Nuuskommentaar: Skote van ver ook op SA ekonomie

Sjiïete swaai hul wapens om hul gewilligheid, om by Irakese sekuriteitsmagte aan te sluit, te toon. Foto: chalo.in.th

Sjiïete swaai hul wapens om hul gewilligheid, om by Irakese sekuriteitsmagte aan te sluit, te toon. Foto: chalo.in.th

Die sompompies is uitgehaal om die moontlike en werklike skade van die Numsa-staking op die Suid-Afrikaanse ekonomie te bepaal. Maar die feit dat Suid-Afrikaners weer meer vir die tier in die tenk moet opdok, is nie net in Suid-Afrika bepaal nie. Onder die talle redes duik ook ‘n paar woorde op wat volksvreemd op die ore klink: kalifaat, intifada en jihad.

Die Midde-Ooste is en bly ‘n kookpot, maar dit lewer ook ‘n baie groot deel van die wêreld se olievoorrade, en ‘n groot deel daarvan moet deur die Suezkanaal gevoer word. Maar in hierdie streek geld die gewone magspolitieke reëls wat geopolitiek dikwels rig, gewoon net nie. Westerse inmenging vertroebel sake dikwels net.

Sedert die opstand teen die sjah van Iran, het die Weste kennis geneem van die onderskeid tussen die Sjiïtiese en die Soenie Moslems. Die woord “ajatolla” het byna huishoudelik in die weste geword, en is dikwels met ‘n radikale vorm van Islam in verband gebring.

Die aanvalle op die Wêreldhandelsentrum in New York en ander teikens het egter nie net die naam Al Kaïda op die voorgrond geplaas nie, maar mettertyd die besef laat deurdring dat daar ook, en miskien juis, binne die Soenie-geledere radikale faksies is. Dit het saamgeval met die radikalisering binne die Salafiste, ‘n fundamentalistiese vertolking van die Soenie-Islam. Tog is dit tegnies nie heeltemal korrek om na die huidige manifestasie as Salafisties te verwys nie, omdat die Salafiste soms oor die afgelope paar honderd jaar juis gematigde groepering was. Wat ons nou sien is eintlik neo-salafisme – ‘n radikale antwoord op ‘n “dekadente wêreld”.

Hoewel westerse teikens aangeval word, is die grootste deel van hul stryd teen ander Moslems, soos in Afganistan, Pakistan, Somalië, Mali, Nigerië, Egipte, Sirië en Irak. Soms is dit “handig” dat daar ook Christene, en veral Israeli’s is sodat die skyn van ‘n religieuse “jihad” verdiep kan word.

Nou het ‘n neo-Salafistiese groep wat sy naam pas na Islamitiese Staat verander het, ‘n kalifaat uitgeroep in die dele van Irak en Sirië wat dit verower het. Hoewel die IS na raming net sowat 12 000 man onder die wapen het, is dit ‘n enorme gebied wat onder sy beheer is, en sluit etlike stede in. Dit strek van digby die noordelike Siriese stad Aleppo tot digby Bagdad.

Met die toestroming van Moslems na Wes-Europese lande, beleef lande soos Frankryk, België Nederland en Brittanje dat ‘n stroom jong mense as “jihadgangers” na Sirië vertrek om ‘n soort “diensplig” vir die IS te gaan doen. Tientalle het al omgekom, en Wes-Europa tref al strenger maatreëls om hierdie ekskursies te keer. Want die oorlewendes kom baie deeglik gebreinspoel terug – en dikwels as werkloses – nie ‘n aptytlike proposisie vir hierdie lande nie.

Suid-Afrika het sy eie, kortstondige weergawe hiervan beleef toe die destydse Irakese diktator – ‘n lid van die minderheid Soenies in Irak en wat by uitstek ‘n sekulêre bewind in stand gehou het – in die aantog van die Amerikaans-geleide aanval ‘n “jihad” (heilige oorlog) verklaar het. Verskeie jong Suid-Afrikaanse Moslems kon die bekoorlikheid van die oproep nie weerstaan nie.

Dit sal niemand verbaas as dit nou weer gebeur nie.

In Israel loop spanning teen Hamas nou weer baie hoog op. Drie jong Israeli’s is ‘n paar weke gelede deur Moslems ontvoer, wat vermoedelik bande met Hamas het. Hamas het ‘n yslike teiken op sy rug geverf deurdat talle van sy lede die ontvoering openlik toegejuig het. Nou is die drie se lyke gevind…

Israel se reaksie is ongewoon beperk. Lugaanvalle op Hamas-teikens was hoofsaaklik op verlate instellings, en het slegs ‘n paar beseerdes opgelewer. Israel weet dat sou hy daarin slaag om Hamas se rug te breek, sal Hamas bloot plek maak vir ‘n nog radikaler groep. Israel probeer sy reaksie op ‘n vlak hou wat nie tot ‘n derde intifada (volksopstand) lei nie. Weens die religieuse ondertoon daarvan is dit baie moeilik om ‘n intifada sonder bloedvergieting onder die knie te kry. Israel beleef, ongewoon deesdae, die morele hoë grond met hierdie moorde deurdat die VN se Veiligheidsraad die ontvoering en moorde eenparig in die sterkste taal veroordeel het.

Intussen het die IS iets reggekry wat selfs Al Kaïda nog nooit na behore kon vermag nie – dit het ‘n beduidende stuk grond beset, en boonop olieproduserende grondgebied. Om grond, veral met stede te beset, beteken egter ook dat so ‘n organisasies se teiken op die rug baie groter word. Dit raak baie moeiliker om konvensionele magte te ontglip.

En geleidelik verskuif die jihad boonop na die ander voet. Die Soenies is ‘n minderheid teenoor Irak se hoofsaaklik Sjiïtiese bevolking. Duisende Sjiïte sluit by die weermag aan om die IS terug te dryf. Ook Iran, ‘n oorwegend Sjiïtiese teokrasie, wil kom handjie bysit, en het reeds in Sirië betrokke geraak en verliese gely. Die Sjiïtiese Hamas van Libanon het pres. Bashar al Assad se bewind te hulp gesnel en die oorlog na Assad se kant laat begin kantel – tot die nadeel van die pro-demokrasiegroepe wat ook in die burgeroorlog betrokke is.

Intussen het die IS se aanslag wel een beduidende slagoffer geëis – die land se hardkoppige Sjiïtiese premier, Nuri al-Maliki, is in wese uit die kussings gedwing – ook uit Sjiïtiese geledere, om ‘n eenheidsregering te vorm sodat die Soenies en Koerde nie so vervreem in hul eie land voel nie. Maliki het tot dusver weerbarstig volgehou om wal te gooi teen ‘n versoeningsregering omdat hy meen dis ‘n ondermyning van demokrasie. Sy idee van demokrasie word deur die politieke wetenskap as ‘n diktatuur van die meerderheid beskryf – dit wil sê waar in meerderheidsbelang in plaas van die veronderstelde algemene belang regeer word.

Ook hierin lê vir Suid-Afrika belangrike lesse opgesluit, en die EFF moet ook maar hul ore mooi in hul grootwordproses oophou oor wat die internasionale gemeenskap dink van hul stropersmentaliteit teenoor minderhede.

Vanoggend vroeg het die Koerde en die Soenies uit die parlement gestap omdat die Sjiïete nog nie ‘n opvolger vir Maliki kon aanwys nie.

Oplossings in die Midde-Ooste kom selde oornag.

En intussen wurg die wêreld aan die oliepryse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.