Nuuskommentaar: Slegte nuus en lojaliteit

Argieffoto: Pixabay.com

“Ek kyk of luister nie meer die nuus nie, want alles is net slegte nuus.”

Lees ’n mens leserskommentare onderaan berigte, artikels en rubrieke is bitterbekke wat die negatiewe aard van die nuus kritiseer (of gewoon slegsê) aan die orde van die dag. Baie dui aan dat hulle, as dit moontlik sou wees, hul wortels sou optrek en na ’n ander land sou versit.

Niemand sou kon stry dat slegte nuus volop, of selfs as oorheersend, aangebied word nie.

Die Vryheidsfront Plus, by monde van sy voorsitter, adv. Anton Alberts, het pas in ’n parlementêre toespraak wat as mediaverklaring uitgestuur is, sake kernagtig saamgevat: “Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) word in die algemeen aanvaar as ’n sinvolle plan wat – indien dit korrek uitgevoer word – Suid-Afrika vorentoe kan neem. Die realiteit is egter dat die ekonomie krimp, morele verval hoogty vier en misdaad buite beheer is. Die ANC het hierdie mooi NOP-droom in ’n nagmerrie laat verander.

“Ten spyte van die skepping van die NOP, staan Suid-Afrika voor ’n afgrond van gemorsstatus en sosiale inploffing. Die realiteit wat die ANC geskep het, is ’n nagmerrie waarin mense van dag tot dag leef.

“Alhoewel daar breë konsensus bestaan dat die NOP die land op die regte pad kan neem – alhoewel nie perfek nie – word die dokument self in legitieme omstredenheid gehul. Die regering gebruik slegs die NOP wanneer dit hom pas, maar gryp verder na ’n velerlei ander geskrifte, wat die NOP weerspreek, om sy beleid te probeer regverdig.” Die volledige verklaring kan hier gelees word.

Maar dis nie al nie. ’n Kykie na nuusopskrifte vanoggend is soos om ’n kruiwavrag klippe in die maag te kry.

  • ‘Betogers’ verwoes DBV op Stutterheim
  • Eskom sê oor moontlikheid vir beurtkrag
  • DA beweer Bosasa-geld vir Ramaphosa het Gupta-stertjie
  • ‘Ek het bedank om ANC te red’ – Zuma
  • Pravin kap terug oor ‘miljoene’ in Kanada
  • Gwede – Toe rafel dinge uit

Natuurlik is die lysie nie volledig nie. In die précis van slegte nuus-gevalle is plaasaanvalle, grondonteiening sonder vergoeding en staatskaping nie eens by die naam genoem nie. (In Afrikaans is précis meer as net ’n akkurate opsomming, dit beteken ook dat onderskei moet word tussen wat belangrik en onbelangrik is, en om jou kort en saaklik te kan uitdruk.) En elkeen hiervan verteenwoordig eintlik net ’n druppel aan die emmer vir die totale saamhangende misdaadprentjie. Trouens, bloot die neerpen van die naam van Zuma ruk die kombers van ’n reuseberg van persepsies oor dinge soos korrupsie, bedrog, staatskaping, onbekwaamheid, aanslag op die demokrasie, vertrapping van minderheidsregte, die riool-inploffing van die Vaalrivierstelsel en vele meer af.

’n Kykie na die opskrifte van onder meer News24 en IOL dui aan dat dit nie net Afrikaanssprekendes is wat die slegte nuus gevoer word nie.

Wie aan watter nuus blootgestel word, is ’n komplekse saak. Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, het kort nadat hy die pos opgeneem het, verklaar dat hy nie belangstel in nuus wat deur die werklike klein partytjies gegenereer word nie.

Verskeie meningsvormers deel die mening. En die Afrikaner is juis so lief om nuwe partye te stig, die een kleiner as die ander. En kom dit by die stemslag, stem baie, soos heelwat inwoners van Kleinfontein, vir nie-Afrikanerpartye. Bruin mense, of die KhoiSan, stig darem self party op party, elk so “groot” dat nuusdekking amper onmoontlik is.

Kleiner partye wend hulle dikwels sterk na die kuberruim, wat ongelukkig ook die aflaaiplek is van fopnuus, en “nuus” vanuit die geledere van die ontkenners en samesweringsteorie-aanhangers.

Aan die ander kant, partye en instansies wat ook positiewe nuus probeer verkondig, ook aan Afrikaanssprekendes, gebruik eksklusief net Engels in hul mediaverklarings. Van die partye gee verskonings soos ’n mannekragtekort, maar gewoonlik eindig die diskoers met die argument dat die “koerante dit mos self kan vertaal”.

Dis natuurlik ’n drogredenasie in die konteks van die opkoms van gemeenskapsmedia, wat groot getalle Afrikaanssprekende luisteraars en lesers het, maar weens ’n verskeidenheid redes, waaronder statutêre beperkings, beperkte inkomstes verdien. Vertalers is ’n luukse, en verslaggewers is gewoonlik reeds oorbelaai nog voor aan vertalings gedink kan word.

