Nuuskommentaar: Siesa-politiek

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Flickr/GovernmentZA

Terwyl die wêreld geskud is deur Noord-Korea wat sy sterkste kernbom tot dusver – volgens eie aansprake ’n waterstofbom – laat ontplof het, het ’n ewe groot bom die Suid-Afrikaanse politieke landskap getref. Die onthullings van die Sunday Independent oor beweerde seksuele eskapades deur adjunkpresident Cyril Ramaphosa was nie werklik ’n verrassing nie nadat die stories reeds Vrydag in die sosiale media die ronde begin doen het.

Dit is klaarblyklik nie die einde van die sage nie, met Ramaphosa wat laat blyk dat hy en sy vrou ’n aantal jong mense finansieel met hul studie ondersteun, en die Sunday Independent se redakteur wat laat blyk het die afgelope Sondag se onthullings was net die eerste fase. Ramaphosa het ook erken hy het agt jaar gelede ’n buite-egtelike verhouding gehad.

In dié stadium staan Ramaphosa nog leliewit teen die sekskapades van pres. Jacob Zuma (al het Ramaphosa hom klaarblyklik nog nie skoon van die bewerings probeer stort nie), wat onder meer in ’n strafsaak owerspel as verweer teen ’n aanklag van verkragting aangevoer het.

Anders as wat Ferial Haffajee van die Huffington Post in haar reaksie beweer, is dié soort gedrag nie so eie aan Afrika nie. Dink maar aan Bill Clinton met Monica Levinsky, en die Profumo-skandaal in Brittanje, om maar twee voorbeelde te noem.

Vir baie politici skep die selfbeeld van politieke ampte skynbaar ’n selfvertroue wat huweliksgetrouheid tot niet kan maak. Selfs koning Dawid se leepogies het hom laat struikel.

Sake soos hierdie is nie die soort smerigheid waarmee die voorste politieke ontleders hulself wil besoedel nie, maar hulle moet ten minste aandag daaraan gee omdat dit die politieke afloop beïnvloed.

Tog is daar in hierdie stadium ’n groter vraag: “Hoe het die persoonlike e-posse aan die lig en dus in die openbare domein gekom? Die vraag word nou gevra terwyl daar steeds geen duidelikheid is oor hoe die #GuptaLeaks-e-posse uitgelek het nie.

Ramaphosa self glo dit is staatsagentskappe wat skynbaar wel oor die vermoë beskik wat in sy geval daaragter sit, maar as staatsagentskappe hulle hieraan skuldig gemaak het, is dit ondenkbaar dat Zuma nie daarvan moes geweet en sy goedkeuring vir die insameling en uitlek daarvan gegee het nie. Het die staatsagentskappe in ’n land wat deur korrupsie en ander misdaad verswelg word nie ’n groter taak as om moraliteitspolisie op sekere mense te speel nie?

In die geval van die #GuptaLeaks is dit baie moeilik om te bepaal wie daaragter sit. Dit klink uiters onwaarskynlik dat iemand in die veiligheidstrukture dit sou waag om Zuma se vriende (en selfs vir Zuma ook) so bloot te stel. Watter buitelandse agentskap sou so iets gedoen het? Die VSA is enkele jare gelede uitgevang dat hulle wyd en syd mense, onder meer die Duitse kanselier Angela Merkel, se privaat kommunikasie onderskep. Dit het hoogspanning in die wêreld veroorsaak. Of sou die Indiese geheime diens nog ’n historiese belangstelling in die Guptas hê, en wou seker maak dat hulle profiel ingekort word omdat hulle ook vir Indië ’n ongemaklike klip in die skoen geword het?

Of kan dit, soos die Panama Papers, die gevolg van ’n interne lekkasie wees?

So kan ure lank in sirkels bespiegel word.

Dat Ramaphosa, as adjunkpresident met bykans onbeperkte toegang tot staatsinligting, die vinger in sy geval na staatsagentskappe wys, is insiggewend. Tot die teendeel blyk, sal die staatsagentskappe (en dus Zuma) baie sterk verdink word.

Vir baie Suid-Afrikaners, oud en jonk, wat na die kuberruim “verhuis” het, kom dit stellig as skok dat die kuberwonings eintlik mure van ragfyn glas het. In die era van sogenaamde sletlyste, karaktermoord, haatspraak of fopnuus is dit nodig dat diensverskaffers en die owerhede die kuberruim wel deeglik omdolwe om die ergste vergrype te stuit.

Ook die selfoontegnologie laat diep spore en ’n ongelooflike hoeveelheid data is al in hofsake gebruik om skuldiges aan die pen te laat ry, soos toe beplan was om ’n aantal hoë koppe met die ANC se Mangaung-konferensie in Bloemfontein met ’n mortier die ewigheid in te blaas.

Die “anonimiteit” waaroor burgers van die kuberruim meen hulle beskik, noodsaak instansies soos Media24 en ander nuuswebwerwe om leserskommentare na te gaan om dit wat die perke oorskry te verwyder. Terwyl die kuberkiem dalk self voorlopig uit die sop kan bly, kan hy sy gasheer in die sop laat beland, en sonder selfbeskerming – ook as instansie wat hom nie met smerighede besig hou nie – is die gasheer meer blootgestel.

Intussen sal ontledings van en bespiegelings oor die Ramaphosa-sage slegs gedoen word as dit werklik relevant is. Maroela Media se nuuskommentaar is nie deel van die geelpers nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Ek dink enige persoon wat sê ons leef in ‘n demokrasie is volgens my onder verdenking. Ons sien nog net die ore van die seekoei. Hier kom die werklike sirkus van Afrika demonkrazie. Ons het nog niks gesien nie.. Dit is ‘n rugstekery, verdagmakery, karakterskending en plein simpel stories aandra en geskinder wat ons voorland is. Wat my die meeste bekommer is die gepeupel wat dit aanhang. Elke volk verdien die regering wie hy voor stem.

Eish ·

Dit bly maar n doring in die vlees dat staatsagentskappe, indien dit waar is, betrokke raak in smeerveldtogte. Dit laat jou met n effense onrustigheid oor die moontlikheid van n staatsgreep sou die situasie hom daartoe verleen.

snoefie ·

daar word oral gekyk behalwe na die skinderbek wat na jare se onmin met die anc kort kort uitgekom het met n anc geheim. dalk lyk sy kennis van die “geheime” nou minder heldersiende.

vrikie ·

Ag nee wat ou Cyril jou skandale is maar min in vergelyking met zuma, jy sal aan jou cv moet werk

Nico ·

So kom als uit die ander kandidate is nog veilig want hulle is nie n bedreiging vir zuma se gewese vrou nie sy is volgende anc president

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.