Nuuskommentaar: Skotland se lesse vir Suid-Afrika

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Gwyn agan bys – Die wêreld is ʼn wonderlike plek!” Só het ʼn tradisionele sanger (bard) van Cornwallis gesê toe dié streek en sy taal, Cornies, in April vanjaar verhoogde status gekry het.

Op 18 September gaan die Skotte referendum hou oor onafhanklikheid – bykans 310 jaar na dit deel van die Verenigde Koninkryk geword het. Maar nie almal is dit eens dat die wêreld hieroor ʼn wonderlike plek is nie.

Hoe nader die referendum kom, en hoe nader peilings vir onafhanklikheid nader aan die 50%-merk kruip, hoe meer neem die mediawêreld wêreldwyd kennis. Nie altyd positief nie.

Die moontlikheid dat die Skotte onafhanklik kan word, pas nie in almal se ideologie nie. Algaande word die skroewe stywer gedraai om hierdie soort nasionalisme, of dan nasionalisme in die algemeen, in die slegste moontlike lig te stel. Byna histeries uit linkse geledere word nasionalisme as ʼn vorm van die herlewing van Nazisme geskets.

Wolhaarstories is ook in omloop. ʼn Gewilde vertrekpunt is om die onafhanklikheid as ʼn noodwendige daad van vyandskap teenoor Brittanje te skets. So is in die media al groot gewag gemaak oor die Britse kernduikbootvloot, wat nou vanuit hul basis in Skotland opereer, wat dan nie meer ʼn tuishawe sal hê nie, en hoe skadelik dit vir Navo sal wees.

Die Skotte word ook as ondankbaar beskryf, wat hulself nou liederlik in die voet gaan skiet as hulle vir onafhanklikheid gaan stem. Daar word gewys op hoe goed Skotland as deel van die Verenigde Koninkryk behandel word. Trouens, die VK is by tye deur die Skotse koningshuis regeer – sonder om natuurlik te meld dat die Stuarts, as Rooms Katolieke, vir die Protestantse Skotte amper meer vreemd was as die Anglikaanse Engelse.

Die huidige Britse Premier, David Cameron is ook van Skotse afkoms. Hy is leier van die Tories, wat verbete teen Skotse onafhanklikheid gekant is, maar sy Skotse afkoms word nou mildelik ingespan om te toon hoe onnodig onafhanklikheid is – sonder om natuurlik te vermeld dat Cameron voor sy teen-onafhanklikheidsekskursies Skotland toe, die spreekwoordelike kompas nodig gehad het om by Skotland uit te kom.

Al stem die Skotte teen onafhanklikheid, lyk dit onafwendbaar dat hulle nog groter outonomie sal verkry. Dit is trouens deur Cameron as troosprys vir die Skotte beloof, sou hulle teen onafhanklikheid stem.

Die Skotte het reeds sedert 1999 gedeeltelike selfregering met ʼn eie parlement, wat as die Pàrlamaid na h-Alba bekend staan.

Dit sou egter verkeerd wees om die Skotse verwikkelinge in isolasie te beskou. In Europa is twee hoofstrominge oor die hantering van minderhede, wat mekaar nie uitsluit nie. Die verwikkelinge rondom Skotland, Vlaandere, Katalonië, en selfs Cornwallis kan na die hantering van inheemse minderheidsregte verwys.

Europa het egter lank nie meer net inheemse minderhede nie. Immigrante vanuit die derde wêreld beïnvloed reeds die bevolkingsamestelling van verskeie Wes-Europese lande dramaties. Die verskynsel van “jihadgangers” van veral jong mense van Moslem-agtergrond wat na Sirië en Irak wegglip om aan die kant van die wrede IS te gaan veg, is ʼn groot kopsorg vir die Europese Unie en die lidlande.

Hoewel hierdie minderhede ook minderheidsregte geniet, gewoonlik via hul individuele menseregte, is die benadering tot hul regte dramaties anders as die benadering tot inheemse minderheidsregte. Lande soos Nederland, België en Duitsland het formele inburgeringsprogramme, en die doel daarvan is om van dié mense so gou as moontlik “tipiese” Nederlanders, Belge of Duitsers te maak. Dit kan as ʼn soort kulturele assimileringsprogram beskou word.

Daar was selfs al beloftes van wetgewing dat mense wat nie die land se amptelike taal, bv. Nederlands, kan praat nie, se staatstoelaes geleidelik verminder sal word. In 2008 nog is berig dat die destydse pres. Nicolas Sarkozy ʼn pleidooi gelewer het dat Arabies in skole in Frankryk geleer moes word.

Maar intussen het ʼn “regse” opkoms van politieke partye verskeie Wes-Europese lande geskud, veral Frankryk en half uit die bloute Brittanje. Die teenkanting teen hierdie soort immigrasie loop sterk daardeur, en druk verhoog op die assimileringsprogramme. Hulle is meestal ook teen die bestaan, of die uitgebreide magte van die EU gekant.

Dit sou miskien nie onvanpas wees om hierdie benadering met Suid-Afrikaanse transformasieprogramme te vergelyk nie… die skep van ʼn nasionale, homogene (Engelssprekende), eenheid.

Europa het egter ʼn groot verskeidenheid inheemse minderhede, en hoe hulle hanteer word kry gereeld lof, en word deur die UNPO (Unrepresented Nations and Peoples Organisation) as die voorbeeldigste ter wêreld beskou.

Dit kan opgesom word as die erkenning en uitbouing van hierdie inheemse kultuurgoedere, en die toenemende koppeling van staatkundige regte daaraan. Op die gevaar af om te verveel deur voorbeelde te herhaal wat al herhaaldelik in die literatuur genoem is, kan gewys word op Europa se standpunte oor die onafhanklikheid van Tsjeggië en Slowakye van mekaar, die ontbondeling van die Balkanlande met Kosovo miskien die mees ekstreme voorbeeld, selfbestuur wat aan die Baske en Kataloniërs in Spanje verleen is, die onlangse referendum ten gunste van afskeiding deur Venesië van Italië, en die Belgiese ontbondeling met die grootste Vlaamse party wat reeds die konsep van konfederalisme op die tafel geplaas het.

In Nederland was daar onlangs reperkussies toe daar sprake was om ter wille van administratiewe sinvolheid met die provinsie Friesland weg te doen. Hoewel Friesland nie werklik ʼn aanduiding is van waar die Friesiese minderheid in Nederland hulle bevind nie, was die gort gaar en met plaaslike regeringsverkiesings moes partyleiers kom mooi broodjies bak om die skade te ontdaan. Van hulle moes ook ʼn mediaspottery aanhoor dat hulle ʼn kompas moes gebruik om Friesland op te spoor. Brabants, wat ook aansienlik van Nederlands verskil, het enkele jare gelede hul eie Bybelvertaling gekry.

Die onlangse staatkundige ontwikkeling van Cornwallis en die verhoogde amptelike status van Cornies, kan hier gelees word.

Hierdie verskynsel dat minderhede ʼn sterker aandrang op selfbeskikking ontwikkel, hou dikwels verband met die “oorhoofse” staatsvorm, die Europese Unie wat een van die beste modelle van konfederalisme verteenwoordig.

Vlaminge, Skotte, Kataloniërs en ander voel toenemend dit is onnodig dat daar nog ʼn tussenvlak van ʼn (kultureel vreemde) regering tussen hulle en die Europese Unie is. Dit blyk onder meer mooi uit hoe die webwerf van die Skotse parlement dié parlement se bande met die Britse en Europese parlemente basies op dieselfde vlak stel.

