Nuuskommentaar: Skoon energie kry skop op sitvlak

Argieffoto

Die sektorale hantering van ’n noodsituasie kan maklik ernstige gevolge vir ander sektore inhou. Juis daarom is dit so belangrik dat ontkenners en onkundiges hulle as beplanners uit ’n belangrike kwessie soos die droogte in die Wes-Kaap hou.

Die Trump-administrasie gaan luidens ’n berig in De Standaard die Kongres versoek om die begroting vir skoon energie aanstaande jaar met 72% te verminder. Daarmee, verklaar De Standaard, word getoon watter voorkeur Trump aan steenkool- en kernkrag skenk.

Trump het reeds groot ontsteltenis veroorsaak deur doeane-voordele vir die invoer van sonpanele op te skort.

Die VSA is waarskynlik een van die lande wat die ergste deurloop onder verskynsels van klimaatsveranderings soos tornado’s, droogtes in Kalifornië, oorstromings, die styging van die seevlak wat nou reeds honderde argeologiese terreine bedreig, en vele meer.

Hoekom bevind die VSA hom nie aan die voorpunt van die stryd teen die mens se rol in klimaatsverandering nie? Selfs ná peilings getoon het die aantal Amerikaners wat erken dat die mens ’n rol in klimaatsverandering speel, is nou meer as die ontkenners.

Dit het onlangs geblyk dat die VSA nie die enigste land is wat homself met betrekking tot klimaatsverandering in die voet skiet nie. Dit het aan die lig gekom dat tydige beplande optrede van Kaapstad om die huidige droogtekrisis te voorkom destyds deur ontkenners wat op die panele beland het, in die wiele gery is.

Nou haal Kaapstad, as wêreldstad, gereeld die nuus oorsee oor sy komende Dag Zero. Dis nie die soort “advertensie” wat die land nodig het om uit sy slegte beeld oorsee te ontsnap nie.

’n Voeteslepery en ontkenning maak dit nie makliker om die gevolge die hoof te bied nie. ’n Hele aantal faktore is ineengeweef om die resep van katastrofe te voltooi. Tydens ’n onlangse bekendstelling van die vordering met ’n watersuiweringsaanleg in Valsbaai, het dit geblyk dat die gesuiwerde seewater teen ’n koste van ongeveer R40 per 1 000 liter verskaf word, teenoor internasionale voorbeelde waar dit so laag as R12 per 1 000 liter is.

Koeberg-kernkragstasie.

Die vernaamste rede vir die verskil is die prys van elektrisiteit. Die proses is elektrisiteitshonger, en Suid-Afrikaners dok heelwat daarvoor op – terwyl Eskom huil vir meer geld van die regering. En pres. Jacob Zuma droom van ’n rits kernkragsentrales wat die land nie kan bekostig nie. Kortom, hoe duurder die elektrisiteit word, hoe minder bekostigbaar word ontsouting, en hoe minder kan die land sy waterkrisis die hoof bied.

Ironies het die Koeberg-kernaanleg self ’n ontsoutingsaanleg beplan – iets wat heelwat sin maak omdat die ontsoutingsproses aangehelp word deur warmer water, soos water wat uit die verkoelingsaanleg terug in die see loop. Ongelukkig lyk dit of dit net ’n mini-aanleg sal wees. Verder sal Koeberg ook nie elektrisiteit aan sy eie aanleg verkoop teen die prys wat die publiek opdok nie. Hoewel tot November verlede jaar gereeld positief oor die planne berig is, is dit nou moeilik om vas te stel of dit nog deel van die planne is.

Intussen gaan die droogte sy onverbiddelike gang. Dit is nie net die stad wat geraak word nie, maar ook die landbou. Die Bergrivierdam, wat besproeiingswater aan die boere langs die rivier voorsien, se laaste sluis is nou toegemaak. Die dam, wat ook water aan Kaapstad lewer, is meer as 50% vol. Dit is ook deur gravitasietonnels met onder meer die Theewaterskloofdam verbind, wat maar sowat 13% water het, en benewens aan Kaapstad ook water aan besproeiingsboere langs die Riviersonderend-gebied moet voorsien.

Kortom, swak beplanning in een sektor kan ’n ander sektor laat sink.

’n Deeglik ingeligte publiek is baie belangrik. In die VSA sou verwag word dat die mees onlangse natuurrampe Trump se gewildheid sou knou. Die jongste peiling, wat ook reeds Trump se staatsrede ingesluit het, toon dat Trump laas in Junie verlede jaar so gewild was as nou (maar steeds minder as 50%).

’n Natuurramp is nie die geleentheid om persoonlike idees toe te pas nie. En daarvan het die Kaap oorgenoeg gehad.

Nou is dit deurlopend saamspan en seker maak dat die beste tegnokratiese opsies gevolg word.

En natuurlik, om in verootmoediging die Here om Sy wysheid af te bid.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Kortweg ·

Kortweg: ‘Jy weet genoeg indien jy besef dat jy nie genoeg weet’. M.a.w. dis dan wanneer jy gaan soek na kundige hulp en jou politieke ambisies eenkant skuif.

Jack Klok ·

Een van die redes waarom so baie mense ‘n renons in die aardverwarmingstorie gery het is vanweë die enorme winste wat die tromslaners uit mense se liggelowigheid slaan. Lande koop en verkoop koolstof krediete, mense word met “fake news” op hol gejaag en skuldgevoelens word opgewek. Ewe skielik pleeg jys sonde as jy met jou motor winkel toe gaan, jy moes liwer bus of trein gery het of verkieslik gestap het ens.

Ons grootste probleem is daar is te veel mense op aarde. Bevolkingaanwas moet drasties afneem, dan sal aansprake op al die hulpbronne, onder andere ook water en fossiel brandstowwe afneem.

Jonathan ·

Stem. Plaaslik sit ons egter met ‘n groter probleem. Die vorige bestel het destyds slegs aan ‘n klein deel van die land voorsien. Toe kom die nuwe regering aan bewind en miljoene meer maak aanspraak op daardie selfde hulpbronne. Daar heers dus nou ‘n groot agterstand, die infrastruktuur kan nie byhou. Koppel dit aan die instroming van immigrante van naburige lande en eksponensiële bevolkingsgroei en jy’t ‘n resep vir moeilikheid. Tereg soos jy sê: ons is oorbevolk. Te veel mense, te min hulpbronne.

Hendrik ·

Natuurlik is jy reg dat daar te veel mense op die aarde is. Maar jy moet ook onthou dat ‘n Amerikaner se koolstofvoetspoor 1000 keer groter is die van ‘n bestaansboer in Malawi. En wat maak jy met die feit dat daar te veel mense op aarde is? SA is voor die ry as dit by “vuil” elektrisiteit kom as gevolg van die CO2 en swael gasse wat steenkoolverbranding veroorsaak.

WG ·

Die verskil in prys (R12 teenoor R40) van water kan nie toegeskryf word aan elektrieseteit nie aangesien die enigste lande me goedkoper eletrieseteit China en Indie is (dit is 20 % minder). Die probleem is BEE wat weens korrupsie en onbevoegdheid kostes deur die dak laat skiet.

WG ·

Twedens die idee dat alles van droogtes tot vloede geblameer kan word op CO2 wat sedert die industriele rewolusie in die atmosfeer beland het is belaglik! In die laaste duisend jaar het die wereld klimaat drasties verander. Lees op oor die middel eeuse warm periode en die klein ys tyd perk. Was dit ook weens CO 2?

Hendrik ·

Al gehoor van “wetenskaplike konsensus”? Dit beten nie dat alle wetenskaplikes saamstem nie, maar dat die oorgrote meerderheid saamstem. Vandag heers daar wetenskaplike konsensus dat aardverwarming grootliks deur die verbranding van fossielbrandstowwe veroorsaak word. Al die Trump aanhangers moet n slaggie nadink oor die effek van sy beleid op Suid-Afrika se boere en nou ook stede. Laat hy wat ore het, hoor!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.