Nuuskommentaar: Skotse nasionalisme – gaan dit weer “gekoloniseer” word?

Nicola Sturgeon. Foto: (Jane Barlow/PA via AP)

Die Skotse eerste minister het pas laat blyk dat sy die Skotte weer referendum wil laat hou oor die vraag of Skotland onafhanklik kan word en so deel van die EU kan bly, of teen hul sin die EU moet verlaat om deel van Brittanje te bly.

Maar in weerwil van beloftes van groter selfseggenskap as die Skotte sou besluit om ná die vorige referendum Britte te bly, moet die Skotte eers by die Britte toestemming kry vir die hou van so ’n referendum, en het premier Boris Johnson reeds aangedui dat dit nie gegee gaan word nie.

Te midde van die taai toffie van Brittanje se voorgenome uittrede uit die Europese Unie – ’n proses wat as Brexit bekend staan, speel ’n ander dinamika hom af – dié van Skotse onafhanklikheid van die einste Brittanje. En met Boris Johnson as Britse premier, is die aanduidings dat die Katalaanse debakel hom kan afspeel – weliswaar minder gewelddadig. Lees gerus Maroela Media se vorige kommentare, hier en hier voor die vorige referendum in 2014, hier en hier ná afloop van die referendum en hier in die aanloop tot die naderende Brexit.

Ter opsomming, in 2014 kon die Skotte in ’n referendum om onafhanklikheid (ná sowat drie eeue) stem. Brittanje/Engeland het dit teengestaan en aan die Skotte, Walliesers en Noord-Iere nog groter selfseggenskap beloof, sou dié lande deel van Brittanje bly. Die Skotte het met ’n geringe meerderheid teen onafhanklikheid gestem.

Nou wat het verander dat die huidige Skotse premier, Nicola Sturgeon, ’n nuwe referendum in 2020 beplan? Die antwoord, Brexit.

Met die Brexit-referendum in 2016, het 65% van die Skotte gestem om by die Europese Unie aan te bly, teenoor 55% wat twee jaar tevore by Brittanje wou bly. Maar destyds het 48% Britte, Skotte, Walliesers en Noord-Iere ingesluit vir Brexit gestem. Die Engelse stem, verreweg die grootste blok, het dus die Keltiese wil “demokraties” onderdruk.

Nicola Sturgeon. Foto: (Jane Barlow/PA via AP)

Volgens Sturgeon verloor die Skotte nou ongeag of Brexit met of sonder ’n ooreenkoms plaasvind. Daarom glo sy sal die Skotte nou vir onafhanklikheid stem – onder meer sodat hulle lid van die Europese Unie kan bly.

Die kinkel in die kabel is egter dat die Skotse regering eers toestemming vir so ’n referendum by die Britse regering moet gaan vra, en die ooreenkoms met Katalonië se aspirasies teenoor die “koloniale” houding van Spanje ten opsigte van die Kataloniërs, skemer deur. Sturgeon het beloof dat sy Brittanje vanjaar nog sal nader vir die referendum, maar die Britse premier, Johnson, het reeds aangedui dat die toestemming nie gegee sal word nie. Johnson het ’n reputasie van min erg hê aan minderheidsgroepe se aspirasies.

Onder die groter mag wat ná die 2014-referendum aan die Skotte beloof is, en so aanbeveel deur die Smith-kommissie, was groter fiskale outonomie. Die Britse LP’s het volle fiskale outonomie egter afgestem, en min oor die uitgebreide Skotse magte is hierna gehoor.

Noudat Johnson én die EU aangekondig het dat ’n nuwe Brexit-ooreenkoms bereik is, sal Sturgeon stellig nog sterker oor Skotse onafhanklikheid voel. Die “Keltiese teenreaksie” is reeds ingelui deur die Noord-Ierse DUP, alliansievennote van Jonhson se Konserwatiewe Party, teen môre se stemming aan die nuwe Brexit-ooreenkoms. Hoewel met net tien setels, kan die DUP se teenstem vir Jonhson, wat sy aanvanklike meerderheid in die Laerhuis reeds verkwansel het, laat sukkel om die ooreenkoms goed te keur.

Gaan dit Skotland baat om eerder lid van die EU te wees as deel van Brittanje?

Foto: David Cheskin/PA Archive/Press Association Images

Dié somme is baie kompleks, maar hoewel die opvatting bestaan dat Brittanje Skotland subsidieer, dui Quora eerder op die teenoorgestelde. Hiervolgens dra Skotland £52 miljard tot die Britse ekonomie by, en ontvang jaarliks £37 miljard pond. Die Skotse olie- en gasbronne sterk ook die Britse skatkis meer as die Skotse een.

Hierteenoor dra Skotland se ekonomie jaarliks £455 miljoen tot die EU se begroting by. Die EU dra egter veel meer by tot die Skotse ekonomie. Dit kom in verskeie vorme, en die grootste bydrae kom in die vorm van landbouondersteuning, wat alleen reeds £500 miljoen jaarliks beloop. Strukturele ondersteuning beloop £500 miljoen, terwyl nog reusebydraes uit ander fondse kom. (September 2018 se syfers.)

Veral teen die agtergrond dat Skotland se oliebronne in die Noordsee nie vir altyd sal hou nie, lyk dit op die oog af asof Skotland meer gaan baat uit Europese as Britse lidmaatskap.

Intussen bly Skotland ’n belangrike barometer vir Suid-Afrika oor die vraag waar ’n persoon se grootste lojaliteit behoort te lê, veral as hy lid van ’n minderheidsgroep is. In Suid-Afrika word die vraag gereeld gevra of ’n persoon byvoorbeeld eerstens ’n Suid-Afrikaner, en dan ’n Afrikaner is. Is ’n Skot eerstens ’n Skot, of eerstens ’n Brit?

’n Referendum sal antwoorde verskaf.

Lees gerus meer hier in De Standaard, met die inligting verskaf deur die Belgiese nuusdiens, Belga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Judge Dredd ·

Om Herman te antwoord – Ek wil myself nie meer vereenselwig met die term Suid-Afrikaner.

Nico K ·

As Johnson ‘n referendum in Skotland sou weier is hy ook maar net ‘n imperialis. Soos die Spaanse regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.