg.
Dis mos makliker om ongewapende mense te vermoor en van plase te verjaag.

Persheks Adri ·

Dis juis hoekom ons wapens dra en nie gaan huiwer om dit te gebruik nie! Die SAPD is die wat skuldig is nalatig is en groot hoed probeer ons blankes ontwapen… Mense hou julle wapens en moet dit nie gaan in gee nie asb ek weet dis frustrerend om aansoek te doen, maar ons moet dit doen sodat ons ons mense kan beskerm en onsself in vandag se lewe

Niklaas ·

Die gevoel bestaan gewis dat selfverdediging teen aanvallers, wat dan gewond of gedood word, gaan lei tot maande lange probleme. Al moes jy jouself verdedig het.

Cherokee ·

Okay, dan moet jy vir jouself besluit of jy inbrekers wil face of die ‘maande lange probleme’. Ek weet nie waarom julle dit ophaal, want die antwoord is voor die hand liggend.

Jakes ·

Die berig plaas klem op burgers om hulself te beskerm of te verdedig tydens misdaad wat verblydend is. Daar is egter duisende vuurwapens in omloop wat onwettig is en wat deur gewetenlose skurke gebruik word. Strawwe vir onwettige wapens is gans te lig en moet minimumm van 15 jaar opgele word vir die besit van so n wapen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.