Nuuskommentaar: Skoolboelies

afriforum-teenboeliegids

AfriForum se teenboeliegids vir ouers, onderwysers en leerders. Foto: AfriForum/Twitter.

Skoolboelies is nou behoorlik in die nuus, en dit is ’n probleem so oud soos skole, maar met die koms van selfone en sosiale netwerke soos Facebook en Twitter het boelies ’n nuwe en baie giftige angel bygekry, berig Rooi Rose in 2012.

Kinders van ’n skrale ses jaar tot 13 jaar het al gesterf nadat hulle deur boelies bygekom is. Selfdood onder kinders wat die slagoffers van boelies geword het, is alledaags. Geen wonder nie ouers het al lyfwagte saam met hul kinders skool toe gestuur – iets wat skole natuurlik die piep laat kry omdat dit seker van die slegste “advertensie” is wat ’n skool kan kry.

Ouers van boelies glo nie graag hul kinders is boelies nie. By die huis is die boelie dikwels uiters fynbesnaard, met komplekse sielkundige probleme. Die laaste ding wat die ouer verwag, is dat daardie kind sy probleme, soos sosiale wanaangepastheid, op skool sal probeer verdoesel deur ’n boelie te wees.

Trouens, baie ouers van boelies glo hul kinders is die slagoffers van boelies. ’n Ma het volstrek geweier om dit van haar kind te glo tot die skool aan haar ’n video gewys het wat duidelik toon hoe haar kind ander op die skoolterrein boelie. Die ma was verslae, luidens mediaberigte.

’n Vrou vertel na aanleiding van die situasie by Grey Kollege in Bloemfontein haar jongste seun het op skool daagliks onder ’n boelie deurgeloop. Die vrou se man het haar baie jonk ontval, en sy het baie noustrop getrek om die pot aan die kook te hou. Elke jaar het sy die, volgens haar, vernedering ervaar om die skool te nader om haar kinders van skoolgeld vry te stel.

Elke dag het ’n kind haar seun se toebroodjies gedurende pouse kom vat. Wat die boelie nie geweet het nie, is dat sy slagoffer ’n ouboet en ouer suster in die skool gehad het. Ouboet was boonop ’n baie groot seun. Die boelie is kort voor lank behoorlik “uitgesorteer” – die soort verhaal waarvan ’n mens af en toe hoor waar die slagoffer ’n ouboet of twee het.

Dieselfde vrou vertel hoe haar kleindogter nou by die kleuterskool geboelie word.

Dit is belangrik dat ’n boelie se ouers weet van hul kind se optrede, en leiding ontvang om die probleem aan te pak, of te laat aanpak, hetsy ’n minderwaardigheidsgevoel waarvoor hy hom deur dominansie oor ’n ander probeer kompenseer, of blote wanaangepastheid.

’n Boelie wat sonder behandeling die volwasse wêreld betree, of wat hom bloot vasgeloop het (soos dat sy “swakker” slagoffer hom afgeransel het), kan erg wanaangepas wees. So het ’n skoolboelie, wat ook ’n puik rugbyspeler was, nie by sy nuwe spanmaats aangepas nie en baie gou vir ’n ander klub gaan rugby speel. (Sy ma was bekend oor hoe sy na haar “arme fynbesnaarde” seun verwys het wat so swaar onder klasmaats kry.)

Die boelie se latere probleme is egter gewoonlik gering teenoor die soms lewenslange letsels – sielkundig en letterlik – wat sy of haar slagoffers met hulle saamdra. Dit is dus noodsaaklik om boeliegedrag in die kiem te smoor, terwyl die boelie se sielkundige probleme, waar van toepassing, dan aandag kry.

Die hele kwessie het weer in die nuus beland deur ’n skrywe van Helena Wasserman, redakteur van Business Insider of South Africa, wat aanvanklik in News24 verskyn het, maar daarna vertaal op Netwerk24 geplaas is. Sy stuur ’n striemende aanval op AfriForum en sy huidige veldtog teen skoolboelies van stapel. Die vertaalde weergawe is geplaas ná die stringe feitefoute reeds in die media uitgewys is. In sowat 90% van die lesersreaksies word sy erg gestriem omdat sy, in haar politieke bevooroordeeldheid, so wild met feite omgaan.

Wasserman is nie die enigste verbete teenstander van AfriForum nie. In hierdie besondere geval is dit egter jammer dat ’n uiters belangrike veldtog soos dié teen skoolboelies, wat ’n broodnodige gids insluit, verdag probeer maak is – en dit met “feite” wat selfs benede fopnuus is.

Skoolboelies is nie net ’n uitsluitlik Suid-Afrikaanse probleem nie. In ’n nuwe Rasmussenpeiling in die VSA het 46% respondente aangedui dat hulle self, of iemand in hul gesinne, onder boelies deurgeloop het. Net 43% respondente en hul gesinslede het boeliegedrag op skool vrygespring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Zack ·

Dankie Herman en MM dis die beste berig vir die jaar. Alles is goed gestel. Seuns boelies verander gou na skool na vroueslaners en manupileerders. Ek glo vas dat ‘n boelie se onstaan by die huis begin. Kinders leer by hulle ouers en doen wat hulle ouers doen. Wat hartseer is dat Shoolhoofde weet hulle leerders is boelies maar doen niks daadwerklik om dit te stop nie. Dis waarom ek baie begrip het vir ouers wat boelies en skole hof toe vat en aanspreeklik hou vir hulle aksies.

HPV ·

Zack, jy is so reg en op die ou end is hulle die “losers” in die beroepswêreld.

nannie ·

Ek verstaan dat daar kinder boelies is. Maar wat my verstand nie kan klein kry nie, is die onderwysers wat boelies in die klas is. Mnr / mev weet jy wat jy aan daardie kind doen? Geestelik, verstandelik so afkraak dat ek as ouer by die huis daardie probleem moet mee deel. Hartseer trane, wil nie skool toe gaan nie, en as jy dit by die skool bespreek dan word daar net gese ons sal met die onderwysers praat. Niks gebeur nie. Soos in niks nie. Ek weet want ek sit met daardie probleem.

Rissiepit ·

Ek weet presies waarvan jy praat. My kind se gr 1 juffrou het hom so geboelie, vir hom gesê hy is n vaakvis ens. Hy is nou al ouer en dit is nogsteeds n hengse probleem. Jy kan met die hoof praat so veel jy wil, dan word daar deur die ander onnies op jou kind gepik omdat mamma hoof toe hardloop!!

Rudi ·

Daar’s baie onbevoegde onderwysers wat self die boelie is of as die kind kla omdat hy/sy geboelie word, word die kind erger deur die onderwyser geboelie. Ouers moet ingelig word as hulle kinders boelies is en as daar niks gedoen word nie moet die ouers ook verandwoordelik gehou word vir hulle kinders se aksies

AmY ·

Ek het self op skool onder boelies en boelie onderwysers op skool deurgeloop.
Glo my, die letsels wat dit los , sal nooit genees nie.
Daai vernedering in standerd drie deur die wiskunde onderwyser (voor die hele klas) spook nog steeds by my.

Leon ·

Ek is ook een van daardie ouers wat ‘n kind het wat geboelie was by haar skool deur die onderwyseres, en jy kan maar praat daaroor met die skoolhoof, wat jou net laat verstaan dat sy personeel die beste is en nie glo wat jy sê nie. Elke dag het ons inskrywing in haar boek gehad dat my kind nie haar werk doen nie, en ontwrigting in die klas is, en dat sy op Ritalin geplaas moet word. Toetse laat doen teen duisende rande, en verslag bepaal dat die juffrou maar liewer haar aandag aan skoolwerk moet gee, en nie sielkundige moet probeer wees nie.
Ek het my kind eenvoudig uit gehaal (graad3) en haar geskuif na ander instansie, en die verskil aan my kind se gemoedstoestand is so groot dat selfs ander vra wat het gebeur. Die nuwe onderwyseres wat my kind nou by is, se verslag tot hede is as volg: jou kind is besonder intelegent, haar werk is op datum, perfek en sy is slegs ‘n plesier om mee te werk.
Nou waar was die probleem dan?

Tammy ·

Is daar nog verbeteringskole? As n kind hom nie kan gedra nie sit hom tussen die klomp in n verbeteringskool sodat hy sy les kan leer. Hy sal daar beslis met nog van sy soort te doen kry en hulle sal mekaar uitsorteer.
Ek het meer as 20 jaar met sulke kinders gewerk en ek kan sonder twyfel se “boelies word gebore uit probleem ouers” Daar is nie dissipline in hulle huise nie en die meeste van die boelies is kinders uit n ouerhuis waar die ouers geskei is en die res is n klomp buite egtelike kinders. Die minderheid is kinders wat langs die pad met verkeerde mense meng en so die pad verloor. Ek weet my stelling gaan pandemonia veroorsaak maar lees net koerante en kyk wie die meeste dwelms gebruik, verkrag, en selfs moor, kyk wat in die ouerhuis aangegaan het en nog steeds aangaan. Daar is nie n einde aan die ellende wat in n swak ouerhuis gekweek word nie. Die kinders kry nie genoeg aandag en liefde nie en sal enige iets doen om dit te kry, wat ek ook geleer het is dat hierdie kinders uit swak ouerhuise uiters jaloers is en desparaat is vir aandag, absoluut ‘ absoluut desparaat. Aandag beteken meer as enige vriendskap vir hulle.

koos1 ·

Ek het ook onder onderwyser boelies deurgeloop, maar in my dae het jy jou mond gehou en aangegaan, want die onnie was altyd reg. TOT in my st. 9 jaar. Toe is ek mos nou ‘n mooi groot man. Wel al wat ek kan sê is, toe die mans onderwyser my teen my nek afpluk om met ‘n plank te slaan, vir iets wat ek nie gedoen het nie, toe word hy deur my teen sy swart bord vas gedruk dat sy voetjies spartel, en mooi vertel wat aangaan. Hy het nooit meer met my of enige ander leerling gesukkel nie en is einde van die jaar weg by ons skool. Ek en my pa is ingeroep oor my gedrag, maar die hoof het verstaan en ek het ‘n verskoning gekry! Kinders moet opstaan teen boelies.
Leer jou kinders reg, geweld is nie ‘n oplossing nie MAAR so af en toe is dit nodig!!

Erica ·

Hulle sien dit meestal by die huis, ma of pa boelie hulle of mekaar. Dit is tyd dat volwassenes die voorbeeld by hulle huise vir hulle kinders begin stel.

Rina Nortje ·

Dikwels, veral by meisies is dit juis die gewilde kinders wat met woorde boelie. Ek speel mos eerste span, of is die top redenaar, of my ouers dra baie geld by tot die skool se kas, so ek mag sê net wat ek wil vir minder gewilde kinders. woorde maak baie seerder as fisiese boelies.

Cornelia ·

Hierdie onderwerp is vandag meer in die oopte omdat dit gestaaf kan word uit voorbeelde van wettelose gedrag vanaf die hoogste “trone” tot by die laagste “tone.” Ek is in ‘n klein plattelandse omgewing gebore en getoë. My waarneming van mense se “gedrags DNA” is dat gesonde dissipline tuis ‘n waardetoevoeging tot ‘n kind se begrip en aan vaarding van gesag en respek, tuis gekweek word, ongeag armoede of rykdom. Die onregte daarbuite word getemper deur streng maar regverdige reëls in die ouerhuis wat die kleinste sosiale opvoedingsstimuli en voorbeeld tussen kind en volwasse gesag, moet balanseer. Alles verloop egter nie in elke huis se beste bouwerk, volgens plan nie. Daarom veralgemeen ek nie. Maar in my skolastiese omgewing was die ontsag vir die dissipline leermeester, beslis ‘n stang en toom in ouers se tydelike afwesigheid. Jy het jou ouers liefgehad en hulle naam hoog gehou ongeag. Die “rillers” wat tuis, deel geword het van sómmige kinders se lewensskool, is so tragies en ontwrigtend dat selfs volwassenes daaronder sal knak. ‘n Gebrek aan liefde? Empatie? Onbetrokkenheid? Die mens wat sy water vrylik gee, voel met tydsverloop leeggeput. As elkeen maar hand in eie boesem steek. Daar is en bly Hoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.