Nuuskommentaar: Snoerwet: SA Wolle oor die oë getrek?

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Verlede Donderdag het die SAUK soos volg oor die terugverwys van die sogenaamde snoerwet berig: “President Jacob Zuma het die omstrede wetsontwerp oor die Beskerming van Staatsinligting terugverwys na die Nasionale Vergadering. Hy het aan joernaliste by die Parlement gesê dat hy nie dink die wetsontwerp voldoen aan die vereistes van die grondwet nie, en moet daarom weer deur die Nasionale Vergadering oorweeg word.”

Dié nuus het in die binne- en buiteland ‘n stroom positiewe reaksie ontlok.

Ook hierdie rubriekskrywer het positief gereageer, maar ‘n yslike MAAR oor die nuus getrek. Dié bedenkinge was egter suiwer op politiek-wetenskaplike oorwegings gebaseer, en nie staatsregtelik nie, omdat die spesifieke bewoording van die president, soos onder meer in Business Day aangehaal, te oop was vir interpretasie:

“I have given consideration to the bill in its entirety and the various opinions and commentaries regarding the constitutionality and tagging of the bill.

“After consideration of the bill and having applied my mind thereto, I am of the view that the bill as it stands does not pass constitutional muster.

“In this regard, I have referred the bill to the National Assembly for reconsideration insofar as sections of the bill, in particular sections 42 and 45, lack meaning and coherence, consequently are irrational and, accordingly, are unconstitutional.

Ook die internasionale mediawaghond, Verslaggewers Sonder Grense wat erg uitgesproke was in sy teenkanting van die wetsontwerp het ongekwalifiseerd sy steun aan die terugverwys toegesê en Zuma ongekwalifiseerd hiervoor geloof.

Sedertdien het regslui soos prof. Pierre de Vos, en regsgeleerdes van politieke partye, ook bedenkinge uitgespreek, hoewel hulle onderling van mekaar verskil in hoe ‘n mate daar rede tot kommer is, en oor die interpretasie van Zuma se aankondiging.

Op die slegste lui die vertolking dat Zuma nie die hele wetsontwerp terugverwys nie, maar slegs twee artikels wat nie noodwendig die mees problematiese is nie, en dit oor redes wat nie met die breë stroom grondwetlike besware verband hou nie. Dié vertolking is versterk deur ‘n berig in Rapport wat lui dat die ANC beoog om die terugverwysde artikels binne 30 minute “reg te timmer”. Die opposisie se reaksie was sou dit die geval wees, sal hulle binne dertig sekondes die wetsontwerp (of dan wet as Zuma dit geteken het) na die Grondwethof verwys.

Zuma self het die probleem verdiep toe hy nie werklik medianavrae kon antwoord nie, hoewel het hy in sy toespraak voor die media gesê dat hy sy “mind” ge-“apply” het (‘n duidelike sinspeling op die grondwethofsaak wat hy verloor het oor sy vorige, omstrede, aanstelling van ‘n direkteur van openbare vervolging. Hierop het sy kantoor ook bontgepraat en selfs ‘n vroeëre verduideliking teruggetrek.

‘n Ander vertolking is dat die twee artikels wat genoem is, bloot as voorbeelde genoem is, en die besware bloot as voorbeelde, en dat dit eintlik die hele wetsontwerp is wat terugverwys is, of moontlik terugverwys word, en dat ‘n breë hersiening moontlik is. Voorts kan sekere tekortkominge in die wetsontwerp oor die beskerming van verklikkers wat korrupsie en ander ongerymdhede aan die lig bring, deur die gemene reg, en dus die howe, beskerm word.

Die logiese stap sou wees om te wag tot die verduidelikende memorandum van die president (of eintlik sy regsadviseurs) aan die parlementslede beskikbaar word, en die opposisie se regslui die dokument kan bestudeer.

Toe die finale grondwet geskryf is, is besluit dat anders as met die oorgangsgrondwet, sekere dele vaag geskryf sou wees. Hierop het ‘n regsgeleerde geskryf dat die grondwet plek-plek so vaag geskryf is dat ‘n wa met span osse met die vertolking daarin kan draai.

Die benadering was nie noodwendig foutief nie. Die gedagte was dat die inhoud op ander maniere soos die presedentereg (hofuitsprake), die gemene reg en konvensie sou “vleis” sou kry, en dat dié proses normaalweg beproefde regsreëls volgens die beginsel van natuurlike geregtigheid daarstel.

