Nuuskommentaar: Sesessievlaag oor die wêreld

aardeTerwyl die land asem ophou oor die veelbesproke Nkandla-verslag, en waarnemers gal by hul koffie inroer oor die ANC se klimaatskepping om skade te beperk – wat die diskreditering van die Openbare Beskermer insluit – staan die res van die wêreld nie stil nie.

En ja, daar is lewe, belangrike lewe, en veral dood buite die krisis in die Oekraïne. ‘n Belangrike verwikkeling is pres. Bashar al Assad van Sirië se strategie om opstandelinge te laat verhonger.

Maar min of meer buite die oog van die internasionale en plaaslike media is daar ‘n interessante verskynsel – die verskynsel van sesessie.

Afgesien van die veelbesproke Krim wat – ongeag hoe bedenklik die omstandighede waaronder gestem is – tot die sesessie van die Oekraïne gestem het, met die oog op aansluiting by Rusland, is daar dié week, tot Sondag, ‘n referendum in Venesië en omgewing oor afskeiding van Italië.

Oor ses maande gaan die Skotte na die stembus in ‘n referendum oor afskeiding van die Verenigde Koninkryk.

In Spanje wil die Kataloniërs ook referendum hou om af te skei.

In Quebec het die premier ‘n vervroegde algemene verkiesing laat uitroep wat algemeen as voorbereiding vir ‘n referendum beskou word om van Kanada af te skei. Die uitslag van die verkiesing sal bepaal of die referendum – die derde reeds – oor afskeiding gehou sal word.

In Vlaandere het die grootste party die woord “konfederalisme” afgestof. Die doel is eerder die bespreking daarvan as formele beleidstelling. Sou België uiteindelik ‘n konfederasie word, beteken dit dat Vlaandere vir alle praktiese doeleindes weer ‘n onafhanklike land, en deel van die internasionale gemeenskap word. Ook die Duitssprekende gemeenskap in België vra groter outonomie.

Dit was ook net ‘n kwessie van tyd voor Rusland die hoofsaaklike Westerse steun vir die onafhanklikheid van Kosovo van Serwië, teen die Westerse teenkanting teen onafhanklikheid (en vrywillige opname in Rusland) teen die kop sou slinger.

Sesessie is waarskynlik die mees ingrypende vorm van selfbeskikking vir minderheidsgemeenskappe, en daarom is die internasionale reg oor die kwessie bitterlik kompleks, en kom dikwels as erg lukraak voor. Terwyl ‘n groot deel van die wêreld op ‘n tweestaat-oplossing vir die Israels-Palestynse kwessie aandring, het min of meer dieselfde state hulle verbete teen die onafhanklikheid van Suid-Afrikaanse tuislande verset. Trouens, die ANC self is ‘n goeie voorbeeld van hierdie skynbare teenstrydigheid.

Suid-Soedan se afskeiding van Soedan is deur die internasionale gemeenskap aanvaar, en so ook die onafhanklikheid van Eritrea van Ethiopië.

Nog talle voorbeelde kan genoem word.

Die enigste deel van Somalië wat min of meer normaal funksioneer en selfs demokratiese verkiesings hou, is die deel langs die Rooi See wat as Somaliland bekend staan. Tog erken die wêreld slegs die regering van die min of meer chaotiese Somalië wat sukkel om beheer oor sy eie grondgebied langs die Indiese Oseaan te verkry, laat staan nog oor Somaliland. Intussen regeer die gebied op en rondom die Horing van Afrika homself as die Land Punt, hoewel dié gebied homself as deel van Somalië beskou.

Daar is inderdaad erge dubbele maatstawwe. Wat die Krim betref, hamer die VSA daarop dat die Oekraïne se grondwet bepaal dat die ganse Oekraïne moet stem oor afskeiding van enige deel. Omdat die Krim die referendum tot inwoners van die Krim beperk het (wat in elk geval sy eie parlement en selfregering gehad het), word dit nie erken nie. In die geval van Kosovo is dit ondenkbaar dat die VSA en sy bondgenote sou aandring daarop dat nie net Kosovo se inwoners nie, maar ook dié van Serwië, oor onafhanklikheid vir Kosovo moes stem. Navo het immers ingegryp om erge volksmoord op die Kosovare te stuit.

Spanje se teenkanting teen Katalaanse onafhanklikheid word ook verskans in die (grondwetlike) aandrang dat die hele Spanje oor die kwessie moet stem, terwyl die Kataloniërs die stemming verstaanbaar tot hul eie geledere wil beperk.

Tog moet daarteen gewaak word om appels met pere te vergelyk om te probeer bepaal wat die volkeregtelike voorvereistes en implikasies is, veral as afskeiding ‘n eensydige proses is. Onder die faktore waarna gekyk word, is of die groepering wat afskei aan onderdrukking onderhewig is, en of die gebied wat afskei op sy beurt weer teen minderhede gaan diskrimineer.

Wat die Krim betref, word die lot van die Krim-Tatare, vir alle praktiese oorwegings die oorspronklike inwoners maar nou ‘n minderheid, oor die hoof gesien. Hulle het onder die Oekraïne ‘n eie parlement gehad wat oor mense, eerder as grondgebied, gesag gevoer het (korporatiewe selfbeskikking), en hulle het die referendum geboikot. Die Russiese meerderheid in die Krim beskou die bestaan van hierdie liggaam as ‘n vorm van verraad. Gaan Rusland die Krim-Tatare se gesagsliggaam erken?

Kosovo het afgesien van ‘n Serwiese minderheid, ook ander minderheidsgemeenskappe, soos die Turke. Daadwerklike pogings is aangewend om hierdie minderheidsgemeenskappe met regte, soos taalregte, te bedien ter wille van internasionale erkenning. Trouens, daar is ‘n liggaam wat min of meer dieselfde funksies het as Suid-Afrika se Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Taal-, Godsdiens en Kultuurgemeenskappe. Berigte oor hoe doeltreffend Kosovo sy minderheidsregte laat beslag kry, is erg teenstrydig.

Die pro-onafhanklikheidsgroep in Skotland meen die Noordsee-olievelde sal nie net Skotland ekonomies lewensvatbaar maak nie, maar ook welgesteld.

So kon Groenland groter selfregerende status van Denemarke verkry weens groter lewensvatbaarheid, wat deur die terugtrekkende ys moontlik gemaak word. Talle gewasse kan nou weer na eeue onder die ys weer geproduseer word, terwyl voorheen ontoeganklike potensiële olievelde binne bereik kom.

‘n Groep sal moeilik die wêreld oortuig dat hy die noodsaak en reg tot sessie het as die internasionale gemeenskap hom nie goedgesind is nie. Om die “moederland” en veral die regering daarvan internasionaal te diskrediteer, is een manier, maar so ‘n veldtog se doeltreffendheid is beperk as die groep wat wil afskei, nie self ‘n positiewe beeld in die internasionale gemeenskap dra nie. En ongelukkig kan radikale randakkers ‘n verwoestende impak op internasionale persepsies hê, en so hul groep se belange erg in die voet skiet.

Môre dien die Renate Barnard-saak voor die grondwetlike hof. Hoe die wêreld die uitspraak, ongeag die uitslag, gaan beskou, gaan in ‘n groot mate bepaal of die wêreld meen minderhede in Suid-Afrika ervaar diskriminasie. En het hierdie minderhede genoeg gedoem om hulself as fatsoenlik aan die wêreld te bemark? In dié stadium lyk dit of die ANC moeite doen om homself as nie-fatsoenlik aan die wêreld voor te doen, en die reaksie op die Nkandla-verslag gaan ook in daardie persepsie ‘n belangrike rol speel.

Vandag se Volksblad is in sy hoofartikel ook erg krities oor die wyse waarop die Vrystaatse Universiteit sekere aksies onder die vaandel van transformasie aanpak. “Die gevaar is dat die hele proses as ‘n nuwe marginalisering beskou kan word, of as ‘n ‘strooptog’ – soos oud-primarii van Huis JBM Hertzog dit wel beleef.”

As transformasie verskanste minderheidsregte in die grondwet onderploeg, is “marginalisering” ‘n eufemistiese benaming vir ‘n ongrondwetlike proses.

Maar as verbode ontgroeningspraktyke die regte wat in terme van die grondwet uitgeleef word onfatsoenlik maak, word die belange van minderhede verswaar.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Helizna Kilian ·

Is hierdie in Engels beskikbaar vir deel met oorsese vriende?

whitey ·

Intussen wil baie state in Amerika- asook Texas- Sesseer van die “union” af.Interressant- hier in ons eie geledere het die Engelse die twee Boere Republieke sonder die Boere se toestemming eenvoudig gesteel en “ingelyf” by die “Unie van Suid Afrika”- maar steeds weier al die opvolgende regimes hardkoppig dat die twee Boere Republieke afstig- wat hulle wettige REG is omrede die twee wettig- kart en transport- gekoop is deur die Boere omrede die Zioniste in Engeland steeds ons minerale in transvaal steel en wegkarwei Britanje toe.Die blnkes onder sg “Apartheid”- het aan die swart volke ALMAL hul eie tuslande gegee- en nieteenstaande “hewige” media gebalk oor die tuislande- het kwa-Zulu Natal TOG soort van “afgestig”- maar die vervloekte ANC kommuniste en hulle handteerders in Wall Straat skop vas teen die Boere wat STEEDS hul eie Volkstaat soek. Interressant is dit JUIS meeste van die lande wat so HEWIG teen “Apartheid” gebler het- wat nou SELF “Apartheid” wil he en nie meng met hulle kriminele Zionistiese heersers nie. gepraat van “dubbele standaarde?” Miskien WAS “Apartheid” nie so sleg nie- want sien- wat die “Apartheid” diewe wat so teen die blanke regering was- NIE gese het nie- was dat die BLANKES meeste van die kostes gedra het vir al die swart universiteite, skole, klinieke’ grootste hospitale soos baragwanath, byna AL die swartes werk gehad het en die hoogste inkomste per kapita in Afrika se swart lande gekry het, meeste karre gehad het, ens. “Apartheid” het in Britanje se liberale media begin om diSA wit regering omver te werp dat die skelms soos Oppenheimer en rupert ons minerale vir die NWO kan beheer- hulle het ZIP vir die ” arme” swartes gevoel nie- die dat die ANC nie eers die HELFTE vir swartes doen as wat die wittes gedoen het nie- ONGEAG die leun propaganda van NASPERS en die liberale gespuis media oorsee se propaganda.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.