Nuuskommentaar: Siesa, dié water maak dood

Foto: AfriForum

AfriForum het pas die oë laat rek met die omvang van ’n projek om die Vaalrivier se gevaarlike vlakke van besoedeling hok te slaan.

AfriForum is al gewoond daaraan om gereeld oor die een of ander kwessie deur te loop. Die organisasie is onlangs byvoorbeeld wyd veroordeel ná dit aangekondig het dat private vervolging teen Julius Malema ingestel gaan word sou die Nasionale Vervolgingsgesag verbrou.

AfriForum se pogings om druk in die buiteland te bewerkstellig om die regering van brouwerk te probeer weerhou, het onlangs ook teenspoed gekry – hoewel AfriForum uiteindelik meer gewen het as verloor het.

Soos gebruiklik was daar ‘n koor van kritiek maar van die kritici, duidelik teensinnig, het ook erkenning gegee aan die goeie werk wat AfriForum doen.

Dit is amper verkiesingstyd, en die regerende ANC sal stellig weer diep delf om sy gebruiklike “mooi storie” op te dis. Die grootste mislukking hiermee sedert die ANC aan bewind gekom het, is stellig die waterkwessie.

Gewoonlik is waterprobleme ’n ernstige klikbek oor ander probleme, soos dat die regering te min aandag aan instandhouding, soos byvoorbeeld rioolaanlegte, bestee, of onkundiges ’n gemors maak danksy die praktyk van baantjies vir boeties.

Soms is dit dodelik, soos die Delmas-sterftes getoon het en waar tifoïde die “moordenaar” was.  Soms hou dit ’n groot bedreiging vir die ekonomie in, soos boere in die Overberg wat hul uitvoerpermitte na die EU kan verloor omdat E.coli in die besproeiingwater (kan) voorkom.

Strandmere wat besoedel word, kan toerisme knou. Cholera, wat al in ’n plas in Soweto en in die Vaalrivier voorgekom het, word as die gevaarlikste bakterie in water beskou. Hoewel E.coli gewoonlik as sondaar uitgewys word, is dit nie die groot probleem nie.

Trouens, dit is ’n handige klikbek om te verklap waar die besoedeling die regte medium skep vir ander virusse, bakterieë en swamme. Wanneer E.coli opgespoor word, dui dit daarop dat riool in die water aanwesig is. Beesmis in die veld wat deur reën in waterstrome beland, speel ’n belangrike rol.

Die E.-coli in Suid-Afrika behoort tot ’n ander stam as die dikwels dodelike weergawe in die VSA wat in kitskos voorkom. (Die “klikbekke” moet egter nie onderskat word nie, aangesien dit wel iemand wie se weerstand weens MIV/Vigs of kanker afgetakel is, doodmaak. Dit blyk onder meer uit navorsingsyfers uit Kenia en Tanzanië, asook babas wat in Suid-Afrika doodgebore word.)

’n Lang lys van kieme wat in water kan voorkom, word hier uiteengesit. Die omvang van die probleem blyk daaruit dat die regering daagliks sowat 5 000 megaliter onbehandelde of half-behandelde rioolwater in riviere laat beland. Bykans 80% van die land se rioolaanlegte is stukkend of in ’n gehawende toestand, aldus AfriForum.

In ’n onderhoud met Pretoria FM se Klankkoerant het AfriForum voorts onthul watter belowende nuwe tegnologie ingespan gaan word, maar die produk is nie gratis nie.

Suid-Afrika is ’n waterskaars land. Die Wes-Kaapse droogte toon duidelik aan hoe skaars water druk op bronne kan plaas, en al hoe meer mense aan die gevaar van besoedelde water blootgestel word, tensy die provinsiale en plaaslike regerings behoorlik vinger trek. Navorsingsverslae durf nie weer op die rak te beland nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Celtis Africana ·

Watter hoop het ons tog dat hierdie regering op enige vlak aandag sal gee aan die situasie?
Kundigheid soos Dr. Anthony Thurton is jare gelede die trekpas gegee en dit is hoofsaaklik onbekwame politici wat in beheer is.
Afriforum se onbaatsugtige werk op haas elke vlak van die samelewing laat n mens eenvoudig jou hande saamslaan vir die groepie se energie, sin vir geregtigheid, liefde vir die helhool en ons as minderheidsgroep.
Tog, dit kan net tot op n punt geskied. Elke mens kan net soveel doen. Baie sterkte hierin.

snoefie ·

niks in die lewe is gratis nie. tog deel die anc huise, tersiëre opleidinf elektriseteit, water en dienste uit asof dit twee vir n sent kougom is. wie moet pa staan dáárvóór?

Abstrak ·

Die probleem met waterbesoedeling is dat die gemiddelde of sommer enige ANC stemmer nie dit kan ernstig opneem nie want die mental konneksie tussen onsigbare ‘goggas; in water en siek word is te moeilik om te maak.

Casper Labuschagne ·

@Abstrak – Eintlik nie, as jou kinders kronies siek word en van jou bure sterf, dan begin mense besef dat daar iets met hul leierskap fout is. Omdat mense die verlede kan onthou toe kraanwater lekker gesmaak het en jou nie siek gemaak het nie en ook nie die wasgoed vuiler gelaat het as voordat dit gewas word nie, raak dit besonder moeilik vir die leiers om die skuld op Apartheid te plaas. In Kroonstad koop selfs die heel armste mense daagliks hul gesuiwerde drinkwater by winkels, tot so ‘n mate dat waterverkope al ‘n plaaslike industrie geword het en hier seker soveel waterwinkels is as wat daar klerewinkels is.

marous ·

Sorteer weereens die regering se gemors uit! Dagvaar die minister van waterwese en omgewingsake asook gesondheid in hul persoonlike hoedanigheid. Stuur die bewyse aan die WGO asook die WWF dat hulle kan sien wat se gemors hier aangaan.

Casper Labuschagne ·

In Kroonstad was daar al verskeie gedokumenteerde sterftes vanweë e-coli bakterieë. Die plaaslike Valsrivier is verseker besmet daarmee, veral stroomaf van die dorp se rioolwerke. Dit is glad nie toevallig dat selfs die heel armste bewoners daagliks gesien kan word waar hulle gesuiwerde drinkwater by winkels aankoop nie. Vir dekades al is visvrektes in die ou Strijdomdam onderkant die wier is ‘n gereelde verskynsel gedurende die laat wintersmaande waarskynlik omdat die dorp se rioolstelsel lankal al ingegee het en waar rou riool in die middedorp se stormwaterstelsel daar inloop. Daar is ook petrochemiese besoedeling vanaf beide die nabye brandstofaanleg asook vulstasies in die middedorp wat gereeld ‘n olierige lagie op die water vorm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.