Nuuskommentaar: Sit VSA die ‘pot’ oor dagga mis?

Argieffoto

’n Onlangse Rasmussenpeiling het aan die lig gebring dat die meeste Amerikaners, naamlik 54% van die waarskynlike kiesers, ten gunste daarvan is om dagga te wettig.

Maar terwyl die kiesers so progressief is oor die wettiging van “pot”, soos dit algemeen genoem word, gee die veldtogte teen tabakrook net nie skiet nie. Trouens, verbeterde kankersyfers word aan die teenrookveldtogte se sukses toegeskryf.

Slegs 37% van die kiesers is gekant teen die wettiging van dagga. In 2017 is nog bevind dat “net” sowat 49% van die kiesers ten gunste van die wettiging van dagga was.

In 2018 is bevind dat 46% van die respondente glo dat alkoholiese drank gevaarliker is as dagga. Net 15% het geglo dagga is gevaarliker as drank.

Hierteenoor het die Center for Disease Control and Prevention (CDC) aangedui dat net 14% van die Amerikaanse volwassenes in 2017 nog tabak gerook het teenoor 42,4% in 1965. Die jongste vlakke is die laagste vlakke in die aangetekende geskiedenis.

Terwyl daar sprake is dat dagga in die hele VSA later vanjaar nog gewettig sal wees, is die gewone gebruik daarvan reeds in tien van die VSA se deelstate gewettig, en die medisinale gebruik daarvan in 33. Intussen word verwag dat daar vanjaar ’n skerp toename sal wees.

Verskeie redes word aangevoer oor hoekom minder Amerikaners sigarette (en ook e-sigarette) rook. Een van die belangrikstes is dat tabakrook nie net longkanker kan veroorsaak nie, maar ook tot die ontwikkeling van 40% van alle soorte kanker kan bydra. Dit sluit kankers van die mond en keel in, van die stembande, maag, niere, pankreas, lewer, blaas, kolon en ’n tipe leukemie. Tussen 1990 en 2016 is ongeveer 1,3 miljoen sterftes aan rookverwante kankers in die VSA voorkom.

Dit wil voorkom asof die veldtogte teen rook ’n veel meer negatiewe sosiale persepsie oor tabakrook as oor dagga gevorm het. ’n Opname het byvoorbeeld getoon dat die effens platvloerse verwysing van dagga as “pot” of “stoner” sterk teenkanting kry. Altesaam 36% van Amerikaners meen dié terme het by hulle ’n negatiewe konnotasie, teenoor net 8% wat daarvan hou. Die gebruik van die meer formele terme soos cannabis en marijuana word deur die pasgestigte gesagsliggaam vir dagga in Kalifornië bevorder.

Van die argumente vir die wettiging van dagga is dat sou dit verbode gebly het, baie mense hulle tot erger dwelms sou gewend het.

Voorstanders vir die wettiging van dagga gebruik lang lyste van voordele of beweerde voordele. Een so ’n lys bevat 23 aansprake. Die voordele wat genoem word, hou gewoonlik met die gesondheid verband, en daarmee saam die behandeling van kanker, of pyn wat deur kanker veroorsaak word.

Teenstanders lys eweneens lang lyste nadele.

Volgens medici wat geraadpleeg is, lê die mees waarskynlike voordele vir kankerbehandeling in aktiewe bestanddele in dagga-olie. Dit word intensief in veral Switserland bestudeer. Veel minder entoesiasme bestaan vir die rook van dagga.

Die gebruik van dagga het egter nadele, soos dat die kanse om ’n hartaanval te kry vyfvoudig verhoog binne die twee uur wat volg op die rook daarvan. Die kanse om ’n motorongeluk te maak neem ook toe. Lees meer hier.


• Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.

• Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

B ·

Die toekoms sal oordeel dat die wettiging van die tuisgebruik van dagga in SA (NOG) een van die grootste flaters gewees het. (Op verskeie vlakke, juridies, gesondheid, samelewing ens)

Blaarman ·

@B

Jammer, maar die statistieke bewys jou reeds verkeerd.

DeVill ·

Ek rook al vir 15 jaar daagliks dagga.
Hoe lank reken jy moet ek wag tot ek die flater wat ek begaan het raak sien?
Sal dit ten voorskyn kom na 25 jaar se dagga rook, miskien 30 jaar?
Ek is gesond, vol energie, suksesvol, gelukkig en nog steeds gelukkig getroud.
Ek het geen kriminele rekord nie, betaal elke maand my belasting, elektrisiteit en water.
Ek het ‘n vaste werk, met ‘n bo gemiddelde salaris.
Watse flater het ek begaan?

Mense rook al vir duisende jare dagga.
Suid-Afrikaners, in hulle miljoene, rook al vir dekades lank dagga, lank voor dit gewettig is.
Jy sal baie verbaas wees wie dagga rook, glo my dis nie net skollies, kriminele, stoute tieners, of rastas nie.
Reken jy nie ons behoort al teen die tyd gesien het of dagga so vreeslik sleg is soos jy dit voorhou nie?

Blaarman ·

Ag nee wat. Die argumente teen wettiging is maar swak.

Eerstens, gaan dit oor vrye keuse. Wat ek in my liggaam insit is my eie keuse, solank ek nie direk ander daardeur te nakom nie.

Tweedens – “die kanse om ‘n hartaanval te kry vyfvoudig verhoog binne die eerste twee uur van die rook daarvan”. Die stelling is duidelik ontwerp om dramaties te wees, maar dit is geheel en al onindrukwekkend wanneer die volgende in ag geneem word:
– Die basis waarvanaf die vyfvoudiging af bereken word? Kanse vir ‘n hartaanval op ‘n gegewe oomblik is miniskuul klein vir meeste mense van normale gesondheid. ‘n Vyfvoudiging daarvan is nog steeds belaglik klein en onindrukwekkend. Dit is slegs ‘n gevaar vir persone wat aan ernstige hartprobleme lei, soos vele ander goed (soos oefening, baie tipes kos, kaffeïne, ens).
– Aansluitend by die vorige punt, is dit soveel te meer onindrukwekkend wanneer daar in ag geneem word dat die sogenaamde “risiko” slegs vir twee ure geldig is.

Derdens, kan daar ook geargumenteer word dat die kanse om ‘n motorongeluk te maak toeneem wanneer jy in ‘n kar klim. Maar niemand voer aan dat karre verban moet word nie, doen hulle? Dit is onsinnig om verantwoordelike persone te straf vir die aksies van onverantwoordelike persone.

Blaarmaat ·

Ek rook nie maar stem 100% saam! Die sigaretmense se “jy moenie…” anti-dagga wette se “jy durf nie!!!” en dan word hulle met mekaar vergelyk asof hulle enigsins ooreenstem.

Rupert Ashford ·

Hierdie is (nog) ‘n bewys van die mag van die media en sosiale media om met mense se koppe te smokkel. Die gesondheids risiko’s verbonde aan dagga rook is net so groot, indien nie groter as tabakrook nie, maar die propaganda verdoesel dit. Ouens wat sterker goed gaan soek nadat met hierdie goed begin is, gaan dit nogsteeds doen en daar gaan meer wees. En dan wil hulle universal healthcare ook nog instel, sodat ander mense moet betaal vir die gevolge hiervan.

DeVill ·

Ek het aan die begin net een lepel koffie en een lepel suiker gebruik.

Maar ek soek deesdae iets sterkers. Nou drink ek twee lepels koffie met drie lepels suiker!

Koffie is meer verslawend as dagga.
Suiker is baie meer skadelik as dagga.

Drink jy koffie en gebruik jy suiker?

Blaarman ·

Nee meneer, jy het dit agterstevoor om.

Die oorspronklike sonde / propaganda rakende dagga was afkomstig van die Nixon-era se “war on drugs”, waartydens die Amerikaanse regering hulle eie navorsing, wat aangedui het dat dagga baie goeie mediese toepassings het, onder die mat geveë het.

Die nagevolge hiervan was juis ‘n toename in kriminele sindikate en bendes, en die kollaterale skade wat dit gemeenskappe en die breër samelewing aangedoen het.

Gys ·

Mense moet asb tog nie minder rook nie, dis sleg vir my British American Tobacco aandele.

marous ·

Die plasies wat gewettig is moet nou geregistreer wees en belasting betaal en pestisiede klaring kry en rekords hou en voordele vir werkers betaal en donasies en en .. en nou is dit glad nie meer winsgewend nie .

Nick ·

Net soos ons ou verkrampte nasie is, huil oor dagga maar weet nie waarvan hulle praat nie. Idiote !!!!! Viva dagga !!!!!!!

Andre ·

Giggelgras help dalk om die volk se verkiesingsangs te verlig?

Go for it!

Ligte uit …. ha … ha …ha!

Staat gekaap …. ha … ha …ha!

Junk status …. hie … hie … hie !

Water klaar ….. ge …ge ….ge…!

Nammawan word vrygespreek … whaa … haa … haa…!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.