Nuuskommentaar: Simboliek van Luthuli-huis

Luthuli-huis in die Johannesburgse middestad. Foto: Google Earth

Gaan die vonke binnekort oor die Jukskeirivier spat? Die ANC se twee magsentrums grom al meer vir mekaar.

As iemand lus is vir moeilikheid soek en kry, hoef hy net naby Luthuli-huis te gaan betoog – maak nie saak of dit in alle opsigte vreedsaam en binne die wetlike bepalings is nie, moeilikheid is gewaarborg.

Miskien nie moeilikheid in die orde van die Shell House-skietery in 1994 toe ’n nog beduidende IVP simbolies met tradisionele wapens opgeruk het nie. Die gevolge was duidelik – terwyl IVP-lede dood en gewond in die bebloede straat gelê het, was die skieters verskans teen vervolging. Altesaam 19 mense sterf, en die Nugent-kommissie verwerp die ANC se verweer dat hy oor intelligensie beskik het dat die IVP die gebou heimlik wou aanval.

Ook die DA moes al die onversetlikheid ervaar, asook die ANC se wetteloosheid as dit kom by die “beskerming” van sy hoofkwartier.

Die boodskap is nog dieselfde, maar hierdie keer is dit pres. Jacob Zuma se ondersteuners wat by die gebou kom betoog (met die oog op moles wat moet volg) en Cyril Ramaphosa se ondersteuners wat die ANC-president se vesting verdedig.

Ook DA-leiers wat volgens beskaafde norme wou betoog, het ervaar hoe dit voel om druipstert ontruim te word en hier en daar het een ’n smakie baksteen gekry.

Uniegebou in Pretoria Foto; Davinci77 via Wikimedia Commons

Die boodskap is duidelik, daar word nie by die ANC se heilige graal disrespek betoon nie. En nou is dit Ramaphosa se vesting. Pres. Zuma se “vesting” is nou die Uniegebou. Die Uniegebou het wel onder Zuma as ’n soort buitekantoor vir Luthuli-huis gedien, en daar moes ingrypende regspraak kom om te keer dat ook die parlement as blote rubberstempel vir Luthuli-huis sou dien. Enorme werk in hierdie verband is aanvanklik deur dr. Mario Oriani-Ambrosini van die IVP gedoen.

Om vir Zuma “nie te verneder nie” is hy dit gegun om die swaartepunt van sy gesag na die Uniegebou te skuif. Dit beteken die ANC het nou twee sentrums van mag. Zuma is grondwetlik nog tot 2019 daarop geregtig, terwyl dit vir Ramaphosa ’n yslike vlieg in die salf is. Vanuit ’n ekonomiese oogpunt is Zuma gewoon slegte nuus. Waar hy sy mond oor die ekonomie oopmaak, daal op slag ’n buiteseisoense koue waar swart ryp die nuwe lote verwoes, en oues van hul blink blare stroop.

Tog het Zuma nog steun, en hy blyk vasbeslote te wees om dié steun te monster om sy termyn uit te dien. Zuma se beeld van homself verskil erg van wat dit byvoorbeeld in baie middelklashuise in Suid-Afrika en onder buitelandse leiers is. Hy het homself nog betreklik onlangs uitgelaat en verklaar dat hy ’n knap president is. Voorts het hy gesê niemand lig hom in oor foute wat hy sou maak nie.

Diegene wat gedink het die druk op Zuma om te loop gaan verlig word deur moleste by Luthuli-huis te maak, moet maar solank na die Uniegebou terugval om weerwraak-betogings daar die hoof te bied.

En die BLF se betrokkenheid help ook nie, want daar is min twyfel dat hierdie bende eintlik net ’n Gupta-verlengstuk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jacques Venter ·

Dis sleg. Nou moet Shaunie Pretoria toe ry vir sy opdragte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.