Nuuskommentaar: Simelane oortjies van seekoei

Kort na die uitspraak in die appèlhof dat adv Menzi Simelane se aanstelling deur pres. Jacob Zuma ongrondwetlik was, het waarnemers daarop gewys dat dit maar die jongste geval was waar die regeringshoof en ander regeringslui skynbaar hul ore vir halfgebakte regsadvies uitgeleen het. Kommer is oor die kwaliteit van die regering se regsadviseurs uitgespreek.

‘n Vroeë geval wat die oë laat rek het was toe die destydse pres. Thabo Mbeki se regsadviseur na ‘n blitsige ondersoek bevind het dr. Alan Boesak is onskuldig oor sy aanwending van DanChurchaid se fondse. In die daaropvolgende regsproses het Boesak die ongewone, vir destyds, gedoen om die appèlhof op appèl na die Grondwethof geneem het, en die praktyk geformuleer is om wél grondwetlike sake so van die appèlhof op appèl te kon neem. Nogtans het Boesak uiteindelik tronkstraf uitgedien.

Die Grondwethof het inderdaad verskeie kere dwars in die regering se optrede gestaan. ‘n Vroeë voorbeeld was die uitspraak in 1998 van City Council of Pretoria versus Walker, waardeur die regering se praktyk om blankes gemeterde tariewe, en swart mense vaste tariewe te laat betaal, in die ban gedoen is. Nog ‘n bekende uitspraak was die bekende Modderklip-saak. Nog ‘n belangrike saak wat die regering weliswaar nie verder gevoer het nie, was die Arbeidshof-uitspraak van Tshishonga versus die Minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling wat die kop van die minister, dr. Penuell Maduna laat rol het. Wat egter meer insiggewend is, is dat dié uitspraak ook die direkteur-generaal, Vusi Pikoli se integriteit bevraagteken het.

Baie onlangs het pres. Zuma ook oor ‘n kommissie van ondersoek na die wapenskandaal die kort lootjie getrek.
Pikoli het later die Direkteur van Openbare Vervolging geword. Pikoli is in effek afgedank om plek te maak sodat Simelane in dié amp aangestel kan word. Simelane, soos Pikoli, was ook voorheen Direkteur-generaal van Justisie, en het onder meer die wenkbroue laat lig toe hy vanuit dié pos Pikoli opdrag gegee het om die vervolging van Jackie Selebi te staak.

Die Demokratiese Alliansie het inderdaad ‘n sak vol grondwetlike en wetlike skietgoed gehad om die aanstelling van Simelane in Pikoli se plek in die howe te betwis. Hieronder tel ‘n uitspraak van die voorsitter van die Ginwala Kommissie van ondersoek, waarin Ginwala skerp kritiek onder meer oor die integriteit van Simelane uitgespreek het.
Die appèlhof het die DA gelyk gegee. Zuma self het onder die skerp tong van regter Mahomed Navsa deurgeloop. Ingevolge die grondwet moet sake van grondwetlike aard na die grondwethof verwys word vir bekragtiging, en tot dan sal Simelane in sy pos aanbly.

‘n Belangrike probleem is dat, sou Navsa se uitspraak na grondwetlike beoordeling bly staan, is dit moontlik dat al Simelane se besluite terwyl hy dan onwettig en ongrondwetlik in die pos was, nietig kan wees. Dit sou ingrypende implikasies wees. Die gebeure staan nie in ‘n lugleegte nie. Die regering voer op die oomblik die Wetsonwerp op die Beskerming van Staatsinligting deur teen internasionale veroordeling in. Vroeër vanjaar het die adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, gewaarsku dat voorgestelde wysigings aan die wet op gelyke indiensneming ongrondwetlik sal wees.

