Nuuskommentaar: Sinai vliegramp krap radikale byenes oop

Die ongelukstoneel. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die ongelukstoneel. Foto: Suliman el-Oteify, kantoor van die Egiptiese premier via AP

Die aansprake dat ʼn bom aan boord “meer waarskynlik as nie” vir die Russiese vliegramp in die Sinai verantwoordelik is, skep ʼn scenario wat die Weste en Rusland noop om presies te weet wat in die Sinai broei – veral weens plaaslike terreurgroepe se bande met die IS en Al Kaïda.

Die onlangse vliegramp toe ʼn passasiersvliegtuig van ʼn Russiese lugredery in die Sinai neergestort en al 224 mense aan boord dood is, het ʼn nuwe dimensie gekry toe inligting wat glo deur Amerikaanse intelligensiebronne gelek is, daarop dui dat ʼn bom aan boord moontlik daarvoor verantwoordelik was. Dié storie het stukrag gekry toe Amerikaanse woordvoerders en die Britse premier, David Cameron, gesê dit is “meer waarskynlik as nie” dat ʼn bom vir die vliegramp verantwoordelik was.

ʼn Radikale organisasie, die Provinsie Sinai, het kort ná die ramp aanspraak gemaak daarop dat dit daarvoor verantwoordelik was. Na aanleiding van die neerskiet van ʼn Maleisiese vliegtuig oor die Oekraïne, is aanvaar die Provinsie van Sinai het bedoel dit het die vliegtuig neergeskiet, maar toe dit blyk dat die vliegtuig in die lug ontplof het, het die moontlikheid van ʼn bom aan boord groter geword. Dit lyk byvoorbeeld of die passasiers aan die agterkant van die vliegtuig deur skrapnel getref is. Wat ook al gebeur het, het so vinnig gebeur dat die bemanning geen inligting aan grondbeheer kon deurgee nie.

Rusland weier tans om te aanvaar dat terreur die oorsaak kan wees en dring daarop aan om te wag tot die ondersoek meer lig op die saak werp. Die betrokke lugredery se veiligheidsrekord tel voorts onder die swakste ter wêreld en sommige kenners meen dit was net ʼn kwessie van tyd voordat die lugredery so ʼn ramp beleef.

Boonop is daar geen sekerheid dat die handgeskrewe nota waarin die Provinsie van Sinai verantwoordelikheid aanvaar, eg is nie. In die nota word verduidelik dis gedoen uit weerwraak vir Rusland se militêre toetrede ter ondersteuning van die diktator Bashir al Assad in Sirië en die bombardement van IS-groepe.

Die Provinsie van Sinai is nie die enigste terreurgroep in die gebied nie. Van die kleiner groepe is weer by Al Kaïda geaffilieer en is onder meer betrokke by die instandhouding van smokkeltonnels tussen Gasa en die Sinai.

Maar wie is die Provinsie van Sinai en hoe ʼn groot bedreiging hou werklik in? Die Provinsie van Sinai is sedert betreklik onlangs by die IS geaffilieer, met uitgebreide kontak en onderlinge wapenlewering. Dit lyk na ʼn opportunistiese maar objektiewe verbintenis.

Die spore loop egter langer terug, toe dit as “tuisgemaak” in die Sinai, onder veral gemarginaliseerde Bedoeïene, ontstaan het.

Dit het mettertyd meer omvattende steun, ook uit Egipte en ander wêrelddele, gekry met ʼn nou verbintenis met Hamas in die Gasastrook en aanvalle op Egiptiese en Israelse teikens. Sedert 2011 staan dit as Anṣār Bayt al-Maqdis (Bewakers van die Heilige Huis) bekend, toe dit nuwe stukrag ná die Egiptiese rewolusie gekry het. Toe die Egiptiese president, wat lid was van die Moslem Broederskap, Mohammed Morsi, se bewind omver gewerp is, het die organisasie opnuut steun gekry uit die geledere van die Moslem Broederskap en is die naam na Ansar Jerusalem (Ondersteuners van Jerusalem) verander.

Die groot uitreik na die IS het hierna begin.

Oor die jare het die groep en sy “voorsate” ʼn indrukwekkende lys sabotasie en aanvalle op leëreenhede, insluitend dié van Israel, uitgevoer. Trouens, met die onlangse verbreding van die Suezkanaal is bykomende tonnels ook onderdeur die kanaal gebou sodat Egipte makliker troepe na gebiede kan stuur waar die terroriste aktief raak.

Op die keper beskou, lyk dit of die bom-teorie nie onhaalbaar is nie en die motief maak sin. Dit bly egter voortydig om tot enige slotsom te kom.

Vir Rusland skep dit intussen ʼn allemintige kopseer. Rusland het al dikwels intern onder radikale Moslem-terreur deurgeloop, met veral Tsjetniese bomdraers wat in die hartjie van Moskou toegeslaan en dood en verwoesting gesaai het. Daar was byvoorbeeld kort voor die aanbied van die winter-Olimpiese Spele in Rusland nog sulke aanvalle.

Rusland moet nog sy eie militêre ekskursie in Sirië aan sy eie burgers verkoop. Die aanduidings is egter dat indien hierdie wel ʼn bom aan boord was, dit eerder die Russe agter hul regering se oorlogspoging sal verenig.

Sou die bom-storie bloot Amerikaanse en Britse propaganda wees, gaan dit as propaganda die teenoorgestelde uitwerking hê. Of dié twee lande dit nie sou kon voorsien nie, lyk egter onwaarskynlik.

ʼn Bom aan boord kan vir die Provinsie van Sinai ook fataal wees. Dit kan aan pres. Al Sisi die nodige mandaat gee om groot hoeveelhede troepe te ontplooi en die organisasie militêr uit te wis. Hiervoor sal hy vermoedelik oorweldigende steun van die Egiptiese bevolking kry, nadat Al-Sisi blykbaar daarin geslaag het om ʼn groot nasionale trots te laat herleef.

Hiervoor het hy die bou van ʼn bykomende kanaal vir ʼn lang gedeelte van die Suezkanaal gebruik. Die finansiering is bekom deur gewone en selfs arm Egiptenare toe te laat om met klein bedraggies daarin te belê en so mede-eienaarskap in ʼn nasionale trots te verkry. Die verlangde miljarde dollar is in ʼn ommesientjie oorskry. Boonop het Al-Sisi per dekreet die duur van die bouwerk tot ʼn ongelooflike kort tyd van minder as ʼn jaar verkort en dié teiken is gehaal.

Maar, nou ja, dis die Midde-Ooste en dinge is nie altyd soos dit deur ʼn Westerse bril lyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.