Nuuskommentaar: Skrikwekkend dat hulle kan stem

Argieffoto van kiesers (en Big Bird) wat in die ry staan en wag om te stem

In die era van die inligtingsontploffing is daar onder gewone omstandighede so ‘n oorvloed van nuus op verskillende maniere toeganklik, dat dit haas onmoontlik is om behoorlik tred te hou. Daar is ‘n oorvloed plaaslike nuus, wat enigiets van korrupsie tot sport en sakenuus insluit, internasionale nuus, nuus oor verwikkelinge in die ruimte en nuwe ontdekkings oor die aarde en die mens se geskiedenis.

Baie mense isoleer hul eie nuuswêrelde van die werklikheid daarbuite deur byvoorbeeld op nuus oor vermaak te konsentreer, ander is politieke diere, ander se nuuswêreld is beperk tot die sensasionele van menslike skande en drama. Dit is byna skrikwekkend om te dink dat mense wat met nuus volstruispolitiek speel, mense wat tonnelvisie het weens die uitsluiting van belangrike nuus, se kruisie op die stembrief net soveel tel soos dié van selfs die mees ingeligte persoon op die planeet.

Oor die gebreke van demokrasie is al boekdele geskryf, en demokrasie is ook al as euwel beskryf. Maar, soos die spreekwoord in die politieke wetenskap lui, die demokrasie is die beste euwel wat ons het.

Net soos die vryemark eers optimaal kan funksioneer as al die rolspelers oor volmaakte kennis beskik, vereis ‘n goed-funksionerende demokrasie ook goed ingeligte kiesers.

Hoe nader ‘n verkiesing kom, hoe meer vat die besef by kiesers pos dat hulle “moet weet wat aangaan” en hoe meer probeer partye, die media en ander rolspelers om die nuusvloei in ‘n drukgang geplaas te kry waar die kiesers daarvan kan kennis neem. Dit piek met die verkiesing, en daarna volg wat in die politiek bekend staan as ‘n na-verkiesingstamheid (post election slump). Geweldig baie mense is sat vir die politiek, en daarmee saam die nuusbombardement, sodat dit sekere ooreenkomste met post traumatiese depressie het. Daar is natuurlik uitsonderings – soos ‘n kleiner party wat vir die eerste keer setels verower het, en daarmee saam ‘n hele klompie steunposte in die parlement en provinsiale wetgewers kry. Hierdie nuwe toetreders is vuur en vlam, en is dikwels gefrustreerd met die algemene publiek se skynbare algehele gebrek aan belangstelling.

Die voorverkiesingstydperk is nie net die tyd wat partye enige denkbare manier vind om die kiesers te bereik nie. Daar is ‘n hele klomp sogenaamde verkiesingspartye. Dit is partye wat tussen verkiesings heeltemal van die nuustoneel verdwyn, en dan in die aanloop tot verkiesings skielik uit hul dop kruip en na die besigste party op die planeet probeer lyk. Kiesers straf sulke partye gewoonlik hard.

‘n Tweede aspek is dat daar ‘n koorsagtige haas aanbreek om veral sekere wetgewing en witskrifte gefinaliseer te kry. Gister het pres. Jacob Zuma verskeie wette onderteken, waaronder die “spioenasiewette”, waarvan veral een as omstrede beskou word.

Dis ook die era waar sommige partye sal druk uitoefen om hangende sake afgehandel te kry wat vir sommige partye tot nadeel kan wees – veral die regerende party – en waaruit ander wins sal kan maak. Een van die belangrikste hiervan isdie saak oor die sogenaamde spioenasiebande – waar die Nasionale Vervolgingsgesag en Zuma se regspan in wese vir minagting van ‘n appèlhofbeslissing voor die hof gesleep is.

Die politici en nuusgemeenskap hou ook asem op oor die voltooiing van die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla. Dié verslag het volgens terugvoer wat gegee is flink gevorder tot dit meer as negentig persent voltooi is, waar dit nou al maande lank skynbaar vashaak.

Terwyl probeer word om sommige nuusgebeure terug te hou, te vertraag of selfs te smoor, sal dieselfde party ander nuusgebeure aan die groot klok probeer hang. Op dieselfde dag as wat die Openbare Beskermer ‘n verdoemende verslag oor die Nala-munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) bekend gemaak het, word die name en ander besonderhede oor die twee nuwe universiteite bekend gemaak wat volgende jaar hul deure open.

Min of meer terselfdertyd blyk dit uit hofstukke oor Zuma se voeteslepery om ‘n vaste hoof vir die Nasionale Vervolgingsgesag aan te stel, dat die president beoog om teen die einde van Augustus wél so ‘n aanstelling te maak. Die belangrikheid hiervan spruit uit die grondwetlike vereistes waaraan die direkteur moet voldoen, terwyl dié vereistes in wese omseil word deur so lank as moontlik met waarnemende hoofde weg te kom, wat dan politiek gedienstig sake kan laat terugtrek.

Dit het ook bekend geword dat die departement van gesondheid bykomende geld (van die belastingbetalers) gaan nodig kry om die nasionale gesondheidsplan in werking te kan stel. So ‘n plan is nie net in Suid-Afrika ‘n politieke warm patat nie, maar in sy tweede termyn is dit steeds een van die grootste politieke tameletjies vir pres. Barack Obama van die VSA. In ‘n baie onlangse peiling het 61 persent van die respondente gemeen die VSA se gesondheidstelsel sal oor die volgende twee jaar agteruit boer. Slegs sowat 40 persent Amerikaners meen die president hanteer gesondheidskwessies goed.

Intussen woel dit op die arbeidsterrein, wat self erg politiek gelaai is. Cosatu se ruggraat-vakbond, die NUM, het nie net by sekere myne veral in die platinumbedryf sy status as meerderheidsvakbond teen Amcu (wat nie lid van Cosatu is nie) verloor nie, maar binne Cosatu ook sy status as grootste vakbond binne die federasie. Die NUM het na die derde, of selfs laer posisie teruggesak. Dit is nie noodwendig goeie nuus vir die land nie, omdat Amcu, en die nuwe leidende vakbond in Cosatu, Numsa, as heelwat radikaler as die NUM beskou word.
.
Terselfdertyd moet die land ‘n onwillige oog op Julius Malema se nuwe party hou. Terwyl dit ontstellend is om te sien wat dié party alles in die oog het, bied dit die land darem ook dié verligting dat die ANC in ‘n laat stadium wakkergeskrik het en die kanker verwyder het voor dit die ANC kon kaap.

Ons samelewing toon sterk teken van “delegasie.” Dit is die onderwysers se taak om die kinders op te voed, die Sondagskool moet die kinders godsdiens leer, die dominee met ‘n handjievol diakens wat hy gemonster kry, moet die armes en eensames in die gemeente versorg, die polisie moet vir veiligheid sorg terwyl ‘n handjievol by GPF-vergaderings opdaag, en dan benewens vir vergaderings opdaag ook nie veel die hande uit die moue steek nie.

Maar as dit kom by die trek van ‘n kruisie op die stembrief, teken die kieser een van die belangrikste kontrakte van sy lewe – ‘n sosiale kontrak wat ook ‘n invloed op sy kinders gaan hê. Daardie keuse wat gemaak word kan nie aan iemand gedelegeer word nie. Daardie sosiale kontrak is die toppunt van tussen die lyne geskryf wees, en die fynskrif is veel langer as die kontrak self.

Om goed ingelig te wees is die beste wapen teen goedkoop politieke foefies en manipulasie. Gordel vas vir ‘n woeste inligtingsrit oor die volgende nege maande…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae