Nuuskommentaar: Sien jou in die hof … of dalk die tronk

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

In ’n grondwetlike demokrasie waar die oppergesag van die reg geanker is, is dit eintlik te wagte dat die (onwillige) howe baie besig gehou sal word oor uitkringende aspekte wat wissel van die handhawing van menseregte, die behoorlike funksionering van ’n politiek onafhanklike regstelsel, en die handhawing van grondwetlike vereistes deur die regering.

Staatskaping het vierkant in die pad hiervan kom lê en word nou deur ’n kommissie ondersoek, maar die ontrafeling gaan tyd vat. Intussen is daar ’n groeiende ongeduld by die publiek oor hoekom die oranje oorpakke nog nie op groot skaal uitgedeel word nie.

“Die hof is ’n gawe plek om te makeer.”

“Bly weg uit die hof – daar is net verloorders.”

“Of jy wen of verloor, hang nie af van wie se saak die beste is nie, maar wie die beste prokureur kon bekostig.”

Dít is maar enkele uitdrukkings om aan te toon dat daar by baie Suid-Afrikaners ’n tradisie is om weg te bly uit die “koort”. Ongelukkig is ’n newewerking dat kansvatters dikwels spreekwoordelik met moord wegkom, terwyl die funksie van die hof grootliks is om reg en geregtigheid te laat geskied in ’n omgewing waar almal veronderstel is om gelyk voor die hof te wees.

’n Vraag wat al hoe meer gevra word namate die Zondo-kommissie na staatskaping die kwessie oopvlek, is: As dit so gegaan het, waar is die oranje oorpakke dan?

Pravin Gordhan. Foto: Tracey Adams/ANA

In ’n artikel op Maroela Media op 20 November skryf dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, ophelderend oor die kwessie. Hy skryf onder meer: “’n Mens hoor dikwels in die gewone omgang: ‘Cyril het nie vinnig genoeg beweeg om korrupsie en staatskaping te beveg en te beëindig nie. Hy moes so en so lankal in die tronk gesit het.’” Hy vervolg dan om te verduidelik waarom dit nie so maklik is nie.

Die media, in baie opsigte die waghond van ons samelewing, kry vandag in verskeie mediaberigte die wind effe van voor. Hieronder val ’n artikel van Max du Preez wat volgens hom die EFF al jare lank met ruim publisiteit bygestaan het. Die bekende Judith February pak die saak uit ’n ietwat ander hoek, maar wys tog ook uit dat elemente in die media deur die lawaaimakers geïntimideer word om uit hul gesangeboek te sing of as agente van apartheid, en so meer, beswadder te word.

Eerder as wat staatskapers voor strafhowe teregstaan, word die howe se drumpels deurgetrap deur mense wat hul rieme styfloop en die howe op strepe nader om hul betrekkings te probeer hou. Tom Moyane, afgedankte hoof van die Inkomstediens, is hier ’n prominente eksponent.

’n Tweede “linie” is mense soos onder andere oudpres. Jacob Zuma wat danksy meevaller op meevaller ruim uit die staatskas kan skep om vir sy regsverteenwoordiging te betaal. Die howe self het nou al ingegryp en Zuma sit met ’n onaptytlike rekening om te vereffen. Oor die werklike duur sake moet die howe nog beslis.

Dit sal ook interessant wees om die uitkringeffek van die uitdiensstelling van Shaun Abrahams as direkteur van nasionale vervolging te volg. Gaan dit die stremmende uitwerking op die aanpas en uitreiking van oranje oorpakke verlig? Die verwagtinge is hoog, maar sou dit wel gebeur, kan dit ongelukkig nie oornag geskied nie.

AfriForum het op verskeie maniere die klip in die maag probeer verwyder, onder meer deur die aanraak van aksies wat die indruk verskerp dat die EFF en sy “commander in chief” bo die reg verhewe is. Aanvanklik is AfriForum baie wyd verkwalik, maar Julius Malema het die vuur so bly stook dat simpatie vir pogings om hom aan die pen te laat ry, oor ’n veel wyer front steun ontvang. Adv. Gerrie Nel se private vervolgingseenheid hou die veronderstelde vervolgers reeds veel meer op hul tone.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: ANA

’n Verdere nuwe dimensie is losgelaat toe min. Pravin Gordhan verskeie strafregtelike klagte teen Malema en Floyd Shivambu ingedien het. Dit is eintlik kommerwekkend dat Malema nog nie strafregtelik vervolg is vir die optredes wat tot dié klagte gelei het nie. Die naaste wat daaraan gekom is, is dat Malema en die EFF nou al beduidende bedrae aan regskoste aan AfriForum moes betaal het, en op die oog af nog veel groter bedrae sal moet hoes.

Die nuwe dimensie kry boonop nog ’n hupstoot met Malema se reeks klagte teen Gordhan. Soos die bekende politieke kommentator, Theo Venter, uitwys, dis eintlik laf omdat die klagte reeds twee keer teen Gordhan ondersoek is, en elke keer onttrek is.

Effens losstaande, maar uiters belangrik, is die regsaksie van AfriForum teen die parlement oor die hantering van ’n voorgestelde grondwetlike wysiging. Ondervinding leer dat ’n mens jou nie te veel aan die parlement en die ANC se uitsprake hieroor hoef te steur nie, want in die verlede het hulle nog bykans elke saakmakende saak oor grondwetlike optrede verloor. Wyle dr. Mario Ambrosini van die IVP en die DA het gesorg dat heelwat parlementêre praktyke gewysig en selfs geskrap moes word.

Die ou reëling dat slegs wetsontwerpe van die ANC vir oorweging ontvanklik sou wees, het byvoorbeeld in die slag gebly. Die huidige hantering van die vuurwapenwetsontwerp kan op die oog af ook in die howe teenspoed kry.

Net so is dit bitter belangrik vir die penne inslaan van demokrasie dat AfriForum se hofaansoek gunstig deur die howe aangehoor sal word.

Die nuwe wind wat waai, word nog erg genavigeer, en ongelukkig deur te veel navigators wat moontlik dieselfde bestemming in die oog het, maar nie dieselfde roete nie, en ook nie teen dieselfde spoed wil vaar nie.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

humor ·

As almal hul oranjepakke otvang het wie bly dan nog oor. Daar sal weer geskaaf moet word aan die begroting om almal aan die lewe te hou tot duskant sterfdag toe. In wysheid sal daar dan seker aan onderwyskant besny word.

Piet Smit ·

As almal oranjepakke ontvang sal daar ‘n nuwe party gestig moet word, want in die parlement is daar die met die rooipakke (EFF) en dan sal daar die wees met die oranjepakke.
Die parlement sal moet dink om hul drag regulasies te verander aangesien driekwart van die parlement in oorpakke geklee sal moet wees. Dit sal ‘n helse intressante besigheid wees.

Nadia ·

Die is ‘n belaglike kinder speeletjie. Een vir my een vir jou!!

Jacques ·

Benoude katte maak benoude spronge .Malema is in skok en wag vir die sapd om hom te kom haal .

Trojaanse Donkie ·

Jacques, Bly om te sien jy verwys na sapd in kleinlettertjies want dis al wat hulle probeer om te wees. Gaan ons ook verwys na die klein regtertjies wat die oukies oranje oorpakkies moet gee, siestog !

Jerry ·

Die roete en spoed na dieselfde eindbestemming gaan deur die wenner van die speletjie bepaal word. Hy gaan baie populer wees by die publiek en sal ook kan staatmaak op steun van die owerhede. Die verloorder “will just fade away”, maar sy idees sal voortleef.

Alida ·

Onthou om sy fopspeen saam te gee tronk toe. Hy is belaglik en probeer die aandag van VBS bank af hou.

Stripes ·

Wat my verbaas is dat malema toegelaat word om met sy haatspraak voort te gaan en sy trawante die blankes, op sy aandrang, kan aanrand en vermoor sonder dat daar iets van die regering se kant af gedoen word om dit te stop nie. As hierdie “haatspraak” skoen aan die nader voet was het die regering lankal al wat ‘n dept wat vuurwapens het gebruik om dit stop te sit. Vir my is dit ‘n verdere bewys dat CR dit ondersteun en dit deel is van ‘n verskuilde agenda.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.