Baie Europese intellektuele stotter egter nog om hul gedagtes te buig om ʼn onderskeid te tref tussen inheemse minderheidsregte en “uitheemse” minderheidsregte. In ʼn artikel in Trouw deur Patric van Schie, word egter ʼn baie goeie beeld geskets van die Skotse verwikkelinge. Van Schie is ʼn historikus en direkteur van die liberale TeldersStichting. Onder die titel Democratisch ‘hoogland’: het Schotse referendum, skryf hy onder meer dat die Skotse referendum demokraties goed is, maar dat die meeste Europese kiesers nie die keuse het om te besluit of hulle deel van die Europese Unie wil wees of nie. Wat dit betref vergelyk hy duidelik appels en pere, en gaan skynbaar ook van die veronderstelling uit dat Skotse onafhanklikheid hom ook sy bande met die EU kan kos. Hy rig ʼn pleidooi daarteen.

Kan Suid-Afrika iets uit die Skotse en soortgelyke voorbeelde leer?

Soos Van Schie toon, is die Skotte in die Britse verteenwoordigende stelsel eintlik “oorverteenwoordig” en het byvoorbeeld ook nog boonop ʼn eie parlement, iets waaroor die Engelse nie beskik nie. (Wallis het ook ʼn verteenwoordigende liggaam gekry, maar met ʼn laer status as die Skotse parlement). Suid-Afrika se inheemse minderhede beskik egter nie oor eie verteenwoordigende liggame nie, hoewel die grondwet daarvoor voorsiening maak. Daar is selfs ʼn hoofstuk 9-instelling, die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van Taal-, Godsdiens- en Kulturele gemeenskappe, maar dié liggaam is skynbaar polities vir nasiebou gekaap.

Die naaste voorbeelde is die Joodse Raad en die Moslem Juridiese Raad, wat egter nie werklik staatskundige status geniet nie.

In werklikheid word “andersoortige kulture” in Suid-Afrika weens die rassebeheptheid van die transformasieprogramme soortgelyk hanteer as die “uitheemse minderhede” in Europa wat aan assimilasieprogramme onderwerp word. Engels speel in hierdie program ʼn oorheersende rol, en ras bly uiters bepalend.

Om die Khoisan egter as uitheems te hanteer, is absurd, en om die Afrikaner as uitheems te tipeer is ʼn skoorsoekery wat groot moeilikheid gaan maak.

Dit raak egter in beginsel nie net die bruin, wit en Indiër Suid-Afrikaners nie. Onder die afkeer in swart intellektuele kringe teen “tribalism” is daar ʼn baie groot persepsieprobleem oor die volkeregtelike minderheidsregte van minderhede – inheems of andersins.

Natuurlik is daar ook harde vrae oor hoekom die Afrikaner self min entoesiasme toon vir ʼn verteenwoordigende liggaam, laat staan nog selfregering. Die teenstanders wys byvoorbeeld gereeld oor waar die Afrikaners polities hul kruisies uitbring. ʼn Inisiatief soos die Boere-Afrikaner Volksraad het slegs beperkte steun. Orania en Kleinfontein het (nog) nie die oorweldigende steun van Afrikaners nie, hoewel die respek vir Orania baie groot is.

Druk die Afrikaner sy natuurlike drang tot minstens kulturele selfbehoud weens die historiese verloop in Suid-Afrika dalk nie net anders uit nie? Kan die groot steun wat burgerlike instellings soos AfriForum en Solidariteit geniet nie aanduidend wees dat daar tog ʼn kollektiewe behoefte aan selfbehoud is nie?

Dat baie Afrikaners in hul harte tog maar vreemdelinge in hul eie land voel nie?

Ook onder die Khoisan is daar verwikkelinge waaraan die media bitter min aandag skenk, soos inisiatiewe deur die oud-Wes-Kaapse premier, Peter Marais, voortspruitend uit die ontstaan van die BBB. Vrae wat bespreek word is selfs so ingrypend soos die afskeiding van die Wes-Kaap van die res van die land.

En so word die sirkel na die Skotse voorbeeld maar weer voltrek.

Wat duidelik is, is dat die verwikkelinge in Skotland talle mense weer kliphard laat besin oor hoe die wêreld staatkundig daaruit behoort te sien. Dit ontlok erge weerstand in sommige geledere omdat dit geykte konsepte aantas.

En baie doktorale proefskrifte gaan nog hieroor geskryf word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae