Nuuskommentaar: Skole – beteken godsdiensvryheid géén godsdiens?

Foto: Don Mcphee/Guardian

Foto: Don Mcphee/Guardian

Met die land se oë op die uiters belangrike grondwethofsaak in die Renate Barnard-saak vandag, word die aandag ook op ʼn ander baie belangrike saak gerig.

Die organisasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie het ʼn aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg gebring om ses skole landswyd te verbied om ʼn Christelike etos voor te staan.

Dié veldtog is nie nuut nie. Reeds in 2009 het die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) laer getrek om die veldtog waarby Hans Pietersen ʼn leidende rol speel. Die veldtog is aanvanklik onder die vaandel bedryf van Skepties Suid-Afrika, waarin die bekende wetenskapjoernalis George Claassen en selferkende ateïs, die leidende rol gespeel het. Claassen het hom onttrek, en Pietersen het die leiding geneem. Skepties Suid-Afrika het sy naam na Vrydenker Suid-Afrika verander.

Dié organisasie het dit vanuit die staanspoor gestel dat sy optrede nie teen die Christelike geloof self gekant is nie, maar dat praktyke wat in die naam van godsdiens, en in die besonder die Christelike geloof in openbare skole gepleeg word, daartoe lei dat teen kinders wat ander gelowe, of geen geloof nie, aanhang, gediskrimineer word.

In 2009 was die skole se reaksie dat leerlinge van ander gelowe as die skool se etos, van aktiwiteite vrygestel word waar die Christelike etos bedryf word.

In die praktyk neem dit die vorm aan van ʼn stryd tussen die funksies en regte van skole se beheerliggame en die staat, wat sedert die ANC aan bewind gekom het, al telkemale in die howe beland het. Oorwegend is in die guns van beheerliggame beslis.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid- Afrikaanse Skole (Fedsas) is dus vanuit die staanspoor by die nuwe aansoek betrokke. Die organisasie se uitvoerende hoof, Paul Colditz, wys tereg daarop dat die saak nie net die ses skole wat in die hofstukke gelys is raak nie, maar elke ander openbare skool wat in sy etos ʼn godsdienstige sy aandui.

AfriForum het reeds in 2009 aangedui dat hy enige skool met regskoste sal bystaan, sou die reg op godsdienstige etos ter sprake kom. Sedertdien het daar op die regsterrein heelwat gebeur, sodat Pietersen en sy organisasie hulle nou skynbaar met vertroue op die skolewet kan beroep. Fedsas sal nou eers Vrydag, na oorleg met die skole wat nou regstreeks geraak word, besluit of die saak teengestaan gaan word. Volgens Colditz sal die saak waarskynlik in die grondwetlike hof gaan draai as dit nou verder gevoer word.

Dat hierdie saak gou na ʼn punt toe moet beweeg, is baie duidelik, omdat sulke sake selde tot die skole beperk bly, maar uiteindelik deurgetrek word na elke ander sfeer waar die owerheid ʼn betrokkenheid het, soos in die VSA, en uiteindelik ook as “politiek korrek” na ander sfere uitbeweeg.

In breë trekke het die howe in die VSA beslis dat godsdiensvryheid vir praktiese uitlewing neerkom op “geen godsdiens” nie. In die jongste verlede was daar beduidende regspraak wat die skaal in die ander rigting swaai. Die optrede van Amerikaanse groepe soortgelyk as Vrydenkers Suid-Afrika, wat soos bloedhonde optredes uitsnuffel wat teen hul persepsie indruis – dikwels ver buite die deelstate waarin hulle gesetel is – het ʼn persepsie van ʼn vendetta teen godsdiens laat ontwikkel en ʼn weerstand begin ontlok. Verteenwoordigers van verskillende godsdienste het dit as ʼn diktatoriale neiging begin beleef, en die rug begin styf maak.

In Duitsland is die teenoorgestelde benadering gevolg. Na die Tweede Wêreldoorlog is geoordeel dat die gebrek aan waardes wat godsdiens voortbring, tot die opkoms van Nazisme gelei het. Hoewel Duitsland volkome godsdiensvryheid het, is die aanbied van godsdiensonderrig verpligtend gemaak, maar nie die bywoning daarvan nie. ʼn Paar jaar gelede is die godsdiensonderrig só uitgebrei dat leerlinge kan kies tussen onderrig in die Christelike godsdiens, of die Islam.

Die vind van geskikte personeel om Islam te onderrig was ʼn oefening op sy eie. Die Duitsers het geen aptyt dat Moslems op belastingbetalerskoste in die radikale Islam onderrig word nie. Weens godsdiensverwikkelinge in byna elkeen van die lande van herkoms van die Moslems – soos Turkye, Sirië, Iran en ander – het probleme gebied. Voorts is die Islam nie ʼn uniforme godsdiens nie en ken omtrent net soveel uiteenlopende vertakkings as die Christendom. Die beste opsie het toe geblyk leerkragte wat oorspronklik uit Indonesië kom te wees, waar die Islam se karakter glo die naaste aan tradisionele Duitse waardes kom.

Voorbeelde van hoe die “geen-godsdiens-veldtog van die VSA tot absurditeite gelei het, het ook periodiek in die Suid-Afrikaanse media verskyn. Die bekendste voorbeeld was seker die regter wat ʼn beeld van die tien gebooie uit sy kantoor moes verwyder. Monumente wat oorlogsgesneuweldes gedenk is vervolg omdat daar iewers op die toneel ʼn kruis voorgekom het. ʼn Kerk is aangekla omdat, as deur die toegesluite hek gekyk word, ʼn Christelike simbool te sien was, wat die teenstanders geoordeel het “in die openbaar” te wees en “aanstoot” gegee het.

Die gebruik van “Merry Christmas” is met “happy holidays” vervang weens die verbintenis met die Christelike geloof.

Toe die “In God we Trust” wat onder meer op Amerikaanse geld aangebring is, enkele jare gelede die vyftigste herdenking gevier het, is daar ook ʼn aanslag hierteen geloods, maar het misluk.

Teenstanders van die ateïstiese veldtogte, veral wanneer dit ʼn aggressiewe neiging van godsdensvervolging begin aanneem, argumenteer dat ateïsme ook in wese ʼn geloof verteenwoordig, en dus dieselfde status as ʼn godsdiens onder ʼn grondwetlike bedeling wat godsdiensvryheid waarborg, moet geniet. Die afdwing van ʼn ateïstiese etos kom dus juis op die skending van godsdiensvryheid neer.

Dit beteken natuurlik nie dat die saak nie met nugterheid onder oë geneem moet word nie. Word na sosiale kommentare gekyk, is dit soms ontstellend om te sien hoe onverdraagsaam sommige mense soms onder die vaandel van godsdiens kan word. Terwyl die Christelike geloof juis duidelik is dat die oordeel nie die mens toekom nie, word ander mense, ook mede-Christene wat anders glo, links en regs veroordeel en selfs hel toe gestuur.

Van getuienis deur voorbeeld te lewer soos wat die bekende Thomas van Aquina hoofsaaklik gedoen het, is daar min tekens.

Aan die ander kant, die Christelike geloof verwag van die gelowige om nie net in die kerk ʼn Christen te wees nie, maar in sy huwelik, sy werksplek, sy ontspanning – trouens sy hele lewe. Al is dit bloot om deur sy lewenswyse te getuig. Die vroomprater in die kerkraad wat tuis sy vrou verskree en by die werkplek soos ʼn matroos swets, stel nié daardie voorbeeld nie.

Dit is onverdraagsaamheid wat instansies soos Vrydenkers Suid-Afrika die skietgoed verskaf.

Vir diegene wat al vergeet het wat die vrugte van die Heilige Gees is, hier is die lysie soos versamel uit die Bybel: Verstaan die genade van God die goeie, regverdigheid, waarheid, leer wat gee God vreugde, liefde (wat weer mooi in 1 Kor. 13 beskryf word), vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, inskiklik, vol genade, onpartydig, nie veroordelend.

En om te weet wat die slegte vrugte is, hier is die lysie uit die Bybel ook. Deelname aan ongehoorsaamheid, dade wat in die geheim gepleeg word te erg om te noem, verwaandheid, uitlokkend/skoorsoekerig, jaloers wees, selfsugtig, vertel leuens, skynheilig, veroordeel kwaadwillig.

Pietersen en sy kollegas het ook verklarings om deur voorbeelde hul saak te stel. Dit sal interessant wees om te sien met watter lysie die voorbeelde van optredes van Christene kom dat Pietersen-hulle dit nodig vind om die saak aanhangig te maak.

Elke gelowige het ʼn belang daarby dat godsdiensvryheid in Suid-Afrika nie met ateïsme gelyk gestel word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Nell Weyer ·

Dit sal waardeer word indien Maroele Media ‘n indiepte artikel kan doen oor al die rolspelers in hierdie aangeleentheid. Dit sal alle Christene instaat stel om weer te besin oor waar hulle hul besigheid wil neem. Ek persoonlik sal dit haat om een sent aan mnr Pietersen of sy prokureurs te laat toekom. Ons verneem graag van Maroela Media.

VerVanRyn ·

Pietersen en kie gaan seker baie op die emosies speel tydens die hofsaak. Dis ‘n jammerte dat ons nou ook in hierdie bootjie staan waar die Christelike etos van skole aangeval word, as ons ons oë uitveë het SA ook skoliere wat los brand op mede skoliere. Hierdie maak die oproep aan ouers om te verseker hul kinders kry ‘n grondige Christelike opvoeding net sterker.

Dit is wel ‘n goeie ding wat ons hier sien, want wie getrou bly tydens verdrukking en vervolging se geloof word gelouter soos goud in die vuur. Hierdie is niks anders as vervolging van Christene nie, ongeag van wat Pietersen sê en van die afleiding wat gemaak kan word oor die hof uitspraak se gevolg vir alle gelowe in skole. Meeste Islamitiese skole is privaat en daar is nie veel ander gelowe wat aandag kry in SA skole nie.

PJ ·

Ek sekondeer Nell. Laat ons saamstaan en die wortel uitroei en nie die tak afkap nie.

Thys Human ·

Godsdiens (enige godsdiens) hoort in die huis of in die kerk/tempel – nie in skole of die regering of die regbank of die werkplek nie.

Al wat my pla van Hans Pietersen is dat hy en sy trawante soos Claasssens en Jurie van den Heever van Stalinbos, liederlike Afrikanerhaters is. Dit maak dit moeilik vir mense soos ek wat hulself as vrydenke AFRIKANERS beskou, om die konsep van non-teisme behoorlik uit te dra.

Christiaan Jooste ·

Ag Ou Oom Thys, as dit vir Oom moeilik gemaak word om die evangelie van “non teïsme” uit te dra is ek baie dankbaar.

Henkst ·

Nie-teïstiese religieë stel die bestaan van ‘n god of gode nie sentraal in die religieuse belewing nie. Die Taoïsme, Boeddhisme en Advaita Vedanta (‘n filosofiese rigting binne die Hindoeïsme) is voorbeelde van nie-teïstiese religieë. Nie-teïstiese religieë moet nie verwar word met ateïsme nie. Nie-teïstiese religieë is nie teen gode nie en mag selfs die bestaan van gode bevestig. Gode neem egter wel ‘n minder dominante plek in die leer; hulle is ondergeskik aan konsepte soos byvoorbeeld die Tao wat WEG beteken, Verligting of Nie-dualisme.

Andreas Meyer ·

“Godsdiens (enige godsdiens) hoort in die huis of in die kerk/tempel – nie in skole of die regering of die regbank of die werkplek nie.”

Hoekom nie, Thys? Hoekom mag dit nie daar wees nie. Ateisme is ook ‘n geloof. Hoekom moet dit ‘n voordeel bo ander gelowe kry. Dis presies wat hulle probeer kry soos ‘n landdier wat visse probeer benadel deur om te se water hoort in die dam, maar nie elders nie.

Wouter van Wyk ·

Dit is duidelik dat hierdie hofaansoek ingrypende invloed op die vryheid van die individu en die vryheid van spraak en die vryheid van assosiasie kan hê. Dit is fundamenteel vir ‘n gelowige om oral en te alle tye van sy geloof te getuig, en hierdie vryheid mag nie ingeperk word nie. Christene wil en mag nie andersdenkendes dwing om saam te praat nie, maar nie-Christene mag ons ook nie probeer dwing om op sekere tye en plekke stil te bly oor ons geloof nie.

Thys Human ·

Wouter, die kwessie van godsdiens in skole het net mooi niks met vryheid van spraak, die vryheid van godsdiensbeskouing of die vryheid van assosiasie te doen nie. Dit gaan daaroor dat in ‘n gemeenskap waar daar uiteenlopende godsdiensbeskouinge is, geen godsdiens in staatsinstellings – soos skole – toegelaat KAN word nie want daar sal noodwendig teen ‘n ander godsdiens standpunt ingeneem en gediskrimineer moet word.

Dit het natuurlik doerrie tyd onder “apartheid” reeds gebeur toe die dogma en belydenisse van die NG Kerk hoofsaaklik in alle skole hoogty gevier het – dikwels tot die gramskap van ander gereformeerde kerke soos die GK en die NHK.

Iemand het ook hier die bewering gemaak dat dit net ‘n aanval op die Christelike geloof is. Dis helaas nie waar nie want die teenkanting teen godsdiens in staatskole geld vir ALLE godsdienste.

Andreas Meyer ·

Weereens foutief, Thys. “Wouter, die kwessie van godsdiens in skole het net mooi niks met vryheid van spraak, die vryheid van godsdiensbeskouing of die vryheid van assosiasie te doen nie” – Dit het juis iets met daardie vryhede te doen. Onthou ouers word gedwing om hulle kinders na skole te stuur. As hulle godsdiens verban, dan raak dit daardie ander vryhede.

Karin Marais ·

Ek stem saam met Thys. Hierdie is glad nie ‘n oorlog teen Christenskap op skole nie, en nog minder is dit vervolging van die Christene (kommentaar van sekere mense op die Beeld webblad gister). Ons konstitusie is duidelik dat daar gelyke regte moet wees vir almal. Dit sluit godsdiensvryheid in.

Christene, veral in publike skole, het NIE die reg om hulle godsdiens op kinders af te dwing nie. Maar sekere Christene, verontagsaam die skole wet en dink hulle kan doen net wat hulle wil. Hierdie Hooggeregshof aansoek is nou die NAGEVOLGE vir sekere indvidue wat voel dit is hulle reg om hulle geloof op onskuldige kinders af te dwing.

Daar is heelwat publieke afrikaanse skole wat Christenskap voorstaan wat nie na die Hooggeregshof gesleep word nie. Die rede? Wel miskien is dit omdat hulle bly BINNE die wet en nie hulle geloof afdwing op kinders van ander gelowe nie. Dalk ook maak hulle die nodige voorsiening vir ander gelowige kinders en kan daardie kinders elders doenig wees met huiswerk wanneer daar geopen word met bybel lees en gebed. Praat met die kinders wat NIE christene is in daardie skole nie en kry die waarheid.

Ek stem ook saam met Burger Visser dat ‘n skool se primere funksie akademie is. Maniere, waardes en geloof is die werk van die ouers.

Karin Marais ·

Ek stem saam met Thys. Hierdie is glad nie ‘n oorlog teen Christenskap op skole nie, en nog minder is dit vervolging van die Christene (kommentaar van sekere mense op die Beeld webblad gister). Ons konstitusie is duidelik dat daar gelyke regte moet wees vir almal. Dit sluit godsdiensvryheid in.

Christene, veral in publike skole, het NIE die reg om hulle godsdiens op kinders af te dwing nie. Maar sekere Christene, verontagsaam die skole wet en dink hulle kan doen net wat hulle wil. Hierdie Hooggeregshof aansoek is nou die NAGEVOLGE vir sekere indvidue wat voel dit is hulle reg om hulle geloof op onskuldige kinders af te dwing.

Daar is heelwat publieke afrikaanse skole wat Christenskap voorstaan wat nie na die Hooggeregshof gesleep word nie. Die rede? Wel miskien is dit omdat hulle bly BINNE die wet en nie hulle geloof afdwing op kinders van ander gelowe nie. Dalk ook maak hulle die nodige voorsiening vir ander gelowige kinders en kan daardie kinders elders doenig wees met huiswerk wanneer daar geopen word met bybel lees en gebed. Praat met die kinders wat NIE christene is in daardie skole nie en kry die waarheid.

Ek stem ook saam met Burger Visser dat ‘n skool se primere funksie akademie is. Maniere, waardes en geloof is die werk van die ouers.

Burger Visser ·

Dink die tyd is dat die vraag gevra word wat is die uitkoms van Christen onderwys . Die agtergrond daarvan was dat dit jare terug vermeng was met politiek en oorlog , eintlik maar net propaganda. Kan nie dink aan iemand wat ooit enige waarde uit die godsdiens periode gekry het nie.

n Skool se primere funksie is akedemie. As n skool hom uitgee vir n bedienner van die Woord en leerders se geeslike kant ook wil bedien , moet hulle inderdaad toegerus wees om dit te doen. Tradisionele geestelikheid gaan oor niks anders as tradisies nie en is waardeloos . Daar is niks meer gevaarlik vir die Christendom as hierdie gewoontes nie.

Soos dit tans bedryf word moet geestelike onderig gestop word. Gee geleentheid vir leerders om privaat bymekaar te kom onder die regte leiding en bied die geleentheid vir enige geloof.

Enige Christen ouer het n verantwoordelikheid om seker te maak wie die persoon is wat jou kind geestelik bedien. As jy nie 100% gemaklik is met die persoon nie, vat hom weg. Die meeste skole bedryf net n tradisie en jy wil nie he dat jou kind n Christen tradisie dien nie .

Dis jammer dat George Claassen hierby betrokke is. Hy dryf n agenda van ateisme en die vraagstuk is wat is aanvaarbaar en regverdig teenoor almal in die land.

Die groot hoop is dat ouers sal besef dat hulle persoonlik n geestelike verantwoordelikheid het teenoor hulle kinders en dit nie aangee vir n kerk of n skool nie. Jy kan nie jou kind geestelik lei as jy nie self daar is nie . Is dit nie hoekom ons tog so angstig is dat iemand tog maar die ou joppie doen nie , al is dit die skool wat maar net uit gewone mense soos ons bestaan en nie regtig omgee oor jou kind niue. Ons bedrieg eintlik net ons kinders.

Pieter van der Dussen Senior ·

Ek het in ‘n Christelike plaasskoolhoof se huis grootgeword en het tot die hedendaagse Graad 8 onder sy toesig en regstreekse onderwys ervaar dat Burger Visser se siening hoofsaaklik reg is, behalwe die eerste paragraaf wat ek daarby laat. Sedert die jare-vyftig het ek my met die ideaal van vrye staatsgesubsidieerde bemoei. Omdat die destydse staatsonderwys algemeen-Christelik-nasionaal was, kon mens jou daarmee tevredestel, Maar selfs toe al was Burger Visser se gedagte met “Soos dit tans bedryf word moet geestelike onderig gestop word. Gee geleentheid vir leerders om privaat bymekaar te kom onder die regte leiding en bied die geleentheid vir enige geloof” noodsaaklik in die lig van sy volgende paragraaf dat ouers self vir die geestelike versorging van hulle kinders verantwoordelik is. Met verloop van tyd het staatsonderwys ook begin sekulariseer en het enkele bewegings ontstaan om Christelike onderwys onder Afrikaners te bevorder. Ek was met een van hulle sterk gemoeid en onregstreeks ook met die ander een. Ongelukkig het baie van hulle se optrede eerder op nie-akademiese maatskaplike, partypolitieke, Europees-etniese en Godsdiensverskille as op die beklemtoning van vrye Christelike onderwys berus. In die nuwe milieu van private volksonderwys onder Afrikaners juis in die tydperk van opkomende rewolusie was ek jarelank nou betrokke en kan getuig dat hulle voortreflike baanbrekerswerk gedoen het. Daar is selfs tweekeer gepoog om ‘n naskoolse akademie soos ‘n nuwe universiteit tot stand te bring, waarvan die tweede waarskynlik sou geslaag het omdat dit op ‘n minder iedeologiese en meer saaklike benadering gerig was as dit nie vir die tekort aan befondsing was nie. Intusssen het sake op skoolvlak ook in die rigting van Burger Visser beweeg en is ek tans passief met ‘n nuwe onderwysonderneming verbonde wat ‘m sakebenadeerring het vir die skool wat hulle reeds bedryf en die opvolg daarop. Intussen het groter ondernemings soos Curro binne enkele jare op die toneel verskyn, almal op ‘n sakegrondslag. Maar ook kleiner privaatskole onder verskeie taalgroepe skiet soos paddastoele op, en dit is uiteindelik die belangrikste omdat die persoonlike verhouding tussen ouers en onderwysers en tussen onderwysers en kinders dan sterk bly.

Bouwe van der Eems ·

Kerke is bekommerd oor die tendens dat jongmense die kerk verlaat. Daar word gesê dat hulle “graduate out of church”. ’n Verskeidenheid redes word hiervoor aangevoer, maar selde word die invloed van die staatsgodsdiens wat deur publieke skole oorgedra word raakgesien. Kerke wat jongmense wil behou moet daarom kennisneem onderwysmoontlikehede buite die publieke skole. Hierdie hofsaak bevestig net nog meer die noodsaak dat Christen ouers hulle kinders uit die staatskole moet haal.

Henrietta Klaasing ·

‘n Godsdiens-neutrale skool is ‘n oksimoroon… Die algemene fout wat mense maak, is om te dink dat die nuwe onderwystelsel “neutraal” is. Ek het nuus vir hulle : Geen opvoeding van kinders , by die huis of skool of waar ook al, kan neutraal wees nie. Dit is altyd waarde-bepaald. Dit bepaal ook die KEUSE van handboeke ( wat weer te make het met die INHOUD van die handboeke…) – lees ouers nog wat in kinders se handboeke /werkboeke staan??

Opvoeding is in wese nie bloot net die oordra van kennis of vaardigheidsontwikkeling nie, maar ook (en veral!) karaktervorming. Om ‘n karakter te vorm beteken om gesindhede, houdings en waardes aan te leer, om te kan onderskei tussen reg en verkeerd. As Bybelse waardes nie by skole geleer mag word nie, watter “mens” se waardes stel ateïste in die plek daarvan voor? Hitler? Stalin? Marx?

Wata Moose ·

Daar is ‘n baie goeie rede dat ‘n openbare skool homself nie mag uitgee as ‘n skool wat “christelike waardes” voorstaan nie … Christelike waardes is eenvoudig net te laag in standaard … Sodra ‘n skool dus “christelike waardes” as ‘n doelwit het, sal hulle noodwendig ophou strewe na hoër waardes … <;o)

Pieter van der Dussen Senior ·

Henrietta, jy is heeltemal reg dat onderwys nie neutraal mag wees nie. In die vorige bedeling was die staatskole algemeen-Christelik en het dit baie van hoof en onderwysers afgehang hoedanig en in watter trant Godsdiens en ander vakke aangebied is. Ek het, soos ek tevore geskryf het, so grootgeword. Die nodige onderskeidingsvermoe om tussen goed en kwaad te kan onderskei is as deel van Godsdiensonderrig (die eerste daaglikse periode) maar ook waar dit toepaslik in die vakgebiede was. Geskiedenis en Tale en Natuurstudie is goeie voorbeelde. Maar leerstellig is ek tuis ooreenkomstig my ouers se doopbelofte opgevoed. Dieselfde het vir my opvoeding as Afrikaner gegeld. Dit was oorlogsjare en die gemeenskap was erg verdeeld met die oorlogsgesindes in groot meerderheid. Tog het my onderwyser daarin geslaag om die ongeregtighede van die Engelse Oorlog so nie-neutraal oor te dra dat selfs die dogter van die voorsitter van die plaaslike pro-Smutstak haar sterk oor die Ingelse uitgelaat het.
Dit het daardie tyd al baie van die onderwysers/-esse afgehang hoe die kinders geleer word binne die wetlik voorgeskrewe neutraliteit ten opsigte van Christelike en politieke verdeeldheid. Dieselfde geld vandag ook in private skole. Daarom is dit noodsaaklik dat onderwysers/-esse met groot versigtigheid gekies word ten opsigte van Christelikheid EN volksgebondenheid, twee dinge wat uit die Pinkstergebeure saamloop.
Maar hulle MOET goeie leerkragte wees. Ek het in my vorige kommentaar daarop gewys dat nie-akademiese verskille afbrekend inwerk. Ideologiese oorheersing is veral gevaarlik, soos by een groep die houding “hy is so ‘n goeie Afrikaner, hy sal ons gratis help”, ongeag of die kandidaat bekwaam is vir die taak wat hy moet verrig. By die ander groep speel “aan watter kerk behoort jy?” ‘n byna deurslaggewende rol ten opsigte van leerkrag EN leerling en word Afrikanerfeesdae soos Geloftedag nie erken nie. Gelukkig is daar by beide groepe verstandige ouers wat sake tuis regstel maar tevrede met die onderwys is.
Ek hou nie van kompromie nie. Maar ons woon en leef in buitengewone omstandighede waarin daar met versigtigheid maar ook verstandigheid gewerk moet word. In buitengewone tye moet mens dikwels met buitengewone optrede tewerkgaan in die rigting van wat ons normale omstandighede wil noem. Dit bring my by die vraag: Is daar iets soos normale omstandighede?-:)

Hardus Borckenhagen ·

Hieronder is ‘n kombinasie van 2 briewe van my wat in Volksbald gepubliseer is. Vraag is ook wie se teologie word verkondig in die skole? En moenie se “Die Boodskap van Christus nie”. Daar is sowat 87 kerkgenootskappe in SA wat die Boodskap verskillend interpreteer en 2000 wereldwyd , met baie wat weer van hulle weggebreek het.

” As jong mens tydens die apartheidsjare is ek gesê wat om te lees, wat om te kyk, wat om te luister, wat om te DINK. Ons lewe is deur ’n effektiewe teokrasie beheer. Staat en kerk was een. Mense is min gesê. Die meeste wou nog minder weet.

Ná 1994 ontdek ek boeke wat ek nooit kon lees nie. Nuwe wêrelde gaan oop. Ek begin krities kyk na dit wat aan my voorgehou is as die enigste waarheid en interpretasie en ek kom agter mense het my (doelbewus?) oor heelwat dinge mislei. Toe die feite verander, toe verander ek van opinie en is dit nie meer ’n geval van “Ek het klaar besluit; moet my nie met feite verwar nie.”
Wat is feite? Dít wat die wetenskap gebruik om dit om ons te verklaar. Daar is niks magies omtrent wetenskap nie. Dit is ’n sistematiese manier om versigtig en deeglik die natuur waar te neem en konsekwente logika te gebruik om resultate te evalueer. Watter deel daarvan stem u nie mee saam nie?
Om sistematies te wees? Konsekwent logies alles te benader? Krities om te gaan met alles?
Gaan jy regtig vir Stephen Hawking sê: “Stephen, ek sien jy het daar boeke met die wette van die fisika en jy is ’n slim ou, maar eintlik weet jy nie veel van die kosmologie nie. In my Boek staan die aarde is in ses dae geskape en ek dink nie jy sien die nuanses en dieper betekenisse hierin nie.” (Dieselfde geld genetika en die neurowetenskap.)
Waarom glo mense in onbewese dinge soos dat die aarde 6 000 jaar oud is; dat ’n vloed die wereld bedek het; dat die verskeidenheid tale in ’n oogwink onstaan het, ensovoorts? Ondanks die wetenskap wat dit as verkeerd bewys.
Die antwoord is kognitiewe disonansie. En dit verander jy moeilik.”

” ‘n Vraag wat gereeld by my opkom is hoekom iemand ‘n Christen / Moslem / Hindoe is? Wanneer jy iemand vra waarom hy of sy ‘n Christen is is die antwoord iets soos,” Want ek glo in God die Vader en dat Jesus vir my sondes gesterf het”.

Is die meer korrekte antwoord nie, “ Ek is uit ‘n huis gebore waar my ouers Christene was en in ‘n gemeenskap wat dieselfde geloof aanvaar het.” Jy het nie juis ‘n keuse gehad oor watter geloof jy in grootgemaak gaan word nie, en jy bevraagteken nie jou ouers se oordeel as kind nie. Jy aanvaar, sonder teëspraak, wat hulle sê as reg, veral oor die Onsienbare.

Is dit nie ook hoekom Haliwal Makadjie wat in Indië gebore is ‘n Hindu is nie? Of Abdul Hassan wat in Egipte gebore is ‘n Moslem is nie? Hulle gaan reguit hel toe omdat hulle ongelukkig in die verkeerde geloof gebore is? Hulle het as kinders ook hulle ouers slaafs nagevolg. Is dit dus regverdig teenoor hulle dat hulle verdoem is? En nee, almal gaan nie in hul leeftyd ‘n Christen ontmoet wat hulle die evangelie gaan bring en dus ‘n geleentheid bied om hulle van verdoemenis te red nie. Dink maar aan die Inkas/ Majas / Chinese, ens., wat nooit deur Christene bereik kon word nie. Is hulle ook verdoem of word hulle begenadig?”

Dalk is dit nie so onverstaanbaar nie as ’n mens dink wat godsdiens vir miljoene mense beteken. Die belofte dat die lewe nie eindig by die dood nie en dat ’n ewigdurende paradys en geliefdes wag, is sekerlik een van die grootste dryfvere agter geloof.

Aanvaarding dat die aarde miljoene jare oud is, dat ons nie van Adam en Eva afstam nie en maar net terugkeer na atoomdeeltjies met ons dood, ondermyn immers beloftes van ewige saligheid.

Ek inteendeel aanvaar ek is sterstof en dat ek tot sterstof sal terugkeer. ” We are stardust contemplating stardust”

Herman Mouton ·

Volgens my is die probleem dat sommige Afrikaners nie meer Die Woord van God ken nie. Daarom raak sommiges allerhande snert kwyt oor die Christen Afrikaners.Die Woord se duidelik dat n’ vriend van die wereld n’ vyand van God is. Die Woord se ook dat as jy jou met die semels meng,die varke jou sal opvreet.My punt is dus dat ek nie my kinders hoef bloot te stel aan hierdie sedelose wereld van ons nie,en ek HOEF nie met sulkes te meng nie. Gaan kyk gerus wat vandag in skole sonder waardes en normes aangaan,en jou hare sal rys! Gelukkig waarsku die Woord ons ook dat ons as Christene vervolg sal word waar ons ookal gaan-en dat ons moet waak en bid-want die eindtyd is naby.Wat nou gebeur is maar net n’ bevestiging van die boek Openbaring.(Die duiwel loop rond soos n’ brullende leeu in die nag) Mense wat nie glo nie is maar net n’ oop deur waardeur Satan ons aanval. Dus,namens al die Christen Afrikaners- Ons en ons huise SAL die Here dien!!!!!

Wata Moose ·

“The only thing that makes your particular faith absolutely true, is your absolute faith. It is your faith that matters to you, not truth. And maybe a billion others believe similarly too, but if a billion people believe a lie, it is still a lie. That’s what Christians would say of a billion Muslims; that’s what Muslims would say of a billion Christians; and that’s what I say of two billion with blind faith”
— One Deist Φ

Wata Moose ·

Daar is ‘n baie goeie rede dat ‘n openbare skool homself nie mag uitgee as ‘n skool wat “christelike waardes” voorstaan nie … Christelike waardes is eenvoudig net te laag in standaard … Sodra ‘n skool dus “christelike waardes” as ‘n doelwit het, sal hulle noodwendig ophou strewe na hoër waardes … <;o)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.