Nuuskommentaar: Skotland – Is die whiskyglas half vol of half leeg?

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Die Skotte het pas teen onafhanklikheid van Brittanje gestem. Voor die referendum het Brittanje egter meer uitgebreide magte aan die Skotse parlement beloof.

Maar sou daar ’n groot verskil tussen die uiteindelike onafhanklike Skotland en ’n Skotland met meer uitgebreide magte wees? Omdat die uiteindelike karakter van onafhanklikheid nog onderhandel moes word, en nog min bekend is oor wat die uitgebreide outonomie behels, is dit moeilik om te sê.

Die referendum het in ’n effense vakuum plaasgevind omdat dit bloot ’n beginselstem was – die inhoudelike van die onafhanklikheid sou eers na ’n “ja”-stem bepaal word. Talle opsies sou op die tafel wees, soos dat Skotland staatkundige onafhanklikheid kon kry soos Australië en Nieu-Seeland, maar steeds deel van die Britse kroon. ʼn Fiskale unie, soortgelyk aan die ou Benelux-unie, sou moontlik wees, en sou die Europese Unie meer entoesiasme laat blyk dat die Skotte met oop arms ontvang word, sou ʼn groot deel van die onsekerhede oor hoe onafhanklikheid byvoorbeeld pensioentrekkers kon raak, besweer gewees het.

Die EU met sy lou houding loop nou die risiko om nie net Skotland (wat graag deel van die EU wou word) te verloor nie, maar die hele Brittanje. Brittanje beplan ʼn referendum oor voortgesette lidmaatskap van die EU, en afhangende van wie die Skotte wil “straf” – die EU of Engeland – kan die deurslaggewende Skotse stemme ’n groot invloed op die uitslag van daardie referendum hê.

Aan die ander kant is ook nog nie veel bekend oor die inhoud van groter beloofde Skotse outonomie nie. Daar is wel melding gemaak van groter selfseggenskap oor gesondheidsdienste – iets waaroor die Skotte baie sterk voel.

Hoewel die Skotse referendum groot aandag by wêreldleiers gekry het en ook pres. Barack Obama sy mening oor hoe die Skotte moes stem gelug het, en analiste die saak al behoorlik tot op die been ontleed het, het dit in groot dele van die wêreld nie veel belangstelling by Jan Publiek ontlok nie. ʼn Nuwe Rasmussen-peiling het aan die lig gebring dat die meeste Amerikaners meen net 30% van hul landgenote sal Skotland op ’n kaart kan vind.

Ook in Suid-Afrika toon terugvoer van lesers op sosiale media dat min enige belangstelling getoon het.

Tog is wat in Brittanje gebeur het van groot belang vir Suid-Afrika en ander dele van die wêreld waar minderheidsgemeenskappe woon.

Met die verbrokkeling van die Sowjet-unie het lande onafhanklikheid herwin waarvan die wêreld so te sê vergeet het. Vertalings van berigte uit Engels in Afrikaans dui gereeld daarop hoe die regte Afrikaanse benamings vergete geraak het, soos in die name van Estland, Letland en Litaue.

Hoeveel van ons het nie reeds in korrespondensie met buitelanders vasgestel dat die buitelanders hoegenaamd nie daarvan bewus is dat die swart mense nie die oorspronklike inheemse inwoners van Suid-Afrika was nie. Van die Khoi en San het baie nog nooit van gehoor nie.

Minderhede kan ook met redelike sekerheid voorspel hoe die regering en links-liberale kommentators en koerant op die uitslag van die Skotse referendum gaan reageer. Daar sal min, of geen, vermelding wees van die uitgebreide outonomie wat Skotland by sy reeds uitgebreide outonomie kry nie. Daar sal waarskynlik klem geplaas word op eenheid a-la-transformasie, en die verskeidenheidsaspek afgespeel word.

So ’n reaksie hou egter die gevaar in van ’n verhoging van polarisasie in Suid-Afrika, veral nou met die uitspraak in die Renate Barnard-saak, en die Kaapse saak in die gelykheidshof oor die vertaling van wetgewing in al elf amptelike tale. So ʼn benadering word veral verwag nadat Gwede Mantashe in ’n media-onderhoud gesê het daar is geen sprake van minderheidsregte vir die Afrikaner nie.

Minderheidsgroepe oral oor die wêreld, waaronder die Kataloniërs, die Baske die Afrikaner en die BBB, kan besluit of hulle na die Skotse referendum as ’n half vol, of half leë glas gaan kyk. Gaan die fokus geplaas word daarop dat die Skotte (en waarskynlik ook die Walliesers, die Cornies en die Noord-Iere) groter outonomie kry, of dat die Skotte onafhanklikheid kwyt is?

Om apaties te reageer en wanvoorstellings nie aan te spreek nie, gaan gou aan eie bas byt.

In Skotland self, en in Brittanje as geheel, is daar nou heelwat heling wat moet geskied. Ouer het teen kind te staan gekom, en die Skotte is veral met allerlei ekonomiese dreigemente bang probeer maak. Dié dreigemente gaan lank onthou word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Christiaan Potgieter ·

Dat Skotte na 307 jaar as deel van die VK ‘n eerste wêreldland en westerse land steeds in so ‘n groot mate na onafhanklikheid strewe, laat by my geen twyfel daaroor dat Afrikaners eintlik fanaties oor die saak behoort te wees nie. Afrikaners se veiligheid en kulturele beskerming en geleenthede verskil soos nag van dag met die van die Skotte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.