Nuuskommentaar: Sisulu dryf verder weg van werklikheid en nader aan die afgrond

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie. (Foto: Twitter)

Die politieke retoriek waardeur minister Lindiwe Sisulu haar voornemens van onteiening sonder vergoeding in Kaapstad (as beginpunt) in die vooruitsig stel, openbaar ’n ontstellende gebrek aan insigte oor hoe die basiese wetmatighede van nedersettings werk.

Meer nog, sy openbaar totale onkunde oor die grondwetlike implikasies van internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken het. Saam met ander blapse wat sy as minister van internasionale betrekkinge gemaak het, lyk dit of haar kennis oor haar vorige portefeulje ook baie gebrekkig was.

Elke staatsdepartement vereis ’n minister wat gemotiveerd, bekwaam en realisties moet wees. Kom dit by die departement van menslike nedersettings raak die vereistes om te slaag nie net nog meer nie, maar die standaard verhoog baie om die feitlik onmoontlike te kan vermag.

Die probleem is in die parlement goed saamgevat deur die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor menslike nedersettings, Piet Mey: “Almal in Suid-Afrika verdien menswaardigheid, ʼn leefbare woonplek en kos op die tafel. Die waarheid is egter dat die land se ekonomiese groeikoers van minder as 1% nie tred hou met die snelle bevolkingsaanwas van 1,5% nie en tot dit nie verander nie, sal daar werkloosheid en armoede wees. Aan die ander kant is daar mense wat wel ʼn blyplek kan bekostig, maar dan maak die geredelike beskikbaarheid daarvan dit weer onmoontlik.”

Ongelukkig het die minister, Lindiwe Sisulu, met haar wegspring in hierdie portefeulje, in haar eerste begrotingsrede, verkies om politiek die aandag te trek eerder as om te toon dat sy die probleme verstaan. Haar departement, het sy verklaar, staan eerste in die tou as dit kom by onteiening sonder vergoeding wanneer die wet op die wetboek kom, en Kaapstad gaan eerste aan die beurt kom.

Dit lyk of sy vasbeslote is om van geen portefeulje wat sy beklee, ’n sukses te maak nie. As minister van verdediging en as minister van internasionale betrekkinge het sy onaanvaarbaar baie blapse gemaak, al is daar nie heeltemal eenstemmigheid oor hoe goed sy oor die algemeen gevaar het nie.

Nou is sy in die portefeulje wat feitlik waarborg dat die minister met ’n gekneusde reputasie daarvan sal afkom. Die toppunt was waarskynlik wyle Sicelo Shiceka, maar hy sou waarskynlik selfs in die denkbeeldige portefeulje van skoenvasmaak loshande gedruip het. Pravin Gordhan is ’n beter voorbeeld om na die onmoontlike aard van die portefeulje te verwys.

En dit gaan al hoe beroerder. Sou Sisulu nie beter gedoen het om haar eerder te bekommer oor hoe die jaarliks verslegtende OG-oorsig oor munisipaliteite omgedraai kan word nie? Uit hierdie verslae kan ’n ellelange lys van probleme saamgestel word wat eers hanteer en OPGELOS moet word voor munisipaliteite reggeruk kan word.

Die probleme wat die Wes-Kaap in die gesig staar, is veel, veel groter as om met onteiening op te los.

Die droogte daar, wat sy angels ingeslaan het ’n paar jaar voor dit volgens beplanningsdokumente verwag is, het getoon hoe kwesbaar hierdie streek is. Miljarde rande se skade is byvoorbeeld gely weens verminderde buitelandse valuta omdat landbouwater vir menslike verbruik hertoegewys moes word, en die oeste erg beïnvloed is.

Intussen is daar ’n enorme invloei van mense uit die Oos-Kaap – mense wat nie altyd die mees geskikte kwalifikasies het nie, en hulle byvoorbeeld ook in gebiede gaan vestig waar die tale wat hulle praat of verkies, nie oral algemeen was nie, maar daarop in byvoorbeeld skole aandring. Skoolbouprogramme, en die vind van onderwysers, is dus meer kompleks as net eweredige bevolkingsgroei.

Om minister van nedersettings te wees, sou ’n mens verwag sou so ’n minister ’n redelike kennis hê van stedelike beplanning – indien dan nie in stadsbeplanning nie, dan iets soos stedelike geografie, stedelike ekonomie, verstedelikingsosiologie, ensovoorts. Dan sou die minister verstaan dat ’n oop terrein nie sommer ook geskik is vir behuising nie – dat sulke terreine heel doelbewus beplan is omdat die bodemformasie nie geskik is vir bewoning nie. Groot dele van Suid-Afrika is ongelukkig nie geskik vir bewoning nie, wat byvoorbeeld hellings, die ontwikkeling van sinkgate of selfs “net” swellende kleigronde, insluit. Die alarmklokkies moet vir ’n minister of LUR afgaan as daar nog net fluisteringe dat ’n gebied met die naam Turflaagte vir behuising oorweeg word.

Om bloot ’n stuk “onbenutte grond” te onteien vir behuising kan die ganse infrastruktuur van die omgewing laat “sink”. Rioolverstoppings word byvoorbeeld ’n staande probleem, nie net weens oorbelading nie, maar omdat die vereiste hellings in swellende kleigronde versteur kan word, wat weer wortelindringing bevorder.

Weens migrasie deur wat die DA by geleentheid ekonomiese vlugtelinge uit die Oos-Kaap genoem het, maar moes terugtrek, is die kusdorp Hermanus nou die snelgroeiende gemeenskap in die Wes-Kaap en sewende snelgroeiende in die land. Hermanus, met ander gemeenskappe in die Overberg-munisipaliteit soos Bettysbaai, Kleinmond, Hawston (Herrie se Baai), Onrus en Sandbaai, is grootliks van toerisme afhanklik, maar dit word onder druk geplaas van migrante wat ook ’n dak oor die kop soek. Geskikte alternatiewe nader as 20 kilometer is daar nie, en word selfs nywerheidsgebiede onder druk geplaas, en is Hermanus sy vliegveld kwyt.

’n Watertekort na die akwifer nie die mas opgekom het nie, en die Te Bosch-dam geblyk het kwesbaar te wees, het tot allerlei moratoriums gelei.

Kortom, is ’n meer oorhoofse plan nie nodig nie – een wat tot meer werksgeleenthede in die Oos-Kaap sal lei nie, met genoeg watervoorsieningsplanne nie?

Nou moet die Wes-Kaap wat reeds onder enorme druk is, vir voortvloeiende misdaadprobleme pa staan – terwyl die sentrale regering in stryd met die Grondwet die polisie as ’n nasionale funksie gekaap het en soos sy stert hanteer. (Die Grondwet bepaal immers die polisie is ’n gelyklopende provinsiale en nasionale funksie, met doeltreffende polisiëring as een van die provinsiale regering se funksies.)

Volgens aktiviste het die regering en polisie eers ontsteld en verbaal op die Wes-Kaapse (bende-)geweld begin optree toe die vermoorde slagoffers swart was, en nie soos voorheen hoofsaaklik bruin nie. (Elf agtereenvolgende vermoordes was swart.)

Dit sal Sisulu loon om by die wortel te begin. Om artikel 25 van die Handves van Menseregte te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak is nie so ’n voldonge feit soos sy dit maak nie. Suid-Afrika is onder meer ondertekenaar van ’n hele rits internasionale verdrae, ook van dié wat onteiening sonder vergoeding onmoontlik maak. Van hierdie verdrae bevat strafmaatreëls wat mede-ondertekenaars veronderstel is om toe te pas teen deelnemende lande wat van die bepalings oortree.

As oudminister van internasionale betrekkinge behoort Sisulu darem van beter te weet as om die harde werklikhede met politieke retoriek te vervang.

Om nie eens van die noodwendige inploffing van die ekonomie te praat wanneer die Grondwet wel verander word nie.

Of wil sy haarself so gou as moontlik heel bedrewe uit hierdie portefeulje, wat blyk enige minister se begraafplaas te wees, uitwerk?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Andreas ·

Haar uitsprake skep nuwe groot verwagtings en sy gaan ‘n nuwe “Groot Trek” ontkenten, van Noord na Suid, na ‘n reeds oorvol Kaap.

Debbie Janse van Rensburg ·

VERSEKER!!!!

SLEGS VIR SUID-AFRIKANERS EN SLEGS VIR GEBORE SUID-AFRIKANERS.
ONS IS NIE VERANTWOORDELIK VIR ANDER LANDE SE MENSE NIE….NET SOOS HUL NIE VIR ONS NIE.

Alida X ·

Sou die spreekwoord :” Leë blikke maak die grootste geraas” hier van toepassing wees?

Nico ·

Dit wys maar net dat dit in die ANC nog steeds gaan oor wat het jy of jou ouers in die sogenaamde “vryheids stryd” gedoen want sy is daar as bleik van waardering wat haar ouers in en vir die ANC gedoen het. Bevoeg is sy nie, want oral waar sy sover in beheer was, was sy ‘n flop. Verder is die KAAP NOG STEEDS ‘n BITTERPIL vir die ANC.

Andreas ·

Die kruks is Cyril en sy raadgewers verstaan nie wat dit van ‘n minister verg om ‘n sekere pos te beklee nie, dat daar darem kundigheid en begrip vir die omvang van die taak moet wees nie, die kwalifikasie ‘kader’ is vir hulle voldoende om haar vir die aanstelling te laat kwalifiseer. Wel, sy het darem nog nie begin twiet nie.

Hendrik ·

Onthou die S.A ministers is die beste wat daar is om die 54% van wen party te verteenwoordig. Daar is net soveel om van te kies en dit lyk vir my of die bestes nie veel werd is nie. Maar wat kan ons maak? Dis demokrasie.

marous ·

En dan gaan daar miljarde gevorder word aan eiendoms belasting ….

Jaco ·

Ek dink dit is n politiese skuif.Hulle moet in die Kaap begin om die Oos Kaap en ander mense te lok om genoeg stemme te kry sodat die ANC in die toekoms kan oorneem.

marco polo ·

Hulle weet nie wat hulle nie weet nie. In hulle oe weet hulle alles en het al die oplossings.

Henry ·

Sy is besig om selfmoord onder die nasies te bewerkstellig. Wie gaan kyk en wie gaan kry. Dit sal darm baie sleg wees vir haar as hulle mekaar gaan begin dood maak vir ‘n stukkie grond. Teveel mense te min grond en die grense is oop vir elke man in Afrika om sy pie te kom kry. Free for all. Drie honde baklei oor ‘n been en ‘n derde een vat dit. Let the games begin. Mag die sterkste oorleef

Arie ·

Is daar enige bekwame persone in die parlement??? Dit lyk beslis nie so nie

Swannie ·

As `n struggle ikoon wat in die buiteland groot geword het, verstaan sy natuurlik Suid Afrika se probleme 100%.

Ai, as niks ooks iets geword het…

John ·

… met vanne soos Sisulu, Mandela, Zuma… is jou kop deur en bevordering uit probleme jou voorland. Gebruik die woorde No1 en jy word as ambassadeur aangestel (Wie glo dit?). Die sneesdoekie-kommissie sal enige soapy die loef afsteek. Enigeen van ons wat nog glo dat enige mening wat ons uitspreek enige verandering by die ANC-troupe kan bewerkstellig, ‘n uur gelede van planeet Pluto … op die Waterkloof-lughawe aangeland het, natuurlik met No 2 se toestemming…

Charles ·

Die vrou is die kluts kwyt en duidelik ontdaan van alle WERKLIKHEID.

Ons beweeg nou in die tydvak in waar SA WEER die muishondstaat v/d wêreld gaan word; met menseregte skendings- maar hierdie keer as gevolg van die vermeende menseregte vergrype van ‘n swart oorheersende meerderheid- so draai die wiel ne…
Die ANC besef dit nog nie- maar hulle einde is NABY- die begin van die einde van hul politieke mag (en miskien die huidige ONREALISTIESE en onwerkbare staatsvorm) het die oomblik aangebreek toe Zuma sy eerste sent gesteek het.

humor ·

Moontlik le die probleem by haar pruik, Duidelik n blokkasie in die weg na n reeds vertraagde begrip.

Andreas ·

En om te dink mense het geglo Cyril wou haar adjunk-president maak? In jou lewe! Nou nie dat enige van die top 6 of wat dit aan betref die res van die top 100 ‘n mens enigsins gemoedsus gee nie. Kom ons glo maar die bevoegde en gekwalifiseerde ANC mense is almal in die privaat sektor werksaam.

ChrisE ·

Die dame het al by so baie departemente gedien dat ek tred met haar bewegings verloor het. Soos iemand hierbo genoem het, was haar ouers sokkelaars (strugglers) in die buiteland. Ek weet regtig nie hoe en waar hulle gesukkel het nie. Die sokkelaars in Rusland het wanneer hul geld opgeraak het die plaaslike bevolking soos hulle ook in Zambië gedoen het beroof. So gun die dame die vette van die land soos wat sy in die buiteland geniet het. Al luta continua. Amandla.

Jerry ·

Die Kaap gaan nie meer Hollands wees wanneer Lindiwe met die Kaap klaar is, dis Virseker! Haar idee vir verstedeliking behels Angola se sosialistiese Luanda getalle verswelging konsep! Solidariteit moet kennis neem dat orals waar selfbeskikking gaan inslag vind en waar julle ookal bou, daar gaan sy julle met hierdie konsep deur getalle laat verswelg!

Andreas ·

Een ding wat my al vir jare nie reg voel nie is: Klomp jaar gelede is ons met kommentare en briewe in koerante en op webwerwe baie streng geredigeer, ons mog nie een eens swart gesê het as ons van iemand skryf nie. Selfs toe Zuma aan die bewind was, daardie eerste paar jaar, was die media so sensitief, dit het geskrik vir niks.

Met die tyd het dinge baie verander, korrupsie en wat nog het mense meer krities na dinge laat kyk en daar is meer vryhede vir die skrywers en kommentators toegelaat. Kyk waar sit ons vandag, ons noem, sonder om te blik of te bloos, ‘n mens onbevoeg, ook veralgemeen ons. Ons tipeer nou al die ‘ANC’, bedoelende … die ANC?

Woon ons in die Afrikane se Afrika?

Nee, ons woon op ‘n stuk land wat die voorsienigheid bepaal het en dan kan ons nie dinge uitwerk nie.

Die kompas soek waar is noord, waar is suid.

Nou vra ek tot watter mate het die bewoners van ‘n multikulturele land aanvaar mens kan net in harmonie saamleef as jy die ander ruimte gee om hom uit te leef, as jy met ‘n probleem sou vashaak of kundigheid soek, die ander om hulp vra?

Herman Toerien het al baie oor koalisievorming geskryf, waarom, omdat een mense die ander nie ander ruimte gee nie, die ander sy aspirasies misken. Makliker kan dit nie wees om vir die ander te gun as wat jy vir jouself toe-eien nie.

Arthur Cullen ·

Ja swaer hoe lank gaan die verbale diaria nog in die nuus wees?Is daar njemand wat haar kan reg help voor sy haar naam met ‘n plank slaan?Dit gooi ‘n skaduwee oor die hele kabinet se bevoegtheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.