Nuuskommentaar: Slaggate en voordele van koalisiepolitiek

Argief

Die afgekeurde “plaasaanvalmosie” in Mokopane (Potgietersrus) dié week waarop die Vryheidsfront Plus en die DA mekaar verkeerd opgevryf het en die onmin oor die afdanking van die Nelson Mandelabaai-metro se adjunk-burgemeester van die UDM, verskerp die huidige fokus op koalisiepolitiek.

Niemand gaan beweer dat koalisiepolitiek maklik is nie, en in ’n land wat gewoond is aan die oorheersing van een party wat meestal alleen regeer (maak en breek soos hy wil) is dit ’n proses om die kiesers vir die byna onafwendbare koalisiepolitiek wat voorlê, voor te berei. Die Suid-Afrikaanse kiesstelsel leen hom immers tot gedwonge koalisies, soos in Wes-Europa algemeen is. In so ’n proporsionele kiesstelsel is dit byna onafwendbaar dat geen party ’n absolute meerderheid sal kry nie, en dit blyk ook nou die koers te wees waarop Suid-Afrika afstuur. Ironies dra die ANC se “verknogtheid” aan Jacob Zuma te midde van die #GuptaLeaks daartoe by dat die land se kanse om in 2019 ’n koalisie te kry, al hoe beter word.

In ’n interessante brief aan Volksblad vandag skryf Pieter Olivier, oudstadsklerk van Bethlehem, ook oor die voordele van koalisiepolitiek. Olivier was ná sy aftrede eers NNP-raadslid en later DA-raadslid. Hy ondersteun in wese ’n vroeëre brief van dr. Pieter Mulder, LP van die Vryheidsfront Plus.

Olivier merk op dat (baie) politieke kommentators dit stel dat koalisiepolitiek gekom het om te bly.

Die interessantheid is egter dat voor verlede jaar se landswye munisipale verkiesing verskeie prominente akademici in die politieke wetenskappe uit hul pad gegaan het om die negatiewe aspekte van koalisiepolitiek te opper, byvoorbeeld gereelde onstabiliteit, en kiesers aangeraai het om vir die DA te stem (ter wille van stabiliteit).

Die verkiesing in 2016 was inderdaad een wat verskeie koalisies opgelewer het en die DA in staat gestel het om verskeie munisipaliteite en selfs metro’s, met koalisiehulp, oor te neem. In verskeie gevalle moes die EFF sy steun, wat in Nederland as gedoogde steun bekend staan, verleen om die koalisies te vorm wat die ANC uitsluit. Die ANC sukkel nog om die sielkundige terugslag te verwerk.

’n Koalisie kan inderdaad onstabiel wees. Soms is dit regstreekse faktore, soos die leier van die UDM se regstreekse beswaardheid oor die raad van die Nelson Mandela-metropool wat die UDM-burgemeester die trekpas gegee het. Juis om ’n botsing met die UDM te voorkom, is lank vooraf met die UDM op nasionale vlak gekorrespondeer en voorbeelde van ongerymdhede met bewyse voorsien. Genl. Bantu Holomisa wil egter niks weet nie en het selfs gedreig om die UDM landswyd aan die regerende koalisies waarby hy betrokke is te onttrek. Hier is die onstabiliteit egter nie die gevolg van ’n stelselprobleem nie, maar ’n persoon, en wel Holomisa.

Soms kan onmin tussen deelnemende koalisievennote uitbreek waar daar geen koalisie bestaan of moontlik is nie, soos wat dié week in die “plaasaanval-mosie” gebeur het. Die VF Plus het Dinsdag ’n mediaverklaring uitgereik waarin ’n beskuldigende vinger nie net na die ANC en EFF gewys word nie, maar ook die ander opposisiepartye in die raad, waaronder die DA. Die verklaring is nie net wyd aan die media uitgestuur nie, maar is ook op die VF Plus se webwerf geplaas, en was dus vir enige persoon met internettoegang bereikbaar, en in die openbare domein.

Maroela Media het ook ’n berig hieroor gedra. Gister se nuuskommentaar het hieroor gehandel, nadat dit geblyk het die DA het nié ’n mediaverklaring hieroor uitgereik nie, in elk geval nie een wat op die DA se webblad geplaas is nie. Later die dag het die DA wel gereageer en sekere ontkennings gedoen, maar teen vanoggend wat daar steeds geen mediaverklaring op die webwerf nie.

Die feit is, iets wat in Potgietersrus/Mokopane gebeur het ’n invloed op hoe partye wat saam in koalisies dien, mekaar moet ervaar. Olivier kom in sy brief tot die slotsom dat Afrikanerkiesers, soos hy, kan ervaar dat hulle weens die fokus op swart kiesers ’n ongemak in die DA kan ervaar. Koalisies, so reken hy, bied ongeag die geleentheid, aan kiesers om ongeag uiteenlopenhede, via kollisies mekaar te leer ken en verstaan, en kompromieë aan te gaan.

Koalisiepolitiek vereis ’n mate van politieke volwassenheid. In Nederland het die kiesers op 15 Maart hul kruisies gaan trek en sedertdien spook die partye steeds om ’n koalisieregering te vorm. Die vorige regering word intussen grondwetlik “gekussing” om te keer dat die land tot stilstand kom. Partye wat op die oog af maklik koalisies sou kon vorm, neem onverwags baie sterk beginselstandpunte in wat die vorming van ’n koalisie moeilik maak.

Dié lang gespartel om ’n koalisie saam te stel is egter ’n vulletjie teen die wêreldrekord wat die buurland, België, hou. Ná die algemene verkiesing in 2010 het België op ’n paar dae na 600 dae lank sonder ’n verkose regering gesit.

’n Interessante aspek van die koalisievorming in verskeie Europese lande is die opstel van ’n beleidsdokument vir die koalisie, wat ’n lywige dokument is. Dit kan amper met ’n Kodesa vergelyk word.

Dit spreek vanself dat Suid-Afrikaners met die oog op 2019 voorberei moet word op koalisiepolitiek, en ook die voordele wat dit inhou. Dit versterk demokrasie deurdat kiesers vir partye ooreenstemmend hul eie beginsels kan stem. “Pragmatiese” stemme vir ander partye is onnodig, omdat ook die kleiner partye se hulp nodig gaan wees om genoeg stemme te versamel om ’n meerderheidskoalisie te vorm.

Die Suid-Afrikaanse kiesstelsel veral op munisipale vlak maak nie voorsiening vir die lang onderhandelings wat so gereeld in Europa voorkom nie, en partye moet daarom vooraf soveel as moontlik van die moontlike klippe uit die pad rol.

Sekere konsepte sal absoluut taboe wees, soos slagspreuke dat kiesers nie hul stemme op klein partytjies moet mors nie, en dat “kiesers hul stem vir ons moet leen”.

Toleransie sal ook nodig wees. Deelnemende partye moet ook gereed wees vir die impak van stellig een van die grootste voordele van koalisiepolitiek – ’n oor en weer waghondfunksie teen korrupsie en magsmisbruik. Dit is moeiliker om ’n veelheid van partye te korrupteer of te kaap as een enkele regerende party. Die Zupta-sage staan hier as skreiende voorbeeld.

En hierin het die UDM op die oog af die toets ook nou liederlik gedruip.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

warra warra ·

lewe in SA het my geleer, in enige koalisie ( kyk nou veral na die nvg – Pennie sparrow, Chris Hart, me Kruger, die doodskis duo, om n paar te noem,) sal mense doen wat die meerderheid hulle beveel al weet hulle dit is verkeerd. ek het nooit gedink ek sou dit sê nie, maar ek moedig my kinders aan om n heenkome in die buiteland te gaan soek. so die dag as die swart volj gaan maai wat hulle deur hulle geliefde anc nou saak, sal ek my kan natp1s van due lag voordat ek by my kinders in die buitelabd gaan aansluit. n tyd van siekte wat tot werkloosheid gelei het, het in elk geval alles wat ek vir oudag vergader het, verswelg.

Loeis ·

Waarna Herman (onder andere) verwys is dat koalisiegenote oor mekaar se skouers kan loer, en dan hul steun kan onttrek, sou dit nodig wees. Dan kan wie okal die koalisie lei beheer verloor, en moontlik besluit om toe te gee, eerder as om die mag te verloor.

As ek byvoorbeeld reg onthou, wou die DA na hul koalisie oorname saam met die ACDP en VF+ in Kaapstad in 2006 ‘n aantal Afrikaanse straatname verander het, en het die ACDP en VF+ daarteen kapsie gemaak, waarna die name onveranderd gebly het. Hierdie het wel verander na die koalisie opgehou het om te bestaan, wat nogal tragies is.

Die feit is dat kleiner partye bitter nodig is om spesifieke belange te beskerm, en ‘n belangriker rol in opposisiepolitiek speel, en daarom juis uitgebou moet word.

Albaster ·

Ek verstaan nie waarom Holomisa so beskerm vir die PE adjunk burgermeester nie? Wat kan tog die rede wees?

Professor Politieke Kommentator Demokrasie Vlakvark ·

Herman, dankie vir die goeie artikel.
Die begrip “demokrasie” is eintlik ‘n drogbeeld en vatbaar vir verskillende interpretasies en is die fontein vir magstryd stroomaf. Eintlik behoort stemgeregtigdes net vir genomineerde kandidate te kan stem en nie vir partye nie. As die wyk of setel se kandidaat droogmaak behoort vrot eiers, tamaties en smaad in die gesig sy voorland te wees, selfs afdanking. Ek stel voor alle Suid-Afrikaners met mekaar in gesprek tree en vorendag kom met ‘n unieke bestuurstelsel wat verskil van die verrotte begrip “demokrasie”. Ons het mos nou baie met staatskaping en tenderpreneurskap geleer. Help!

Zak ·

“Democracy is just a show, a lie which whole populations swallow hook, line and sinker. People do not see any further than this seemingly colourful curtain of imagined hope, but behind it hide the real rulers of this world.”

Chris Ws ·

Baie insiggewende artikel.Dankie Herman Toerien!Sal dit nou ‘n ding wees as ‘n koalisie regering die anc vervang na die 2019 verkiesing!Die blote idee gee mens sommer weer hoop vir die land!

Afrikaanse Knaap ·

Ek verstaan dit.

Al hoekom ek vir ‘n klein partytjie stem, is omdat ek verseker weet dat wanneer die regering nog ‘n beleid inbring wat blankes en Afrikaans sprekendes gaan benadeel, hulle daarteen sal stem.

Ek kan nie dieselfde van die amptelike oposisie sê nie. Toe ek my oë uitvee toe steun hulle swart ekonomiese bemagtiging luidkeels, en verklaar prontuit dat Engels hulle voertaal is.

Johan ·

En toe vorm die da n koalisie met die eff. Regte klomp verraaiers.

Eish ·

Insiggewende artikel, baie dankie. Eerder koalisie as die status quo.

Leahim ·

Koalisieregering in my opinie is die enigste uitweg vir die minderheidsgroepe in SA die kiesers moet leer hoe dit werk sodat hulle n ingeligte keuse by die stembus kan maak .Dit help nie ek stem DA om die opposisie party te help nie maar die party voldoen nie aan my verwagting nie .Ek het jare vir die DA gestem half geforseerd todat n duitse burger vir my verduidelik het hoe n koalisie regering werk, nou stem ek met my hart en verstand vir die VF+ en al is my party klein weet ek die DA wat niks vir my doen moet n koalisie saamewerkings ooreenkoms met die VF + aangaan as hulle in beheer wil wees van PTA.

jaco ·

net jammer dat die amper 1 miljoen nee stemme van 1992 (almal maar mense wat dieselfde as die VF-Plus dink), verminder het na skaars 150 000 stemme vir die VF-Plus tans. Waar is die 800 000 of meer stemme heen? Almal dood of almal by die DA of almal in Australië? Konserwatief-denkende Afrikaners grawe LEKKER aan hulle eie graf deur in groot getalle van die stembus af weg te bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.