Nuuskommentaar: Slaggate om rassisme

Penny Sparrow se Facebook-inskrywing word wyd op sosiale media gedeel. Foto: Twitter

Penny Sparrow se Facebook-inskrywing word wyd op sosiale media gedeel. Foto: Twitter

Hoe vlak rassisme nog onder Suid-Afrikaners lê, het pas uit die reaksie op twee inskrywings op sosiale media geblyk. Die rassisme, of beweerde rassisme, was nie net in die twee mense se skrywes te vinde nie, maar dikwels juis in die reaksie daarop.

Twee sosiale media voorvalle wat as rassisme beskryf word, het pas die nuus gehaal. Die eerste is die geval van Penny Sparrow  wat swart mense op strande met ape vergelyk het en die bekende ekonoom, Chris Hart, wat deur Standard Bank geskors is. Hart se opmerkings kwalifiseer waarskynlik eerder as polities inkorrek as rassisme, maar in ʼn gelaaide klimaat kan die weergee van die feitelike waarheid as kwetsend onsensitief beskou word.

Om ʼn keuse te maak oor ʼn onderwerp vir nuuskommentaar is soms ʼn baie komplekse proses. Soms is dit maklik, soos wanneer pres Jacob Zuma (alweer) sy voet daarin gesit het en die kuberpen vloei gemaklik met die woorde om aan nog ʼn sarsie Zuma-bashing gestalte te gee. Soms is daar niks voor die hand liggend nie en benut mens die geleentheid om met ʼn meer akademiese inslag na die jongste neigings in meningsvormende rubrieke te kyk en te besin hoe dié idees ook op Suid-Afrika van toepassing is. En dan is daar onderwerpe wat so sensitief is, dat mens moet besin en herbesin of dit wys, wenslik, gewaag of afskuwelik is dat die kuberpen hiervoor ingespan word.

Rassisme en die vingerwys hieroor, is een van hierdie kwessies. Dit sny veel dieper as politieke inkorrektheid, is selde rasioneel en kan uiters onregverdig wees, ironies nogal weens ʼn rassistiese ondertoon.

Ek het as nuuskommentaarskrywer uit beginsel jare lank daarin geslaag om in nuuskommentare die rassekwessie links te laat (geen vingerwysing na politieke oriëntasie nie). Dit was vir lank verbasend maklik. Rasseklassifikasie is immers lank voor 1994 deur die vorige regering afgeskaf. Die vernaamste partye en groeperinge waarbinne die Afrikaner hom bevind het, het ras as kriterium, …wel, links laat lê. In plaas daarvan is terminologie ingespan wat in pas met die nuwe grondwet en die volkereg was, naamlik eienskappe soos taal en kultuur om die Afrikaneridentiteit te beskryf.

Uiteindelik het die werklikheid my uit dié idealisme geruk. Nie weens die Afrikaner se optrede nie (ja, daar was segmente wat openlik ras as kriterium bly aanhang het en daar was individue wat allerlei kreatiewe skeppings gebruik het om swart mense beledigend te identifiseer, maar sonder om die k-woord te gebruik).

En ja, daar was voorvalle soos wit studente wat vir betogende swart studente “Bobbejaan klim die berg” gesing het.

Maar die oorgrote druk om ras as relevante faktor in verrekening te bring, het uit die geledere van die ANC gekom. Trouens, die ANC het ʼn moedswilligheid om enigiets wat op minderheidsregte vir Afrikaners dui, as “voortsetting van wit bevoorregting” af te maak. Die ANC het Julius Malema in sy skuldigbevinding aan haatspraak tot in die appèlhof gesteun voordat ʼn skikking bereik is – Malema was toe immers al uit die ANC geskop. ʼn Sokkerstadion is na die “vader” van “Kill the Boer, Kill the Farmer”, wyle Peter Mokaba, vernoem.

Daar is die regering se afstootlike houding oor plaasaanvalle. ʼn Vorige minister van polisie wat steeds kabinetslid is, het een van AfriForum se veldtogte om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar as “goedkoop propaganda” afgemaak.

Daar was die onverkwiklike Reitz-vier-voorval waar ʼn uitstellanddros vergeefs ʼn beroep op politici en die media gedoen het om nie ʼn skuldigbevinding vooruit te loop nie. Uiteindelik het die hooflanddros wat die uitspraak en vonnis gelewer het, die vier gevonnis vir iets waarvan hulle nie eens aangekla was nie. ʼn Hoofredaksielid van Die Burger (intussen afgetree) skryf hierna oor hoe vreeslik dit was dat die werkers sonder hul medewete opgeneem is, terwyl dit bekende nuus was dat hulle vrywillig as akteurs deelgeneem het en so opgewonde oor die resultaat was, dat hulle ander gaan roep het om ook na die film te kom kyk.

Objektief gesproke, hoe weeg die optrede van die Reitz-vier op teen die ANC, wat Julius Malema “weens ʼn gebrek aan getuienis” onskuldig bevind het omdat hy na wittes as misdadigers verwys het? Een van die geleenthede  waar hy, soos aangehaal in die media, hierdie stelling as leier van die ANC se jeugliga gemaak het, was in Kimberley, waar hy die verhoog met pres. Zuma gedeel het. In hierdie geval het die ANC ver meer as genoeg getuies gehad, waaronder Zuma self en dit lyk beslis of die ANC in die proses Malema se uitspraak gekondoneer het deur skielik “ʼn gebrek aan getuies” te hê. Hierteenoor het die dissiplinêre komitee Malema skuldig bevind vir die “sonde” om Zuma met oud-pres. Thabo Mbeki te vergelyk. Hy moes selfs vir Zuma om verskoning vra!

In gister se nuuskommentaar, Maak oop jul monde Afrikaners (of durf julle nie?) is verwys na die aandrang uit sekere swart geledere dat wittes nie deelneem aan sekere nasionale debatte nie, soos die #ZumaMustFall-veldtog.

Kortom, die ANC het so ʼn rasbenepe samelewing geskep, onder meer deur ʼn groot aantal rasgebaseerde wette, dat ras as kriterium eenvoudig ʼn groot werklikheid is. Nie almal was verbaas dat 2014 se Versoeningsbarometer aangedui het die meeste Suid-Afrikaners identifiseer hulle eerstens volgens hul ras en dan as Suid-Afrikaners nie. Dié tendens is min of meer in die 2015 Versoeningsbarometer voortgesit.

Die vinger oor wie nou eintlik rassisties is of nie, word oor en weer gewys. Terwyl rassisme beslis aan beide kante voorkom, word die neiging tot dubbele maatstawwe om die erns te beoordeel, voortgesit. In die Netwerk24- berig oor politieke partye se reaksie op die jongste gebeure, word die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, aangehaal: “Die EFF sal ʼn debat in die parlement lei oor hoe om met wetgewing vorendag te kom wat rassisme teenoor swart mense sal straf en dit vir eens en altyd ʼn misdaad sal maak.”

Sy woorde kan as naakte rassisme vertolk word, maar geen ophef word hiervan gemaak nie. Die ideaal sou immers wees om rassisme gestop te kry, ongeag die kleur van die pleger.

Is dit moontlik om  na die “vakansietyd” terug te keer toe ras en gevolglike (dikwels onbedoelde) rassediskriminasie nie meer saak gemaak het nie? Twee faktore staan egter breed in die pad. Die eerste is die spektrum van rasgebaseerde wette wat noodwendig diskriminerend teenoor sommiges inwerk. Die ander is die misplaaste (en dalk baie rassistiese) opvatting dat rassisme iets is wat wit teenoor swart pleeg.

Natuurlik help blatante rassistiese woorde en optredes, ongeag van watter kant van die kleurgrens dit kom, nie om ʼn komplekse situasie makliker te laat vlot nie.

Dit gaan ook problematies wees as die regmatige opeis van (nie-rassige) minderheidsregte sommer goedkoop as rassisme afgemaak word. Dit gaan bly krap as ʼn Suid-Afrikaanse diplomaat so laag daal om mense wat voorleggings oor plaasaanvalle steun wat by die VN voorgedra is, as rassiste wat na apartheid verlang, te beskryf. Ook enige versuim van die regering om die diplomaat tot orde te roep, werk kwetsend in en sou dit blyk die diplomaat het volgens regeringsopdragte gehandel, kan die rassevet behoorlik in die vuur wees.

In sekere kringe, ook wit kringe, word probeer om die ras-kwessie uit die swart-op-wit-rassisme te rasionaliseer, deur dit onder meer as die manifestasie van ʼn klassestryd te verklaar. Die inkomsteverskille in die land is enorm en die armoedevlakke ontstellend. Volgens die model van relatiewe deprivasie is onvrede / rewolusie feitlik ʼn gegewe. Die konflikpotensiaal hierin word egter grootliks verhoog deur die regering se “taktiek” om sy eie mislukkings te verdoesel deur die rassesamestelling van dié wat het en dié wat nie het nie, oor te beklemtoon.

Wanbestuur en korrupsie is belangrike faktore wat nie net die sleureffek van rassebevoordeling verleng nie, maar verdiep. Daar is ook ander faktore wat op die sleureffek inspeel, soos gemiddelde gesinsgroottes, fetale akoholsindroom, anti-subkulture, maar die blote noem hiervan is polities inkorrek en kan daartoe lei dat die persoon, soos in Chris Hart se geval, van “rasse-ondertone” beskuldig word en tot strafmaatreëls lei.

In Engels is daar ʼn spreekwoord wat daarop neerkom dat twee verkeerde optredes nie een regte optrede tot gevolg het nie. Om rassisme met rassisme te beantwoord, is kontraproduktief. Slegs as die Afrikaner sy kant behoorlik skoon hou, kan en moet die vinger gewys word na waar dit vandaan kom.

Dis ʼn slaggatbesaaide pad. Dink maar aan die reaksie toe ʼn lid van die US se raad ʼn ras-oorbeheptheid met transformasie “transformania” gaan noem het. Hy is verguis omdat hy kamma teen transformasie gekant sou wees. Hierdie soort optrede skep die onding dat ook ontspoorde of gekaapte transformasie ʼn heilige koei bly en nie aangetas mag word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

donald ·

dis rerig belalglik hoe mense gejaag word soos kriminele. da was hordes voorbeelde van swart mense wat sê wittes moet vermoor word. watse dubbel standaarde is dit? ek neem die media verantwoordelik. en di opportunistiese “wanne be” politisie.

Marko Miladinovic ·

Ek het so pas Maroela media gekry en News24 ge delete van my apps af. Hulle eenoog rasistiese probeer meer n spalk tussen die rasse in te dryf en al eweig die blankes die vark te maak. Maar die haat wat uit die swartes se reaksie kom is skrikwekkend en niks word daarvan eers genoem nie.

daantjie ·

Suid Afrika raak al hoe meer soos George Orwell se Animal farm.”All people are equal, some are just more equal”.

Thomas van Dalen ·

Uitstekende objektiewe artikel oor ‘n baie sensitiewe kwessie. Ek sou graag wou sien dat ons as ‘n nasie op ‘n punt kan kom waar ons rassisme op ‘n oop forum kan bespreek sonder om vinger te wys na mekaar. Dit is ook belangrik dat ons ontslae sal raak van die standpunt dat dit net blankes is wat rassisties kan wees. Thabo Mbeki het in die laat 90’s die uitlating gemaak dat dit nie moontlik is dat ‘n swart persoon ‘n rassis kan wees nie. Intussen blaas die ANC elke insident van sg rassisme buite proporsie op.

Coenraad ·

Ek is seker maar baie onnosel maar ek verstaan nie hoe die gemelde uitsprake as rassisties beskou kan word nie. Voor ek dit nie verstaan nie, weier ek om in ‘n koor van veroordeling mense van hul inkomste te te ontneem. Die grondwet behoort ‘n mens te beskerm as jy jou reg op vryheid van spraak uitoefen. Dit gaan my verstand te bowe hoe diskriminasie op velerlei gebiede gepolisieer word, maar wanneer ‘n basiese reg soos vryhheid van spraak uitgeoefen, jy sommer so in die pad gesteek kan word en van jou bestaansmiddele ontneem kan word. Ek gee toe, daar is gevalle wanner dit geregrverdig is (soos by oproepe dat die Jode moet uitgemoor word), maar nie hier nie.

Sarie ·

Dalk val Malema se Kill the Boer en Zuma se Bring my masjiengeweer ook in dieselfde kategorie as ‘n oproep om die Jode te vermoor. Ongelukkig lyk dit of die algemene mening is dat net wit mense rassisties kan wees. As ‘n mens hierdie argument gebruik teem die Seunse Weenkoor altyd oor die verlede wat in ag geneem moet word, maar verwys nooit na die huidige diskriminasie teen minderhede nie.

Buurman ·

Ek verstaan nie waarom n mens moet vervolg word as jy die waarheid praat nie?

chrisp ·

As van julle tyd het gaan kyk gerus wat die man te se het oor hierdie onderwerp wat eintlik misbruik word.
Let op hoe pres Obama se glimlag later wegraak omdat Liberaliste nou eenmaal nie verstaan nie of wil verstaan nie.As jy ‘n probleem wil oplos vind eers uit wat die probleem is.

Ek hoop Maroela sal so gaaf wees om die skakel te plaas.
https://www.youtube.com/watch?v=PFb6NU1giRA

Andersins gaan Googel(dit is op youtube)
Dr. Benjamin Carson’s Amazing Speech at the National Prayer Breakfast with Obama Present

Erna ·

Dankie Chrisp. Uitstekende toespraak van Dr Carson. Hoe dink jy het dit betrekking op ons?

Marous ·

Korrigeer my asseblief….is die twee beide lede van die DA?

chrisp ·

Marous.
Ja hulle is en was oor ‘n paar dae of weke.
Die hele DA is rassisties hulle beleid is dan rassisties.Hoekom sal hulle lede nie wees nie?
Maar soos jy seker agterkom dit is net die wit lede(kholer-barnard en die twee nou).Al die swart Da lede is engeltjies.

Loeis ·

VF+ en die ACDP gaan later vanjaar ‘n hele paar setels in die land se rade ryker word.

Dan kan korrupsie ook so bietjie beter beveg en dienslewering verbeter word, in die relevante gebiede.

Doons ·

Vreemd ek het ook gehoor hulle is DA,lyk my dit is aan die orde van die dag,arme mense!

Johan Steenkamp ·

Sal Maroela media so braaf wees asook ander nuus redakteurs om die video tydens n poletieke ANC saamtrek,waar Zuma van n openbare platform af sing “Kill the farmer kill the Boer,We wil hunt them down and kill the white Man.As daar samewerking tussen die pers en ander nuus redakteurs is om hierdie gebeure en situasie aan die internationale groot klok en platform bekend te stel,sal ons internasionale ondersteuning kry,en die ANC se misbruik van elke moontlike voorval om rasse spanning te kweek,te ontbloot aan die internasionale gemmeenskap deur hierdie gemors sien?indien jy na Chris Hart se tweet kyk in vergelyking met se zuma se optrede behoortbJackob zuma gearesteer te word.Sal Standard Bank nou ook n klag le teen Jackob Zuma
Sodat die balans en oorreaksie dieb”hekse jag”die geheime agendas om wit senior bestuurders uit groot instansies tekry op die hoe grond geplaas kan word.

My keuse ·

Ek het oor die kerstyd van ‘n paar gevalle gehoor waar ABSA mense se huise teruggevat het en dit geheel en totaal ONWETTIG was. My besluit was om ABSA te verlaat. Standard bank was my keuse. Wel nou na dese weet ek die trommel onder die bed is die beste. Ek gaan so spoedig moontlik reel vir kontantbetaling van my salaris.

Marie ·

Ek mis die wetgewende raamwerk van vryheid van spraak in die hele gesprek.

JIP ·

Volgens wat ek weet word ons soos skape behandel. Ons moet ja en amen en alles aanvaar anders word jy by jou werk en politiek geskors. As DA/ANC/AWB/ wie ookal my wil skors omdat ek my eerlike mening lig…………wel koebaai. Ons blankes is nie onnosel nie en kan sien wat gebeur en ‘n mening he. Ons word nie gebreinspoel deur die manne wat hul manier van doen op alles en almal wil afdwing nie. Ek het breins gekry om te gebruik en breinspoeling werk nie vir my nie. As mense soos varke leef en optree, dan is dit so. As hul steel, moor en vermnielsugtig is, kan ek dit nie miskyk nie. Swart/wit/geel/bruin ens.

Abrie ·

Ons moet nugter bly,reg optree en so ons kant skoon hou van rassisme. Enige vingerwysing is dan irrelevant.

Mooi geskryfde artikel wat insig toon in ons ingewikkelde Afrika land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.