Net so ’n vinnige blik na vername nuusbronne soos die DA, die UV, Nasionale Museum, die FW de Klerkstigting, die SA Ruimte-agentskap en die SKA-projek blyk dat uitsluitlik, of byna uitsluitlik, alles in Engels uitgereik word. Die SA Ruimteagentskap het onder meer besluit om sy amptelike taalgebruik te beperk tot Engels, Sepedi en Zoeloe.

Soms is daar lofwaardige pogings soos die inisiatief van Pretoria FM om onverbonde nuus en toeligting vanuit die politieke spektrum deur sy Klankkoerant te bring.

Om nié die “regte” nuus te lees, luister of kyk nie ontneem hierdie mense ongelukkig van die geleentheid om ingelig te wees, en kwesbaar te maak vir fopnuus.

Dis dan wanneer mense op loop raak oor ’n meteoor-storm wat “ons” gaan tref en verwoesting gaan saai. Die werklike nuus lui dat ’n sterrereën gesien sal kan word, maar dat dit tot inwoners van die Noordelike Halfrond beperk sal wees. ’n Paar jaar gelede het ’n “berig” in omloop gekom oor die Marskarretjie, Curiosity, op die berg Sharp ’n grot ontdek het. In die grot was kliptafels met Hebreeuse, Griekse en ’n rits ander tale van die Tien Gebooie. In daardie stadium was Curiosity egter nog na die Berg Sharp onderweg.

En hierdie mense het stemreg.

Buitendien, die mense wat hul wortels optrek is selde mense wat weens oningeligtheid die land verlaat. In Nieu-Seeland het die Afrikaanssprekendes ’n eie Afrikaanse e-tydskrif, Brokkies, wat al jare lank bestaan. Daar is duidelik tekens van trots Afrikaans te bespeur, en ’n lang lys van Afrikaanse kerkdienste word weekliks geadverteer. Daar is geen teken van die middelmatigheid (of swakker) waarmee Suid-Afrika nou gereeld geassosieer word nie.

Gelukkig is daar ook Afrikaanssprekendes wat nie net die Suid-Afrikaanse nuus volg nie, maar onder andere die internet en skottel-TV gebruik om oorsese nuusmedia te volg. Dié media is natuurlik nie perfek nie, en Suid-Afrikaanse nuusverbruikers is dikwels baie selektief in watter nuuskanale gevolg word.

Suid-Afrikaanse nuuskommentators wat probeer om ’n oog en oor die spektrum van kwaliteit-nuusbronne te hou ter wille van objektiwiteit, moet dikwels koes onder reaksies van lesers wat hul bronne selektief kies. (Dit raak ’n byna onmoontlike taak omdat al meer erkende kwaliteitbronne soos die Christian Science Monitor en Trouw se nuus agter betaalmure inperk word. Dit kan immers nie verwag word dat ’n Suid-Afrikaanse nuus- of kommentaarskrywer ’n paar dollar of euro moet opdok vir toegang tot elke berig wat hy wil raadpleeg nie. Dit kan hom maklik R100 per dag uit die sak jaag, en dan was hy baie selektief. Dis egter ’n onderwerp op sy eie.)

Koester die nuus – die regte nuus.

  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

Die nuus moet wees soos Anton Alberts hom gese het, suiwer en waar, dan sal die wa vorentoe getrek word. Die verminking van die waarheid laat n mens soms walg veral as ons in ag neem dat die GROOTBOEK se:” Jy mag geen valse getuinis teen jou naaste spreek nie.”

Twakkie ·

Mens moet maar duidelikheid kry oor jou eie lojaliteite en dan betroubare bronne volg wat jou lojaliteite ondersteun. Ek het my rug gedraai op ons Afrikaanse hoofstroommedia omdat hulle Afrikaners verdeel het in “verlig” en “verkramp” en steeds voortgaan daarmee. Die groot politieke geveg wêreldwyd is tans tussen Westerse kapitaliste wat welvaart genereer en sosialiste wat óf om ideologiese redes óf omdat hulle uit ‘n mislukkende kultuur kom, dié welvaart herverdeel wil sien sonder om daarvoor te werk. Alles anders is sekondêr en kan via kleiner groeperinge ondersteun word. As ‘n mens jou oog op die groot kwessies hou, is jou keuse van bronne regtig nie moelik nie. Dis te sê as jy rasionele besluite kan neem. Vir dié mense wat slegs emosioneel reageer, het ek ongelukkig nie raad nie.

Jannie ·

As jy die paranoïese kop-in -die-sand tipe is, moet jy liewer alle nuus vermy en jou tot jou denkbeeldige paradys beperk!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.