Daar is nie deur die voorstanders van hierdie benadering voorsien dat die ANC gereeld sou rug styfmaak teen die grondwet nie, en ook nie dat die regbank onder transformasiedruk ten koste van bekwaamheid geplaas sou word nie. ‘n Ontleder, dr. Piet Croucamp, het dus ‘n hele aantal maande gelede op RSG se program, Kommentaar, die mening uitgespreek dat hy glad nie verbaas sou wees as die grondwetlike hof die snoerwet, met opsigtelike leemtes en al sou goedkeur nie.

Die FW de Klerkstigting het ook reeds ‘n lys bekend gemaak van ‘n aantal uitsprake van die grondwetlike hof, wat na die mening van sy Sentrum vir Grondwetlike Regte, foutiewe uitsprake was.

Tot die inhoud van Zuma se regsadviseurs se verduidelikende memorandum bekend word, is dit goed om nié finaal te oordeel oor hoe gebrekkig, al dan nie, Zuma se terugverwys van die wetsontwerp parlement toe is.

Dit is goed om kennis te neem van prof. Pierre de Vos se besware soos gerapporteer in Volksblad.

Maroela Media het egter ook van die hoofrolspelers, parlementslede wat ook regsgeleerdes is, genader.

Mnr. Steve Swart van die ACDP, wat saam met Dene Smuts van die DA ‘n memorandum aan Zuma gestuur het met grondwetlike besware, en wat in sekere kringe as die grondslag vir die terugverwys genoem word, skryf soos volg: “Dit lyk vir my dat net artikel 42 en 45 heroorweeg gaan word na aanleiding van my en Dene Smuts se vertoë aan President Zuma. Artikel 45 moet beslis herskryf word om sin te maak. Artikel 42 verwys verkeerdelik na artikel 15 ipv artikel 13 – dit is ‘n klein wysiging.”

Adv. Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus skryf: “Ja, die twee artikels waarna die president verwys is bloot verkeerd op tegniese gronde. Tog het die president gesê dat die wetsontwerp ongrondwetlik is veral met verwysing na artikels 42 en 45. Dit beteken daar kan meer foute wees en dat hy die klem lê op die tegniese foute om die beginselfoute nie te hoog te speel nie. Uiteindelik sal ons die president se verslag moet lees om presies te weet wat is die gronde en of mens dit as geleentheid kan sien om verdere beginselveranderinge weer aan die orde te stel. Die probleem met verklikkers is juis dat daar nie ‘n behoorlike openbare belange verweer bestaan nie. Dus sou jy geklassifiseerde inligting ontvang sal jy eers hof toe moet gaan om toestemming te kry om dit te gebruik indien dit ‘n aanduiding van misdrywe of wanadministrasie daar sou stel. Net die groot mediahuise kan dit bekostig. Die openbare belange verweer moet dus geherformuleer word… Let ook op dat Zuma se “sections of the bill, in particular…” geïnterpreteer kan word dat meer artikels foute het en mens sal dit eers in sy verslag kan naspeur. So dit gaan dalk nie net om artikels 42 en 45 nie. Dit laat dalk die deur oop om fluitjieblasers beter te beskerm.”

Die wyse weg is dus om te wag tot die president se verslag oor wat hy terugverwys, onder oë geneem is.

Die gerusstellende is dat die wetsontwerp – as dit na die “regtimmer” steeds onder ANC-druk ongrondwetlike elemente bevat, nog op aandrang van die gesamentlike opposisie voor die grondwetlike hof kan dien.

In landsbelang is dit egter noodsaaklik dat daar nou by die regerende party en sy leiers ‘n groter politieke wil aan die dag gelê moet word om die ongrondwetlike en ander krapperighede uit die wetsontwerp te haal. Die skade wat die land reeds oor die hantering tot dusver gely het is onberekenbaar.

‘n Tegniese probleem is dat kontakte wêreldwyd nou Verslaggewers Sonder Grense (VSG) se vraelyste invul op sterkte waarvan die voltooiers se lande se plek op die persvryheidsindeks bepaal gaan word. Die wetsontwerp het reeds sedert dit op die horison verskyn het ‘n groot bydrae daartoe gelewer dat Suid-Afrika erg op die persvryheidsindeks die kreeftegang gegaan het. VSG het reeds baie positief op die terugverwys gereageer, en dit is duidelik dat dié waghond vir mediavryheid nie goed sal reageer as sy opvatting dat die probleme met erns aangepak gaan word, net ‘n rookskerm was nie. So het VSG op die nuus gereageer: “Reporters Without Borders hails (the) decision by President Jacob Zuma to refuse to sign the Protection of State Information Bill (POSIB) into law and instead send it back to the National Assembly for reconsideration … Jacob Zuma’s veto is a major victory for freedom of information in South Africa,” Reporters Without Borders said. ‘We hope the country’s parliamentarians will follow the lead set by their President and abandon the law.’ ”

Skend hierdie toegeneentheid en kyk wat gebeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.