Zuma en van die ANC se voorste ringkoppe se reaksie op die teenspoed in die howe was verskeie bitter uitsprake oor die howe en selfs die grondwethof wat dwars in die pad van demokrasie sou staan. Dié opmerkings het weer die grondwetkenners en politieke wetenskaplikes se hare laat regop staan, aangesien dit op ‘n totale onbegrip dui van wat ‘n beskaafde demokrasie, en veral ‘n grondwetlike demokrasie beteken. Op die oog af lyk dit of Zuma se begrip beperk is tot wat in die politieke wetenskap as die diktatuur van die meerderheid bekend staan. Hoewel die jongste saak nog nie afgeloop is nie, dui dit hoe belangrik die rol van opposisiepartye, vakbonde en burgerlike instellings soos Afriforum is om die grondwetlike demokrasie gesond te hou.

Die Suid-Afrikaanse grondwet is volgens die opstellers juis op die model van ‘n raamwerk geskryf sodat die vleis deur konvensie, regspraak (insluitende buitelandse regspraak) en wetgewing die lyf kan voorsien. Dit was, soos ‘n regskenners dit gestel het, so oop vir vertolking dat ‘n wa en span osse daarin kon draai. Intussen is flink vleis bygevoeg, nie altyd volgens dit wat die regerende party aanstaan nie, maar dit is juis die kenmerk van ‘n gesonde grondwetlike bedeling.

Die neiging by Zuma om, wat beskryf kan word as die oppergesag van die uitvoerende gesag oor beleidskwessies te probeer afdwing, word deur die DA as Zumafikasie beskou. Die Sentrum vir Grondwetlike Regte vat die problematiek goed saam: “Die Sentrum is diep bekommerd oor die opmerkings wat President Zuma Dinsdag in die Parlement gemaak het oor die relatiewe magte van die uitvoerende gesag en die regbank met betrekking tot die formulering van beleid. Die President het na berig word gesê dat hy graag “ons siening wil herbeklemtoon dat daar ‘n behoefte bestaan om te onderskei tussen die terreine van verantwoordelikheid van die regbank en die verkose vertakkinge van die staat, spesifiek met verwysing na beleidformulering.” Hy het bygevoeg dat volgens sy mening, “die uitvoerende gesag, as verkose amptenare, die alleen-oordeel het om oor staatsbeleid te besluit. Hy het gewaarsku teen die oortreding van een tak van die staat op die terrein van ‘n ander en het daarop aangedring dat “die uitvoerende gesag toegelaat moet word om sy administrasie en beleidmaking so vry as wat dit moontlik kan, uit te oefen.” Hy het bygevoeg dat “die magte wat aan die howe toegeken is, nie as ‘n hoër gesag beskou kan word as die magte wat toegeken is deur ‘n mandaat van die kiesers in ‘n volksverkiesing nie.”

Die sentrum vervat: “Die howe het ongetwyfeld grondwetlike magte om die wil van die meerderheid van die hand te wys – soos dit deur die regering van die dag geïnterpreteer word – as dit nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie. So ook is die klem op nakoming van grondwetlike bepalings deur minderhede – of individue – nie ‘n poging om “die land saam te regeer deur middel van die howe” nie. Die vermoë van burgers om hul grondwetlike regte op te eis, en die magte van die howe om die Grondwet af te dwing, is onmisbaar vir die handhawing van regsoewereiniteit en die behoud van grondwetlike demokrasie.“

Die FW de Klerkstigting het toe reeds die probleem soos volg opgesom: “Die rede waarom die regering soveel onlangse hofgedinge verloor het is nie die skuld van sy teenstanders of die howe nie – dit is eerder ‘n direkte gevolg van sy eie gebrek om volgens die Grondwet op te tree. Die regering se regsadviseurs verskaf óf ontoereikende advies oor die grondwetlikheid van beleidsinisiatiewe, óf die regering volg nie hul advies nie.“

Nie almal is dit eens dat die grondwet die beste moontlike onderhandelde produk is nie, en veral dat die beskerming van minderheidsregte nie in ooreenstemming met die beste internasionale voorbeelde en die volkereg is nie, maar dit is al wat die land nou te ene maal het. Dit moet ten beste benut word. Dit is daarom jammer dat daar in die geledere van die minderhede soveel onmin is wanneer juis dit gedoen word – soos die kritiek op Afriforum en die TLU-SA omdat hulle dieselfde grondwet benut het om Julius Malema se polariserende haatspraak in die bek te ruk.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae