Nuuskommentaar: Simboliek van Swart Maandag

Die Solidariteit Beweging het ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Die term “Swart Maandag” het nie maar uit die lug geval nie. Dit is tevore al gebruik, onder meer toe wêreldmarkte op 19 Oktober 1987 in duie gestort het. So byna was Maandag se Swart Maandag ’n presiese 30-jarige herdenking van die dag toe Wall Street ’n wêreldwye domino van stapel gestuur het.

Die skade is erger gereken as die val van 1929.

Sedertdien is telkemale vrees uitgespreek vir nog ʼn “swart Maandag” en op 30 September 1991 het sommige lande wel weer ’n Swart Maandag beleef.

Wat Suid-Afrikaners, weliswaar op verskillende maniere, die beste sal onthou, is die Swart Maandag van die afgelope Maandag. Ook hier gaan die uitkringeffek lank gevoel word. Soos die voorneme om sommige deelnemers krimineel te vervolg, en arrestasie vir nie-arrestasie-oortredings.

Die omvang wat dit aangeneem het, het man en muis verbaas. Dat ’n paar vrot appels, of fopnuus-geskepte vrot appels, deur hul deelname ’n klad op die verrigtinge gelaat het, het ’n nuwe diskoers oor die ou vlag aan die gang gesit.

Dit is nie ’n unieke verskynsel nie. In die VSA was daar onlangs rasse-onluste oor die opeis om simbole van die Konfederale State van voor die Amerikaanse Burgeroorlog te mag gebruik.

Foto: Reint Dykema

Ná die Swart Maandag in 1987 het die Occupy Wall Street-beweging in 2011 tot stand gekom wat in verskeie wêreldstede min of meer voor die effektebeurse kamp opgeslaan en ’n oorlas van hulself gemaak het. ’n Groot deel van die beswaar was oor die inhaligheid van bankbase en nyweraars wat naderhand hul kliënte gestroop het om hul eie welvaart te uitbrei.

Uit die afgelope Swart Maandag se verrigtinge blyk dit ook dat daar ’n soort selfaangestelde voortsettingsaksie is. Hulle slaan nie kamp op nie, maar gebruik tot ’n groot mate die kuberruim, waar boodskappe met ’n ruim skoot fopnuus gelaai word. So beplan die landbou glo om binnekort ’n week lange kosweerhoudingsveldtog te loods en mense word aangemoedig om kos daarvoor op te pot. Dit lyk soms of hierdie voortsettingsaksie ook die opvangpunt vir die vrot appels geword het.

Intussen het verantwoordelike organisasie met bewese organisasievermoë, AfriForum, die hande vol om mense wat gearresteer word met die oog op vervolging, by te staan met regshulp.

Vir baie deelnemers was die vernaamste simboliek dat dit in hoofsaak handel oor verootmoediging, gebed en solidariteit. Agri SA se uitslae van ’n grondoudit is bekend gestel en het die mat van retoriek onder moedswillige regeringslui, waaronder Zuma, se voete uitgeruk. Dit was waarskynlik toevallig, maar het dadelik gehelp om objektiewe perspektiewe oor die landbou weer te gee.

Die indruk wat in die buiteland (via nuusdekking) gelaat is, is een van min nuuswaardigheid. Die Nederlandse koerant Trouw dra juis nou ’n artikel oor die lot van kinders in Suid-Afrika – hoeveel sonder twee ouers grootword, hoeveel seksueel gemolesteer word ensovoorts. Niks oor Swart Maandag nie. Trouens, behalwe vir ’n BBC-berig was daar volgens Google nie veel buitelandse nuusdekking oor die aangeleentheid nie.

Sake met die ministers wat hulle op kinderagtige wyse oor die verrigtinge uitgelaat het, moet nou eers gesuiwer word. Die Vryheidsfront Plus het as parlementêre party onderneem om dit te doen. Verdere aksies moet eers op die ys gelaat word.

Intussen is dit noodsaaklik dat die onbetwisbare positiewe aspekte van die verrigtinge warm gehou word.

Salomo se wysheid is nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jakoba ·

Australiese Media het berig oor die Swart Maandag in hulle koerante. Skynews het ‘n piepklein beriggie geplaas. CNN dra net vals nuus uit oor die blankes in Suid Afrika so die blankes is nie nuuswaardig vir die linksgesinde media nie.

Veritas ·

Herman, ek dink jou laaste paragraaf is die belangrikste van die hele berig. Die dawerende sukses van Swart Maandag, in soverre die spontane deelname betref, moet nie kans gegun word om koud te word nie. Inteendeel, die organiseerders, wat ‘n uitstekende werk daarvan gemaak het, moes alreeds op ‘n nuwe datum besluit het om die volgende protesaksie te loods. Dit hoef nie noodwendig net oor plaasaanvalle te gaan nie. Daar is ‘n magdom onderwerpe wat deur soortgelyke aksies, onder die regering se aandag gebring moet word. Die momentum moet behou word. Niemand het in hul wildste drome die dawerende sukses en impak van die Swart Maandag protesaksie verwag nie. Die regering is geskud, vandaar die hewige negatiewe reaksie oor die teenwoordigheid van die ou vlag wat nie eers ‘n faktor was nie. Die goed georganiseerde massaprotes was spontaan en dit is ‘n teken van die waarde van soortgelyke aksies . Solank die onderwerp, van die aksies, iets is waarmee die massas kan identifiseer en die ordelike verloop daarvan behoue kan bly, is dit ‘n wapen wat met groot vrug gebruik kan, en moet, word. Verkieslk moet daar van temas gebruik gemaak word waarmee ‘n groter getal burgers sterk oor voel. Dinge soos geweld teenoor vroue en kinders, werkloosheid, oneerlike politici en ‘regstellende’ aanstellings. Ek sien uit na die volgende vreedsame ( baie belangrik) magsvertoon van burgers wat genoeg gehad het van dinge wat hulle dwars in die krop steek.

Sê maar net. ·

Met alle respek gesê. Die nuwe vlag is op my afgedwing. Ek aanvaar dit nie en het in 1994 nee gestem. As ek ja gestem het moet ek my aan die nuwe vlag en lied onderwerp, maar ek het tans geen verpligting teenoor dit nie.

Spiekeries ·

Ek is van Namibia en dra julle belange na aan die hart, maar om julle/ons hoop op die buiteland te plaas is opportunisties en gedoem tot mislukking. Nie eens Brittanje kon veel uitrig teen die situasie in Zimbabwe nie, ongeag die feit dat Zimbabwe ‘n Britse kolonie was. Net so tong in die kies: Wat het RSA gedoen (nie individue nie) om die blankes in Zimbabwe te help? Dieselfde vraag geld vir die res van die westerse lande? Was dit suksesvol? Julle sal moet mobiliseer en julself bemagtig voordat dit te laat is!

Gatvol ·

Ek stem saam met jou… In hierdie land soos dinge nou lyk sal ons self moet opstaan en begin terug vat.

Evanthe ·

Natuurlik is ons hele land in ‘n greep van misdaad vasgevang. Van korrupte politici en staatsamptenare tot bendegeweld, Die sterftes van die kinders in die Kaapsevlakte is skokwekkend verskriklik. Maar kan niemand dan die vrees om uitgemoor te word en die trauma waardeur ons boere gaan verstaan nie? Maandag wou hulle net hulle storie vertel en voel dat die owerhede nog ‘n hand sal lig om te help. Dit is vir my onrusbarend dat so min verstaan of omgee en dat ons boere deur die owerhede as die vyand gesien word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.