Nuuskommentaar: Skaapslag op die strand

Betogers op ʼn strand by Clifton in Kaapstad waar hulle ʼn skaap geslag het as deel van ʼn betoging teen rassisme. Volgens die betogers was die slagting van die skaap gedoen om die Moederstad “te reinig van rassisme”. Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die storm om die Clifton se vierde strand-voorval, wat deur onder andere die ANC as ras-uitsluiting voorgehou word, het ’n komplekse stert bygekry toe ’n skaap op tradisionele wyse op die strand geslag is, en benewens dieremishandeling ook die oortreding van gesondheidsregulasies ter sprake gekom het. Dit was duidelik provokasie. Hoe moet so iets hanteer word, veral met die oog op vanjaar se verkiesing wanneer die ANC gaan probeer om die Wes-Kaap te “bevry”? Objektiwiteit hier vereis dat politieke korrektheid geen ruimte het nie.

Die laaste ding wat enige mens met net ʼn greintjie medemenslikheid sal wil doen, is om dieremishandeling goed te praat. Daarom kan opslae verwag word oor die “seremonie” op Clifton se vierde strand waartydens ’n skaap geslag is om die “smet van rassisme wat daaroor sou hang,” kamma te besweer.

“Kamma”, want selfs die mees politiek naïewe persoon sal met ’n stok kan aanvoel dat dit hier om politieke opportunisme gaan.

Om die saak nugter te bekyk beteken ook dat ’n mens nie politiek korrek kan wees nie. Om die kompleksiteit van die situasie te verduidelik beteken dat dit in eenvoudige taal gedoen moet word, en die gevaar geloop word om ’n baie sensitiewe saak heeltemal oorvereenvoudig te stel.

Ongelukkig kan die waarheid nie voorkom dat op tone getrap word nie, maar dit word so sagkens gedoen as wat moontlik is.

Die Wes-Kaapse regerende party, die DA, is volgens baie aanduidings in die moeilikheid, en die ANC, self op die oomblik in tamatiestraat soos blyk uit sy struikelende lysproses, span alles in om die Kaap te “bevry”. En hierdie jaar se verkiesing bied ’n geleentheid, al is dit miskien nie ’n ideale geleentheid nie. Maar tegnies is dit ’n geleentheid, en dit word desperaat aangegryp.

Met die aftakeling van apartheid deur die vorige regering is die proses “versag” deurdat baie wit mense hul welvaart kon inspan om ’n vorm van eksklusiwiteit te koop. Swembaddens by woonkomplekse en private wonings kon byvoorbeeld die openbare swembaddens as afkoelplek vervang.

Skole in welvarende woongebiede was tot ʼn mate verskans teen die toestroming na die ou Model C-skole. Vir politici soos Panyaza Lesufi, erg omstrede LUR vir onderwys in Gauteng, is dit ’n pyn, en die huidige toestroming word kunsmatig gefasiliteer, wat beteken dat Afrikaans as onderrigmedium baie gou onder enorme druk kom.

Of die feitlik wêreldwye neiging tot ras-eksklusiewe ontspanning en kulturele uitdrukking regverdigbaar is of nie, dit het veral die superrykes in staat gestel om eksklusiwiteit te koop, ook van wit mense wat nie in geld rol nie. Dit het superrykes in staat gestel om terselfdertyd feitlik ras-eksklusief te wees, maar vir daardie dampkring, terselfdertyd uitgesproke Cape Libs.

Die regs- en bestuursvereistes van kusstroke is uiters kompleks. Net die Afrikaanse opsomming van die 2014-konsepplan van die Stad Kaapstad vir die hantering van die ongeveer 260 km kusstrook beslaan 34 bladsye. Dit kan onmoontlik volledig hier weergegee word, maar in kort kom dit daarop neer dat toegang tot hierdie gebiede aan voorheen benadeeldes ’n groot oorweging is, maar dat bestaande regte en wetlike bewaringsvereistes nie in die proses geskend mag word nie.

Die oorhoofse beginsel is om private besit so ver moontlik terug te druk, enersyds ter wille van openbare toegang, maar ook omdat die stygende seevlak eiendomsreg kan benadeel.  Elke persoon wat oortree, sal verantwoordelik gehou word. Die Afrikaanse opsomming van die konsepplan kan hier gelees word.

In 2016 het die provinsiale LUR vir omgewingsake insette ingewag vir voorstelle oor die konsepplan van die Wes-Kaapse regering. Die Stad Kaapstad het dus nie die enigste belang nie.

Veral op bepaalde dae soos Kersfees en Nuwejaar het dit bykans tradisie geword dat strande, ook strande in baie eksklusiewe rykmansgebiede, “oorstroom” is. Dit skep ’n gevoel van verdringing, soos ook uitgedruk in die omstrede uitlating van die politiek-liberale Penny Sparrow. Sparrow was nie die enigste voorbeeld nie. Te midde van die Sparrow-storm het dit ook in Houtbaai gebeur en groot publisiteit gekry, maar nie so bly eskaleer soos die Sparrow-voorval nie.

Nie alle produkte van die Cape Libs bevind hulle in die DA nie. Die Clifton-voorval is tot ’n groot mate georganiseer deur ’n wit vrou met ’n Afrikaanse van, en van ’n Suid-Kaapse dorp, waar sy die DA-beheerde munisipaliteit grys hare besorg. Sy is ’n medestigter van die BLF. Sy het haar mes in vir “wit monopolie-kapitaal”.

Haar spieëlbeeld word gevind in die optrede van eertydse sendelinge soos Reid, Van der Kemp en Phillips, wat op die oog af meer swart as swart mense probeer wees het, en dikwels swart mense ook voorgesê het wat hulle (van wit mense) moet pla.

Wie die private sekuriteitsbeamptes aangesê het om Clifton se vierde strand te sluit, is in hierdie stadium nie duidelik nie. In die proses is egter op baie sensitiewe tone getrap, en het vir vele in die ANC-EFF-BLF-dampkring die geleentheid gebied om die DA hard te probeer slaan.

Betogers op ʼn strand by Clifton in Kaapstad waar hulle ʼn skaap geslag het as deel van ʼn betoging teen rassisme. Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die skaapslag-seremonie is doelbewus misbruik om reaksie te kry. Tradisionele slagting bly ’n omstrede kwessie, en selfs die kosjer- en halaalmaniere van diere slag kom onder skoot. Met die ANC se eeufeesviering het ’n slagting van ’n bees in Bloemfontein by ’n geleentheid wat deur die destydse pres. Jacob Zuma bygewoon is, byvoorbeeld ’n groot mediastorm ontketen. Ter wille van sensitiewe lesers word nie detail oor die ritueel verskaf nie.

Die feit is dat dit baie mense erg ontstel, en swart mense wat in tradisioneel wit gebiede gaan woon, word feitlik soos klokslag deur bure by die DBV en die polisie verkla wanneer ’n tradisionele slagting in die agterplaas gehou word.

Ook met die Clifton-geval is diegene by die slagting betrokke by die DBV en polisie verkla. Die DA sou waarskynlik onherstelbare skade onder wit kiesers gely het as die strand-toegangstorm-voorval gevolg is deur handjiesgevou te wees oor die slagting, selfs al beteken dit dat die klagtes die DA ’n aantal swart stemme kan kos.

Salomo se wysheid sal nou die DA se voorland wees om ’n sweer wat onder die oppervlak gebroei het, te takel. Beginsels soos diereregte (wat boonop in wetgewing vervat is) kom te staan teen tradisionele gebruike wat soms, soos in hierdie geval, doelbewus gebruik word om politieke munt te slaan, maar as “neweproduk” rasseverhoudinge onder druk plaas.

Sou die DBV en polisie nie optree nie, gaan daar ’n storm wees. Beland die plegers daarvan in die hof, bied dit die geleentheid aan politieke heethoofde om weer betogings en optogte te hou.

Hierdie is op die oog af ’n goeie plek vir behoudendes om te makeer. Die Cape Libs en die links-radikales kan mekaar nou goed besig hou. Maar iemand moet objektief van die kantlyn dophou en leer, want die sweer het nou oopgebars en kan nie meer met pleistertjies toegeplak en min of meer geïgnoreer word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae